NET ‘N STUKKIE WIT
NET ‘N STUKKIE WIT
Die wilde ritme van die nag bars dwarsdeur die vlam en vuur van die son; en die donker sypel deur al die splinterruit krakies van die dag. Omvou en verlok die suiwer blink van die maan; totdat dit in ‘n wit sluier ontplof en weerloos-naak die misterie van die Kunstenaar bemin.
Engele tuimel in wonder en enigma deur die Hemelruim en lofdans in rou en onverdunde glorie; hul vlerke in aanbidding en prys na Bo gelig. Daar waar ‘n Hand weerloos oor die ronding van die planeet vou – soos die sagte koestering van ‘n vrou oor die swanger kontoere van haar lyf.
Flikker-flonker spat glorie in helder sterreprag dwarsdeur die donkerruim. En n stukkie wit breek los en fladder soos die woorde van ‘n gebed na benede.
En later wanneer die son soos ‘n tempelvoorhangsel skeur dwarsdeur die geboortekanaal van ‘n splinternuwe dagbreek; sal iemand niemand ‘n spierewit veertjie optel en per dalks bêre. Sonder om te weet dat dit ‘n stukkie is van die towerpenveer van ‘n engelvlerk.
Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; en mag daar môre ‘n stukkie wit op jou voetpad vir jou knipoog.
©Liza Daniells
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.