Kardoesma
instede van plastiek
koop sy by die kasregister ‘n kardoes
(want dis die regte ding om te doen)
sy tik haar kaart
druk die strokie iewers
by die huis lig sy die melk en brood diep
uit die buik van die kardoes
net soos ‘n keisersnee dink sy
maar sonder die bloed
of die baba
die sak val om
sy skrik vir die dowwe plof
dan vat sy die kombuisskêr en knip
vier boë, donker nawels vir oë
sy glip die pen van haar bors en trek
‘n pyl vir ‘n snoet, sy kerf
twee skerp slagtande
met bloed op
dan al die lyne, snorbaarde
maanhare wat skeef loop
die pen glip af by die kardoes se kant
dan sit sy die leë dop in die hoek
vergeet van die kardoes die hele naweek
totdat haar baba
terugkeer van sy pa af
©Marieta McGrath
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2019 projek