Geoffrey Moghale en die leeu
Dit was die offisier se naam wat saam met my gewerk het. Hy was n goeie offsier en sou by my in ons weermag hoog aangeslaan gewees het, hy was van koninklike herkoms en deel van die toekoms planne van sy land. Daar was ook maar nepotisme (familie bevoordeling) in hulle regering en hy het werklik sy beste gedoen om sy pos te verdien. Hy was opgelei in Brittanje en het n militere graad gehad en hy het beheer gehad oor sy mense en hulle het geluister. Hy het geweet van my agtergrond maar ek het nooit militere sake met hom gepraat nie. Hy het my Pine genoem en ek het hom Geoff genoem. Sy ondergeskiktes het hom luitenant genoem en hy het ook soos so baie van ons maar was met die sambok party male regeer. Ek het hom daar teen gewaarsku. Hy was volgens die generaal onder geskik aan my en daar om hulp te verskaf. Hy was werklik uitstekend daarmee. Baie aangename man en ook mooi en netjies van voorkoms en hy het met voorbeeld gelei. As hy geblaf het, het die klein hondjies getjank en hulle nat gemaak. Ek en hy het Engels gepraat, hy wou my leer Tswana praat maar dit was moeilik genoeg om Xhosa en Matabele te meng om met my jagters te praat. Nog n taal sou nie werk nie. Hy het my die basiese geleer en n mens sou nie skinder van my nie en ek kon my uitdruk by belangrike geselskap in hulle taal maar dit was ver weg van die Nguni tale wat ek kon praat.
Dit was nog donker die volgende more en ek het vir die wag wat bo-op die Unimog wag gehou het my skietlamp gegee om mee te lig as hy iets sou sien wat hy nie kon identifiseer nie. Daar kon nie net geskiet word nie en ook eers as dit werklik nodig was. Ek het baie deur die nag wakker geword en die lig gesien skyn op voorwerpe wat hy nie kon identifiseer nie. Voor ons by Nyati weg is het ek my opdragte duidelik uiteengesit waar en wanneer ons kon skiet en hoe dit moes wees, almal was ingelig. Geoff en nog n man het saam met my en Luka bekruip om ons op te pas en dit was welkom maar nog iemand om na om te sien. Jas en nog twee moes vir Jeannie oppas en die voertuie beveilig en hulle nader bring na n geskietery.
Ek het leeus op die stadium al baie goed geken en n hele paar noue ontkomings gehad en geweet as hulle werklik ernstig was en of hulle maar net nie wou gehinder wees nie. Savuti het meer leeus gehad as die Chobe maar kleiner troppe met kleiner gebiede weens die geweldige digte bevolking van wild. Die suide se leeus was ook mooier en hulle maanhare nie so uitgekam soos die noorde sin nie. Vyf wyfies met kleintjies en twee of drie mannetjies was die norm en dan natuurlik die nomade wat herwaarts en derwaarts gejaag was deur die troppe. Paartyd was maar deur die jaar maar net soos so baie ander spesies was Maart die hoogtepunt van paring. Leeus wat paar eet nie en die wyfie sal die mannetjie bly lasting val vir dae tot sy af van hitte is, sy sal deur n paar mannetjies gedek word as die kanse daar is en hulle verloor baie gewig by so n episode. Trop mannetjies is gewoonlik broers of baie na verwant en het gewoonlik saam groot geword en verdra mekaar, tog is daar ook n pikorde. Maar n mannetjies kan ook net so vele kere paar voor hy keelvol raak. Prof Fritz het gese dat jy nooit meer as een wyfie op n slag in n trop op hitte kry nie, tog is dit blykbaar aansteeklik want na die eerste een sal die ander baie gou volg. Dit maak die grootmaak van welpies net so veel makliker want die hele trop laat drink die welpies.
Ons het vroeg geroer want ek het oilfante gehoor deur die nag maar siek bulle kon nie trompetter nie, hulle kon nie slurpe hoog genoeg optel nie en dit sou hulle waardigheid volgens Katwindi aantas. Daar het leeus deur die nag gebrul en veral na die dooie olifante se kant toe. Dit het die wagte met rooi oe gelaat die more en ons het noorde toe gery met Jas op die dak om te soek vir siek bulle. Ons het stadig gery en die pragtige wild troppe gekyk en bewonder, daar was baie en van baie spesies en die wereld was mooi want die suidelike migrasie was nou aan die gang en die troppe het net groter geword. Die water wat n paar dae gelede nog daar was, was weg en net die omarambas het nog water in gehad. Die bevolking was min en baie yl versprei maar ek het van n nedersetting geweet en in die rigting gegaan en dit vir Jas ook gese. Hoe die mense tussen al die leeus kon beeste aanhou het my verstand te bowe gegaan en hoe hulle bemark het was n dooie geheim. Hulle was gediens met veeartse en die nonne het met n Cruiser ook na hulle gekom en Jas wou my toets omdat hy geweet het dat ek maklik verdwaal, hy het dit nie reggekry nie. Die Savuti en die Linyati was waar ek groot geword het in Botswana en hier sou ek nie verdwaal nie. Die offisier het sy kaarte en kompas gehad maar ek het gedink dat dit maar bitter min werd was, hy het nie so gedink nie en my verkeerd bewys.
Die bevolking was baie bly om my na so vele maande weer te sien en ek wou weet van siek bulle. Suid Oos van hulle was sewe wat by hulle water kom drink het elke nag en volgens hulle was hulle siek. Hulle het gekla oor leeus maar daaraan kon ek niks doen nie, dit was nou Ben se probleem en hy sou nie een leeu onnodig skiet nie. Ek het vir Jas gese om my op die spore te laat ry en ons is weg van die water af al op die spore en het later die mense se beeste gekry met hulle jong oppasters met honde en assegaaie en pakdonkies en hulle het gese dat die bulle nie ver sou wees nie. Dit het minder ruig geword en Jas het die mis voor die bakkie gaan toets en gese dat hulle naby moes wees. Hy moes saam kom met die 416 want sewe was n heilige getal en ek moes nog meer vertroue kry met die 458. Ons vyf is by die bakkie weg en Luka het voor geloop en die spore gevat en later kon ek drie sien maar nie hulle slurpe nie.
Luka moes in n wildevy klim met die verkyker en hy kon vyf uitmaak en almal was tot n mate gestrem maar nie maer nie. Hulle het met die bekke die jong Mopanies gevreet en die koppe met die hinderlike slurpe heen en weer geswaai om die takke af te kry en ek kon nie anders as jammer wees vir die grote bulle wat dalk al vir so vele jare hier rond geloop het of vanaf buurlande gevlug het nie. Een het Luka gese het besonderse mooi tande gehad en die ander maar gemiddeld. Ons is stadig met n draai nader en op vyftien meter het ek en vir Jas gemaak staan agter my en die lang tande een gebrein en reg agter hom nog een en die derde een wat swakker was ook geskiet en Luka het die ander twee geskiet. Ek het my ander geweer by Jas geneem en een wat ek net die skof kon sien agterna gesit met almal agter my aan en die bul het deur die jong Mopanies gedraf en ek wou hom agter die kop skiet maar het te min toegee en my skoot is hoog op die skof in en hy het gaan sit en Luka is agter die laaste een aan en ek het myne net dood geskiet toe ek sy skoot hoor klap en later nog een.
Weer was dit die doodse stilte en ek het vir Geoff opdrag gegee om die ander wat ek eerste geskiet het nog n skoot met sy diensgeweer te gaan gee. Ek het die drie skote hoor klap en Luka het na my toe gekom, daar was leeus wat gepaar het naby die laaste een wat hy geskiet het en hy het net gehoop dat hulle sou weg gaan. Hy was byna gestorm en het so effe vaal gelyk. Sy skoot was n baie goeie skoot skuins van agter agter die oor en hy se sy koeel is voor uit. Ek kon die leeus hoor grom en stry en hulle moes baie naby die bul gewees het en was blykbaar nie bang vir die skote nie. Ek het vir Luka en Jas terug gestuur na die voertuie toe en my 416 nog steeds by my gehad en ek wou die laaste bul gaan kyk waar die leeus was. Ek en Goeff het versigtig nader geloop en hy het nie werklik leeus geken soos ek nie en voor my tussen die bosse wat laer as my skouers was kon ek die gewoel van n gepaardery hoor. Ek wou terug en op n ander roete die olifant gaan kyk en ons het omgedraai en is weg met n ompad, ek voor en hy agter my en sy man agter hom. Ons het baie versigtig nader geloop en ek kon die rug van die bul sien waar hy gele het.
Leeus wat werklik storm se lyftaal gee hulle maklik weg. As hy ernstig is sal hy doelgerig met sy oe op een man vasgenael storm, sy stert sal reguit wees en sy voete hoog opgetel en hy sal nie links of regs kyk nie. Hy sal op vol spoed kom en hy sal so af toe n “grunt” geluid maak soos hy grond raak en hy sal jou probeer in die hande kry so gou as moontlik. By n skyn storm loop lyk hy heel anders. Jou eerste gewaarwording is die van onsekerheid, sy voete gooi stof op voor die voorvoete, sy stert swaai nog en sy gesig is nie ernstig nie maar vol plooie getrek met sy lippe bo-op sy neus. Hy sal grom en raas en jou probeer afskrik en weg jaag en omdraai en weer storm tot naby jou, n paar male sal hy dit herhaal tot jy ver genoeg stadig terug geloop het buite sy gemaks gebied. Vir die leek moes dit vreesaanjaend gewees het om so in sy gesig vas te kyk en jy met die geweer teen die skouer moet nie hardloop nie. Dit sal jou duurste fout ooit wees.
