Jongste aktiwiteit:

Hou dit  nooit op nie? Sug.

Die verklaring in die HAT woordeboek vir veerkrag/veerkragtigheid: weerstandsvermoë, elastisiteit, wilskrag, die vermoë tot herstel. Maar wanneer is mens veerkragtig? Elke keer wat jy doelbewus deur moeilike omstandighede werk, bou jy aan veerkragtigheid. En ja, soms voel dit asof jy weer van voor af moet begin, veral as die lewe jou voete heeltemal onder jou uitgeslaan het.

Reeds van ʼn jong ouderdom het mense se gedrag my baie geïnteresseer. My gesin van oorsprong was die eerste geleentheid om mense van naby te bestudeer. Later sou dit uitbrei na die wyer publiek. Mense, oor die algemeen, is van die interessantste wesens wat die aarde bewandel.

Wat my die meeste interesseer, is dat sommige oënskynlik ondenkbare omstandighede kan oorleef, terwyl ander in ʼn permanente swartgallige bui verval oor iets wat redelik maklik oorkom kan word. Die hele lewe is soos die see se branders wat intrek en uitspoel. Ritmies. Soms is daardie beweging onstuimig, maar selfs dit is nie ongewoon nie. Die druk van die lewe kan jou soos ʼn kleuter laat voel wat op die vloer wil neerslaan, skree en skop. Dit is egter wanneer mense maklik opgee, dat hulle in ʼn toestand van moedeloosheid, en soms depressie, verval.

Wanneer die lewe jou tot stilstand ruk, is dit soms nodig om op jou tande te kners en weer te begin. Wat anders kan mens immers doen? Net daar in die as bly lê en vergaan? Uiteindelik verbitterd raak omdat niemand uit hul pad gaan om jou spesiaal jammer te kry en in watte toe te draai nie?

Miskien het die moderne lewe ons deur die jare “sag” gemaak, veral die laaste twee of drie geslagte. Hoe gemakliker ons leef, hoe moeiliker voel dit om terug te bons wanneer die papaja die waaier tref. En glo my, niemand spring dit vry nie. Dit is darem baie sleg wanneer ons geregtig voel om net altyd die beste te ontvang, elke dag. Die lewe moet ʼn partytjie wees, van vroeg tot laat, 365 dae van die jaar. So ʼn persoon se deursettingsvermoë is dikwels maar nerf dun wanneer die lewe tande wys. En dan speel ons die groot slagoffer, min wetende dat elke uitdaging oorkom kan word deur jou gedagtes daaromtrent te verander.

Ek hoor sommer hoe party hul nou opruk. Om darem net jou gedagtes te verander, of om jou situasie in ʼn ander lig te sien, en dan sal dit anders lyk? Dit klink darem bietjie dik vir ʼn daalder. Ongelukkig is dit ook so dat ʼn persoon se gedagtes dikwels sy grootste vyand is, en dit kan jou letterlik maak of breek. Wanneer dit makliker is om jouself as ʼn slagoffer te sien, gaan dit ook moeiliker wees om weer op te staan en oor te begin.

Veerkragtigheid gaan selde oor die ysere beheer van emosies. Dit gaan eerder oor die wilskrag om nie op te gee nie, maar om aan te hou, een voetjie voor die ander te sit, en onwrikbaar te glo dat dit nie altyd so sleg sal gaan soos dit vandag is nie.

Die probleem begin wanneer ouers alles vir hul kinders wil doen. So ʼn kind leer nie om nog ʼn keer te probeer nie. Aanhouer wen, maar watter kind hoor dit nog? Dis makliker om handdoek in te gooi en mammie moet maar die skoolprojek klaar maak. Ek bekyk die kleintjies so vanuit die hoek van my oog, en sien sommer gou die een raak wat sy blokkies omskop omdat hy sukkel om ʼn toring te bou. Goeie rolmodelle leer ʼn kind dat hy sonder vrees weer en weer kan probeer totdat hy dit regkry. ʼn Gemeenskap met die ingesteldheid dat niks onoorkombaar is nie, is die regte ondersteuning in moeilike tye.

Soms is daar niks anders om te doen as om op te staan en weer te probeer nie, bloot omdat daar nie die opsie is om op te gee nie. Elke enkele dag is eintlik ʼn nuwe begin. Gister is verby, en more het nog nie opgedaag nie. Wat gaan jy vandag met hierdie geskenk maak?

(Woordtelling : 673)

©Susann Moolman

 




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed