Jongste aktiwiteit:

Die Automatic

Die ‘Automatic’, deur Stephan Uys

Hier op die plaas buite Nigel is daar altyd te veel om te doen en nie genoeg hande om die werk gedoen te kry voor die son sak nie. Pa boer met bees en gesaaides, en die enigste kans vir stilsit is as die Bokke se wedstryd oor die draadloos uitgesaai word, of terwyl Dominees Sondag oggend preek. Ek het altyd gedink Dominees het geweet hoe hard die boere werk en hoe moeg hulle is, daarom dat hy sy preek so ‘n ekstra tien minute rek; net sodat die boere ‘n uiltjie kan knip voor die week weer begin.
Op die plaas het jy leer bestuur laaank voor jy leer lees het. Iemand of iets moes altyd êrens afgelaai of opgelaai word, en as oudste kind het ek die voorreg gehad om eerste te leer bestuur.
Vandag se motors het kragstuur, ses ratte en ‘n sagte koppelaar, of ‘clutch’, vir die wat nie tweetalig is nie. Daardie tyd was jy gelukkig as jou tjor vier ratte vorentoe gehad het, en jou linkerbeen was dikker as jou regterbeen van koppelaar trap. Pa leer my bestuur met die groot F100 bakkie met die Perkins Diesel, drie ratte en geen kragstuur. Meestal was die paaie op die plaas reguit, maar daar by die tweede bos het die pad skerp na links geswenk en dan moes ‘n man met jou voete so regs in die hoek vastrap en die stuurwiel na liks oorstoei as jy nie in die spoelsloot wou beland nie. Teen die tyd dat ek nege jaar oud is ry ek al die hele plaas vol – meeste van die tyd stok siel alleen.

Na kerk een Sondag oggend, nadat Pa sy uiltjie se vere besonders kort geknip het en Ma sy ribbes vir hom op twee plekke amper mors-af gestamp het, kom kuier Oupa en Ouma op die plaas. Niemand van ons herken die blink geel motor wat by die opstal opdaag nie, dit is eers toe Oupa sy bekende deuntjie op die hoeter blaas dat ons wis wie dit is. Groot-oog staan en bewonder ons die pragtige Toyota Cresida van ‘n afstand; daardie dae was jy vinnig met ‘n dwarsklap na ʼn veilige afstand verwyder as jy te naby aan iets kosbaars gekom het. Eers toe Oupa ons nooi om in te klim en te loer hoe dit binne lyk, waag ons dit om in te klim. Pa gaan sit voor die stuurwiel en ek sit daar waar Ma gewoonlik sit en sy spoed vir hom aflees as ons bietjie laat is vir kerk of skool. My oog vang die rathefboom en ek sien die ding gaan net op en af. Oupa verduidelik vir ons dis ʼn ‘automatic’; die kar is so fancy hy sit self sy ratte oor. Na ete roep Oupa vir my om saam met hom te gaan ry – ek is darem die kleinseun wat sy lywige boere name vir die toekoms bewaar!

By die kar gekom gee Oupa die sleutels vir my en dui aan ek moet agter die stuurwiel inskuif. Ek laat nie my twee keer nooi nie, en voor hy van opinie kan verander sit ek grootman agter die stuurwiel. Ek skakel die motor aan sonder enige hulp, maar toe moet Oupa eers ‘n paar vinnige instruksies gee. Ek is ‘n vinnige leerder en gou-gou is ons uit by die hek en ons vat die pad daar na die tweede bos toe. Die pad is oop en die lekker sanderig, en elke nou en dan gooi die kar sy gat effe skuins. Ek sien toe waar Ma geleer het om die spoed so te lees. Ek verduidelik vir Oupa hy kan ontspan, maar ek gebruik nie dieselfde woorde as wat Pa met Ma gebruik nie. Toe Oupa daai draai in die pad sien, toe begin sy hand soek vr die veiligheidsgordel. Ek het self my oog op die draai – vandag gaan ek die karretjie se gat vir hom swaai! Ek ry op daai draai af en net voor ek hom wil ingaan trap ek die koppelaar in om na ‘n laer rat toe oor te skakel – maar die koppelaar is toe die rempedaal!
Daardie Toyota steek vas soos geen donkie in die geskiedenis dit nog kon regkry nie. Oupa was besig om die veiligheidsgordel te gryp. Hy draai om daai gordel soos ‘n nooi om ‘n paal en druk sy paar stewige boude vas teen die venster. Ek slaan my kop teen die stuurwiel dat dit vir my lyk of die nag-hemel daar in die kar verskyn. Fyngetrapte plaaspad stof borrel deur die vensters; dit is so dig ons sukkel om asem te haal.
Ek skrik my jy-weet-wat af toe ek Oupa, toe onder die stof, daar op die venster sien sit.
“Genant, is jy so vaal van die stof of van die skrik?” verbreek hy die stilte nadat ek hom van die venster afgetrek het. Nog voor ek kan antwoord begin hy lag. Sy maag skud en die trane maak strepe soos dit stof van sy wange af rol. Hy klap op sy been van lekker kry. “Boeta”, hyg hy, “ek sal so wragtag weer saam met jou ry net om daardie uitdrukking op jou gesig te sien!”




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed