
Toe Paasfees amper sonder eiers was. (SILWER)
Toe Paasfees amper sonder eiers was.
Carter woon saam sy sussie Ava by hulle mamma. Hy het ʼn goue bol krulle en ondeunde groen oë. Wat niemand weet nie is dat Carter ʼn groot geheim het. As sy mamma bedags gaan werk, klim Carter in sy klerekas en wikkel die hout agter in die kas los. As hy sy lyfie deur die opening wurm, verander alles om hom.
Dan is hy ʼn prins wat woon in ʼn hoë toring gemaak van malvalekkers. Hy kraai van pure plesier as hy op die spookasem-glybaan afgly tot in ʼn poel van groen jellie. Hy dryf op sy rug en lek die jellie van sy lippe af as op en af dobber.
Hy spring uit die jellie-poel en hardloop op teen die trappies op. Sy malvalekker- toring is versier met sagte wit nougat met stukkies groen en rooi jellie en neute. In die boonste deel van die toring spring Hasie en Kalbassie vrolik rond waar hulle besig is om sjokolade-eiers te verf. Paasfees is om die draai en hulle sal baie vinnig moet werk as hulle betyds klaar wil wees met al die paaseiers wat hulle in die tuine moet gaan wegsteek. Carter besluit dat hy nie hierdie jaar wil Paaseiers deel met al die maatjies in die buurt nie.
“Ek gaan al die Paaseiers vir myself hou,” vertel hy vir Hasie en Kalbassie van sy plan.
“Nee Carter, dink net hoe hartseer al die maatjies gaan wees as hulle soek en soek en niks kan vind nie.”
Carter gly teen die stokkie-lekker pilaar af en hardloop weg terwyl hy sy ore toedruk.
“Ek wil al die sjokolade eiers vir myself hou!” skree hy met skril stem as hy die klerekas se hout versigtig terugsit op sy plek.
“Carter,” roep sy ma na hom en hy hardloop na haar.
“Ek hoor vandag dat daar ʼn probleem is met Paaseiers,” sê sy. “Die verskaffers het vandag laat weet dat daar niks Paaseiers sal wees nie!”
Carter voel so skuldig as hy Ava se hartseer gesig sien dat hy sommer wil begin huil. Sy ma kyk na hom en voel so jammer vir hulle dat sy vinnig moet begin troos.
Carter wag tot na ete en hardloop vinnig na die kas om vir Hasie en Kalbassie te gaan sê dat dit glad nie ʼn goeie plan is om al die Paaseiers vir homself te hou nie.
©Marlene Erasmus
29/04/2021
(403 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2021 - Oordenkingsprojek