Jongste aktiwiteit:

Klaas se terugkeer na die kinderhuis

KLAAS se terugkeer na die kinderhuis

Klaas ry by die kinderhuis se hek in, dieselfde hek waardeur hy ‘n paar jaar gelede feitlik weggejaag is. Hy onthou dit nog soos gister. En hy het dit verdien. Sy gedrag in die kinderhuis was, om die minste te sê, onhanteerbaar en openlik ongeskik. Hy was rebels, het teen elke moontlik reël in opstand gekom, nie omdat daar met die reël enige fout was nie – hy wou net ‘n punt bewys. Hy het kinders afgeknou, het personeel uitgejou, onderwysers gevloek en hy was ‘n “lost case” vir die kinderhuis en die samelewing. Toe, die dag toe hy agtien word, het die kinderhuishoof vir hom gevra om sy tassie te pak en die terrein te verlaat, somaar net so. Hy het gevloek en geskree, maar het geen ander keuse gehad nie. Hy het sy kanse verspeel, geleenthede opgemors en sy eie ontslag verseker.

Nou, sestien jaar later, ry hy weer by dieselfde terrein in. Trane dam in sy oë op. Hy ry reguit na die huis waar hy die laaste paar jaar van sy kinderhuislewe gewoon het. Oom Albert was sy huisvader, op daardie stadium ‘n jong man in sy vroeë veertigs. Oom Albert is steeds huisouer, nou al amper by aftrede, maar steeds met dieselfde passie en toewyding as waarmee hy 28 jaar tevore begin het. Oom Albert onthou hom nog en ook in sy oë blink trane toe hy die jong man voor hom sien staan, want hy weet hoekom hy teruggekom het. ‘n Paar oomblikke druk die twee mans mekaar en huil op mekaar se skouers. Eers daarna nooi oom Albert Klaas in vir ‘n koppie koffie. Saam met die koffie wys hy vir Klaas ‘n boekie. Dit is vol name geskryf, party al doodgetrek, ander onderstreep, ander in groot hoofletters geskryf. Hy blaai tot op ‘n sekere bladsy en weer wel trane in sy oë op.

Hierdie boekie bevat al die name van al die seuns wat al ooit in my sorg was. Dit is my gebedsboekie. Elke dag bid ek vir soveel as moontlik van hulle. Ek bid dat die Here in hulle lewens sal doen wat ek nooit kon doen nie. Hier is jou naam, in groot rooi hoofletters. Rooi beteken ek het nooit vir jou ophou bid nie, nooit nie. Ek het geweet iewers agter die rebelsheid sit ‘n hart van goud, goud wat nog ontgin moes word. En vandag kan ek jou naam maar doodtrek, nie omdat ek ophou bid nie, maar omdat jy die goud ontdek het.”

Klaas bely met trane dat dit juis hierdie gebede is wat hom gebring het waar hy vandag is.

Toe ek ‘n seun in hierdie huis was, het ek gereeld gehoor hoe oom vir ons bid, vir my bid, maar ek het dit afgelag, ‘n bespotting daarvan gemaak. Gebed is vir swakkelinge, het ek geglo, maar nadat ek hier uit is, kon ek nie daardie prentjie van ‘n biddende oom uit my gedagtes kry nie. Ek het nagte wakker gelê met die beeld in my gedagtes. Tot een dag. Toe het alle vir my verander. En ek het vandag kom dankie sê, dankie dat oom nog nooit van oom se kniee af opgestaan het nie, nooit met my opgegee het nie. Ek het dit gemaak en oom se gebede het dit laat gebeur.

Minute later klim Klaas in sy motor en ry verder die terrein in. Hy hou stil by die kantoor en betree die trappe na sy nuwe werkplek. Hy is nou amptelik die nuwe direkteur van die kinderhuis, die kinderhuis waar iemand vir sy redding gebid het.

My vriend, soms voel jy asof jou werk geen verskil maak nie, maar God se tyd is nie ons tyd nie. Bly op jou knieë. Wie weet wat die toekoms mag oplewer.

Henn




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed