Geelvinkies nes die lente laag..
Die vinkies nes dié lente laag
oor droё, dorre, doodlê-dam
en vogloos waai die wind aaneen
in dwarrels wat met son-heet vlam.
Dié reёn-seisoen se skrapsigheid
het bruut die ysterklip ontbloot
en oor die barheid van die veld
’n waterskaarste-dood gestoot.
Elders wroet en wring sandhose
óp deur ariede vaalgrys-blou
asof in soeke na die reen
wat God van mens en dier onthou.
…Geelvinkies nes dié lente laag
want hul weet dié jaar blý droog…
Maar kom ʼn goeie reënseisoen
swaai nessies vrolik wiegend hoog!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.