Jongste aktiwiteit:

‘n Stil besluit

Lien en Leo Meiring sit op ’n terras in Mauritius. Die terrasse het soos drome in lae teen die berg gehang, elke vlak ’n fluistering van kleur en lig. Rooi aarde wat gloei soos geheime vlamme, groen suikerriet wat sing in die wind, en die lagune onderaan wat glinster soos ’n verlore juweel in die son. Die lug het stadig oor die terrasse gesweef, asof tyd self hier nie bestaan het nie en elke skaduwee het ’n belofte gedra van verhale wat nog wag om vertel te word. Die see glinster soos vloeibare smaragde, die middagson verkleur goud en turkoois oor die water. ’n Ligte briesie laat die palmbome liggies beweeg en op die klein glastafeltjie voor hulle staan twee Piña Coladas. Ys smelt teen die glas, die pynappelgeur meng met klapperroom en ’n subtiele nasmaak van rum. Die wêreld voel vreemd rustig en stil en tog voel dit nie soos iets wat Leo lankal nie meer ervaar het nie.

Hy skuif sy hand liggies oor die glas, voel die koue teen sy vingers. Vir ’n oomblik dink hy aan die dae toe stilte sy huis oorheers het – die nagte waarin die wêreld leeg gelyk het en selfs sy eie asem soos ’n vreemde geluid in sy ore weerklink het. Hy het probeer lag, probeer praat, probeer voel, maar alles het net swaar en stil gebly. Hy sit nou hier in Mauritius, kyk oor die see met die son op sy gesig en hy kan amper voel hoe iets in hom begin beweeg.

“Leo,” sê Lien en draai haar glas liggies, “weet jy waar hierdie bekende mengeldrankie ontstaan het?”

Leo neem ’n slukkie, die ys klingel teen die glas. “Nee,” sê hy, “maar ek weet jy gaan my nou vertel.”

Lien glimlag geheimsinnig. “Dit is nie net ’n drankie nie. Dit is ’n verhaal van ’n seerower en ’n kroegman, van eilande en eeue gelede se wilde avonture.”

Sy sluit haar oë en begin skilder die toneel: die dek van ’n seerowerskip, warm gebakte hout deur die son, die wind vol sout en avontuur. Roberto Cofresí staan voor sy bemanning met ’n bottel rum, pynappels en klapper op ’n klein tafel uitgepak. Hy skink ’n glas in die hand van ’n matroos; die vloeistof glinster soos vloeibare goud.

“Proe dit,” sê Cofresí, sy stem soos die wind deur die seile. Die matroos neem ’n slukkie en sy oë rek in die laatmiddagson. “Kaptein… dit… dit laat my voel of ek sweef,” fluister hy, en ’n laggie ontsnap deur sy lippe.

Cofresí neem toe self ’n slukkie, half versigtig. Die rum brand sy tong liggies met die pynappel soet soos nektar en die klapper romerig. “Net soos die golwe self,” sê hy. “Hierin lê ’n hele eiland. ’n Oord waar jy kan vergeet van storm en stryd.”

Leo staar na Lien, sy oë groot. “Ek kan amper die see ruik…”

Lien glimlag en leun terug. “Jare later, in San Juan, het Ramón ‘Monchito’ Marrero die resep herontdek. Hy het die pynappel fyn geslaan, gesif en klapperroom bygevoeg. Dan het hy die met rum gemeng en fyn geslaande ys bygevoeg. Die mengsel het perfek saam vermeng! Die room het gesmelt teen die lippe, die pynappel het sag in die verhemelte gelê, elke druppel ’n fluistering van vrug en vuur. Die rum se brandsmaak het gekielie in die keel. Dit vul nie net die mond nie, maar dit vul jou liggaam, jou hart, jou asem.”

Leo neem ’n tweede sluk. Sy lippe blink van die ys en romerigheid. “Dit… dit voel asof die son op my tong dans,” sê hy, sy oë volg die ritme van die golwe.

Maar daar is stilte in hom. Nie alles is gelukkig binne hom nie. Die afgelope maande het hy homself verkwalik – nagte vol stilte. ’n Stem van onsekerheid, ’n verlore gevoel van vreugde. Hy dink aan sy kamer in die stad. Stil en koel, die plek waar hy wou begin maar niks kon regkry nie. Hy dink aan die glimlag wat hy probeer voorhou het vir ander, maar wat nie by hom was nie. Hy skud sy skouers liggies, haal diep asem en probeer die herinneringe van vrees en stilstand opsy skuif.

Lien beweeg haar hande soos sy die see en son teken. “Die mengeldrankie het oor die wêreld gereis, Amerika, Japan, Europa en Latyns-Amerika – op elke plek sy draai gaan maak. Maar die hart van dit alles bly dieselfde: rum, pynappel, klapperroom. Elke slukkie proe soos ’n eiland.”

Leo sit stil met sy hand om die glas. Die geur, die smaak en die storie maak iets in hom los wat hy vir lank vermy het. Hy voel weer die ys teen sy lippe en die romerigheid teen sy tong. Iets soos ’n glimlag begin in hom vorm. Hy herinner homself aan die dae toe hy durf droom het, toe sy hart baie ligter was en hy nie geweet het hy een dag die lig sou verloor nie.

“Lien…” sy stem is effens broos. “Ek het lanklaas so iets gevoel! Lig en vreugde… iets soos hierdie.” Hy wys na die glas en die see, en verwys na die legende wat sy vertel het. “Dit… laat my besef ek ook weer kan begin. Ek kan weer asemhaal en weer lewe.”

Lien glimlag, haar oë vol van die refleksie van die son wat sak. Sy hoef niks te sê nie. Leo neem ’n laaste slukkie en sit sy glas neer. Die vloeistof, die geur, die legende – dit is nie net ’n Piña Colada nie. Dit is herlewing, ’n klein eiland van moontlikhede in sy lewe.

Die briesie waai die pynappel- en klappergeur saam, die meeue roep en die golwe bruis teen die strand. Vir ’n oomblik voel Leo: hy is nie meer dieselfde man wat die wegbreek begin het nie. Stil, maar seker. Hy trek sy skouers reguit en glimlag. Hy staan op en begin loop – die eerste tree van baie, die eerste van vandag.

ʼn Nuwe begin in ’n glas met die asem van die see, bruis in homself.

©MarleneErasmus
17/01/2026

(1011 woorde)




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed