Die wêreld het te kere gegaan oor die leeu Cecil daar van Zimbabwe
Liewe Celeste,
Die wêreld het te kere gegaan oor die leeu Cecil daar van Zimbabwe, Hierdie is ook ‘n ware verhaal van ‘n leeu
Die plaas Slangfontein is geleë in die Limpopo Provinsie in ‘n gebied wat bekend is as die Waterberge. Vat die pad na Vaalwater/ Ellisras. Die een wat mens ook na Thabazimbi kan neem. Ry tot by die Steenbokpan afdraai en so paar 100 meter verder sal jy, links, die naam Slangfontein groot op die boomstomp geverf sien.
Hier ervaar mens daardie lekker rus en vrede vir die siel. Dit is weg van die gejaag en rumoer van die stede en dorpe. Die plaas is iets ver weg van die sogenaamde modern gejaagde beskawing. Daar is baie om te sien soos ook van die groot verskeidenheid bosveld bome en struike en voëls. Die lig is onbesoedel en in die nag kan jy weer sterre sien wat deur die stadslig versmoor word. Daar is ‘n vele wildsoorte soos die rare goue wildebeest, buffels, rooibokke, nyalas en nog ander.
Ons verskil almal van mekaar.
Ek en my transistor was groot maats en met die stukkie radio het ek die heelal leer ken. Ek het met Fortran, Cobol, Basic en Machine Language die aarde se somme probeer makliker maak. Maar met my eie drome, van die mooi en die twee ore vir stories.
Oom Janna was egter vir my iemand nog meer totaal anders as gewone mense. Pa het gesê dat oom Janna ‘n rustelose mens is. Hy was vir my daardie onbekende filosoof wat in donker Afrika geskep was. Hy het die lewe se ongetemde uithoeke verken. As enkeling kon hy in harmonie die horisonne verken. Sy kennis was ‘n fyn innerlike waarneming, wat hy verkry het uit die ruimte en tydloosheid, van elke volgende horison se road trip soeke.
My pa kon baie praat. Oom Janna het baie minder gepraat. As oom Janna praat, was daar ‘n soort rusteloosheid, wat ek probeer verstaan het. Vir my was daar, in sy stem, die heimweë van ‘n road tripper. Daar was onbestemde verlange in sy stem, hier teen laat aand, voor die kaggelvuur.
Sy horisonne was ver weg van my en pa se horisonne. Daardie horisonne was iets ontwykends vir my. Hy het verlange na die hardekoolvure van sy eergisters, iewers in die groot Donker Afrika. Daar was die heimweë van die road tripper in sy stem en in sy bukkende houding. Daar was ‘n knaende verlange na die gesigseinders, die ewige soeke, na die ontwykende verlange, wat daar agter die verste berge skuil. Die ontraffeling en die geheime wat dit, vir hom Janna, moet onthul, as hy eendag daar sou kom.
Daar is ‘n eensaamheid in sy stem, die eensaamheid van die alleen reisiger, die soeker. Daar is ‘n verlange wat nooit vervul kan word nie. Daar bly nog te veel horisonne oor, wat verken moet word. Daar is ‘n knaende verlange wat hy alleen dra, daar is niemand wat dit met hom deel nie. Hy het die vermoë gehad, om die siel van die bosse en vlaktes en woestyne te kan begryp, te ervaar, lief te hê. Die traandruppels, seker van die soetdoringhout se rook, wat in sy ooghoeke vorm, brand in my siel. Hierdie is die rook-trane van die ewige soeker. Die lot van die road tripper, wat op soek is na die duisende onverstaanbare paaie van sy siel.
Hy het Afrika geken.
Hy het die vyf grotes gejag. Hy was jagter. Hy het oral gejag. Hy was amper in elke uithoek van Afrika. Sy mure was vol van daardie skaars trofees gewees.
Anders ook.
Iewers het hy gelees dat Europa se groot stede verwoes en in stukkies is. Die stukke van Europa, se siel, het die groot stede vol gelê. Hy het Europa toe gegaan, vragmotor gekoop en help opruim om die stukkende siel van die beskawing te begrawe. Hy het twee jaar daar, in Italië, gespook en goeie geld daar uit verdien. Dit is ‘n ander storie. Hierdie is die storie oor die verlore leeu.
My transistor krap geheime oop. Dit is Johannesburg, Pretoria en Pietersburg. Die kortgolf kraak die boodskappe uit. Die transistortjie se stem is skerp. Die boere by Vischgat het ‘n leeu mannetjie opgemerk. Dit het ook al van die boere se kalwers gevang.
