Die nag tussen die jare.
Op Oujaarsnag sit Pieter langs sy jarelange Boesman-vriend, Buks Appelblaar, by sy geliefde vuurtjie in die hartjie van die Kalahari. Vir Buks en sy mense is dit die tyd om die jaar se laaste vuurtjie te maak. Die laaste maan van die jaar hang laag bokant die duine vannag, soos ’n sekel wat reeds sy oes ingesamel het.
Pieter sit aandagtig na Buks Appelblaar en kyk. Die vlamme van sy vuurtjie dans soos reuse tonge in sy oë, so al asof hulle met hom praat in sy klik-klak-klik-klak-taal.
Pieter sit en wonder wat in Buks se storie-vertel-kop aan die maal is. Elke storie uit Buks se mond is so uniek, verrassend, vol wyshede en waardevolle lewenslesse.
Buks Appelblaar kyk op na die naghemel bokant hulle. Sy groot bruin oë is soos spieëls waarin die sterre weerkaats.
Stadig, asof hy besig is om met homself te praat, sê hy: “Vannag is ’n nag wat nie aan enige jaar behoort nie, ’n nag wat nét die stilte ken. Ons mense noem dit ‘Die nag tussen die jare’.
Die oumense het dit die ‘Naamlose Nag‘ genoem. Dit is die nag wanneer selfs tyd sy hoof buig, en in die stilte tussen die duine gaan rus. Dit is die nag wanneer die engele hul asems ophou en waghou oor die sterre aan die hemel omdat Naoea nie praat nie, maar na ons gebede luister.”
“Niemand trap vannag meer spore in die sand nie,” sê Buks terwyl hy ’n kooltjie uit die vuur krap om sy pyp mee aan te steek.
“In ons Kalahariland, waar die rooi-rooi duine van die woestyn asemhaal soos ’n Gemsbok wat lê en rus, weet die mense ’n jaar sterf nie met geraas nie, Pieter, my groot vriend,” Hy bly so rukkie stil, dan sê hy: “Die nuwe jaar begin ook nie met klokke of vuurwerke nie, my vriend. Hy loop kaalvoet deur die sand.”
“Wanneer die jaar oud word, loop hy anders. Sy voetspore, na twaalf maande van swoeg en sweet, lê nie meer reguit nie. Hulle draai … Hulle huiwer … Hulle raak swaarder … en hulle raak moeisamer … ; soos iemand wat weet hy gaan binnekort nie meer hier wees nie.”
Oupa Kham, wat die oudste in die groep is, kom stadig aangeloop. Elke tree wat hy met sy kierie gee lyk soos ’n gesprek met die grond. Niemand weet hoe oud Oupa Kham regtig is nie. Hulle sê net altyd dat Oupa Kham onthou van toe die sterre nog jonk was. Van die gemeenskap se mense sê Oupa Kham het eenkeer die spoor van Moses gesien toe hy nog jonk was. Nou is Oupa Kham oud en afgeleef, maar vol stories en wyshede. Een van sy wyshede is: “Wie kaalvoet loop, hoor die grond se gebed. Die stilte hou die woorde wat geen mens kan skryf nie en ’n kaalvoet trap spore wat die wind nie kan uitvee nie … ”
Oupa Kham gaan sit uitasem tussen Pieter en Buks Appelblaar, en sê met ’n sug: “Die Jaar is moeg. Die moeë jaar praat met die wind oor ons spore in die sand.”
Die kinders van die gemeenskap sit die ene ore op die sand voor Oupa Kham. Hulle weet Oupa Kham haal altyd diep stories uit die sand wanneer die Kalahari, soos vanaand, stil raak.
“Naoea skryf nie net in boeke nie. Hy skryf in sand, maar net dié wat kaalvoet en stadig loop, kan dit lees,” sê Oupa Kham op ’n ernstige noot.
Hy haal ’n klein houtkruisie uit sy lyfsakkie wat hy altyd by hom dra. “Al my kosbaarste besittings is in hierdie lyfsakkie van my,” sê hy vir Pieter wat hom met ’n diep frons aankyk.
’n Houtkruis in ’n Boesmangemeenskap in die Kalahariwoestyn? dink Pieter, wat ’n baie goeie kennis van die Boesmans se tradisies en gewoontes het wat hy uit navorsing en uit sy hegte vriendskap met Buks Appelblaar oor die jare opgedoen het. Wat sou dit beteken en waarop stuur Oupa Kham nou af?
Oupa Kham, asof hy Pieter se gedagtes kan lees, sit sy hand een hand op Pieter se bors en die ander hand op sy eie bors, waar sy hart is, sê dan met oortuiging in sy oë: “Pieter, die Oujaar bring vanaand alles wat ons nie uitgespreek het nie. Alles wat ons weggesteek het en ook alles wat ons gedra het sonder om te weet hoekom.”
Êrens in verte koggelag ’n hiëna asof hy Oupa Kham se woorde aflag. Terselfdertyd tjank ’n jakkals hartroerend asof hy berou het oor iets.
“Vannag net na 12 uur, breek die eerste dag van ’n Nuwejaar aan,” sê Oupa Kham. “Elke mens wat vanaand hier teenwoordig is moet dan ’n klip gaan optel. Dit moenie ’n klip wees wat jy self kies nie,” gaan hy voort. “Dit moet een wees wat jóú kies. Jy sal weet watter klip jou kies. Party van julle se klip sal swaar wees. Party se klip sal glad wees. Ander se klip sal skerp of rond wees …
Oupa Kham staan op met die kruisie in sy hand en plant dit regop in die sand, soos wat jy ’n jong boompie in die sand sal plant.
