Die raaisel.
Die raaisel.
Die koel herfsoggend lê soos ʼn sagte sluier oor die Bolandse dorpie. Tipiese tekens van die naderende winter. Die luggie is skerp koel, ʼn mengsel van varsheid en koue. Die son begin stadig oë wys. Lig skyn deur die dun laag fyn miswolke. Sondruppels glinster soos juwele op die herfsblare.
Nadia Verster sug en trek haar ou jas stywer teen haar vas. Dit is regtig tyd om vir my ʼn nuwe jas aan te skaf voor die ergste koue toeslaan.
Vroeë oggende in die dorpie lewer sy eie bekoring. ʼn Simfonie van kleur en klank. Die verkeersligte se klikklakkende geluide vermeng met die verkeer en haastige voetstappe van mense op pad werk toe.
Nadia stap die modewinkel, Eksie-perfeksie, binne en dink op die ingewing aan haar eksentrieke ouma. Seker omdat die modewinkel al sedert ouma se tyd bestaan. Sy onthou hoe die mense hulle klere vir die winkel geskenk het.
“Nadia, onthou: as jy na die waarheid soek, moet jy altyd begin by die begin.” Hoekom sal ek nou aan haar en haar woorde dink?
ʼn Vriendelike verkoopsdame stap nader en kyk my aan asof ek verdwaal het. Ek weet dat my ou verslete jas nie juis help om haar te oortuig dat ek op die regte plek is nie.
“Goeiemore, ek wil graag na jul wintersklere kyk. Dit is regtig tyd om ʼn nuwe jas aan te skaf.”
Sy lig haar wenkbroue en kyk na my. “Wel, ons het paar opsies vir jou om te oorweeg. Toevallig het ons ʼn spesiale aanbieding op die vorige seisoen se voorraad. Ons het ook treffers van vervloë dae.”
“Dit klink goed, ek is mal oor winskopies!”
Sy glimlag weer, hierdie keer bietjie meer opreg. “Fantasties! Kom saam, ek gaan wys jou wat ons het.”
Sy vat my tot by die tafel met die afgemerkte jasse en gaan staan eenkant. Ek voel aan die tekstuur van die jasse en kyk dit aandagtig deur. Ek begin hul een vir een aanpas. Eerste die donkerblou gewatteerde jas met die stylvolle kraag. Ek kyk na my refleksie in die spieël, maar besluit: die een is nie vir my nie. Volgende aan die beurt is ʼn lang bruin jas met ʼn kappie. Die keer voel dit of die styl my beter pas, maar ek is nog nie tevrede nie. ʼn Helderrooi jas vang my oog en toe ek hom aanpas, weet ek dadelik! Alhoewel die jas beter pas, voel dit tog of daar ʼn krapperigheid is wat my effens pla.
Ek stap na die spieël en kyk na my beeld. Die glimlag op my gesig sê alles – ek het die een gevind. Ek draai om na die verkoopsdame en sê, “Ek dink ek het my keuse gemaak. Hierdie rooi een is perfek!”
Sy glimlag sigbaar bly en knik goedkeurend. “Dit is ʼn baie ou treffer van ʼn dame wat nou nie meer met ons is nie. Dit lyk beslis pragtig aan jou. ‘n Uitstekende keuse!”
Nadia sit die jas op haar sitkamerbank neer en maak vir haar ʼn koppie tee. Kom ek kyk of dit regtig so ʼn goeie keuse was om die jas te koop.
Nadia draai in die rondte voor haar spieël en trek aan die lapel. Daar is beslis ʼn harde deel wat my pla! Met ʼn sug trek sy die jas uit en dop die binnekant om, soekend na die oorsaak van die gekrap.
Haar hart mis ʼn slag toe sy die aangewerkte stukkie lap aan die binnekant van die jas se lapel opmerk. Wat? Versigtig torring sy die stukkie lap los en snak hard na haar asem toe sy die vergeelde stukkie papier tussen haar vingers hou.
In klein letters staan die boodskap daar: “As jy na die waarheid soek, moet jy begin by die begin.” My hart klop in my keel as ek na die papiertjie tussen my bewende vingers staar.
Die boodskap wil my nie met rus laat nie. Dit voel asof ek deel is van ‘n speletjie, ‘n raaiselagtige avontuur. Ek besluit om die aanwysings van die boodskap te volg en “by die begin te begin.”
Ek dink aan die ou trommel wat my ma van die familieplaas af gebring het. Ek gaan soek na die ou trommel in die stoor. Ek vind hom, toe onder lae stof. Tot my teleurstelling is dit gesluit met ʼn groot geroeste ou slot. Gelukkig is dit so erg geroes dat dit met ʼn harde “KLIEENNGG” oopgaan toe ek teen dit kap.
Binne in die trommel vind ek ʼn verweerde boek. Versigtig tel ek die boek op. Daar, in dieselfde handskrif as die geheimsinnige boodskap in my jas, vind ek ʼn nota: “Die waarheid lê in die blaaie van jou eie verhaal.”
Ek blaai deur die bladsye van die boek en lees aandagtig deur elke nota, elke inskrywing. Dit is ʼn reis deur my eie verlede, ʼn terugblik op my herinneringe en ervarings. Dan gaan die liggie skielik helder vir my aan: die geheim is nie ʼn fisiese skat nie, maar eerder ʼn reis van selfontdekking en die waarheid van my lewe!
Ek klap die boek toe en glimlag sag. Die geheimsinnige boodskap in die voering van die jas het my na ʼn reis van selfontdekking gelei, ʼn reis wat ek nooit sal vergeet.
@MarleneErasmus
(817 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Maart 2024 - OOP projek