My dag in die kollig (Silwer) (Woorde 983)
Die skemer het klaar agter die grense van die weste begin inkruip en die donkernag met sy spikkels van sterre het gelydelik verskyn. Dis ‘n soel someraand in Desember.
Die voertuig kom tot stilstand in die skoolgronde.
Ek klim vinnig uit, opgewondenheid borrel soos gaskoeldrank uit ‘n strooitjie in my maag. Vanaand verskyn ek en my mede-skoliere op die verhoog met ons kersblyspel. Ons oefen al maande.
Terwyl my ouers in die saal instap om hul sitplekke in te neem hardloop ek na die agterkant van die skoolsaal. Ons is aangesê om daar bymekaar te kom teen sewe uur. Dis ‘n geskarrel om die finale dinge gedoen te kry. Elkeen trek sy uitrusting aan terwyl daar soos brommers wat raas gebabbel word.
“Ilze, is jy nie bang vir vannaand nie?” hoor ek my vriendin Nellie sê. Ek draai om en sien haar fraai gesiggie vir my kyk. Haar neus kreukel soos papier terwyl sy lag. “Ag nee wat, ons het mos baie geoefen die laaste paar maande, hoekom sal ek nou bang wees?” skerts ek terug.
“Kom, kom kinders, dis tyd, loop nou mooi in ‘n ry en tjoepstil, ek wil nie ‘n geluid uit een van julle monde hoor totdat julle op die verhoog is nie.” Ons val vinnig in een lyn agter mekaar soos ons geoefen het. Onhoorbaar klim ons die trappies van agter die verhoog. Ek kan die stemme van die gaste in die saal dofweg hoor. Die blou fluweel gordyne hang swaar voor my. Ons loop elkeen om ons plekkie te vind voordat hulle dit ooptrek. Daar heers skielik ‘n gevoel van benoudheid in my. Ek skud my kop en probeer die gevoel afskuld. “Ag nee man!” praat ek met myself, “jy weet mos wat om te doen, moet nou nie staan en simpel wees nie!”
Die inleidingliedjie begin speel en ek kan hoor hoe die stemme in die saal al hoe stiller raak.
Dan gaan die gordyne oop. Voor my sit ‘n magdom mense. My keel word kurkdroog en die spiere in my nek verstyf. Sweetdruppels vorm soos pêrels teen my voorkop en my bene is lendelam. Dit voel of hulle enige oomblik onder my gaan padgee.
My ore suis en ek kan skaars my mede-spelers hulle dialoog hoor voordra. Die lig wat op ons skyn is so helder dit verblind my. Ek probeer my ouers in die saal soek tussen die menigte, maar dis onmoontlik om hulle te kry. “Nee kom nou, Ilze, hierdie is kinderspeletjies man, ruk jouself reg!” spreek ek myself aan. Ek probeer fokus waar ons trek met die opvoering. Vian wat Josef vertolk tik my aan my arm en praat skor onderlangs. “Ilze, wat gaan aan met jou, dis jou beurt om te praat?” my kop ruk na sy rigting en ek staar na hom met verskrikte oë.
Stadig kom ek tot verhaal. Ek maak my mond oop om te praat maar daar kom eers nie ‘n klank uit nie. Ek skuif half ongemaklik oor die houtvloer van die verhoog rond. Vian tik-tik weer aan my en kyk my met kwaai oë aan.
Ek maak weer my mond oop, hierdie keer kom daar ‘n klank uit, maar nie my stem met dialoog nie, dis meer soos die skril geluid van kryt wat gly teen die swartbord voor in my klas. Daar is ‘n gegiggel op die verhoog. Weer probeer ek praat. Ek druk my stemtoon bietjie harder uit.
Maar o wee, nou kom die skril geluid uit maar net harder as tevore. Die gehoor en verhoog bars uit van die lag.
“Ssshhhh!” hoor ek my juffrou baie ongeduldig sê. Ek kyk na haar kant toe en sien die ongeduld in haar houding. Haar hande wys tekens van vrae.
Dit voel of ek my hoofbedekking kan vasdruk met die een hand en die kaftanrok van hessian wat my so laat jeuk met die ander hand kan optel en weghardloop. Ek kry ongelooflik warm onder die lae klere. Sonder twee keer dink gryp ek dan die rok vas in my een hand en die hoofbedekking met die ander, maar soos wat ek vorentoe beweeg na die sykant van die saal om uit te kom gly my natgeswete voete in die Moses sandale wat ek aan het en slaan ek soos ‘n dooie os voor almal neer.
Daar heers vir ‘n paar sekondes ‘n stilte terwyl ek struikel-struikel orent kom en met ongeloof besef die kussing wat onder die hessianrok ingedruk is om my swangerskap voor te stel gly tussen die rok en my lyf uit.
Nou heers daar algehele chaos op die verhoog, sommige kinders skaterlag, ander lê op die grond en hou hul mae vas soos wat hulle lag.
Tussen die gehoor hoor ek ook ‘n onderlangse gelag, maar as ek dan opkyk sien ek my ma reg voor die verhoog in absolute ongeloof staan en staar na my. Wat ‘n vernedering!
Vinnig gaan die blou fluweel gordyne toe. Juffrou stap na my toe, vat my gesig in haar twee hande en kyk my stip in die oë. “Ilze, wat makeer jou meisiekind?” Ek sluk swaar en skud my kop, “Ek is nie seker nie juffrou, ek weet nie”. Juffrou draai na Vian wat met sy hande in sy hare staan en kyk. “Vian, hardloop gou en kry vir my ‘n glas water.”
Vian verdwyn van die verhoog af en kom terug met die water. Juffrou grou in haar handsak en kom met ‘n klein botteltjie tevore. Dis vlugsout. Sy gooi bietjie in die water en meng dit.
“Hier, sluk dit gou af en raak rustig.”
Die kussing word terug onder die kaftanrok gedruk en ek kom tot verhaal.
Die gordyne skuif stadig oop en ons begin die blyspel van die begin af. My beurt om te praat breek aan, ek staar stip na die lig wat op ons skyn en sonder blik of bloos dra ek voor soos nog nooit tevore…
Paula Paxton©
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2023 BLOU projek