Die department van natuurbewaring se opdrag, aan die amptenare, was om die leeu te skiet. Swanepoel, flaura en fauna Nylstroom, weet niks van leeus nie, maar die leeus was vir hom altyd besonderse diere. Hy kan die dier tog nie skiet nie. Die boere sal die dier skiet. Hy het vrede.
Daar heers konsternasie in die Bosveld. Nuwe jagters word daar en dan gebore. Dan is daar leeuspore by Tafelkop. Die gevaar word ‘n noodoorlog. Die leeu moet dood. Dit moet trofee word.
Die Noord Transvaler se hoofberigte draai rondom hierdie leeu. Dit prikkel elke jagter. Hier is ‘n slag te slaan. Die voëltjiepolisie sal hierdie keer tweede kom.
Dit is Johannesburg, Pretoria en Pietersburg. Die kortgolf kraak die boodskappe uit. Die transistortjie se stem is skerp. Die boere by Steenbokpan het ‘n leeu mannetjie opgemerk. Dit het ook al van die boere se kalwers gevang.
Die wekroep van die boskorhaan waarsku die leeu, as mense te na aan hom kom. Die gedurige waaksaamheid moet streng toegepas word. Hy het alle hulp nodig. Die kos is volop en kan maklik bereik word. Dit het nie die snelheid van die rooibok of die koedoe of duiker nie. Die diere is dom en altyd paniekerig as hy naby hulle kom.
Oom Janna hoor en lees dit alles ook. Die stryd van die leeu gryp hom aan. Daar is in sy hart ander dieptes en ruimtes. Hierdie leeu was ook soos hy. Die leeu het ook die horisonne kom verken, daar uit die bosse van Betsjoeannaland. Dit is paspoortloos hier.
Louis Bergh het sy swaargeweer vir ons kom wys. Hy gaan korte mette met die rondloper leeutjie maak. Gert Koekemoer kom wys ons sy kanon ook. Daar gaan niks van die leeu oorbly nie. Daar sal nie eens ‘n velletjie vir trofee oor bly nie. Hulle gaan pad vat bosveld toe. Voor die voëltjie-polisie die leeu vind, sal dit alreeds ‘n trofee vir een van die jagters wees.
Die Waterberg-kommando kommandeer sy skutters en 303’s op. `Hulle moet die probleem hulle dringende aandag gee. Die probleem is groter as die Rhodesiese vraagstuk.
Dominee Beytel smeek die Here, om genade, om die dier dood te maak. Die broeders sekondeer ook vir die predikant. Al die susters-kerke volg die voorbeeld. Dit is die mens en die Here nou teen die leeu. Die predikante haal hulle gewere uit, om die Here se wil te laat geskied. Hulle wil met hulle skiet-ysters die probleem oplos.
Oom Jana en die leeu soek mekaar. Oom Jana moet al sy bosvernuf inspan om die leeu, met die horison-siel, te red.
Dit is Johannesburg, Pretoria en Pietersburg. Die kortgolf kraak die boodskappe uit. Die transistortjie se stem is skerp. Die boere by Alma het ‘n leeu mannetjie opgemerk. Dit het ook daar ‘n boer se kalf gevang.
Die dominees bid. Ek hoor wat hulle bid. Die pastore bid. Dit is die gemeentes van Afrika en die Here nou teen die leeu. Die predikante haal hulle gewere uit om die Here se wil te laat geskied. Die gemeentelede bid saam en haal hulle gewere uit.
Oom Janna pleit om die road tripper-leeu tog te vind. In sy bakkie is daar ‘n duiker. Geduld is baie belangrik in Afrika. Daar was die soektog in die woude van Afrika, na daardie besonderse trofee. Dit het alles baie geduld geverg.
In die leeu se primitiewe siel, was daar die vrees vir die mens. Daardie enkel emosie, om te bly leef, het sy sintuie verskerp. Iewers het hy ook ‘n ander hartklop van ‘n ander soort mens ervaar. Hy het vleis gekry, van daardie dier wat hy ‘n leeftyd ken.
Dit is Johannesburg, Pretoria en Pietersburg. Die kortgolf kraak die boodskappe uit. Die transistortjie se stem is skerp. Die boere in Tarentaalstraat het ‘n leeu mannetjie opgemerk. Dit het geen vee dood gemaak nie. Daar was egter rou vleis en bene in die veld opgemerk. Die leeu het ge-eet. Dit is nie van die boer se vee. Dit was ‘n duiker.
Die dominees bid en die pastore bid en die priesters. Ek verstaan nie wat hulle bid nie. Dit is die wêreld se geloof en die Here nou teen die leeu. Die predikante, pastore en priesters haal hulle gewere uit om die Here se wil te laat geskied. Die gemeentelede bid saam en haal hulle gewere uit.
Dit is Johannesburg, Pretoria en Pietersburg. Die kortgolf kraak die boodskappe uit. Die transistortjie se stem is skerp. Die boere in Geelhoutkop het daardie leeu mannetjie opgemerk. Dit het geen vee dood gemaak nie. Daar was egter rou vleis en bene in die veld opgemerk. Die leeu het ge-eet. Dit is nie van die boer se vee. Dit was stukke rooibok.
Die dominees bid en die pastore bid en die priesters en die ZCC bid en die Sangomma gooi sy dollosbene. Dit is Afrika en die wêreld se geloof en die Here nou teen die leeu en oom Janna. Ek is dom omdat die Here nie die gebede verhoor nie. Die predikante, pastore en priesters haal hulle gewere uit om die Here se wil te laat geskied. Die Sangomma haal sy spiese uit.
Die kommando en Ou-omie Niemand het vleis vir ‘n lokval, daar by Geelhoutkop, geplaas. Ouboet Peet en Ds Frikkie en Ou-omie wag die hele nag verniet. Die leeu het ‘n trekkersiel gevind.
Die leeu het ‘n felle haat teen die mensdom ontwikkel, daar is op hom gejag met geweer en spies. Maar in sy verwronge diergedagtes is daar iets wat dit probeer begryp. Hy het die vrees vir die dood gehad. Hy het dit ervaar met die geraas van die knalskote. Hy ruik hierdie ander mens, maar in daardie ander mensreuk is daar dit geen angs nie. Dit is dan nie bang vir hom nie. Dit gee hom kos. Daar is geen geraas nie. Dit is daardie vreemdeling wat hom kos aanbied. Hierdie is ‘n onbekende wêreld vir hom. Hy ken nie die soort mens nie.
Die gelowe het hoop op gegee. Dit prikkel nie meer die gemeentes nie.
Dit is Johannesburg, Pretoria en Pietersburg. Die kortgolf kraak die boodskappe uit. Die transistortjie se stem is skerp. Die boere by Swaershoek het daardie leeu mannetjie opgemerk. Dit het geen vee dood gemaak nie. Die boere het hulle vee in krale toegemaak en strikke vir die leeu gestel. Die strikke was egter onsuksesvol.
Dit is Johannesburg, Pretoria en Pietersburg. Die kortgolf kraak die boodskappe uit. Die transistortjie se stem is skerp. Die boere by Bulgerivier het daardie leeu mannetjie opgemerk. Neels Riekert wou dit skiet, maar hy kon nie vinnig genoeg by die geweer uit kom nie. Dit het geen vee dood gemaak nie. Die boere het hulle vee in krale toegemaak en strikke vir die leeu gestel. Die strikke was egter onsuksesvol.
Dit is Johannesburg, Pretoria en Pietersburg. Die kortgolf kraak die boodskappe uit. Die transistortjie se stem is skerp. Die leeu wat die Noord Transvaal het op hol gejaag het, het verdwyn. Die kommando en boere en dominees en pastore en die priesters en die ZCC en die Sangomma het die spoor byster geraak. Hulle gebede is verhoor. Hulle het egter geen idee wat van daardie leeu geword het nie. Die boere is nog nie gerus nie, omdat hulle nie weet waar die leeu dit bevind nie.
Geruisloos, soos Sondag-gedagtes in die kerk, moes hulle beweeg. Oom Janna en die swerwerleeu moes vining vanaf Bulgerivier af beweeg tot op Slangfontein.
Oom Janna was ook nie gerus nie. Dit was nog ‘n wye lopie om by Betsjoeanaland uit te kom. Hy is bang die swerwersiel sal dit nie vir te lank, hier op Slangfontein hou nie. Die vertwyfeling kan die leeu weer laat pad vat en dit kan dalk roekeloos word, al kry dit kos. Hy sal vinnig moet speel.
Jy kan enige ding mak maak, maar in die proses maak jy dit sommer dood ook. Dit verloor sy siel. Dit mag die swerwer-soeker nooit toelaat nie. Dit word iets sonder ‘n siel. Dit is ‘n aaklige lewende-dood. Die natuur het hierdie pragdier geskep. Dit kon in harmonie in die bosse van Betsjoeannaland leef. Dit moet terug, na daardie paradys, wat lewe van rooibokke, koedoes, sebras, duikers, steenbokke en blouwildebeeste.