“Die Seun van Naoea ,” sê hy, “het ook deur ’n woestyn gegaan voordat Hy begin praat het.”
Terwyl Oupa Kham op kyk na die naghemel bokant hom, sê hy. “Hy weet wat dit is om niks te hê nie. Nie eers ’n jaar om aan vas te hou nie.”
Die wind raak stil en gaan lê, so asof hy iets vir die sand fluister.
Oupa Kham gaan sit weer tussen Pieter en Buks Appelblaar. Dan buig hy vooroor, gaan staan op sy knieë in die sand en sluit sy sluit sy oë. Sy hande rus op die aarde, asof hy luister.
Skielik sit hy weer regop, en sê met ’n blink in sy oë, “Hy kom.”
“Wie kom?” fluister een van die kinders grootoog in Oupa Kham se oor.
“Die Een met die Hand op Sy hart my kind, sê Oupa Kham, met ’n breë glimlag op sy verkreukelde gesig.
En toe sien die mense Hom met hul geestesoog.
Die Ou Jaar het tussen hulle deurgeloop, nie as ’n mens nie, maar as ’n beweging. Net ’n teenwoordigheid vir ’n oomblik en as ’n herinnering. Hy staan net vir ’n oomblik by elkeen stil, soos iemand wat van jou afskeid neem. In ’n oogwink is hy weer weg net so skielik as wat hy sy verskyning gemaak het.
Die Ou Jaar het deur die kamp beweeg soos iemand wat sy laaste asem uitblaas.
Vir sommige het dit trane gebring …
Vir ander het hy rus en vrede gebring … ;
Vir enkeles het hy skuld of berusting gebring.
“Die Ou Jaar,” sê hy sag, “is vanaand hier as ’n getuie.”
“Wat nie in genade neergelê word nie, word ’n las,” sê Oupa Kham.
Een vir een lê die mense in absolute stilte hul klippe neer in die sand by die kruis. Niemand het ’n woord durf spreek nie. Dit is so stil jy kan ’n blaartjie van ’n Kameeldoringboom in die sand hoor val.
Nisa, ’n jong meisie, met oë so sag soos ’n skaap se wol, lê haar klip laaste van almal voor die houtkruisie neer. Sy onthou dat Oupa Kham gesê het dat Naoea sag praat wanneer niemand vir jou kyk nie. Nadat sy haar klip by die kruisie neergelê het, gaan sit sy onder ’n ou Kameeldoringboom. Die asem van die wind sing deur die dorings in die kroon van die boom. Dit klink vir haar soos ’n loflied sonder woorde.
Nisa sluit haar oë. “Naoea,” fluister sy skaam, nouliks hoorbaar, “ek weet nie wat om van hierdie jaar te hou nie en wat om te los nie.”
Sy maak haar oë stadig oop. Nisa kon bykans nie glo wat haar oë sien nie. Daar straal ’n helder lig om haar en almal in hul gemeenskap. Sy het toe geweet dat die klip wat sy neergesit het, haar vrees was om alleen na die duineveld toe te loop. Daardie vrees van haar het nou verdwyn soos mis voor die son.
Die nuwe jaar het met ’n sagte lig gekom, soos die lig uit ’n graf wat oopgemaak word.
Die goue strale van die son breek oor die duine, verdryf die skaduwees van die nag en kleur die horison in sagte pêrelpienk . Die Kalahari begin stadig opnuut weer asemhaal.
Oupa Kham kyk na die houtkruisie in die sand …
Hy kyk na die hoop klippe wat daar lê … ; dan bid hy saggies:
“Naoea, U het gesê: Kom na My toe, almal wat moeg is en almal wat swaarkry, en Ek sal julle rus gee.”
Die vrouens het ritmies begin handeklap en al in die rondte om die vuur, wat nou net kole is, gedans terwyl hulle ’n woestynlied sing op maat van Uri se trom en in harmonie met Mia se Te Kna.
Die nuwe jaar het gekom soos ’n kind sonder bagasie.
Later die dag kom ’n verdwaalde skaap vreesloos die kamp ingestap. Sy wol is geskeur. Sy oë is sag en kalm. Hy gaan lê by die kruisie.
Oupa Kham sak op sy knieë af in die sand. “Dít is die teken,” sê hy. “Hierdie is die Jaar van die Herder. ’n Jaar, waarin ons nie uitmekaar gedryf gaan word nie, maar in vrede en samehorigheid bymekaar gehou gaan word, deur ’n Stem. Die Stem van Naoea!”
Buks Appelblaar stook weer nuwe lewe in sy vuurtjie, wat weer opnuut knetter soos uitbundige babbelende Boesmantonge wat hulle vreugde met mekaar deel.
In die middel van die sirkel staan Oupa Kham se kruisie regop as middelpunt van die sirkel.
Terwyl almal na die kruisie in die middel van die sirkel kyk, sê Buks Appelblaar: “Pieter, my groot vriend, in die Kalahari het ons mense geleer dat die jaar ’n sirkel is, en dat genade die middelpunt van daardie sirkel is. Solank ons mense ons tyd in stilte daar neersit, sal elke nuwe jaar, hoe droog of moeilik ook al, nie sonder hoop begin nie.”
“Selfs hier by ons mense in hierdie Kalahariwoestyn,” sê Buks met trane in sy oë, “is Naoea se voetspore ook opgeteken in die sand en is Sy teenwoordigheid in die asem van die wind.”
—————————————–oooOooo——————————————
©Pieter Mostert
VOETNOTAS
* Naoea is volgens die Boesmans die Hoogste Wese.
* Die Te Kna is ’n eensnarige viool waarmee die Boesmans musiek maak.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP projek