Jongste aktiwiteit:

My kopkantoor

My kopkantoor

Ek en my boerman sit een aand langs die braaivleisvuur en ek hou hom dop waar hy ingedagte oor die veld staar. Of so het ek altans gedink. Toe ek hom vra waaraan hy dink, het hy my verbaas aangekyk en gesê: “Niks.” Verbeel jou dit! Niks!

Die blote gedagte dat iemand die vermoë het om aan niks te dink nie, het my geskok. Ek het nie geweet dis ’n moontlikheid nie. Dit móét ’n talent wees. Of ’n superkrag. Byna soos Superman wat kan vlieg of Spiderman wat ’n web kan gooi.

As my kop ’n plek was wat jy kon besoek, sou jy ’n nommer by die deur moes trek. Nie omdat daar orde is nie, maar omdat daar nié is nie. Chaos lyk net beter as dit genommer is. Dis voorgee dat daar ’n werkende stelsel is.

My kop werk min of meer soos die staat se aktekantoor op ’n Vrydagmiddag. Administratiewe wanbestuur van epiese proporsies. Daar is rakke en kaste teen al vier mure vol stowwerige lêers wat lukraak neergeplak is in hope wat enige tyd kan omval. Daar is lêers op die vloer, onder die lendelam lessenaar se een poot, op die stoele, vensterbank en op die hoeke van my tafel waaroor ek beswaarlik kan sien. Sommige het etikette. Die meeste het nie. Dis ook nie te sê dat dít wat in die lêer is, ooreenstem met wat op die etiket staan nie. Jy kan ’n lêer oopmaak wat sê “Belangrike Volwasse Besluite” en binne kry jy ’n half-geskryfde inkopielys, ’n nota om iemand terug te bel, en die skielike dringende vraag oor hoekom rooibekkweleas nooit teen mekaar vasvlieg nie. Die lêers is ontsier met koffievlekke, donkie-ore en vergeelde blaaie. Sommiges is leeg en ander is so vol dat dit met dik tou en ’n dubbele knoop vasgebind is.

Op enige gegewe dag kan jy in my kop instap en die volgende aantref: ’n dringende taak wat ek doelbewus ignoreer, ’n liedjie se een reël wat op herhaling vassteek,
’n gesprek van drie jaar terug wat skielik weer appèl aanteken en ’n eksistensiële krisis wat op ’n plastiekstoel sit en wag vir sy beurt.

In die middel van hierdie kopkantoor met sy skeefgetrekte kaste sit ek met ’n pen in die hand, asof ek in beheer is. Ek is nie.

Gedagtes kom aan soos besoekers sonder afsprake. Party klop nie eers nie – hulle loop sommer in, sit hulle voete op die tafel bo-op my papierwerk en begin praat. Ander loer skaam-skaam om die kosyn, wag vir toestemming, en as ek te lank vat om te reageer, verdwyn hulle weer sonder dat ek ooit gehoor het wat hulle wou sê. Die ergste is die lêers wat ek al tien keer gestempel en afgeteken het, en dan weer oop voor my kom lê. Dis dié’s vol ou gesprekke, ou vrae en kwellings. Dis die een van “het ek genoeg gedoen?”, of “het ek te veel gepraat” of “het ek die boodskap reg verstaan?”

Dis asof my kop ’n kringloopstelsel het waar niks ooit heeltemal afgehandel word nie.

En dan hoor ek daar is mense (mans!) wat aan niks kan dink nie. Aan niks!

Ek probeer my dit voorstel: ’n Leë kantoor. Nie ’n enkele lêer in sig nie. Geen notas wat halfpad geskryf is nie. Geen stemmetjies wat mekaar in die rede bly val nie. Net… stilte.

Vir my klink dit soos ’n plek waar dit heel moontlik spook.

En hoe lyk “niks”? Is dit ’n wit bladsy? Stuur jy ’n kennisgewing uit wat sê: Gesluit vir onderhoud? Laat sak jy die blindings? Is dit donker daarbinne?

Want in my kopkantoor bly die ligte aan. Altyd. Selfs wanneer ek snags probeer slaap. Daar is beweging en geraas van gedagtes, herinneringe wat onder ’n kas ingewaai het en ’n rooi, flikkerende soeklig wat sê: DRINGEND, al het ek vergeet wat ek moes onthou.

Wanneer ek aan niks probeer dink, gebeur presies die teenoorgestelde. Dan ontdek ek lêers wat ek nie eens geweet het ek het nie, die telefoon lui, ’n duif vlieg teen die ruit vas en iemand druk ’n papier in my hand en sê ek moet onmiddellik hieraan aandag gee.

Dalk is dit ook maar ’n bestiering dat my kopkantoor nie so netjies en georganiseerd is nie, want dis die plek waar my stories begin, waar woorde onverwags langs mekaar inskuif en sinne raak. Waar die totale chaos iets lewendigs en tasbaar word.

Miskien is die warboel die hele punt, want daar is oomblikke tussen die aanmanings, verkeerde etikette en ou dokumente waar iets skielik begin sin maak. My kopkantoor met al sy kopkaste sal waarskynlik nooit stil wees nie en ek sal heel moontlik nooit leer om aan niks te dink nie, maar neem gerus ’n nommer. Ek sal terugbel.

© Hester Steenkamp, 2026




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed