Ouma se geheim.
Ouma se geheim.
Lien sit op haar ouma se ou houtkatel. Die verekombers lê glad oor die groot hemelbed. Lien Meiring, vier-en-twintig jaar oud lyk ouer as haar ouderdom wanneer sy na die vertrek kyk. Sy word omring deur die ryk geur van houtpolitoer en die subtiele aroma van haar ouma se parfuum.
Nostalgie oorval haar. Dit voel asof ek weer ʼn klein dogtertjie is, liggies swaaiend op ouma Helena se skoot terwyl sy vir my stories vertel. Die antieke horlosie in die voorhuis tik konstant, elke sekonde word ʼn herinnering aan vervloë dae.
Ek hou die teekoppie vas en dink dat dit seker so oud soos die huis self is, met sy fyn blou patroontjie wat my terugneem in tyd. Die antieke meubels stem my tot rustigheid. Ons geskiedenis hang teen die gelerige mure in die vorm van ou familieportrette, elkeen met sy eie verborge verhaal. Die rooibostee troos my effens. Ek ril en dink wat ouma nou vir my sou sê: “Daar het ʼn kat oor jou graf geloop.”
Die hele huis is ʼn verhaal van ou familiegeskiedenis. Ouma Helena het hierdie huis geërf van haar ouers. Generasies se liefde, vreugde, hartseer en geheime lê hier.
Die ou hangkas het vir solank as ek kan onthou, in die hoek van ouma se kamer gestaan. As kind het ek hierdie hangkas al bewonder. Na haar afsterwe was die taak aan my gegee om die huis op te ruim en alles uit te sorteer. Ek het dit vir lank uitgestel, die pyn van haar verlies was nog te rou.
Op hierdie koue wintersoggend het ek egter die moed bymekaargeskraap, en hier sit ek nou; op ouma se groot ou houtkatel.
Ek sug en begin om die laaste gehekelde lappies uit die laai te haal. Die laaste doilie haak aan iets aan die bokant van die laai vas en my vingers voel-voel om dit los te maak. Girrrts, kraak iets en ʼn ou, vergeelde koevert val uit.
Met bewende vingers vou ek dit oop en begin lees. My oë swem oor die vertroude sierlike krulletters van ouma Helena se fyn handskrif. ʼn Vlaag van naarheid oorval my en wat ek lees, laat my met ʼn mengsel van skok, verwarring en verbasing.
“Ek het ʼn verskriklike geheim.
Die kind van ʼn ander.
Maar liefde ken geen grense.
Jy, Lien, is spesiaal.
Die waarheid lê in die ou eikeboom.
Soek en jy sal vind.”
Wat op aarde bedoel sy? ʼn Kind van ʼn ander? My oë dwaal oor die laaste twee reëls. Die ou eikeboom – die groot boom net buite die kamer, waar ouma altyd so graag haar oggende deurgebring het?
Ek hardloop na buite en kom voor die houtbankie tot stilstand. My hart klop van verwagting en ook ʼn tikkie vrees. Ek loop al om die bankie, voel-voel asof ek ʼn leidraad sal vind. Die naamplaatjie voel koud onder my bewende vingers. Ek klop-klop teen die silwer plaatjie en dit maak ʼn hol klank. By nadere ondersoek sien ek dat dit kan oopskuif. Onder die plaatjie vind ek ʼn versteekte kompartement met ʼn foto van ʼn jong vrou met ʼn baba in haar arms. Op die agterkant staan daar geskryf: “Die ware liefde van my lewe. Ek hoop jy vind hierdie een dag, Lien.”
Die vrou in die foto is nie my ma nie, maar daar is onmiskenbare ooreenkomste tussen haar en my ma, Karlien.
Vol vrae blaai ek deur ons familie-albums. Elke foto van my as baba het nou vir my nuwe betekenis. Ek soek na tekens wat kan aandui wat alles beteken, maar alles lyk so normaal, gelukkig en onskuldig.
Daardie nag kan ek nie slaap nie. My gedagtes laat my paar keer rondrol. Wat het gebeur? Wie is ek dan werklik? En hoekom sou ouma hierdie geheim vir so lank bewaar?
Die middag kom mamma om te kom verneem hoe ek vorder. Ek maak vir ons tee en deel haar mee dat ek iets het om aan haar te wys.
Toe ek die vergeelde brief en foto’tjie aan haar wys, trek sy haar asem met ʼn skok in. Haar gesig verbleek merkbaar toe sy die brief neem om te lees. “Waar het jy dit gevind?” vra sy, haar oë gevul met vrees.
“In ouma se hangkas,” antwoord ek sag. “Ma, wat beteken dit alles?”
ʼn Diepe sug ontsnap oor haar bleek lippe. “Ek het geweet dat hierdie dag dalk sou kom,” antwoord sy, haar blou oë vol trane.
“Mamma, vertel my asseblief net wat aan die gang is,” pleit ek by haar.
Sy haal diep asem. “Jou ouma het altyd gesê dat die verlede agtergelaat moet word. Maar, ek sien nou dat jy die reg het om alles te weet. My tweelingsuster, jou tannie Linda, het ʼn verhouding gehad met ʼn bekende, vooraanstaande man. Johannes Hendrik. Hy was egter getroud en toe sy swanger geraak het, was sy angsbevange. Sy het daardie baba, jou, vir ouma gebring om groot te maak. Dit was toe ek my eersteling moes kry, maar die baba is dood by geboorte. Ouma Helena het besluit dat ons jou moes vat en grootmaak as ons eie.”
“Wat, het ek ander ouers?” Skok laat my duiselig voel en ek kyk haar oorbluf aan.
“Ja my kind, maar jou biologiese ma is kort daarna oorlede. Ou dok het gesê dat sy haar doodgetreur het.”
Ek kyk aandagtig na die foto’tjie in my hand en sien dat ek haar groot blou oë gekry het.
“En my pa? Wat het van hom geword?”
“Hy het die politiek verlaat en het ʼn bekende skrywer geword. Na sy blitsverkoper, Verlore liefde, is hy onverwags oorlede.”
Met die waarheid van die verlede ontbloot, het Lien uiteindelik die ontbrekende stuk van haar eie verhaal gevind. Die geure van houtpolitoer en parfuum, die antieke meubels en die fluisterende portrette op die mure dra nou ‘n dieper betekenis. In die warmte van haar ma se arms, besef sy dat die geskiedenis van haar familie haar inderdaad gedefinieer het, maar dat haar eie reis nou pas begin het.
©MarleneErasmus
(999 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Maart 2024 - OOP projek