Die grootste groep boesmans tot op hede kom na ons toe
Ek het niks van die nasie geweet toe ek in Botswana gekom het nie, net dat hulle ongelooflik misken was deur alle mense en ook misbruik was. Tot vroeg in die vorige eeu, en dit is deur boere wat ek geken he beaam, kon daar werklik permitte uitgeneem word om boesmans wat probleme was te skiet. Dit is seer sekerlik ook gedoen. Hulle was die slawe van ander nasies en baie is teen hulle sin aangehou en baie vrouens veral is misbruik en die nageslag was eie geteelde slawe wat hulle lewe lank sou slawe wees. Ek wou nie dr. Livingstone wees wat sy lewe lank teen slawerny baklei het nie, maar die staat het met ons saam gestem dat dit werklik onmenslik en bykans onuithoudbaar was. Wetgewing is gedoen en baie streng toegepas. Baster boesmans kon kies of hulle wou bly woon waar hulle was en of hulle die reservate sou kies as waar hulle moes selfversorgend wees. Baie het vir baie geslagte by boere gewoon en was heel gelukkig. Baie het gebly waar hulle was en was seker maar gewoond aan die onderdanigheid. Vir die eerste maal was hulle volgens lands wette vry en kon hulle kies waar hulle wou woon. Baie kon dit ook nie hanteer nie. Later is daar n spesiale portefeulje in die parlement geskep net vir boesmans sake. Die eerste minister van die portefeulje was n mev. Luttig wat uit die Tuli blok afkomstig was en sy het wonderlike werk gedoen maar dit was na my tyd.
So is byna alle boesmans uit tronke vrygelaat en baie was daar vir die steel van n enkele hoender of werklik omdat hulle honger was. Daar kon nie van een enkele moordgeval deur n boesman verslag gedoen word nie hoewel dit seker maar ook voorgekom het. Botswana het nog al die jare die doodstraf toegepas en glo my dit was toegepas. Die hofsaak met volle regsteenwoordging is gehou by die woonplek van die misdadiger en hy is dan verwyder na n tronk. Die liggaam van die ter dood veroordeelde is by sy mense baie male met groot moeite afgelaai in afgelee gebiede en hulle was gewoonlik onvoorbereid daarop. So n persoon is dan deur die staat begrawe en sy stam lede moes teenwoordig wees en sy liggaam se kop moes na die weste kant toe kyk in die graf. Dit was algeheel in teenstelling met die geloof van die nasies waar hulle na die ooste kant moes kyk. Die kis is oopgemaak en almal kon die naakte lyk besigtig, of dit verpligtend was weet ek nie. Ek het rede om te glo dit was wel die geval. Hy is ook nie begrawe in die tradisionele begraaf plase nie maar eenkant en sy graf is nie in stand gehou nie en die ou voorvader tradisies was nie vir so n persoon beskore nie. Hy was basies weggegooi. Die soort straf was werklik n groot afskrik middel in die land en mense se lewens was as kosbaar beskou. Ek en Jeannie het een middag heel per toeval op so n begrafnis afgekom en ek het my maar so vinnig as moontlik uit die voete gemaak. Dit het gewemel van polisie en staats amptenare en dit was nie waarvoor ek lus was nie. Ek weet net dat die teregstelling plaas gevind het 24 dae na die moord en vir my was dit n afskrik middel. Dit was nie weggesteek soos in ons land en met geheime verdoesel nie, dit moes openbaar gemaak wees en die bevolking moes daarvan kennis neem. Waar die teregstelling plaas gevind het, het ek nie geweet nie en ek het ook nie belang gestel nie. Dit was effektief en het gewerk. Nooit is daar in die land iets van my gesteel nie en kon ons gewere in Maun in ons voertuie los en dit sou veilig wees. Gewone strawwe het met lyfstraf en dwang arbeid gepaard gegaan en ons kon baie prisoniers sien wat werk op paaie en in die strate van Maun. Dit was teen die wet om met hierdie mense te praat of kontak te he en hulle het lang swaar ure gewerk sewe dae per week en die oppasters het met sambokke geloop en dit gebruik. Derde wereld land met derde wereld standaarde wat by hulle gewerk het. Jy kan nie eerste wereld standaarde in n derde wereld toepas nie, dit is so deur Seretse Kghama aan my in net soveel woorde beskryf. Misdaad was die absolute uitsondering. Baie kleiner misdade is deur hoofmanne opgelos en die meer ernstiges deur die staat se howe. Jy wou nie voor n hof in Botswana kom nie, genade sou jy nie kry nie want dit het nie bestaan nie.
Die groep boesmans het gekom en ek was verbaas dat so n groot groep in die veld kon oorleef. Die ou man wat ek gehuur het, Tsamma, is ook weer met sy groep vort want soos Jan Hugo gese het, jy sou nooit hulle vertroue werklik wen nie. Baie van die groep het soos wild in die heuwels agter Nyati gewoon vir n hele ruk voor hulle die moed gehad het om by ons aan te klop. Hoewel dit teen die wet was het groepe afgestig en vroue uitgeruil en kleiner groepe gestig en hulle nomadiese bestaan verder gevoer. Wat my betref was dit soos hulle al die jare geleef het en ons sou nie daarmee inmeng nie. Hulle moes vry wees om te doen wat hulle wou en net medies gediens word en gedokumenteer word. Hulle moes beskerm word teen wilde diere en die ander inwoners en die parke as hulle tuiste sien. Dit was my doel met hulle. Buite die parke het ek geen mag gehad nie en het ek enige mishandeling aan die polisie oorgedra wat baie gou daarmee gewerk het. Baie groepe sou eers met net n paar lede opdaag en dan sien dat hulle nie mishandel sou word nie en binne dae sou die groep oornag n baie groot groep word. Jare se mishandeling het hulle baie versigtig gemaak vir enige vreemde mense. Die weermag het werklik uit sy pad gegaan om ons met alle logistieke te help en as ons een ton gevra het was daar vyf ton afgelaai. Baie noodsaaklikhede soos klere en selfs stukkies staal wat hulle kon smee in spiese. Ek het baie dae saam met hulle geloop en jag en werklik nooit een gesien wat gifpyle gebruik nie. Dit was honde en spiese en wel pyle maar n in baie klein mate. Jong jagters sou n alleen loper springbokram as net een jagter begin jaag en net sy spoed hou agter die bok en na n uur of meer sou die bok nie kon verder nie en hy sou hom keelaf sny. Hulle het baie wild dood gehardloop maar nie volstruise nie. Groter diere is met honde vasgekeer en dan met spiese dood gemaak. Daar was geen werklike voorkeure nie maar n lekkerny was pofadders en likkewane en ook skilpaaie wat ek gehaat het. Baie male sou n groot groep boesmans leeus by hulle vangste wegjaag, ek wou dit nooit waag nie maar hulle het en veral die jagluiperds het swaar gely daaronder.
Gompoue het hulle op n baie oulike manier gevang as dit somer was. Poue is lief om in as te bad en die luise so van sy lyf af te kry. Gedurende die somer was daar min as en het hulle dan vuur gemaak op n oop area en dan n strik gestel vir as die pou kom was in die as dan hang hy aan n volstruis sening. Gewoonlik is uintjies as n by lokaas gebruik. (Ek het probeer om n gompou gaar te maak, vergeet wat oupa en ouma gese het oor hom. Wat my betref is hy oneetbaar taai. Die boormanne van Botswana het nie eens na n pou gekyk nie en dit ook as oneetbaar beskou.) Daar was geen bron van protein wat hulle nie benut het nie, van n muishond tot n olifant. Dit was die hoofrede vir hulle nomadiese bestaan en as hulle genoeg springbok geeet het sou hulle padgee na waar die babers was of die volstruisneste gaan leeg maak of waar hulle geweet het die veldkos volop was. Baie soorte veld kos was geeet, somminge gaar gemaak en ander weer rou. Daar was wat lekker was maar vir my as westerling nie werklik eetbaar nie. Hulle sou heuning nie uitlos nie en altyd iets oor los dat die bye nie trek nie.
Daar was n paar soorte werklike nomadiese boesmans wat nog werklik baie rou en primitief was. Onder hulle tel die !Kung, Haikum en die Ghalaghadi. Hulle het geleef soos dit al vir baie eeue gedoen was. Mag ongelooflik klink vir baie mense maar hulle het selfs n teelseisoen gehad wat gewoonlik in die laat lente en somer die geboortes van kinders tot gevolg gehad het. Jeannie het saam met my met so n groep geloop en dit was tyd vir n geboorte. Ek was nie by nie en sy het my vertel. Die vrou het agter n rosynbos gaan le op n vel en die kleintjie is met die hulp van ander vroue gebore en in n gebreide steenbok vel toegedraai en binne n uur was die groep met hulle normale dinge besig. Regte egte natuurkinders en in so n geval sou die vrou nie weer kinders van dieselfde jagter he nie maar by n ander een. Vrouens en kinders was die hele groep se eiendom en moeders sou mekaar help met melk vir kinders en dit het siektes so aansteeklik gemaak. Dit was die dinge waarmee ons nie wou inmeng nie, net n hawe skep dat hulle kon doen wat hulle wou doen sonder om slawe te wees. Hulle het soos wild geleef, te groot troppe het in kleiner groepe opgebreek en was minder afhanklik van die natuur. Hulle sou dan later weer meng en weer afstig. Daar het tussen hulle nie n werklike gesinsverband bestaan nie en ek glo nie een pa kon se dat een spesifieke kind syne was nie. Die hele groep het aan mekaar behoort. Moeilk om te aanvaar maar dit het so gewerk, nie by alle groep nie maar by baie. Dit is hoekom westerlinge verwys het na mak en wilde boesmans en daar was selfs verwys na halfmak of wild.
Enige vorm van dwelm middel was die mense bykans onmiddelik verslaaf aan en veral dagga en drank was wat my betref buite perke vir hulle. Hulle het hulle beste probeer om dit te maak en was baie suksesvol daarmee. Van heuning tot die lala palms was n bron van alkohol. Dit het hulle ook so maklik slawe gemaak en van die lala palms was deur bobbejane besoek wat baie dronk was by hulle drink plekke. Bobbejane het die reuk geken en die palms moes opgepas word. Hulle sou vleis ruil by die gewone bevolking vir mahango wat maar net n soort sorghum was en lelike brousels daarmee maak en dit met almal deel van die kleinste tot die grootste. Die westerse leefwyse was baie ver van hulle af. Die toormanne wat by ons gekom het was baie gou uitgesorteer deur die nonne. Hulle sou hom in n tipe semi dronk koma hou tot hy homself bevuil, dit was n baie groot skande om jou self vuil te maak en so is baie van hulle se mag gebreek. Toe die toormanne begin weier om saam met die groepe te kom het ons hulle saans in die elektriese heining toegesluit dat hulle nie kon kos neem vir hulle nie en die honger en dors en leeus het hulle verplig om te kom slaap en uiteindelik die nonne se behandeling te aanvaar. Baie gou is aanvaar dat die witman se doepa sterker was as die toormanne wat maagwerkens gekry het en dan in die skande gekom het.
Jan Hugo en die Roomse Kerk het werklik baie gedoen om nie net die vertroue te wen nie maar om net n klein dingetjies soos luise wat as normaal aanvaar was uit te roei. Daar is gewerk met sindilkheid en om net die basiese lewe reg te doen. Bruce Kinlock het weer baie mooi gevra dat daar beskermde spesies was soos luislange en ietermagogs en nog n paar ander goed en ook die renosters wat vir hulle net voordele kon inhou. Dit was n moeilike pad, vleis was vleis en die eeue oue instinkte was baie sterk. Ons het gese om die goed op te pas en een more het n hele klomp yweriges met n spul ietermagogs opgedaag want ons wou hulle mos gehad het. Tog het die nasie in my hart ingekruip en ek het baie lief geword vir hulle. Hulle was werklik die ene onskuld.
Jeannie kon die klein boesmantjies nie uitlos nie en sy was maar gedurig daar en ek het gewonder hoe die Engels en die tale wat hulle gepraat het gewerk het. Jakkie het gese dat hy gereeld sooibrand kry van te veel Engels. Steeds het die groep gegroei en Jan Hugo het kom vra vir vleis want ons sou baie rantsoen pakke gebruik. Ek het ook maar my administrasie gehad wat gedurig aan die staat moes voorgele word en omdat ons n baie hoe zebra kwota gehad het het ek en sy en my boesmans besluit om te gaan skiet vir hulle. Ek het vir Temba met die ander bakkie saam geneem want ek wou eers n paar varke skiet wat hy kon huis toe bring en dan sou ons streep esels skiet. Ek het die 270 van Jeannie geneem en my 338 wat nog baie min werklik gewerk het en in die oostelike vloedvlaktes se rigting gery, Dit was ook in die gebied waar die skelm skieter sy meeste verwoesting gesaai het en waar die weermag hulle hinderlae gele het. Ons het radio kontak gehad en ek kon met hulle praat en se dat ek daar moontlik sou skiet. Ons kon nie jag in die ware sin van die woord nie want dit was maar n vleis skietery vir die groep boesmans. Die vlakte het ook gebrand in die winter en omdat ons besluit het om net in absolute nood naby Nyati te skiet kon ek n hele paar diere naby die basis skiet maar het daarteen besluit en sommer al in die grasvlakte gery tot naby die park se een deurpad wat gelei het na die suide of die noorde. Daar was drie deurpaaie deur die park en die een was die middelste een. Hier het Jeannie drie varke kort na mekaar geskiet en ek het twee geskiet, die bere het ook soos ou buffels saam geloop waar die leeus lastig was. Ons was besig om die laaste varke te laai toe Jas n enkele buffel sien in die gras. Dit was snaaks, leeus was hier volop en een bul sou dit nie maak nie.
