Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Tyd vlieg as jy ‘n vlieg is

Deur Ano
Datum gepubliseer: 30 September 2022 Aantal woorde: 776 81 Kere gelees 7

(Woordtelling 783)

Min mense sit seker en kyk hoe ritmies die sekondewyser tik, uur na uur. En, as iemand dit wel doen, is dit sekerlik net ’n kortstondige tydverdryf. Ons het almal dieselfde 24 uur gekry en sommige mense kan berge versit terwyl ander absoluut niks vermag nie. As jy iets gedoen wil kry, sal jy ʼn geleentheid kry, en as jy nie rêrig wil nie, sal jy ʼn verskoning hê. Tyd kan dus jou vriend of vyand wees.

Tyd het ʼn magiese kwaliteit. Veral as mens met ʼn lekker taak besig is, glip dit heel ongesiens en heeltemal te vinnig verby. Die ure het ’n manier om inmekaar te vloei en eers wanneer jy jou stywe rug agteroorbuig en jou arms lank uitstrek om van die brandpyn tussen jou blaaie ontslae te raak, wat jy met verbasing sien dat die son al aan die ander kant van die huis brand. En so glip nie net die ure verby nie, maar die dae ook een na die ander in die verlede in. En wanneer ons ons oë uitvee, is daar al ’n hele jaar agter jou en soms het mens nie veel om te wys wat gedurende daardie tyd gebeur het nie.

Ek weet nie of die gevoel dat tyd al hoe vinniger verbygaan ’n teken van ouer word is, en of dit dalk eerder ’n bewys van ons versnelde lewenswyse is nie. Besig, besig, besig. Altyd besig om agter iets aan te hardloop. Selfs jong mense kla dat hulle nie genoeg tyd het om alles gedoen te kry nie. Heel waarskynlik dra die tegnologie daartoe by, want alhoewel dit veronderstel is om take makliker en vinniger te maak, kan mens jouself vinnig daarin verloor, en voor jy jou oë uitvee het jy alweer ’n uur op Facebook gespandeer. In plaas daarvan om aandag aan die stapel dringende werk op die hoek van jou lessenaar te gee, is dit baie lekkerder om te sien wat ander mense vir middagete eet en waar hulle alweer gister rondgeflenter het.

En jy weet dat jy gister tyd vermors het (dankie Eskom), wanneer jy twee uur in die oggend natgesweet wakker skrik en opstaan in die hoop om jou dag met ʼn paar uur te rek. Wanneer jy besef dat dit al byna Oktober is (ooh liewe genadetjie tog), die jaar byna verby is en oënskynlik het niks konkreet nog gebeur nie. Wanneer jou hart verwoed klop en jy besef dat jy agter raak met jou studies en gʼn mens weet hoe dit ingehaal gaan word nie.

Soveel om te doen, so min tyd! Lank gelede het ek vir die eerste keer besef hoe interessant hierdie ding is wat ons lewe so kan reël. Tyd self is effens verwronge en dieselfde sestig sekondes van ʼn minuut kan in in oogknip verby wees of soos ʼn ewigheid voel. Ongelukkig is dit ook nie iets wat gebottel kan word en later gebruik word nie. En wanneer daar ʼn halfuurtjie van stilte en rustigheid soos ʼn sagte kombers om jou skouers vou, raak jy sommer van blote uitputting aan die slaap. Dit was eers toe ek geleer het hoe om met volle aandag in vandag te staan, wat tyd so effens spoed verminder het. Mens kan nie heeltyd in die verlede leef nie, want dan gaan jy verras wees oor die tyd wat verbygeglip het. En deur die hele tyd met jou oog op die toekoms te leef, help ook nie. Dan kom al die bekommernisse aan jou deur klop en niks daarvan het nog eens gebeur nie.

Dan wonder ek weereens hoe sommige mense dit regkry om verveeld te wees? Het hulle dan soveel ledige tyd dat hul dae verby sleep? Het hul ma hul nooit geleer hoe om tyd konstruktief te gebruik nie? Is hulle so afhanklik van die tegnologie om die dae te vul, dat wanneer die wêreld noodgedwonge vir ʼn uur of drie tot stilstand gedwing word, hulle heeltemal buite hul vaarwater is en met almal moet moeilikheid soek?

Die spieël het al lankal vertel dat die jare aanstap, maar dit is eers wanneer jou sewejarige kleinseun vra of jy nou oud is, dat jy met nuwe oë na jouself begin kyk. Wat sien hierdie kind dan op ʼn foto raak wat hy nie in lewende lywe kan sien nie? Ek is elke dag grys, net hy het dit blykbaar eers besef toe hy ʼn foto intens beskou het. Ai, die skerp lig van die kamera toon geen genade nie! En na al hierdie jare voel dit steeds nie asof ek al oud genoeg is om ʼn ouma te wees nie. Ek moet eers so oud soos my eie ouma word voordat ek daardie titel ten volle kan geniet.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    30 September 2022

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die September 2022 Snelheids projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 91
Kommentaar telling: 96

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....   Op Vlerke van Hoop, Verwerking van Rousmart (2020) Guppy en Anderste Stories (2018) HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015) Vir navrae, e-pos aan HoopTydensRousmart@gmail.com

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

SOLIDARITEIT – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 184 gaste aanlyn

Bydraes – Argief