Jongste aktiwiteit:

Reënboogtrappertjie

Klasie, die reënboogtrappertjie, sit op ‘n blinkblaar-wag-‘n-bietjie tak. Hy skuif sy lyfie sodat die blare hom amper toe maak. Hy wag en wag. Hy is sommer baie honger. Hy hoop dat ‘n by of ‘n vliegie of een of ander vet gogga hier naby hom sal kom sit sodat hy dit kan vang.

Die gewag maak hom vaak, elke nou en dan raak hy aan die slaap. Hy word wakker toe hy ‘n geritsel hier naby hom op die tak hoor. Stadig maak hy sy een oog oop en kyk agtertoe om te sien of sy helder kleurige lyfie mooi onder die blare weggesteek is. Met sy ander oog kyk hy vorentoe om te sien wat  hom wakker gemaak het.

So waar! Hier reg voor hom, binne bereik van sy lang tong sit ‘n lekker vet gogga met lang blink vlerke. Hy draai altwee sy oë vorentoe en fokus. Sy lang tong skiet blitsig uit. “Ahhhh!” roep hy verbaas uit. Die gogga het omgedraai net toe hy dit probeer vang en gryp hom aan sy tong. ”Eifffna!” roep hy uit. “Lolfff my tonnnn!”

Die gogga kyk hom in die oë. “Jou aaklige ongedierte, hoe durf jy my probeer vang met hierdie grillerige taai tong!” Sy stamp haar voete vererg.

“Jammelll, ek hethth gedink jy ith ‘n vet gogga!” probeer die reënboogtrappertjie verduidelik, met sy tong wat nog steeds lank uitgerek en buite sy mond is.

“Waaat!” Bulder die sy. “Vet gogga! Ek? Ek is die boomfeetjie! Hoe durf jy sê ek is vet!” Sy los sy tong so vinnig dat dit terug skiet en hom amper van die tak laat af val. Sy tong is so gerek en droog dat dit eers net so uit sy bek bly hang.

“Ek ith jammelll!” probeer hy verduidelik.

Hy sluk-sluk en stadig begin sy tong weer in sy mond oprol. Hy rol dit rond en probeer dan weer: “Ek was net honger! Ek het dae laas iets geëet. Dit is nie maklik om goggas te bekruip met my helder lyf nie en toe ek my oë oopmaak was jy daar.”

Die boomfeetjie kyk vies na hom. “Kyk hoe lyk ek. My hare is deurmekaar. Daar is taai slym aan my rok. Jig! Ek sal jou ‘n les leer!” sê sy en stamp haar voete weer.

“Ek het dit regtig nie bedoel nie,” probeer die reënboogtrappertjie weer.

“Jou aaklige ongedierte!” sê sy kwaai en swaai haar towerstaffie.

Klasie voel hoe sy hele lyf begin kriewel en kielie. Hy draai eers sy een oog agtertoe en toe die ander een. Die helder kleure van sy lyf verdwyn van die punt van sy stert tot by sy neus. Meteens is sy lyf net vaal groen. “Uhhh…” Hy kyk vinnig terug na waar die boomfeetjie was, maar sy is weg.

Arme Klasie kyk na sy vaal groen lyfie. Wat gaan hy nou maak, die ander reënboogtrappertjie gaan vir hom lag. Hy kry so skaam dat hy diep onder ‘n blaar inkruip. Hy maak sy oë styf toe en wag. Miskien sal hy weer sy kleure terug kry as hy net so bietjie rus.

Klasie wip soos hy skrik. Hy het aan die slaap geraak. Hy maak sy oë groot oop. Hier reg voor hom sit ‘n heerlike sappige vlieg. Hy skiet so tong uit en vang dit. Hy sluk dit vinnig in. Hy het amper vergeet hoe honger hy was. Dan onthou hy van die boomfeetjie en rol sy oë agtertoe om na sy eie lyf te kyk.

“Help!” Skree hy en spring onder die blaar uit. “My lyf is weg!” Hy gluur met altwee sy oë na sy lyf. Sy lyf is daar maar hy kan dit amper nie sien nie. Dit lyk net soos die blaar waaronder hy gesit het.

Klasie krul sy stert om sy lyf. “Ja, my lyf is nog hier, maar ek is onsigbaar hier tussen die blare! Wat het daardie boomfeetjie met my gemaak?”

Klasie kyk om hom rond, daar is oral goggas wat op die blare rondom hom sit. “Ek droom seker, dit is reënboogtrappertjie hemel!” dink hy. Versigtig vang hy die eerste gogga naby hom, dan nog een en nog een. Hulle weet nie eers hy is daar nie. Klasie se magie is nou trommeldik. Hy kruip weer onder ‘n blaar in en raak aan die slaap.

Toe hy die volgende oggend wakker word is hy dors. Hy klim met die tak op tot by die boonste blare van die boom waar daar heerlike koel dou is om te drink. Hy drink twee groot druppels. Hy kyk op en sien sy eie spieëlbeeld in die derde druppel, maar net toe hy dit wil hap sien hy die gesig van die boomfeetjie ook in die druppel. Sy een oog kyk terug oor sy skouer en sowaar daar staan sy.

“Alweer jy!” sê sy.

“Alweer jy!” sê hy.

Voor een van hulle iets verder kan sê kom daar ‘n donker skaduwee oor hulle. Klasie kyk op en is net betyds om die groot swart kraai te sien wat op hulle afpyl. Hy vries! Hy roer nie eers sy oë nie. Die kraai vlieg so laag dat die wind van sy vlerke hom amper van die tak af waai.  Klasie knyp sy oë toe en wag vir die skerp bek om hom op te pik.

“Heeeeellp!” hoor Klasie. Hy maak sy oë oop en sien hoe die kraai met die boomfeetjie weg vlieg. Die kraai het hom nie eers raak gesien nie.

“Goed so!” dink Klasie. Sy was baie lelik met my. Hy begin weer terug beweeg met die tak langs na sy plekkie onder die blaar.

Klasie word in die middel van die nag wakker. Daar is baie stemme om hom en daar is vuurvliegies in die bome.

“Luister, luister!” hoor hy Uil se stem. Almal word stil.

“Vanmiddag het daar iets vreeslik gebeur,” gaan Uil voort. “Die boomfeetjie het vanmiddag verdwyn, en soos julle weet, is dit haar werk om seker te maak dat die blare van die bome aan die einde van die somer van kleur verander en aan die herfs van die bome afval. Sonder haar sal die bome nie gereed wees vir die winter nie en sal daar nie nuwe blare en blomme uitkom in die lente nie.”

“Dit is verskriklik!”

“Wat het gebeur?”

Klasie luister van onder die sy blaar af. Hy weet wat gebeur het, maar hy wil nie hê iemand moet hom sien nie.

“Ons moet dadelik ‘n soekgeselskap uitstuur!” sê Uil.

“Dit is donker en ons is bang!” sê Muis.

“Sonder die bome kan ons nie leef nie!” sê nog ‘n stem.

Klasie haal diep asem en dan sê hy: “Ek weet wat van haar geword het?”

Almal staar na waar die stem uit die blare gekom het. “Wie is daar?”

“Wie is jy?”

“Dit is ek, Klasie, reënboogtrappertjie.” sê hy.

Almal staar nog steeds na waar die stem vandaan kom, maar niemand kan vir Klasie sien nie.

“Wat het gebeur? Vertel vir ons?” roep almal gelyk.

“Ek het vanmiddag gesien hoe die kraai haar gryp en wegdra!?” sê hy.

Daar is doodse stilte, dan sê Uil: “Kraaie hou van blink goed en het seker die feetjie se vlerke sien blink in die sonlig, hy het haar seker na sy nes geneem. Ons moet haar gaan red of ons sal almal doodgaan.”

“Oh, nee, ek gaan nie naby kraai se nes nie!” sê Muis.

“Ek ook nie!” roep almal gelyk.

Klasie kom onder die blaar uit en vra: “Waar is sy nes?”

Almal kyk verbaas na waar hulle die stem hoor, hulle kan hom dan glad nie sien nie.

“Klasie,” vra Uil, “waar is jou lyf, waar is jou kleure?”

“Dit is ‘n baie lang storie.” sê Klasie.

“Klasie as jy onsigbaar is, is jy die ideale kandidaat om die boomfeetjie te gaan red!” sê Uil.

Klasie sug: “Dit is daardie ongeskikte feetjie se skuld dat ek my kleure verloor het en nou moet ek haar gaan red. Nee, definitief nie!”

“Klasie, ons almal se lewens hang daarvan af, ons moet haar gaan red.” Smeek almal.

“Klasie, ek kan jou optel en op een van die takke naby kraai se nes neersit. Jy kan dan jou kamoeflering gebruik om agter die blare weg te kruip om tot by kraai se nes te kom. Die boomfeetjie kan op jou rug klim en jy kan dan weer met die tak afkom tot waar ek julle kan kry.” Verduidelik Uil.

So gesê en so gedoen!

Klasie sit doodstil en wag onder ‘n blaar. Die oomblik toe kraai weg vlieg glip hy gou tot binne-in die nes. Daar is baie blink goed in die nes. ‘n Teelepel, ‘n ring, ‘n stukkie glas en ‘n baie kwaai boomfeetjie.

“Jy!” sê sy toe sy vir Klasie sien.

“Ja, ek! En ek is hier om jou te kom red, so jy moet nou baie mooi luister!”

Die boomfeetjie kry trane in haar oë. “Baie dankie, ek het nie gedink iemand gaan my ooit kom red nie!”

Klasie verduidelik die plan vir haar en hy glip oor die nes se kant en onder die blare in met haar op sy rug. Net betyds, voor kraai terug kom. Uil kom haal hulle en neem hulle veilig terug na die blinkblaar-wag-‘n-bietjie boom.

Almal juig: “Mooi so Klasie! Wel gedaan!”

Die boomfeetjie sê vir Klasie: “Baie dankie dat jy my gehelp het. Ek is so jammer dat ek so kwaai was met jou. Kom dan gee ek vir jou jou kleure terug.”

“Dit is ‘n plesier, maar nee dankie, ek hou van my kamoeflering, ek hoef glad nie meer so hard te werk om iets te ete in die hande te kry nie en ek het nou net ‘n nuwe besigheid oopgemaak.”

Privaat Speurder Klasie Kamoefleertrappertjie

“Ek kan enige iets vind wat weg is.” glimlag Klasie tevrede.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed