PRIETER JAN
Liewe Celeste,
Jy karring gedurig binne die siele van die aardbol en sy oerbewoners se gisters en eergister om vas te stel wat het gebeur en waar kom alles vandaan. Jy soek antwoorde op baie geheime. In die boeke en registers het Afrika ook sy eie geheime. Afrika het baie geheime soos die geheimsinnige Skeba en Prestor Jan.
Ek wil ook Priester Jan en sy koningkryk probeer ontdek. Die Portugeuse en ek soek al ‘n leeftyd lank.
Dit is my groot ideaal om dit te vind. Ek is al amper oor die muur en nog fokkien ver van die antwoord.
Wie is Priester Jan of Prins Jan?
Hy is, volgens oorlewering, ‘n afstammeling van die Wyse manne uit die Ooste, wat vir die Jesuskind daardie Kersgeskenke gebring het. Die Portugeuse het hom Prestor John genoem. Sy koningkryk was vir eeue lank iewers in Afrika weg gesteek. Prestor John het drie towerklippe gehad. Een wat jou in die verborgenheid kon laat sien, een wat jou onsigbaar kon maak, en een wat lig kon maak in die donker.
In die Britse museum, in London, is die briewe wat Prestor Jan vir Konstantyn geskryf het om hom te vertel van sy mooi land. Hy het geskryf van ‘n rivier vol edelstene , dalk die Waterberge se Matlabasrivier, van goud wat oor die aarde besaai lê. Almal in sy land was baie gelukkig. Daar was nie armes nie. Daar was geen roof of moord of diefstal nie.
Die opdrag aan die Portugeuse seevaarders was om Priester Jan se land, iewers in Afrikam te vind. Hulle moes hom in die naam van die Here oorhaal om bondgenoot van Portugal te wees. Hulle kon hom nie vind nie en ook nie sy skatte nie. Hulle het hom gesoek by Oranjemund en Kaapkruis en Paternoster en Lourenco Marques. Hy was daar, maar hulle kon nooit hom sien nie.
Toe stuur die Nederlanders vir Jan van Riebeeck, Kaap toe. Hy moes die Kaap van Storms tem om dit die Kaap van goeie hoop te maak. Die Here Sewentien, van die H O I K (Hollandse Oost Indiese Kompanjie) het arme van Riebeeck baie kwalik geneem omdat hy nie die Priester Jan kon vind nie. Hulle het sy skatte gesoek. Iewers in Afrika is die wonderland van Vigiti Magna. Iewers was Monomotappa. Die land vol goud, vol vrede, vol geluksaligheid. En die waarsêer loer na die Tarot kaarte, vir van Riebeeck en soek mooi woorde om alles, oor die onheil, te kan vertel.
Van Riebeeck het die inboorlinge uitgevra oor die land vol goud en edelgesteentes. Hulle het vertel. Hulle het gesê die land is baie verder noord. Dit is ver om daar te kom. Daar is riviere om oor te reis. Daar, in die land van Prins Jan, is hy die groot gees. Hy is gunstig teenoor sy mense. Hy is die een wat die son laat opkom, wat die reën bring, die een wat die droogte bring, hy het dit vir jou op jou hart geskryf. Hy maak jou droomkalbasse vol dik melk en gee ‘n gesonde huis waar daar altyd kos en vuur sal wees.
Priester Jan gee aan Nannumatse sy sweep Nannumatse is die Heikum-san se reënprins, wat Heitsi-eibib vir die aardbewoners gegee het. Hy is ook nie baie bedrywig in die paaie op pad na Monomottapa nie. Die aarde daar is droog en daar is nie oral water vir vee en mens nie. Nannumatse jaag daar die reen met sy weerlig-sweep aan sodat dit nie baie daar te reen nie. Daarom is mense bang om na die priester se land te reis.
Daar is die nasies soos die Chochoqua Koikoi en die Goringhaiquas en die Goringhaikonas, deur wie se lande die mens moes reis, om by Priester Jan uit te kom. Daardie mense is mensvreters ook daarby. Daar was gedurig oorlog en alewig oorlog. Almal steel almal se goed en vrouens. Daar was verder nog nog groter mensvreters wie se hare op die grond sleep en met Leeus as waghonde en makoppas as troetldiere. Hy sien nie hiervoor kans nie.
Gaan Afrika toe en soek. Die Nederlanders het hulle hier kom vestig.
Hulle was destyds daar in 1652 baie opgewonde oor hierdie reis, maar die angs vir die onbekende het deur hulle gespoel. Hulle was dapper genoeg om na hierdie land met langhaar-mensvreters, en met waghonde as leeus, te kom.
Iewers daardie tyd het hulle gewag vir ‘n boodskap dat hulle moet omdraai en in Europa agterbly. Die gode was doodstil. Hulle het gehoop dat hulle daardie klip van Prestor John gehad het, die een wat jou in die verborgenheid kon laat sien. Hulle kon nooit vra watter kanse die lewe hulle hier in Afrika moet gun nie. Hulle moet die kanse self vind en dit vat met risiko en al.
Hulle kom woon toe in die Kaap de Goede Hoop. Almal in daardie land moet baie gelukkig wees. Daar is nie armes nie. Daar is geen roof of moord of diefstal nie. Daar is net altyd vrede. Iewers is die Prestor Jan en dan is sy die koningin van Skeba van daardie stukkie Vigiti Magna, ook daar.
Dit is Mark Knopfler wat vir ons sing. “It’s a strange old game, you learn it slow/One step forward then it’s back you go.”
Die horisonne roep vir jou en my.
Ek wonder water muti die sangoma aan ons sou voorskryf om nie gedurig met hierdie intense drome in ons gedagtes en verlange rond te loop nie. Miskien sal hy Mpathja Nomdocholi, die swart gees, vra om ons so te toor dat ons gedagtes tussen ons groottone vassit sodat ons daarop kon vertrap en ver van onse brein af sou wees en ons nie verder road trip verlange sou besit nie.
Misien sal hy Makabeni, die droomskepper, met sy verskriklike groot tone en langste arms vra om ons droom- en horisonnegedagtes, met sy lang arms, uit ons breins te ruk en ‘n sak, waarin hy alle verlore drome bewaar, te plaas.
Miskien sal hy Mapela, die swart arend, wat oor die Waterberge se wolke en kranse regeer, vra om ons siel van ons weg te neem, tot op die hoogste punt van die Swaershoek-bergpunte of tot bo op Thebus.Daar sal ons dalk ook vrede weer kan vind.
Iewers sal ons moet soek om Skeba en Prestor Jan kry.
Ek skenk aan jou die mooiste dag vol vrede en vriendskap.
Mag jy hierdie dag in jou dagboek opteken as ‘n mooiste dag.
Mag jou drome net meer en meer gestalte vind en lewe word.
Liefde
Pa.