Jongste aktiwiteit:

Ver oor die water in n vreemde land.
vir

Ver oor die water in n vreemde land.

Ons het eers die aand by Kabous se ouers geslaap en sou die volgende more vlieg na Amerika. Soos altyd was ek maar stil as dinge nie na my wense verloop het nie. Hulle het hulle bes probeer om dit so aangenaam as moontlik te maak en ons het die aand gaan biefstuk eet by n bekende restaurant, hier het jagters my herken wat by ons gejag het. Ek was darem al oorsee toe die universitiet my gestuur het om navorsing oor Simmenthaler beeste te gaan doen en ons het destyds Frankryk en Switserland besoek en so n vinnige draai in Wes- Europa gemaak.

Ek wou by van die jagters meer oor die vreemde land weet en kon ook maar nie veel wys word nie. Hulle wou jag en geweer dinge praat, iets wat ek op die stadium nie veel belang in gestel het nie. Langs aan was ‘n boekwinkel en ek het ‘n boek oor wereldkaarte gaan koop. As ek dan sou moes vlieg wou ek darem sien vooraf waarheen en watter rigting. Ek hou niks van vlieg nie, inteendeel ek haat dit, ek het sonder die goed groot geword sorgvry tussen dasse en springbokke met my honde en my perd. Ek het niks kennis van vliegtuie nie en stel ook niks belang in die goed nie. My lewe lank wou ek voorbereid wees vir enige gebeure en dit was nou presies die teenoor gestelde. Ek sou in die land afhanklik wees van ander mense en dit het my nie aangestaan nie.

Toe ons by die huis kom het ek vir Jeannie gebel en vergeet dat daar ‘n tydsverskil was en haar ma het baie deur die slaap geantwoord en haar gaan roep. Ek wou weet of sy nie maar na my toe wou vlieg nie maar op n baie mooi manier, deur die slaap, het sy my gemaak verstaan dat alles reg en in orde was en dat hulle uitsien om my weer te sien.

Die volgende more het die doeane manne by die huis ons paspoorte kom stempel en ek het in my eenvoud gewonder watter konneksies die oom nog het. Die motorbestuurder het ons Wonderboom toe geneem waarvandaan ek al grens toe gevlieg het en ek kon n paar ou landmerke herken. Die bitter smaak van weermag dae het in my keel kom sit en ek het besluit om my maar te berus. Die mense het gedink hulle doen my ‘n baie groot guns en ek was seker maar ondankbaar. Daarby was ek bang, bitter bang, ek sou liewer agter ‘n gekweste buffel loop as om in die ding wat dreun en so ver moes vlieg te klim. My bene het gebewe en ek was seker daar was ‘n wit kring rondom my mond.

Die ”Lear Jet” het daar gestaan en ek het met die loods gaan praat want ek het hom van my skooldae geken. Hy het my gerus gestel en gese dat vir reise oorsee hulle die binnekant heeltemal verander het, daar was nou beddens en ‘n tafel en selfs ‘n lugwaardin en ek kon pille kry vir naarword en om my te kalmeer en ons sou eet en al die goeie dinge van ‘n vliegmasjien. Hy het uitgebrei oor die staal monster gedoente en ‘n grap gemaak en gese dat hy darem ‘n valskerm vir my ingepak het. Ek was mos darem ‘n valskermsoldaat. Koue sweet het my afgeloop en presies drie minute oor sewe die oggend het ons opgestyg en ek kon darem die Voortrekker monument totsiens se uit die lug uit en ek het gewonder of ek ooit weer Afrika sou sien met al sy wonderlike diere en natuur raaisels.

Ons het al ‘n rukkie gevlieg en ek het met die atlas gesit en nie veel wys geword nie. Ek kon darem die loods gaan vra waarheen ons gaan en hy het my op die kaart gewys waar J.F.K was en ek het weer gaan sit. Dit was bitter ver van Afrika af en ek het gewonder of ek die regte ding gedoen het. Ek het die vorige aand sleg geslaap deels omdat ek in my benoudheid die arme meisie wakker gebel het en omdat die lang vlug soos ‘n berg voor my gele het.

Die oom het ook pyp gerook en ek het gewag vir hom om sy pyp op te steek en toe myne lekker gemaak brand dat hy klink soos ‘n eier wat bak in die pan. Dit het so ‘n bietjie kalmte gebring maar ek kon niks sien uit die gedoente nie want dit was wolke of mistige weer. Hier by elfuur het die loods iets gese waar ons was maar ek het nie dagboek saam gebring nie en die lugwaardin waarvan daar twee was het my die badkamer en die toilet gaan wys. Daar was ‘n volle stort met handdoeke en shampoo en selfs geseelde skeermesse en tandeborsels. Ons het gaan sit by die tafel en die meisies het vir ons wat hulle genoem het n “Brunch”gebring kompleet met wyne om van te kies en ek het na Jakkie verlang wat so vinnig en mooi kon dronk word van wyn.

Die tannie het vir my twee sulke rooibruin pille kom gee vir naarheid, sy het gese dat dit voorkomend was en die goed het my laat dink aan bontpootbosluise. Dit net so gelyk maar het nie voete aan gehad nie en ek het gewonder of hulle my ook sou laat jeuk, want waar hy byt het jy vir dae van geweet. Die oom het gese dat ons nog lank in die lug sou wees en het gese dat die wyne uit sy versameling uit die kelder by die huis kom. Die kos was heerlik en ek het ‘n bottel KWV late vintage redelik afgeknou soos wat ek en Kabous sou gedoen het en ek het weer gerook en toe word ek moeg en die lugwaardin het my ‘n bed gegee met net sulke dik wolkomberse soos wat ek as offisier eerste klas sou ry met die trein. ‘n Diepe slaap het my oorval en ver af kon die gedreun van die motore hoor en ek het weggeraak.

Ek moes seker te veel geeet het of te veel wyn gedrink het en het ‘n paar nare drome gehad en baie rondgerol en die een lugwaardin het my weer kom toegooi toe ek wakker word. Ek het op my horlosie gekyk en gesien dat dit stik donker buite was maar ek kon die maan sien en die sterre. Die oom en die tannie het ook gele en lees en ek het nege ure geslaap. Ek het probeer soek na die Suiderkruis, maar hier bo in die lug het alles anders gelyk en my kennis van sterre was maar beperk en ek kon nie een herken nie.

Die tannie het kom om verskoning vra dat sy my kalmeer pille ingegee het maar ek haar innig bedank daarvoor en gese dat ek dalk nog van die bosluis pille sou nodig kry. Ek het darem nie gejeuk van hulle nie. Ons het lekker gesels en sy het my moed in gepraat oor my besoek aan die V.S.A. en watter wonderlike land dit was en hoeveel ek sou sien. Ek het net gese dat hulle my nie moes alleen los in die vreemde plek nie, ek sou net daar gaan sit en doodgaan. Ek het geweet dat die buffels en leeus en olifante agter dik tralies sou wees. Dit sou nie Afrika wees met sy snorkende seekoeie en die roep van die visarend wat so weemoedig my elke more by die Linyati aan die bos herinner het nie.

As ek wou weghardloop moes ek dit op Waterkloof gedoen het, nou was dit te laat. Wat my gepla het was die fiet dat dit nag gebly het, ek het gewonder of die son ooit weer sou skyn en watter kant hy sou opkom. Ek het voor by die loodse gaan sit. Hulle was drie manne, ‘n kaptein en sy adjudant en lyk vir my iets soos n sammajoor wat net op die ingang teen die mure waardeur ek gestap het allerhande meters en klein horlosietjies dopgehou het. Daar was so baie dat hulle defnitief nie almal kon reg werk nie en as daar ‘n fout was sou hy ook nie die fout tussen hulle almal kon raak sien nie. Die twee drywers het niks gedoen nie en agteroor gele en dit het my bekommer, die ding kon nie alleen vlieg nie, hulle was slapgat en het blykbaar nie omgegee nie. Ek het hulle sterk aangepraat toe praat hulle van ‘n “Autio Pilot”. Hy vlieg blykbaar op sy eie en sal vir hulle se as daar fout kom. Hulle het my taamlik deur die slaap gelyk en ek het gewonder of hulle ook wyn gekry het. Die manne sou nie vir my gewerk het as dit my vliegtuig was nie. Hulle was net te kalm en het gelyk of hulle niks doen nie.

Ons het op twee plekke geland, die eerste was in Miami waar ons ‘n uur lank op die vliegtuig gebly het. Ek het saam met die loods uitgeklim en my bene gerek en dit was nog steeds nag. Daar was net vliegtuie waar jy kyk en so ver as die oog kon sien. Party het kom sit en ander het opgestyg en ek het gewonder hoe veel male per dag daar van die goed in mekaar vasry. Dit het bykans gelyk soos in Afrika met nie ‘n mens van my ras in sig nie. Die vragmotor het die vliegtuig kom vol maak en ons moes nog drie ure vlieg voor ons by New York se J.F.K. lughawe sou kom. Die oom het my horlosie gevra en het hom reg gestel vir die tydverskil en dit was nou vroeg in die more. Ek was heeltemal gedisorienteer met die lang vlug en die slaap van die bosluispille en al die veranderinge en ek het net my jean en kakie hemp aan gehad wat ek nog by die Jood op my tuisdorp gekoop het. Dit was koud en ek het maar onder die kombers in geklim en geweet dat ek nooit weer vir Afrika sou sien nie. My skoene was darem skoon gemaak by die oom se huis en my klere was skoon en ek het gaan stort en my met ‘n nuwe skeermes geskeer en daar was lekker ruik goed ook in die badkamer en ek het meer vars gevoel, nog steeds bitter bang. Intussen het ons weer iets geeet maar dit was nou more en ons het nie wyn gedrink nie, net koffie. Die tannie het vir my die botteltjie bosluispille gegee en gese dat ek weer met my terugkoms van hulle moes drink om te slaap.

Die loods het vir ons gese om reg te maak vir landing oor vyftien minute op die lughawe en ek het gou my pyp gebrand en ‘n paar lekker teue rook in getrek en ek was ewe skielik baie braaf. Hier sou ek darem vaste grond onder my voete he en ek kon weer miskien met ‘n bakkie ry en kyk of ek wild sien en watse tipe veld dit was en of ‘n man kon boer. Hier was bitter baie vliegtuie, hulle het in sulke stringe kom sit en weer opgestyg. Dit het nou al lig geword en ek kon net vliegtuie en geboue sien so ver my oe kon sien.

“Pine, ek gaan nou van hier af in ‘n ander koers, Paul se vliegtuig sal jou hier kom haal en dan vlieg julle Oregan toe.”

“Moet ek nog vlieg oom? Hoe lank of ver is dit?”

“Ek is nie seker nie, hy kom self en ek sal jou persoonlik na hom toe neem. Hou op stres, jy is nog al die pad in goeie hande.”

“Kan ek nie maar saam met oom-hulle gaan nie?”

“Moenie jou pyp vergeet nie, hy kom haal jou self.”

Die koue sweet het van my voorkop geloop en ek het sterk aan die bosluispille begin dink maar dan sou ek vol slaap by die mense aankom. Hulle het my nie gese dat ek twee keer gaan vlieg nie, dan sou ek by Waterkloof beslis weggehardloop het. Paul het my self by die oom kom haal en sy vliegtuig was beter en groter as die oom sin. Hulle het ‘n rukkie gesels en Paul het op sy horlosie gekyk en ons moes afskied neem. Dit was nou so vyf weke wat ek laas vir Jeannie gesien het en ek was te skaam om te vra waar sy was. Ons het gery met so ‘n klein bussie oor die aanloopbaan na so ‘n blink vliegmasjien en hy het vir my vinniger as die oom sin gelyk. Paul se naam en sy maatskappy se naam was groot op die kant geverf en buite het drie manne met uniform gestaan.

“Is this the hunter from Africa? Wellcome in the U.S”

Ek het my bewerige klam hand teen my broek afgevee en dankie gese. Paul het voor my geklim en die ander drie agterna. Ek was die lam wat ter slagting gelei word maar ek was darem tussen bekende mense, as dit nou net nie vir die vlieery was nie. Sommer so slap regs was sitplekke en ek wou my twee koffertjies daar gaan neersit en sommer gaan sit en regmaak vir die vliegtuig om te val. Paul het gese dat ek moes deur die gordyn loop en agter moes gaan sit.

Ek het voor geloop en skielik was Jeannie daar.

“Sweety! I am so glad to see you.”

Sy het so n bont Hawai hempie aan gehad met ‘n stywe blou jean en haar ma en broer was ook daar. Sy was mooier as ooit met die lang krulhare wat los gehang het en sy kon my nie genoeg om die nek val nie. Ek was skaam vir die ongekunstelde meisiekind se aandag en wou darem haar ma en broer ook groet. Sy wou my nie los nie en haar trane en byna myne het geloop. Dit was asof die kalmte van die wereld oor my gedaal het. Nou kon die ding wat ek mee moes ry maar val. Ek was tussen bekende mense en hier sou ek nie wegraak en alleen wees nie. Die vrae het soos ‘n Vickers masjien geweer op my gereen, van die honde tot Jakkie en al die mense en wat ek geskiet het en hoekom ek maer geword het en hoe dit gaan met my ouers. Paul het haar probeer stil maak maar sy was onkeerbaar.

Sy het in ‘n sak gekrap en my net so ‘n blou hemp soos hare gegee met sulke palmbome en sambrele op en ek moes die Jood se hemp uittrek. Kabous se ma het vir my ‘n skoendoos gegee op die lughawe wat ek op die vliegtuig moes oopmaak, dit moes n verrassing wees. Die doos was bykans vol honderd dollar note met ‘n baie mooi briefie bo-op.

“Baie dankie vir wat jy in jou lewe vir Kabous gedoen het, geniet dit.”

Toe loop my trane, Selby het ook ‘n spul geld sommer in ‘n vaal kardoes sak gegee, ek het verlang na my goeie vriend en na my ouers en na mense wat ek glad nie geken het nie. Die spanning van weggaan van my geliefde Afrika af was net te veel, ek was ‘n boskind, nie gemaak vir die beton woestyn van mense nie. Die oop vrye ruimtes en die bosloerie en die tarentale was my vriende. Die loods het gese dat ons moet vasmaak en ons het opgestyg. Ek het sklielik na my honde verlang.

So tien minute later het die loods gese dat ons maar kon rondloop en gesels en ek wou weet hoe lank ons nog sou vlieg. Jeannie was te vol woorde en ek kon nie hoor nie maar ek het geweet dat ek nou seker veilig sou wees. Ons sou direk op sy plaas in Oregan gaan land maar daar was slegte nuus ook, ons sou Alaska toe vlieg vir so ‘n ligte jagtoggie. Dit het my gelyk dat die mense niks kon doen sonder vlieg nie en ek het gewonder of hulle darem bakkies ook gehad het. Paul het my die vliegtuig se telefoon gegee en gese dat ek my ouers moes bel want dit was nou sesuur die aand by hulle. Ek het my ma gese dat ek iewers tussen die hemel en die aarde was en dat dit goed gaan. Jeannie het met hulle gepraat in haar geraadbraakte Afrikaans-Engelse kombinasie en my pa het gese dat ek hom moet kom vertel waarmee die mense daar boer. Hulle was bly ek was bykans veilig. Ek moes ook vir Selby skakel en hy het gese dat alles nie sal vergaan net oor ek weg is nie, ek moes dit net geniet.

Die aanloopbaan was op die plaas wat die mense ‘n “ranch” noem en hulle meet hulle grond in akkers en ek kon baie perde sien en beeste wat soos Herefords gelyk het. Daar was geweldig baie geboue wat soos fabrieke gelyk het en elke liewe plaaspad was geteer soos ek uit die lug kon sien. Die opstal was ‘n enorme gebou en vir die eerste maal het ek blanke bediendes gesien en daar was vier van hulle en twee manne wat in en om die huis sou werk. Ons is van die vliegtuig af met twee motors na die huis en die goed het linkerhand stuurwiele gehad en die mense ry aan die verkeerde kant van die pad. Ek het al Unimogs bestuur wat ook links was en het as ‘n kind met n Willys CJ 2 jeep groot geword wat ook links was maar ek het besluit dat ek nie hier sou waag om rond te ry nie.

Die manne wat in die huis en tuin gewerk het, het my tasse kom haal en Jeannie het my my kamer gaan wys. Daar het ‘n groot foto gehang waar sy onder ‘n ysterhout in my arms le met my pyp in haar mond en ek vas aan die slaap. Daar was baie ander foto’s van die die Lynyati en van my boesmans en die honde en die mak diere en ek het tuis gevoel na sy haar wou doodlag oor die foto met die pyp. Dit was byna aand en ek was heel uit met die tyd en die rigting en ek het vir Paul gevra waar die son opkom en hy het my gewys. In die wereld sou ek hopeloos verdwaal en ek het besluit om nie te ver van mense af te waag nie. Ek het op pad na die trofee kamer ook verdwaal in die grote huis en by die bediende kamers opgedaag.

Om vreemd en rigtingloos te wees was vir my verskriklik en ek het dit met Jeannie bespreek. Ons het in die kamer vol trofees gaan sit en daar was ‘n paar wat ek herken het maar daar was spesies wat ek nog nooit gesien het nie. Hy het uitgevra oor die gewere wat hy vir my gegee het en of die bakkies nog loop, sy telefoon sou bykans aanhoudend lui tot ek gesien het dat hy hom vererg. Hy het verskoning gemaak en iemand geskakel en gese dat hy nie verder gepla wou wees nie. Daar was so baie telefone om elke hoek en draai en ek het gedink dat dit maar net sy eie skuld was, ons huis het net een gehad met ‘n slinger-handsentrale.

Ons het lank gepraat oor sy jagtog wat Peter Capstick gereel het in Ethiopie en hy was dit eens dat ons die beste en mees georganiseerde jagte in Afrika aanbied waarop hy nog was. Hy het gevra wat die kanse was dat ons na ander lande sou uitbrei, ek het nie geweet wat in Selby se kop baie dae aangaan nie. Dit sou seker nie onmoontlik wees nie maar ek het dit sterk betwyfel, Selby was getroud met Botswana en het al sy kop in Oos Afrika gestamp. Hy het af en toe gaan jag in Kenia maar het nie meer ‘n goeie woord gehad vir die land se regering nie. Ek het hom reguit gese dat ek nou ‘n Botswana burger was maar as ‘n boorling van ons land sou ek dit nie in Afrika gewaag het nie. Die hele kontinent behalwe Malawi was teen ons gekant en ek het dit ook maar oor geld van ons regering af toegeskryf. Daar was nie vreemde spesies in Malawi nie en gevolglik het die land my nie aangetrek nie. Politiek was te onvoorspelbaar in Afrika en met die regerings wat baie male deur staatsgrepe oorgeneem was, was Botswana eintlik al wildryke land wat baie stabiel was.

Jeannie het soos by die Linyati, my klere uitgepak en die argitek planne van die nuwe basis, Nyati, was in kleur in my een koffer en sy het met die papiere in die trofee kamer aangekom. Op papier was dit ‘n ongelooflike mooi plek en ek het nog vol films gehad wat ek wou ontwikkel en sy het die een tuinhulp geskakel en hy was binne ‘n uur terug met die ontwikkelde fotos. Daar was ook fotos op van die skaal model en sy kon die plek baie gou herken. Sy was in vervoering oor die plek maar ek het gese dat die makgemaakte diere nie sou kon saamgaan nie want daar was baie leeus en die basis het nie genoeg natuurlike weiding gehad nie en hulle sou moes buite die basis wei. Dit sou nie gewerk het nie. Ek sou wel die honde en nagape saam neem. Ek het nie geweet of sy weer terug kom na Afrika toe nie en wou my ook nie opdring nie. Sy het wel gese dat sy sou terug kom. Ek het my bedenkinge daaroor gehad, om in so veel rykdom te kon geleef het moes jy bykans van jou sinne beroof wees om die bos van Botswana of die Karoo te kies.

Ek en sy het so bietjie gesels en met haar aanhoudende gepraat het ek aan die slaap geraak die slag sonder die bosluispille. Ons het nog nie gepraat oor my nuwe werk en Afrika nie, ek was net te moeg. Ek het ver in die vreemde land my pyp opgesteek en rustig aan die slaap geraak met my klere aan. Sy het my geken en ‘n kombers oor my getrek en ek was weg van die ander wereld waarvan ek niks geweet het nie.

13 Oktober 1977




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed