Hierdie kind van Afrika
Waar was ek
toe als nog so stikdonker was
lank voor die eerste lig’t verskyn,
toe U twee klippe kap tot vonk –
waar was die kruitvat,
waar die lont?
Hoe vurig die geboorte van die son.
Was ek daar
toe U die sterre deur die heelal string,
toe U die maan poleer tot edeltin –
haar vol kraters kerf en loslaat
om tot in alle ewigheid
deur die hemelruim te swerf?
Het ek aanskou
hoe U die droë grond
van die waters skei –
hoe het U dit reggekry
om die grense vas te stel
waar branders in die sand wegsink
en met watter beker
het U die mere vol geskink?
Waar was ek
toe U die berge en die dale
met u hande vorm,
toe die eerste waters oor die Drakensberg
se kranse val
en aan die groot rivier geboorte gee,
toe U haar laat kronkel
deur die dorre aarde
en haar laat uitmond in die see?
Was ek neffens U
toe U die eerste blom laat bloei,
die eerste Kremetart laat groei
en die vrugte aan haar takke hang?
Toe U die biesies langs die stroompie plant –
was ek daar
aan U linker- of U regterkant?
Waar was ek
toe die eerste arend na benede daal
en ‘n geelvis uit die water haal,
toe ‘n springbok vir die eerste maal
so witgat-kromrug pronk –
was dit oor Karoo se bos
of oor Kgalagadi roesrooi grond?
En toe U na die werke van U hande kyk
(gesê het “dit is goed”)
was ek aanwesig, Here –
dalk net ‘n wéét in U gemoed?
Het U oor die Vrystaatvlak gestaar?
Was ek toe dáár
wyl die naguiltjie sy weemoedslied refrein,
was ek die groot gedagte,
het U aan my gedink,
was ek in die sagte lig
wat in U skeppersoë
reeds blink?
*
Waar was ek
wyl U die eerste Adam in die wieg neerlê –
het U lippe
(in ‘n preweling)
toe ook hiérdie kind van Afrika
se naam gesê?
© Carma Shaw
4 Kommentare
-
Calice
Besonders!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Koekekranka
So...so... so amper onbegryplik, verstommend mooi! Pragtige werkie wat ek beslis sal lees, oor lees, herlees. Regtig aangrypend vir my.