
Gaste
Saans as ek die deur oopsluit
fynkam ek op my tyd
die vloer, mure en plafon
vir ongewenste gaste
wat van buite mag inkom
Sien,
ek koester vir jare reeds
‘n skaamtelose vrees
dat ‘n klougeitjie
in my huis mag wees
Een warm lente-aand
voor die TV op die bank
ontspan ek vir ‘n rukkie
die dag was druk en lank
‘n skielike beweging,
ek voel my hart word swak;
teen die dak reg bokant my
sit die kleine twak
“Eeeow!” roep ek en spring vinnig op
die Drakie hou my dop
hardop sê ek vir myself
“Kalmeer nou, hou net kop!”
Drakie voeg parmantig by
“Ja, dis tyd dat die melodrama stop.”
“Hoe het jy hier ingekom? Wat kom maak jy hier?”
“Aangenaam, ek is herontplooi,
Streekhoof van Plaagbestuur.
Die kakkerlak-gehalte hier
is enig in sy soort,
manjefiek is eeder die gepaste woord.”
Ek dink hy sien my ongeloof
(en groeiende onrus)
en giggel saggies by homself
want hy kry prestasiebonus
“Moet jy so opsigtelik werk, ek gril my dood vir jou?”
“As ek met jou moet eerlik wees,
dis wedersyds, Juffrou.”
Hy wys beskuldigend
‘n voorvuisie na my
ek vermoed ek gaan teregwysing van ‘n geitjjie kry
“Ten spyte daarvan slaag ek steeds
om my professioneel te hou.
Tog, my gevoelens is gekrenk as jy my so wantrou.”
Hy skuif ‘n bietjie nader
ek skuif ‘n hele ent weg
maar oor my kwaai woorde
voel ek eintlik sleg
“As jy dan nou hier moet wees,
ek het ‘n paar huisreëls:
My kas, bed en toilet
word jy streng belet,
Bewaar jou siel as jy iets los
teen ‘n binnemuur;
ek weet mos wat maak geitjies
met jul ‘Roep van die Natuur’.”
Geitjie sug en skud sy kop
teen die uitdagings
staar hy hom nie blind
maar so ‘n geleentheid
sal hy moeilik elders vind
“Ek aanvaar jou aanbod,
dit is ‘n goeie buurt.
Buitendien, die kinders hou van jou,
ons is dolgelukkig hier.”
Toe die Draak se woorde my ten volle tref
begin ek luidkeels een onaardse gil aanhef
terselfdertyd duik ek
kop eerste na my donker bed
wetend niemand kom my van die geitjiegesin red
Waarvan ek nie wis
kort net na my vlug
kruip ‘n babageitjie
by die valdeur uit
sy ogies knipper-knipper in die helder lig
styf teen die dak suig
hy met knoptoontjies vas
voor hy sy pa vra
“Wie se beurt is dit vanaand
om die tannie op te pas?”
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.