Ek het nader gery en die ou se kop het gehang en Temba en ek het uitgeklim en dit in sy taal bespreek. Hy moes van die gekweste diere wees wat die skieter weer geskiet het en sy maters het hom gelos of was dalk ook gekwes. Ek het nog nie met die 338 n buffel geskiet nie en het myself verwens dat ek nie n groter geweer saam gebring het nie. Dit was n mooi bul maar glad nie na aan n rekord nie en ek wou sien wat die geweer kon doen. Ons kon n misstreep en brommers teen sy een sy sien en ek het gewonder wanneer hy raak geskiet was. Ek het besluit om hom uit die bakkie te skiet want my kaliber was nie reg nie en ek wou nie onnodig vir Jeannie en die ander in gevaar stel nie. Temba het nie eens n geweer geneem by die huis nie en ek het met my beste Matabele sy kop gewas. Hier was ek nou met n 270 en n 338 by n gekweste buffel. Die bul was sestig meter van die bakkie af en toe hy sy kop oplig het ek hom reg onder die “boss” geskiet presies in die middel van sy kop. Die skoot het hom omgegooi en hy het met vier stywe bene gele en kreun en die bene het al hoe slapper geword en stadig grond toe gesak. Die 250gr Barnes soliede koeel is deur sy kop tot diep in sy nek en ek het respek vir die geweer gekry. Dit sou nooit my buffel kaliber word nie maar hy kon dit doen. Jakkie het dit met sy 303 gedoen, ek was te bang daarvoor. Ons het die varke op die kante van die bak gepak en die bul opgekatrol na ons sy pens uitgehaal het. Die skoot was deur sy pens en in die mis kon ek weer die loodkoeel kry wat by die huis net oor die 200gr geweeg het. Ek het die offsier laat roep vanaf Nyati want my bakkie het nie verbinding met hom gehad nie, hy moes my kom sien teen die aand en kon by my slaap.
“ This poacher is now really getting into me and it makes me bloody cross. I am going to skin him alive and feed him to the vultures. Or I will shoot him through both ankles and make him leopard crawl. The hyenas will get him before nightfall. How many wounded animals are there out there? When is this bullshit going to stop? When is a jumbo that is wounded going to charge a tourist bus or car? Really if the army catches this maniac they will have to hide him, I am going to kill him. Don’t do that, you will spend a long time in jail and what will happen to me? I really hope they either catch or kill this bastard. I am fed up with this. I’ve had enough of this and that officer will have to get reinforcements. Calm down Pine, they are doing their best and you know it. Still they haven’t caught him yet.”
Ek was werklik baie omgekrap en het gewonder oor die feit dat daar drie deurpaaie was ek net twee moes sluit vir vragmotor verkeer, die toeriste kon nog die paaie gebruik maar die vragmotors wat na en van die Caprivi en Kasangula gery het sou net een pad he. Dit sou Maun direk raak en die staat sou dit dalk nie toelaat nie. Ek was baie seker dat dit n vragmotor bestuurder moes wees, die skoot van die buffel het ek baie goed ontleed die aand en dit is vanaf n hoe posisie gedoen en op n kort afstand. Die skoot is voor die laaste rib in en het bykans op die borsbeen van die buffel gele in sy rumen. Ek het met n 44 geskiet by Paul Autio en geweet dat hy kan penetreer maar hy was nie vir buffels gemaak nie en die man het sonder diskriminasie geskiet op alle diere. Ek moes liewer nie geweet het hoeveel diere daar nog was nie en het die pes vervloek toe Jas op die ruit kap met sy kierie. Ek wou nog n zebra of twee skiet en daar het n groepie by die water gestaan.
Hingste kan lelik baklei en mekaar rondjaag en dit was eintlik nie reg om n trophings te skiet nie want die nuwe leier soos so baie diere maak weer die vullens dood en dit was n bose kringloop. Ek het baie ure met kliente die streep donkies bekruip om te probeer uitwerk watter hings die leier was en het die storie al goed geken. Die leier het nooit ver van sy harem gewaag nie en hy sou die merries wat dit waag om ver te beweeg byt en weer aankeer. Die indringers sou weer probeer op die grond ruik waar die merries se urine reuke was want die leier sou dit al vroeg die more uitgevind het. Hy sou weet as daar merries op hitte was, die ander nie. Ek het nie gehou van jag sonder n maat nie en wou nie vir Jeannie in gevaar stel nie. Leeus was hier in die opper Chobe by omtrent elke watergat en hulle sou naby wees. As jy ses gesien het, was daar nog baie wat jy nie gesien het nie. Hulle het die vermoe om voor jou oe weg te raak in baie kort gras. Ek wou eers met die bakkie om die water ry en die zebras bietjie roer en dan sou die harem saam draf na hulle hings en die res sou een kant toe. Ek het werklik byna oor n leeu gery wat net soos ek ook n zebra moes he. Daar was skielik leeus rondom die bakkie en dit was chaos by die water. Ek het besluit om te los en huistoe te ry. Daar was meer as n ton vleis, hulle kon dit nie in een aand opeet nie.
Ek het die grootpad geneem wat so vyf myl weg was en toe noord gedraai en sou dus vanaf die noorde kom wat al pad na Nyati was. Dit was drie uur die middag en die toeriste en die gewone verkeer sou daar wees en ek sou nie voor hulle skiet nie. Ek het die boesmans op die dakrak laat sit om op die uitkyk te wees vir gekweste diere. Ons het n toeris met n pap band gekry en die arme Hollander was te bang om uit te klim en sou maar daar wag vir hulp. Ek het die band omgeruil en sy pap band n prop in gesit en met my bakkie se pomp wat met die enjin gewerk het en net n waaierband moes oorgooi opgepomp. Hy kon nie glo dat n pap band in die veld reggemaak kon word nie. Daar het olifante gekom en ek het hulle verwilder en toe ek die Hollander soek was hy bykans onder sy sitplek ingekruip. Dit was baie komies om te sien en hy was baie seker dat ek mal was. Sy woordeskat sal ek maar nie hier beskryf nie. Dit is n nasie wat kan lekker vloek en die koei wou maar net sy motor kom deur ruik.
Ek het by Nyati gekom en die offisier het vir my gewag. Ons is na my kantoor toe waar ons die kaart gaan deurwerk het en hy het werklik baie moeite gedoen en het sy planne elke dag verander en sy blokkades en hinderlae gedurig aangepas. Hy het dit as n baie ernstige saak beskou om die skieter te vang en aan te kla. Ek kon onmiddelik weet da thy weet waarvan hy praat en da thy baie militer ingestel was. Ek het hom genooi om oor te slaap te bad en te eet en saam op die dek te kom sit en ons het lekker gesels. Hy wou aanvanklik nie n bier drink nie maar het later en ek het besef dat ek niks oor my militere dae sou praat nie. Hy was die land se ligswaar gewig bokskampioen en werklik baie aangenaam. Botswana het sy eie militere akademie gehad en baie van hulle offsiere was na opleiding Engeland toe gestuur vir verdere opleiding. Hy was een van die groep en hy het aan my verduidelik dat hulle daar is om die volk te dien en binnelands te werk en hulle het selfs paaie gebou. Enige plekke waar daar hulp nodig was is deur die weermag gedoen, dit was n skrille kontras teenoor my land se weermag wat toe n in oorlog betrokke was.
Jeannie het met trane kom se dat daar n kleintjie te vroeg gebore was en ek het later hard met haar gepraat en gese dat sy nie moes betrokke raak by sake wat haar omkrap nie. Die kleintjie is dieselfde middag begrawe en dit was ons derde graf en tot dit moes ek van sorgvuldig boek hou. Die offisier se radio het geroep in sy bakkie, die skelm was gevang. Ek wou hom nie sien nie en hy sou my kom inlig die volgende more. Hy is teen byna donker by my weg en n koel verligting het oor my gespoel.
20 Februarie 1978