
Daar is reëls??
(Woordtelling 832)
Spoed mag dalk die enkele grootste bydraende faktor tot ernstige motorongelukke wees, maar dit is verseker nie die enigste probleem nie. Die wetstoepassers verloor maklik uit die oog dat die mense toenemend ongeduldig en wetteloos op die paaie bestuur. En dat reëls skynbaar net vir enkeles geld – natuurlik diegene wat darem probeer om die regte ding te doen, al kyk niemand nie. En, hierdie selfde wetstoepassers is tjoepstil oor hul eie bydrae tot die toestand van algehele wetteloosheid. Die feit dat hierdie reëls vir die voëls geskryf word en niemand dit toepas nie, help geensins.
Wat van al die onpadwaardige voertuie op die pad? Hoeveel keer gebeur dit dat die een voertuig in die donker, in die een voor hom se agterend inry, net omdat die voorste motor nie ligte het om aan te skakel nie? Niemand hoef eintlik vreeslik vinnig te ry om steeds ʼn noodlottige ongeluk betrokke te wees nie.
As ek ooit gedink het dat die mense van Gauteng nie eintlik padreëls toepas nie, het ek verseker ʼn verrassing gekry na ons na die Oos-Kaap verhuis het. Na al hierdie tyd bid ek nog steeds voordat ek my lewe in die stroom motors rondom ʼn sirkel waag, want hier is jou kanse skraal dat enigeen jou sommer ʼn beurt sal gee, al is dit volgens reëls jou beurt om te ry. Dit is opmerklik hoe dankbaar party bestuurders is indien iemand hul wel ʼn ou kansie gun om ook in die stroom in te kom. En moet dit nou net nie waag om vir die gebore-en-getoë Oos-Kapenaars daarop wys nie! Jy het ʼn beter kans om lewendig anderkant uit te kom indien jy jou kop deur die tralies van die leeuhok sou steek.
Of die mense ken nie hul padreëls nie, of hulle gee bloot nie om nie. Dit is elke mens vir homself en jy mag skynbaar maak soos jy wil. ʼn Rooi verkeerslig? Ag nee wat, dis mos net ʼn kleinerige lastigheid van tydmors. Ons glip net so saggies oor en maak asof botter nie in jou mond kan smelt nie.
En ja, ons weet almal hoe ongerieflik dit kan wees as dit jou beurt is om nie elektrisiteit te hê nie. Die verkeersligte se koppe hang moeg en mense kan goed warm onder die kraag raak wanneer hulle mekaar so een-vir-een ʼn beurt moet gee om te ry. Maar so staan ek eendag geduldig in die lang stroom motors, wagtend dat dit uiteindelik genoeg sal krimp tot daar waar ek in die linker-draaibaan kan inskuif. Daar was seker ʼn engeltjie of twee wat vir bietjie oponthoud gesorg het, want die volgende oomblik hoor ek net ʼn geklap en gedonder van die linkerkant af. Ek koes half verskrik en wil-wil net my kop met my t-hemp toemaak. Donderweer kan nie soveel geraas maak nie, en hier van die agterkant af kom ʼn yslike vragmotor sommer op die sypaadjie aangestorm, op pad na daardie einste linkerbaan. Miskien moes hy dringend by ʼn toilet uitkom want hy kon net nie wag nie. Sy voertuig is mos groot en vir wat sal hy hom dan aan ʼn kleinigheid soos “staan in die ry en wag jou beurt af”, steur? En al die tyd het ek gedink dat die stroke teer vir die motors is en die stroke gras vir die voetgangers.
Dan praat ons nie eens wat op die paaie buite die stede aangaan nie. Die twee-baan paadjie wat al langs die kus tussen Port Alfred en Port Elizabeth kronkel, het al gesorg dat menige bestuurder nooit sy eindbestemming bereik nie. ʼn Sperstreep? Haai, het die verkeersdepartement dan vergeet om spasies in te sit? As jy ʼn ander motor wil verbysteek maak jy soos jy smaak, net wanneer jy wil. Die bestuurder wat van voor af aankom moet maar uitswaai, al is daar nie eens ‘n skouer aan die kant van die pad nie. Die ou dae se verkeersbeamptes het al afgetree en vandag s’n is nutteloos. Daar is niemand wat agter ʼn bos sit en kyk dat jy jou mooi gedra nie. Die snelheidsgrens is in elk geval net vir sissies en dit lyk asof die meeste mense nie afstand kan skat nie. Hier moet jy maar staalwol op jou tande groei, of eerder tuis bly. Maar ons het al geleer om oë reg rondom ons kop te groei en is heeltyd besig om al agt daarvan te gebruik.
Dus, al sterf derduisende mense jaarliks op die paaie weens spoed, moet die mens se gebrek aan respek eers aangespreek word. Hy moet eers verantwoordelik gehou word wanneer hy die “kleiner” reëls oortree voordat hy sal ag slaan dat daar ʼn spoedgrens vir ʼn rede is. Die verbreking van padreëls is eintlik net ʼn simptoom van ʼn baie groter probleem: die gebrek aan respek vir mekaar en om ander lief te hê soos jouself. Daar is geen prys aan die einde van die dag wanneer jy jouself soos ʼn padvark gedra nie, al dink jy dat jy nou grootmeneer is!
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die September 2022 Snelheids projek