Winterengel red skoolkinders.
Winterengel red skoolkinders.
Lien Meiring staan en staar oor die werf van die plaashuis. Die ysige winterwindjie het die gordyne sag oopgewaai en die bleek strale van die son verlig haar kamer. Sy sukkel om helder wakker te word en knip-knip haar oë teen die helder lig. Sy kyk na die pragtige wit skouspel voor haar. So ver soos sy kan sien is die landskap toe onder die mooiste vars laag sneeu. Die bome se takke hang swaar van die wit vlokkies.
Kom ek gaan kry koffie. Ek stap stadig die lang gang af. Die aroma van vars koffie vul die lug en vou soos ʼn karos om my. Die mengsel van die geroosterde bone en die koolstoof omhels my as ek die kombuis binne stap. Die klein krom figuurtjie van ouma Mariet voor die stoof lyk so gesellig.
“Môre ouma, en het ouma lekker geslaap?” Ouma beweeg saggies oor die vloer, die stoel maak ʼn sagte geluid as ouma gaan sit. Die kombuis is warm en gesellig van die ou koolstoof wat aangesteek is.
“Ouma,” sê Lien met liefde in haar stem. “Ek is so bly ouma het kom kuier. Ek geniet altyd ouma se geselskap.”
Ouma glimlag en sit die stomende pot koffie neer. “Kind,” sê sy met haar warm, gemoedelike stem, “kom sit hier en geniet die beker boeretroos. Dit sal ʼn goeie begin vir hierdie dag wees.” Ek glimlag en neem oorkant haar plaas.
“Laat ouma jou vertel van die sneeu van 1956, toe ʼn reuse sneeuval hier in die omgewing van Bergville plaasgevind het.” Ouma se oë skitter met ʼn mengsel van nostalgie en verlange as sy die sneeuval van 1956 herroep.
“Kind,” begin sy met sagte stem, “die winter van 1956 sal niemand vergeet nie! Dit was ʼn vreeslike gebeurtenis wat Bergville en omgewing getref het.” Ouma se hande beduie saam met haar woorde wat van toonhoogte verander. Sy beskryf die eerste sneeuvlokkies wat geval het en hoe die storm vinnig hewig gewoed het.
“Lientjie, daardie sneeustorm het ons opnuut bewus kom maak oor die mag van die natuur.” Sy sluit haar verhaal af en strek haar hand uit om die radio se klank harder te maak.
Die ou radio staan agter haar op die kas en rustige musiek vul die oggend se stilte. Eensklaps word die musiek onderbreek met ʼn harde, skril geluid! Lien spits haar ore, haar hart klop effens vinniger, bewus van die noodsein wat oor die radio kom.
Die omroeper se stem wat met erns praat, laat die spanning oplaai.
“Dringende aankondiging,” kom die stem kragtig. “Skoolbus vermis in die sneeustorting naby Drakensberg. Daar word vermoed dat die bus naby Bergville onklaar geraak het. Alle hulp word benodig om die bus met die skoolkinders te vind. Asseblief, as enige iemand inligting het, kontak dadelik die plaaslike polisiekantoor.”
Lien spring so skielik op dat die stoel agteroor val. Die stoel slaan met ʼn donderslag op die harde houtvloer neer. Die geluid eggo in Lien se ore en ouma kyk haar verskrik aan. Die geluid dreun deur Lien se kop en sy besef dat sy dadelik moet optree.
“Ouma, ek moet hulle gaan soek! Daar is kinders in daardie bus! Ek sal die tweerigting radio saamneem, maar ouma moet hier bly. As daar enige nuus oor die radio kom, moet ouma my dadelik laat weet.” Ouma kyk na Lien se vasberade gesig en besef sy kan haar nie anders probeer oortuig nie. Ouma knik haar grys koppie en druk haar hande teen haar hart. “Wees net baie versigtig, kind.” Lien knik en omhels ouma vinnig. “Hou die radio naby, en ouma, BID asseblief vir veiligheid.”
Met die woorde storm Lien na die voordeur. Sy gryp haar jas en trek die mus oor haar ore. Sukkel-sukkel hardloop sy deur die dik laag sneeu om haar 4×4-voertuig te bereik. Die enjin hoes en proes behoorlik paar keer voor die enjin ontwaak, en Lien begin haar reis om die bus te gaan soek.
Haar Jeep kronkel gly-gly deur die wit gesneeude landskap met die ligte wat ʼn geelwit streep voor haar maak. Die sneeu val nog die hele tyd en die wind suis deur die venster. “Ek moet net kop hou! Asseblief Vader, wees ons genadig!”
Terwyl Lien stadig vorder, sit ouma Mariet stil met die tweerigting radio styf vasgeklem teen haar. Haar ore is gespits om na die aankondigings op die radio te luister terwyl sy prewelend, saggies bid vir almal se veiligheid.
Toe Lien om die skerp draai ry, snak sy hardop na haar asem. Voor haar, groet die toneel waar die bus die pad verlaat het, haar. Daar, op sy sykant, half bedek onder ʼn dik laag sneeu, lê die skoolbus. Die bus lyk soos ʼn vlagskip wat gestrand het. Dit is ʼn baie ontstellende toneel en Lien se hart klop vinniger.
Onsekerheid wil haar oorweldig, maar dan skep sy moed bymekaar en besef dat sy die hoop en redding van die skoolkinders is.
Lien stap met haar flits in haar hande en lig teen die bus as sy teen die ruit slaan. Die deur word van binne oopgestamp en in haar flitslig sy die gesigte van die kinders, doodbenoud en koud.
“Moet nie bang wees nie,” sê sy sag met ʼn gerusstellende stem. “Tannie! Tannie, Meneer Leo is bewusteloos. Hy het ʼn harde hou teen sy kop gekry. Die bus het gegly, omgeslaan en hier in die sloot tot stilstand gekom. Meneer Leo het seergekry!”
“Toemaar, hulp sal nou hier opdaag.” Sy kyk na die sny aan Leo se kop en maak hom gemaklik.
Lien laat eerste vir Ouma Mariet weet waar hulle is en dat die kinders veilig is. Sy ontbied die nooddienste. Sy gaan sit by die kinders en praat hulle moed in. Dit is nie lank voor die loeiende sirenes die lug vul nie.
Die reddingspan het vinnig en bedrewe na die kinders omgesien. Leo, wat intussen bygekom het, se wond is verbind en hy is saam met die kinders na veiligheid gebring.
Lien strompel deur die sneeubedekte tuin na die huis waar ouma Mariet haar inwag. Die sneeuvlokkies dartel om haar heen as sy die voordeur met ʼn kraakgeluid oopswaai. ʼn Warm gloed van vreugde en verligting vul die vertrek as sy in ouma se arms instap.
“Lien, kindjie!” roep ouma uit. Arms omvou mekaar in dankbaarheid en blydskap. “Ouma, ek het die reggekry!” Haar stem klink broos en moeg. “Die kinders is almal na veiligheid gebring!”
Die voorhuis word gevul met baie emosies en klanke. Trane van dankbaarheid loop sag oor die wange. Die geluid van Lien se asemhaling meng met die fluisterende woorde van ʼn dankbare ouma.
Die volgende oggend sit Lien en haar ouma in die kombuis waar die sonlig helder oor die houtvloer val. Die sneeuval het gestop en die son skyn weer.
Die radio speel en die omroeper se stem kom oor die lug: “Heldhaftige optrede van Lien Meiring het verseker dat die bus met die skoolkinders gevind is. Die onderwyser wat die bus bestuur het, Leo Smit is ontslaan nadat hy die nag in die hospitaal deurgebring het.”
Hierdie dapper daad het die harte van die gemeenskap diep geraak. En so, met elke winterseisoen, is die verhaal van Lien se dapper daad oorvertel. Dit sal vir die gemeenskap van Bergville ʼn bron van hoop, liefde en inspirasie bly.
©MarleneErasmus
25/06/2023
(1218 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Junie 2023 – Winter projek