Hy mag nie iets wat mooi is vernietig nie. Die veraf truwhiet whieeeeeu van die langasemuiltjies het hom aangespoor om daardie nag die taak verder te neem. Hy het die leeu met stukkies-stukkies vleis gelok en die pad geneem na die grens toe. Hy moes dit met die voet deur die bosse doen.
Dit is Johannesburg, Pretoria en Pietersburg. Die kortgolf kraak die boodskappe uit. Die transistortjie se stem is skerp. Die leeu wat die Noord Transvaal het op hol gejaag het, se spore is op Vetleegte opgemerk. Kleintan het die kommando, op die plaaslyn, gebel en dit het die nuus soos ‘n veldbrand laat versprei.
Elke jagter was gewapen. Die leeu kan nou maklik van kant gemaak word en Gert Koekemoer en Louis Bergh en Cerneels Riekert en al wat ‘n skieter is, selfs van die stede af was daar. Hulle laai hulle gewere. Hier kom sports. Die blerrie leeu dink dit is baie slim. Hulle skietysters sal hom hokslaan.
Klim op my rug dat ek jou oor die Limpopo abba. Die hele wêreld is op soek na jou. Oom Janna se hele wese was gespanne.
Hy het elke geluid gehoor, ook die swerwer se oemf-oemf. Dit kan hulle posisie verraai. Iewers daar aan die oorkant van die Limpopo kon hy ‘n sebra-hings aanhoudend hoor runnik. Netnou is hulle by die rivier en dan is daar dalk van die jagters wat die leeu gaan voorlê.
Die swiempie-patrysies kla oom Janna aan: Jy het Afrika deurkruis. Jou voetspore is oral, Kenia, Kongo, Ethiopië, Noord Rhodesië, Suid Rhodesië, Suidwes. Jy het gejag. Ter versagting, het jy darem nooit gemors nie. Maar jy het die genetika van skaars en die grotes, met jou gewere, teen jou mure opgehang en vernietig.
Gedagtes en drome vloei saam in oom Janna se verstand. Sy familie was deel van die eerste pioniers, hier hoog noord. Sy gewete pla hom. Hy moet rekenskap aan hierdie dier en Afrika gee. As daar eers een voetspoor in Afrika se bosse is, word dit gou-gou ‘n groot pad met duisende voete. Dit verteer alles. Die mooi plekke verloor sy siel. Dit word iets wat verteer moet word. Sy Slangfontein moet Afrika bly. Slangfontein is sy siel.
Die kraagmannetjie moet terug bosse toe. Die bosse van Afrika is die leeu se siel. Daar is nog ‘n klein stukkie vrye Afrika, daar oorkant die Limpopo. Daar kan die leeu lewe. Die leeu moet daar oor die rivier. Dit moet vry wees.
Die fisante roep kraaaaagom kraaaaagom. ‘n Jakkals stuur sy vroegoggend gebede, na die gode en die leeus en ander vleisverskaffers. Die trop tarentale se gekwetter dui op die aanwesigheid van mense.
Die leeu is daar voor tussen die bosse. As die leeu oor die oop sand van die Limpopo loop, is dit die maklikste teiken.
Dan die gekraak van takke, waarop iemand loop. Dan staan Swanepoel daar met sy Flaura en Fauna uniform. Hy groet oom Janna met hartlike respek. Hulle bespreek die plan en die man van die veertjiepolisie stap tot in die middel van die Limpopo en dreig enige een-een, met sy luide stem en ‘n luidspreker, vir wat die leeu sou skiet met sumiere in hegtenis name. Hy roep hulle om bymekaar te kom.
Dit is ‘n erewag van jagters, Flaura en Fauna, oom Janna en die hele diereryk, wat die horisonne-leeu, sy vryheid en vrede gun.
(Hierdie het werklik plaasgevind en sal iewers in die argiewe van die SAUK en Noord Transvaler en Transvaler opgespoor kan word. Louis Bergh en Gert Koekemoer is oorlede. Neels leef nog en ook Broer Peet. Hy moes oorle Ds Frikkie Beytel help met die leeu se gewoontes, toe hulle dit voorgele het by Geelhoutkop. Nig Santie ken die opsommings en haar ma, Kleintan Sauer, het die kommando daar van Vetleegte geskakel.)
Baie liefde
Pa,
(Kopiereg G F Rossouw)