Wanneer die spasies tussen sekondes al hoe langer raak
(Woordtelling : 896)
Daar is situasies waarin ʼn persoon absoluut magteloos staan, jou hande slap langs jou sye. Nie eens jou gedagtes wil nie werklik sinvolle woorde vorm nie, want jou gedagtes maak jou bang. Jy weet letterlik nie wat om te sê nie, want eintlik is daar niks om te sê nie.
Wanneer jy jou dierbare vriend, vriendin, familielid gereed maak om die tydelike met die ewige te verwissel, wat is daar dan nog om te sê?
Vandag staan ek in so ʼn bekende, maar ongemaklike stilte. Wat nou hier gebeur laat ʼn stilte in my neerdaal wat ek nie kan ignoreer nie. Ek wil vir haar ʼn briefie skryf en dit met ʼn bos blomme stuur, maar wat skryf ek? Miskien moet ek insluit hoeveel sy vir my beteken het. Eintlik nog steeds soveel beteken want die laaste klok het nog nie gelui nie.
Niks wat enigeen gaan sê gaan dit in elk geval makliker maak nie. Geen woorde, geuiter uit empatie of sommer net simpel en oppervlakkig, gaan enigiets verander aan die situasie nie. Daar is geen hoop meer op ʼn wonderwerk nie. Ek kan seker maar bietjie kwaad wees omdat sy te bang was om dokter toe te gaan, en eers daar uitgekom het toe dit eintlik alreeds te laat was. Ek kan haar nou nie eintlik sterkte toewens met haar reis nie, want dit is bloot absurd. Miskien moet ek myself sterkte toewens met my reis sonder haar vleeslike teenwoordigheid, vir hoe lank dit ookal nodig mag wees.
Natuurlik is dit so dat ons almal weet dat ons elkeen eendag sal doodgaan. Dit is ook maar so dat die meeste verkies om nooit daaraan te dink nie. Hulle weier om enige vorm van voorbereiding te tref en laat ʼn berg gemors agter wat hul geliefdes moet uitsorteer. En in elk geval, vir die meeste is daardie eendag so ver soos ʼn sprokie uit die feeverhaal boek. Of so is mens geneig om te dink.
Maar soms kom dit heeltemal te vinnig. Vandag is jy nog jonk en vol lewe en dan die volgende dag vertel die dokter dat daar nog net ʼn paar maande oor is om jou sake in orde te kry. Is dit beter om die weke en dae te kan aftel, of is dit makliker as die doodsengel jou net saggies en onverwags bekruip?
Die dood is deel van die lewe, al wil mens selde so daaraan dink. En, wanneer jy tyd het om voor te berei op ʼn vriendin se onafwendbare, naderende dood, klop my hart pynlik en met groot moeite, want ek weet daar gaan ʼn groot omwenteling vir ons almal plaasvind. Gʼn mens staan net die volgende dag op en gaan aan asof niks gebeur het nie. Selfs in die diepste, donkerste hoekie van jou hart weet jy dat daardie laaste dag meedoënloos nader kruip. Niks versteur die ongemaklike ritme nie.
Ek weet ek kan nie die ongemaklikheid vir altyd vermy nie. Ek kan die ure van my dag vul met allerhande oppervlakkige maniere om die tyd om te kry, maar dit maak nie ʼn gram se verskil aan die werklikheid nie. Moet daardie warm patat eers in my hande geplaas word voordat ek erken dat daar geen goeie plek is om weg te kruip nie?
En ja, ek wil wegkruip. Ek wil nie hê dat sy nou al moet doodgaan nie. Ek wil eintlik selfsugtig glo dat ons iewers in die jare vorentoe nog kans sou kry om lekker te kuier. En nou is dit ook nie meer moontlik nie.
Iemand vra dat ons ʼn gebedsketting moet begin. Dis nie dat ek teen gebed is nie, maar waarvoor bid jy dan nou eintlik? Die skrif is aan die muur en dit sal verseker ʼn reuse wonderwerk wees as die vrou een oggend blakend gesond uit haar sterfbed sal opstaan. Kanker vergete soos ʼn slegte nagmerrie.
Bid ons vir so ʼn wonderwerk, of bid ons dat sy gouer uit haar pyn verlos sal word? En dan die onvermydelike gevoel van skuld indien jy sou dink dat dit haar dood verhaas het. Ongeag hoeveel wonderwerke oor enigeen se pad mag kom, die een of ander tyd sal dit die laaste een wees. Onvermydelik sal daar ʼn dag kom wanneer jy nie ʼn keuse sal hê om saam met jou doodsengel ʼn paar treë te gee nie. Geen gebed kan ʼn mens vir ewig vasgekluister hou in sy aardse liggaam nie – dankie tog daarvoor.
Miskien is gebed ʼn selfsugtige ding, veral wanneer mens vra dat die persoon gespaar word. Is dit nie dalk van hierdie aardse lewe wat mens eerder verlos moet word nie? Dan kan jy teruggaan na die plek van volmaakte liefde waarvandaan jy gekom het, lank voordat jou gees homself in ʼn beknopte liggaam moes tuismaak.
En al die tyd dink ons dat hierdie aardse lewe die Alfa en Omega is, iets waaraan ons ten alle koste moet bly vasklou. Al wil ek selfsugtig hê dat die lewe nie nou so moet uitspeel nie, kan ek ook nie anders as om te hoop dat sy die volgende fase van haar reis binnekort sal begin nie.
So ek sal jou met die volgende woorde groet. Veilige reis liewe vriendin. Hou maar ʼn plekkie vir my daar iewers oop, ek gaan dit ook eendag nodig kry. En kom kuier gerus wanneer jy daarna voel, jy is altyd welkom hier. <3
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir September 2024 – OOP projek