Draaibos
Laat lente het ‘n draaibos haar takke grondwaarts gebuig
dit opgeswier met trossies bloupienk blom en blink blare
asof sy die lente wou nadertrek, en verlaas bemin –
o, laat my liefde nog één dag wees!
Diep teen die hellings trap haar suiers, oor die vlaktes
verby die skalie tot waar die son afloop;
sy staan in ʼn droom van horisonne, onvoltooide einders.
In die wind ritsel haar bekende swaarsoet geur
soos ʼn sussing, binnekort sal haar stamme bessievrug groei
sal sy met dun, groen lote nuwe mandjies vleg.
My hart, soms probeer ons om ʼn seisoen in die hand te hou
die skoenlappers, die stuifmeel en die bye
maar word ons ouer, ken ons ʼn seisoen se afsterf
die kwynende kleure van laat lente;
en sal ons somer baldadig natlei, die oranje bessies bring.
Die oomblik, my hart, is tog immers al wat ons het.
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2019 projek - Laat-lente