Musiek magspel -As die musiek my gemoed verander. Silwer (227 woorde)
Melodie en harmonie – geskryf op ‘n musiekblad waar die note ingeryg hang teen die basis van swart balke tussen tessituur, maar sonder die kuns van ‘n instrument wat klank in ritme speel, of ‘n stem van ‘n sanger wat lirieke oor kan dra, sal melodie en harmonie nie ten volle hul doel kan bereik nie.
Daar lê ‘n towerkrag as alles gekombineer word, ‘n tipe van ‘n spel wat euforie uit ‘n mens kan tap.
As ek die poëtiese taal van ‘n digter in ‘n lied hoor waarby ek aanklank vind, die klank van musiek in my ore voel vibreer, en die hoendervleis teen my vel ervaar, stap ek ongesiens terug in toekadae, beleef ek met intensiteit weer die lewe waar hierdie lied ‘n onvergeetbare merk gelos het.
Ek ervaar weereens die onbeskryflike hartseer, die ongelooflike blydskap of selfs die jolyt op die dansvloer waar ek uit volle bors kon sing. Ek sien my geliefdes, my skoolmaats, my ouers en soveel ander in beelde wat voor my verskyn. Ek ervaar weer die lofprysing waar ek voor my Skepper sou buig in aanbidding, in die vorm van liedere. Ek beleef gebeurtenisse en emosie wat vir lank gestoor gelê het. Musiek het die vermoë om die verlede weer te laat leef.
Daar is geen twyfel dat musiek ‘n wondermag besit wat mens se gemoed sonder waarskuwing kan verander nie.
Paula Paxton©
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2023 BLOU projek