Ek kon net die leeu hoor en het net besluit om liewer om te draai en hom met die bakkies weg te jaag toe hy tussen die lae Mopanies deur kom, dit was n skyn stormloop en ek het hom met die geweer laat kom tot op twintig meter, daar het hy vasgesteek en gegrom en stof gemaak en omgedraai en terug gestap en ons oor die skouer geloer. Ek het stadig begin terug loop in trurat met my geweer op hom en Geoff het langs my in geval met sy geweer ook reg. Ek kon vir Geoff baie gespanne hortend en stotend hoor asem haal en ons het net tien meter gevorder of hy het weer gestorm, die slag weer n skyn storm loop en hy het bietjie nader gekom en gaan staan en gegryns en ons belowe en ons het probeer verder terug gaan en weer het ek besef dat Geoff baie naby breekpunt was. Die leeu het ons gestaan en kyk hoe ons terug loop en weer n storm loop probeer, weer nie ernstig nie. Hier het Goeff se senuwees in gegee en sy geweer het twee skote kort op mekaar geklap en die mannetjie het bly le en skop. Ek het onmiddelik geweet dat ek die situasie heeltemal verkeerd gehanteer het en dadelik gese “ give him another two.” Hy het gesukkel met sy lyf en sy hande wat bewe maar tog twee geskiet op die dooie leeu waarvan een mis was. Hy was bykans lam en ons het stadig geloop in die rigting van die dreunende voertuie en langs n vye boom op die wortels gaan sit. Ek moes iets se en het nie geweet wat nie en my onmiddelike besluit was om hom geluk te wens. Hy het my sy bewende hand gegee en kon dit amper nie toe druk nie. Ek het my waterbottel vir hom gegee en hy het gesukkel om die prop af te haal, ek het dit gedoen en presies geweet hoe hy moes gevoel het. By die leeu was ek werklik kalm en ek het geweet dat ek altyd in beheer was. Ek kon dit nie van hom verwag nie en het al die blaam vir die leeu se dood op my geneem. Hy was lam van die skrik en toe sy mense by kom was hy stil en ek het die opdragte gegee en vir Luka met die een bakkie gestuur om die ander leeus te gaan wegjaag. Sy stem was vir n hele ruk bykans weg en later was hy hees as hy sy mense wou opdragte gee. Ek het dat Jeannie vir hom n sterk dop whisky gooi en hy het so bietjie verbeter. Tog was hy stil, baie stil en ek het geweet wat in sy gemoed aan gaan. Hy het die whisky gedrink hoewel hy n geheel onthouer was en dit het hom goed gedoen.
Toe ek in die Caprivi was in my weermag jare het n offsier n gekweste olifant koei geskiet wat vanaf Zambie gekom het met n R1 en ek wou graag sien wat die pantserbreek koeels met n olifant se kop doen. Ek het vir Geoff gaan vra vir n paar skote van sy manne af en ons het n bul wat op sy voorvoete gele het op vyftien meter reg van voor geskiet. Hy het sy man se laaistok in die gat gesteek en hy het diep in gegaan, ek was seker dat dit in die brein was. Tog was dit glad nie n olifant kaliber nie en ek het n hele paar proewe gedoen om die penetrasie te toets. Moenie die 308 Kaliber met die regte koeel vlak kyk nie. hy gaan diep, sommer baie diep. Hy het baie maklik die hart bereik, maar dit was maar net n militere gewig koeel en sy vermoe om werklik vinnig dood te maak was nie daar nie. Tog het hy die leeu baie maklik omgestoot en een is voor die kop in en by sy borsbeen uit. Ek noem dit nie om n polimiek oor kalibers en koeels uit te lok nie. Ek het egter geweet dat baie ou manne in Rhodesie die SMLE (militere wapens) op tsetse uitdunning gebruik het met groot sukses.
Ons het die tande en die leeu gelaai en het gaan slaap plek maak by die drie groot Kremetarte wat ek goed geken het en ek wou die volgende dag jag terug in die rigting van Gobabis Hills want die tande het begin stink en min dinge kan so erg ruik soos ivoor wat stink. Katwindi het drie bulle geskiet en het n noue ontkoming gehad met een wat hy gekwes het en die hom staan en inwag het. Hy wou he ons moes eers weer saam jag want by hulle was daar min siek bulle. Hy het ook vol gehou dat die bulle iets moes vreet wat op uitgetrapte of gebrande veld moes voor kom. Ek het afgespreek om hom by die inboorling basis ten noorde van Gobabis te kry die volgende aand. Ek kon op die radio aflei dat hy redelik geskud was met die olifant se storm loop.
Ek en Geoff het die aand gesit en ek het die leeu storm lope aan hom verduidelik. Hy het vreeslik sleg gevoel oor die leeu want hy was seker dat hy op die punt van storm was. Daar was nog baie om te leer, ek het ook maar op die harde manier geleer en kon hom nie verkwalik nie. Leeus sal altyd leeus wees en die ingebore vrees van die mens vir die groot katte sal altyd daar wees.
29 Maart 1978