Seebries
my hart deining ritmies met elke gety
as my hare deur jou golwe kroes
en my blou omhelsing oor jou skouer proes
waar my begeerte oor jou sandspore branderplankry
my souttrane sproei en belei
as ek oopmond skuimbolle hoes
dan dreun my naspel ’n satire oor jou goudbruin roes
want uit my kern sandduin ek vry
ons drome seester beloftes en smart
en seeperdjie ons passie in korreltjiesand
elke asemteug bulder bedaard
op die bodem van my oseaanhart
seebries my asem in die holte van jou hand
en skulp my tong oor jou growwe baard
Jessica Venter
- Neogolisme – deining, sandduin, seebries, skulp
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Oktober 2024 – Afrikaanse woord projek