Jongste aktiwiteit:

Ingelegde liefde

Ingelegde liefde

 

Ek het nou die dag gelees iemand sê dat tradisie niks anders as groepsdruk van dooie mense is nie. En dit is seker soms so, maar daar is baie goeie tradisies ook, en dit maak nie saak hoe modern die lewe raak of hoe maklik en vinnig sommige dinge deesdae is nie, daar is net sommige goed wat beter is op die outydse manier. Soos byvoorbeeld die inlê van produkte. Modern beteken nie noodwendig beter nie.

Ons voorouers het dit gedoen omdat hulle geen ander keuse gehad het nie. Daar was nie iets soos yskaste en vrieskaste nie, en nog minder ‘n Spar op elke hoek. Hulle moes produkte bewaar wat in seisoen is, vir wanneer dit nie meer is nie. Ek het al gehoor dat hulle vleis bewaar het deur dit gaar te maak en dan in lae in houtvate te pak met varkvet oor. Hulle kon dit vir baie lank so vars hou. Hulle was vindingryk en hulle planne het nooit opgeraak nie.

As mens jonk is, is hierdie dinge vir jou sinneloos. Jy skud maar net jou kop oor die tannies wat heeldag staan en week, skil, kook, steriliseer en bottel, want dit is outyds, tydrowend en onnodig. En duur. Hoekom sal jy staan en tamatieskille aftrek as jy winkel toe kan gaan en vir ‘n paar rand en min moeite vir jou soveel tamatiekonfyt koop as wat jou hart begeer? Binne en buite tamatie-seisoen?

En dan, op ‘n dag begin kry jy daardie oeroue drang in jou om ook iets in te lê. Dit bekruip jou soos ’n dief in die nag. Voor jy weet is jy een van daardie tannies waarvoor jy jou oë gerol het. En as jy eers begin, kan jy nie ophou nie, want dit is deel van jou DNA. Dit hardloop in jou bloedstroom rond. Dan begin bel jy jou ma en skoonma vir resepte en jy begin vra al jou bure om vir jou hulle leë glasbottels te bêre. Jy gaan haal jou ouma se resepteboek uit die kas wat in 1941 gedruk is (13de druk) en blaai met respek en deernis daardeur en probeer prentjies in jou kop maak van hoe sy by haar kombuistafel sit en deur die einste boekie blaai.

Terwyl jy so staan en skil en kerf en tientalle gaatjies in elke makataanstuk druk, dan wonder jy oor hierdie dinge, en dan vra jy jouself af waarom doen jy dit elke keer aan jouself. En dan besef jy, jy doen dit rééds omdat dit outyds, tydrowend en onnodig is. Dis soos liefde wat jy in ‘n bottel sit. Vir later.

Jy doen dit reeds ómdat dit outyds is, want dis deel van wie jy is. Jy doen dit soos jou ma dit gedoen het, en sy het dit gedoen soos háár ma dit gedoen het en so is dit aangegee van die een geslag na die ander. Dit is deel van jou. Jy het dit geërf.

Jy doen dit reeds ómdat dit tydrowend is, want alles wat die moeite werd is in die lewe, vat tyd. Rome is nie in ‘n dag gebou nie. Om makataankonfyt te kook beslis ook nie. Jy moet eers skil, dan moet jy elke stuk vol gaatjies prik, en dan moet dit oornag in kalkwater lê, met ‘n swaar bord bo-op sodat al die stukke onder die water is. Die volgende dag spoel en spoel en spoel jy die stukke sodat al die kalk uit die gaatjies is en elke blokkie soos ’n stukkie glas lyk. Dan begin jy met die stroop. Sodra dit kook, plaas jy die stukke een vir een in die kokende stroop sodat dit nie afkoel en ophou kook nie, want dan raak die stukke pap. Dis ‘n kuns. Dis ‘n liefdestaak.

En jy doen dit reeds ómdat dit onnodig is, want wat is liefde anders as om iets vir iemand te doen sonder dat dit nodig is? Dit is mos suiwer liefde wanneer iemand iets vir jou doen omdat hulle wil, en nie omdat hulle moet nie. Dit is die tyd, aandag en moeite wat jy insit wat ‘n bottel konfyt, wat jy self gekook het, anders maak as die boks sjokolade wat jy by die supermark gekoop het.

Die beloning is soet wanneer jou aanstaande skoonseun die eerste keer plaas toe kom en die flesse suspisieus aankyk en dan later vra of daar genoeg is sodat hulle daarvan huis toe kan vat. Dit is wat daardie oudtydse, tydrowende en onnodige taak die moeite werd maak en maak dat jy dit weer en weer doen.

En die beloning is nog soeter wanneer jou dogter jou bel en jou vir resepte vra en jy later foto’s ontvang van die allermooiste bottels konfyte en strope in blink flesse wat op haar kombuiskas staan.

Wanneer iemand vir jou iets in ‘n bottel gee wat hulle self daarin gesit het, kan jy maar weet dit is liefde in daardie bottel. Nes ons voorouers dit gedoen het vir hulle gesinne en geliefdes. En die ná ons dit sal doen, want dit is wie ons is.

©Hester Steenkamp




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed