DOLLARNOOT
DOLLARNOOT (3 348 w) Oktober Projek.
’n Gemaklike stilte heers tussen die twee mense op die stoep waar hulle ’n panora-miese uitsig het oor Frans Kuhn se spogplaas. Hy het Martie Swift vyf jaar gelede toevallig in die apteek ontmoet toe sy spontaan met sy Downsindroom broer, Arrie, aan die gesels geraak het. “Jy’s die eerste persoon wat met Arrie praat asof hy nor-maal is. Waar kom jy vandaan?” was sy eerste woorde aan haar. “Wat is normaal?” was haar teenvraag. Hy het sy hand uitgesteek, “Frans Kuhn, ongetroud” en sy het gereageer met “Marthie Swift, ongetroud,” haar hand in syne. Albei het gelag oor die ekstra ongevraagde inligting. “Kom kuier vir my, dan wys ek jou my plaas.” So word dit ’n greelde kuier op die Kuhn plaas.
“Kyk hoe waai die wind daai dennebome teen die koppe op die buurman se grond,” gesels sy. “Braai ons ’n vleisie, Frans?
“Mart, jy kan oorslaap as jy wil, maar jy weet ek vlieg Dinsdag Amerika toe en moet nog gaan geld omruil.”
“Waar, in vadersnaam, gaan jy soveel geld omruil op ’n Saterdagmiddag? ’n Mens moet Pietersburg toe vir dié soort transaksies.”
“Ek het ’n Indiër vriend wat dit vir my kan ruil.
“Dit klink vir my alte veel na geldwassery!”
“Moenie vir jou laf hou nie ek werk nie met ontwettige of gesteelde geld nie en ek sal versigtig wees. Dis nie die eerste keer wat hy my uithelp nie. Hy vra my sy kommissie maar dis baie goedkoper as om die twee vragte avo’s se geld by hom om te ruil as om Pietersburg toe te ry en dit op ’n Maandag. Die laaste vrag se geld kom laat vanaand eers in.”
“Nou gee jou beker aan as jy klaar is.” Half vies tel sy die skinkbord op en stap uit. “Sien jou.” Kortaf.
“Wag ek stap saam. Ons sal weer braai, okay?”
“Moenie my probeer paai nie! Jy’s my vriend, dis roekeloos van jou om met die klomp kontant aan jou rond te loop!”
“Pietersburg toe? Op ’n Maandag? Ook met die klomp geld?”
“Ja, Frans, wat weet ’n vroumens tog!”
Met sy hartlike lag maak hy die bakkie se deur vir haar oop. “Mooi ry!”
***
Mart draai vir die soveelste keer om in haar bed, woel die beddegoed deurmekaar, weet nie wat pla nie, staan op, maak ’n beker warm melk met heuning, sluimer teen tweeuur in, skrik eers negeuur wakker. Dankie tog dis Sondag! Sy skakel haar foon aan. Genade! ’n Vreemde nommer het haar al agt keer gesoek! Wie sou so knaend op haar spoor wees, en dit op ‘n Sondagoggend? Sy wonder nog, toe die foon skel. Laat sy tog maar hoor, dit kan tog nie ’n verkoopsman wees nie.
“Môre, kan ek help?” antwoord sy bot, skrik helder wakker toe Elias, Frans se voorman, die Zulu wat tussen die Vendas groot geword het, se baie onduidelike huil-stem in haar oor opklink.
“Hy lê net hier Ma, die bloede, hy es baie, hy es dood Ma, jo jo Ma…”
“Elias, wat praat jy? Wie’s dood? Sê stadig wie’s dood?
“Baas Frans, Ma, Frans, kom help Ma, ek soek jou vroeg al…”
“Ek kom, Elias, moenie weggaan nie, ek kom…” Sy probeer Marius Mostert, Maclands die voorman, in die hande kry. “The subscriber…” Sy los ’n boodskap, pluk dagklere aan, noodhulptas is in die bakkie, gryp haar sleutels, sluit haar voordeur bewend toe, bakkiedeur bewend oop. Kalmeer, Mart! Frans dood? Dit kan nie wees nie! Frans wat haar gister laggend afgesien het, kan nie dood wees nie! Nee Here!
Die twintig kilometer na sy se plaas voel vir haar soos ’n ewigheid. Wat sou tog gebeur het? By die grondpad draai sy in en jaag na die huis. Elias was teen-woordig genoeg om die hek oop te los, of was dit nooit toe nie? Sy sien hom by die Mercedes staan, kattebak gapend oop. Sy stop agter die kar.
Elias kyk verdwaas in haar rigting. “Hy lê net daar by die kar, Ma, dis net die bloede, baie by die kop. Hy is by hom se okhokho. Het nie eers gagroet nie…!” Die ouman kerm-huil so dat sy sukkel om te verstaan wat hy sê.
Frans lê op sy rug langs die Mercedes, sy kop omring met bloed, tennis klere aan. Sy hurk langs hom en voel sy pols. Hy is yskoud. Sy voel niks nie. Trane rol oor haar wange. Haar hand gaan na sy stil gesig wat yskoud onder haar hand lê. Verbeel sy haar of is daar ’n ligte wasempie op haar wysvinger? Haar vingers gly af na sy nek. Daar is tog ’n pols! “Elias! Frans lewe nog. Ons moet hom warm kry. Agter die kar se sitplek is altyd ’n kombers en kyk of sy baadjie in die kar is. Bring dit hier. Vat die deur met jou hemp, nie met jou kaal hand nie.” Hy kyk haar vraend aan. “Vir die fin-gerprints, Elias. Maak gou.”
Sy bel die polisie wat tot haar verbasing dadelik antwoord. Sy verduidelik die situasie en die sersant belowe hy sal reël dat die ambulans dadelik uitry. Verlig dat daar nog iemand is wat beheer kan neem, draai sy terug na Frans wat steeds roer-loos op die koue sementvloer lê.
“Here, laat hulle asseblief die dringendheid besef en gou kom! Vasbyt, Frans!” pleit Mart en kyk deur wasige oë na haar dierbare vriend se stil gesig.
Mart rol die baadjie op en sit dit versigtig onder sy kop. Die sement is yskoud. “Elias bring vir ons twee van daai bokse teen die muur, maak hulle plat laat ons dit onder Frans inkry.”
Elias bring die platgemaakte bokse en help Frans versigtig draai soos sy be-duie en sy skuif die kartonne onder hom in. Sy vou die kombers om hom.
Mart gaan haal haar noodhulptassie uit haar bakkie, kry ook haar kombers en handdoek wat sy oral saam ry. Sy vou die kombers dubbel en plaas dit versigtig oor Frans en vir ekstra hitte.
***
Vader tog, wanneer kom die ambulans? Sy het nie ’n drukverband wat groot genoeg is vir die gat in Frans se kop nie. Sy gebruik haar handdoek om die bloeding te pro-beer stop. “Elias, wat het gebeur?” kry sy nou kans om te vra.
“Ek kry hom net hier lê toe ek hier kom. Ek het nie gasien hy ry nie. Hy was weg in die aand. Jo, Jo! Toe die skrik my lyf los, ek bel jou. Ek het nie aan hom gevat nie. Mos die okhokho, hulle sal nie happy wees oor die disrespek nie. Ek denk hy’s klaar weg. Ngiyabonga Nkulunkulu!” dank die ou Zulu die Skepper.
’n Bakkie kom aangejaag. Dis Marius nog in sy kerkklere.
“Môre, tannie! Wat op aarde gaan hier aan?”
“Hi Marius, sorry ek pla jou op die Sondag, maar eintlik was ek net bang om alleen te kom. Ek het nie ’n idee gehad wat ek hier sou aantref nie.” Marius buk af en kyk na die wond, druk die handdoek vinnig terug.
“Dit lyk soos ’n skietwond. Het jy al die polisie gebel?” Hy staan op en kyk om hom rond. “Daai gat in die muur lyk na ’n koeëlgat. Ons moenie te veel rondkrap nie. Klink my hier kom die polisie nou.”
Agter die polisie stop die ambulans. Die paramedici kom haastig nader gedraf met ’n draagbaar en mediese tas. Een buk dadelik af en voel na Frans se pols. Hy frons, vervat sy vingers, knik en wink sy kollega nader sodat hulle Frans op die draagbaar kan oorplaas. Die polisie begin vrae vra en met ’n vinnige, “Ek het nie ‘’n idee wat hier gebeur het nie,” beweeg Mart saam met die draagbaar na die ambu-lans.
“Marius, jy en Elias kan maar met die polisie praat. Die huis se sleutels lê op die kar se sitplek. Ek ry saam met die ambulans.” Die deure klap toe en met ’n geloei wat die oggend stilte versteur trek hulle weg.
***
Pietersburg hospitaal verwys hulle na HF Verwoerd in Pretoria. Hulle het al ’n hele
ent op hierdie tweede skof gevorder toe die paramedikus skielik bevele skree. Die ambulans trek van die pad af, die defibrillator word nader geskuif en Frans se hemp oopgeruk.
“320!” kom die bevel. “Staan weg! Skok, 340! Staan weg! Skok! Weer! 360! Staan weg! Skok! Skok! Weer!
“Daar’s pols!” juig die medic.
“Hoe ver nog, drywer?” vra hy deur oopskuif venster.
“30 kilometer…”
“Sit aan daai sirene en ry!” Hy vee die sweet van sy gesig af met sy hemps-mou. “Hy het ’n medic-alert bandjie aan,” merk die jong medic op.” Die inligting word aan die radio-operateur in die stuurkajuit oorgedra met die opdrag dat bystand ge-reël moet word.
“Vra hulle om ’n trollie reg te hê by ongevalle en die noodteater in gereedheid te bring met eenhede AB negatiewe bloed. Ry, jongman, ry!”
Die sirene loei in Mart se ore, sy sluk die naar van karsiek af. Nie nou nie, Marta, nie nou nie, maan sy haarself.
Almal slaak ’n sug van verligting toe hulle by HF indraai. Alles staan gereed. Frans word oorgetel en verdwyn deur die gapende deure van ongevalle. Sy hol agterna, maar word voorgekeer. Hy is op pad noodteater toe. Sy sak in die naaste stoel neer waar die administratiewe amptenaar haar kry en versoek dat sy na haar bedieningshokkie kom sodat sy Frans se inligting kan kry. Mart antwoord haar vrae na die beste van haar vermoë, wat lyntjies gapend ooplaat op die vorm. Van haar vriend se intieme mediese en persoonlike inligting weet sy weinig. Ken darem sy volle naam en geboorte datum, adres en telefoonnommer.
Die ure tik verby. Uiteindelik kom daar ’n verpleegster na haar aangestap. “Die dokters werk mooi met die oom, tannie, hulle sal nog ’n ruk besig wees,” stel sy Mart gerus.
Mart krul haarself op in ’n stoel en raak aan die slaap. Sy ruk wakker van ’n hand op haar skouer. “Wil jy nie op een van die ongevalle beddens gaan lê nie, Dame?” vra ’n vriendelike verpleegster.
“Nee genade Nursie, netnou haal hulle my blindederm uit… Ek’s nou weer okay.” Sy staan op en gaan haal ’n glas water.
Ure later kom ’n baie moeë dokter uit die teater. Mart spring op. “Dokter, asseblief, hoe gaan dit met Frans, wees eerlik.”
“Is u familie?” Die moeg staan oor sy gesig geskryf.
“Nee Dokter, maar die naaste wat jy daaraan kan kry.”
“Wel, dame, laat ek dit so stel, was dit nie vir sy medic-alert bandjie sodat die regte bloed in die teater was nie, was meneer Kuhn nie meer met ons nie. Ons het hom twee keer amper verloor, terwyl die breinspesialis aan sy kopwond gewerk het en sal hom in ’n koma hou tot die swelling van sy brein gesak het. Ek kan ongelukkig nie vir jou sê hoe lank nie, of hoeveel skade daar is nie!”
Sy sak op die naaste stoel neer. Haar bene voel soos jelle. Tien-ure! Sy haal haar foon uit en skakel Wolf, haar vennoot en vriend. “Wolf, kom haal my asseblief by HF se ongevalle. Sal vertel jou as jy hier kom.”
***
Veilig in die bakkie, vertel sy Wolf wat sy weet en vra of hy haar dadelik terug sal vat Louis Trichardt toe. Die polisie wil haar glo sien.
“Vergeet dit maar. Jy gaan nou in ’n warm bad klim, terwyl ek vir jou iets maak om te eet. Hulle kan wag tot môre.” Sy is te moeg om te stry, raak aan die slaap teen sy skouer en word wakker toe hy by sy motorhek indraai.
Vroeg die volgende oggend vat hulle die pad Louis Trichard toe. Sy praat nie veel nie, dink aan Frans wat nou in die intensiewesorgeenheid lê.
By die polisiestasie aangekom, lig die inspekteur hulle in dat net ’n dollarnoot in die kattebak gevind is en ‘n koeël in die muur. Dit was glo ’n 38 kaliber rewolwer. Niks lyk uit plek in die huis nie maar volgens meneer Mostert, ken sy die huis beter.
“Waar is die dollarnoot, Sersant? Kan ek dit asseblief kry?”
“Ek sal hoor wat daarvan geword het, Dame.” Hy skakel ’n nommer en vra uit na die dollarnoot, rapporteer terug dat die ondersoekbeamptes alles net so op die plaas gelos het, dollarnoot inkluis. Hy sal saam uitry dan kan hulle weer deur die plek gaan.
Mart en Wolf stap van vertrek tot vertrek saam met die inspekteur en sy vind alles ongesteurd, selfs die dollarnoot is steeds in die kattebak. Sy hou die noot aan-gesien die polisie nie belangstel nie. Waar is die ander geld? Sy sê niks oor die geld-omruilery nie.
Toe die polisie weg is, ry sy en Wolf tennisbane toe om op die lys te gaan kyk saam met wie Frans sou speel. Die magistraat se naam verskyn ook op die lys en sy besluit om deur hom te werk. Martjie Esterhuysen en Frans is dubbelmaats. Sy ska-kel haar. Hulle sou die Sondag saam geoefen het, maar hy het nie opgedaag nie en ook nie sy foon geantwoord nie. Sy is geskok oor die nuus.
***
“Wolf, ek wil weer met Elias gaan praat, kom jy saam?”
“Is jy miskien besig om speurder te speel, Mart? Wat broei in daai kop van jou?”
“Ek het ‘n vermoede en Elias moet dit help bevestig. Kom jy saam?” Wolf skud net sy kop en skuif agter die stuurwiel in.
Terug op die plaas, roep sy Elias nader. Voordat sy kan praat, wil Elias weet hoe dit met Frans gaan.
“Hy lewe, Elias. Hulle het mooi gewerk met sy kop, maar hy het nog nie wakker geword nie. Sê vir die mense hulle moet bid vir hom.”
“Yebo, Ma.”
“Elias, wil jy die man vang wat Frans geskiet het?”
“Yebo, ons sal vir hom ‘bundu justice’ gee, tru’s”
“O nee, julle sal niks van die aard doen nie. Weet jy wat julle elke dag op die plaas moet doen?”
“Baas Marius hy was hier vroeë oggend, hy het gesê, Ma. Moenie worry nie Ma, ons sal die plek mooi oppas, baas Marius sal help, ons bly lank se tyd hier.”
‘Nou hier is ons plan om die skelm te vang. Jy ken mos baie mense in Louise Trich? Kry die man wat jy kan trust. Ek soek die huis waar die geld loop. Julle moe-nie los praatjies maak nie. Dis gevaarlike mense, ons soek nie dat julle moet seerkry nie. Julle report net aan my, verstaan?
“Ek vorstan, Ma. Ek sal Spy soek in Louise Trich. Spy, hy is net die man vir hierdie job. Hy het nie gesig of naam. Ek sal hom donker gaan sien.”
“Waar steek jy nou weer jou kop in, vroumens?” vra Wolf bekommerd. “Dis mos nou ’n gevaarlike spul die.”
“Klink dit vir jou of die polisie iets gaan doen? Nee, hulle wil wag tot Frans bykom om hom te ondervra. Hulle gaan lank wag. Tussen Elias, sy trawante en die magistraat sal ons wel êrens kom. Jy sal sien!”
“En ek moet nou met ’n geruste hart teruggaan Pretoria toe?”
“Kom kyk eers hoe mooi die bixa op die lande groei en slaap oor, dan kan jy more met ’n geruste hart terugry Pretoria toe. Hou nou op worry.”
***
Mart gaan een maal ’n week om die huisplante te versorg. Marius maak daagliks ’n draai op die plaas en sien toe dat die arbeiders hul opdragte uitvoer. Sy bel die hospitaal gereeld. Haar vriendin Olga het ingestem om Frans se wasgoed te versorg en verslag te doen oor hoe hy werklik lyk. Intussen is Elias en sy makkers nog aan die rondsnuffel.
Dis na ses. Haar foon lui. Dis Elias.
“Naand, Elias!”
“Ons moet praat, Ma, maar nie by die fone nie. Kan jy in die môre kom?”
“Ek sal so negeuur by die plaas wees? Het iemand seergekry?”
“Ons praat later, ek’s nog in Louise Trich. Ons sal praat.”
***
“Môre, Ma,” groet Elias toe sy stop. Hy kyk eers rond of daar ander ore is.
“Ma, jy ken mos daai shop by die corner in Louise Trch, mos die een met die plat huis, hy’s net langs die shop. My Spy, hy het oral gekyk, heel week. Hy maak hy soek werk. Maar daar is groot honde by daai huis, net tot sesuur by die aand, dan die honde, hy word toegemaak. Dan kom daar party maal karre smart kar, mercedes, dubbelcabs, maar die mense bly nie lank, net in en uit. Nou daai jong man van daar, ander dag hy kom uit, Spy, hy het net by die telefoonpaal gestaan. Toe hy gryp Spy by die bors en hy skree vir hom. ‘Wat de donner hang jy hier rond?’
“Spy check hom toe, ‘Mos daar’s nie ‘no entrens’ by die straat nie. Ek soek werk. Ek’s moeg, kan ek die water kry?’
“Toe daai man sê vir hom, ‘Fok of, lyk ons vir jou sos die municipality?’ Toe Spy, hy loop na die next door en vra water. Daai mense hy gee hom water en die appel maar, sorry hulle het nie die werk nie. Clever een daai. Toe hy bel my en sê, seker daar is iets nie okay nie. Hoekom die man jaag hom?”
“Elias, julle doen nou niks verder nie. Sal jy hierdie storie vir die magistraat vertel?”
“Ek sal praat, Ma, maar Spy het nie die gesig nie en ok nie die naam nie. Hy soek die iets vir sy werk.”
“As hy reg is, sal ek sorg dat hy iets kry. Maar nou gaan ons eers magistraat toe. Ons moet net hoor of hy besig is en ’n afspraak maak. Ek bel nou.” Toe die magistraat hoor dat dit oor Frans gaan, kry sy ’n afspraak vir eenuur.
“Loop trek vir jou skoon aan, Elias, ons ry nou.”
Sy maak seker die dollar is nog in haar sak. Nouja, laat ons maar sien wat hier uitbroei.
Die magistraat luister aandagtig na haar verklaring. Sover sy kon agterkom is net die geld en Frans se selfoon weg. Nee, sy weet nie hoeveel geld dit was nie, weet net dat Frans avo geld wat laat Saterdag ingekom het, gaan omruil het by ’n Indiër vriend van hom in die dorp. Die dollar moes uit die pak of bondel geval het.
“Dankie vir die inligting. Ek sal ’n lasbrief uitreik en die polisie betrek. Julle het dalk ’n geldwasserynes oopgeskrop. Ek kan dit nie glo nie! Reg onder ons neuse! Die man het homself eintlik weggegee! Gaan terug plaas toe en praat met niemand hieroor nie, niemand! Ek belowe julle sal julle op die hoogte hou.”
“Maar voordat julle ry, sê my hoe gaan dit met my ou vriend?”
“Op die oomblik is hy nog bewusteloos, hy het geweldig breinskade opge-doen. Ek weet nie of Frans skuldig is aan iets of nie maar hy is uit die prentjie vir die volgende jaar indien nie langer nie. Hoe gaan julle te werk gaan?” kan Mart nie help om te vra nie
“Nee Mart, breek jy nie jou kop daaroor nie, bly nou hier uit, dit kan dalk ’n gevaarlike storie word, maar ek belowe jou, daar sal werk van gemaak word. Wie ook al vir die diefstal verantwoordelik is, sal aangekla word vir manslag. Hy beter hoop Frans oorleef dit, anders is dit moord!”
***
Twee weke later toe sy die plante gaan water gee, wag Elias haar in. “Ma, jy weet daai Spasa shop wat Spy getjek het, hy’s toe met die ‘no entrens’ band van die polieste. Ek het hom gesê die magistraat het gesê ons moet laag lê, nou wonder ek of die magistraat Ma al inform het?”
“Nee Elias, hulle is seker nog besig met die ondersoek, julle moenie krap nie, net nou lê jy langs Frans.”
Marius bring dieselfde aand vir haar die koerant: “Jong Indiërman in hegtenis geneem in besit van Frans Kuhn se selfoon, danksy een verlore dollarnoot. Meneer Kuhn is erg beseer in die aanval en nog bewusteloos. Ons wens hom en sy familie sterkte toe.”
Marthie Joubert.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Oktober 2024 – Afrikaanse woord projek