MAMMA DONKIE SE VERHAAL
Volg Num 22
Die Klein donkie kom met spoed aangehardloop toe hy sy mamma sien. “Haai mamma! Waar was mamma die heeltyd gewees?” , skreeu hy al van vêraf. “Sjoe! maar ek is bly om mamma weer te sien, want ek het my dood verlang! Vertel tog wat alles gebeur het”. Hy vergeet skoon om te groet, so bly is hy om sy mamma weer te sien.
Dag my kind sê Mamma Donkie, terwyl sy diep sug en haar ore laat hang. “Wat is fout mamma?” vra hy. Hy kan sommer sien dat daar iets gebeur het wat sy mamma pla. “ Die mense sê altyd dat ons baie dom is. Maar hulle weet regtig nie wat hulle sê nie, maar nouja ons lyk seker maar dom vir hulle. hulle weet maar nie van beter nie”. Sê Mamma
“Nou hoekom sê mamma so, wat het hulle gedoen?” “Jy onthou mos dat mamma altyd vir jou gesê het, dat eendag is eendag, dan sal ek my stem laat hoor. Nouja, dit het toe ook gebeur.”
“Haai mamma regtig, het mamma regtig mamma se stem laat hoor? “ Ja my kind dit het regtig gebeur. Mamma jok nie vir jou nie. Mamma sal jou die hele storie vertel.”
In sy hart wonder hy darem oor hierdie ding wat sy mamma gesê het. Hy wens hy kon dit self gehoor het. Maar nouja hy moet mos altyd by die huis bly wanneer mamma saam met Bileam op reis gaan. Nooit eers dink hulle om hom saam te vat nie, hy is glo nog te klein.
“Ja,” sê mamma terwyl sy haar kop skud. “Ek het sommer net geweet dat daar moeilikheid gaan kom. Dit was die tweede keer toe vreemde mense met bultende sake vol geld by Bileam aan gekom het. “Wat wou hulle met al die baie geld gemaak het mamma?” vra hy nuuskierig.”
Jy onthou mos dat mamma jou altyd vertel het dat Bileam, ‘n baie spesiale gawe van die Here ontvang het. Wanneer hy mense geseën het met sy buitengewone kragte, het dit buitengewoon goed gegaan met hulle.
Nou ja, die leiers van Moab en Midean was baie bang vir God se volk wat in hulle gebied gekom het. Hulle wou Bileam omgekoop het om slegte goed vir God se volk te sê sodat daar nie goeie dinge met hulle gebeur nie.
Die oomblik toe Bileam die baie geld sien, het sy oë groot gerek, Ek kon sommer sien aan die uitdrukking op sy gesig, dat hy daardie geld baie, baie graag wou hê. Die Here het al vir Bileam gesê dat Hy sy volk moet seën. Hy het baie goed geweet wat hy moet doen, maar sy begeerte na daardie baie geld het hom oortuig om weer vir die Here te vra wat hy moet sê. Hy het seker gedink dat God ook lief is vir geld en dat dit dalk Sy hart ook sal verander. Ook, maar lekker dom het ek gedink, ek het maar net my kop geskud. Ek wat ‘n simpel donkie is, het geweet dat geld God glad nie sal beïndruk nie.
Sjoe mamma, wat het Bileam toe vir hulle gesê. Hy het ewe vroom vir hulle gesê dat hulle moet oorslaap sodat hy kan hoor of die Here weer met hom daaroor sal praat.. .” Sjoe Mamma, Bileam was darem maar baie dom gewees, want wat die Here sê; “Staan altyd vas”. Hy sal mos nie Sy gedagtes laat verander terwille van geld nie.” sê hy. “Dit is net soos jy daar sê my kind.” Sê mamma met ‘’n sug.
“Jy sien, party mense is baie lief vir geld, en hulle sal enige iets doen vir geld, al moet hulle leuens vertel om dit in die hande te kry. Geld laat hulle soms snaakse dinge doen.”
Daardie nag het God weer aan Bileam verskyn en vir hom gesê dat die manne hom kom haal het en dat hy met hulle moet saam gaan, maar dat hy net mag sê wat Hy vir hom gesê het om te sê.”
“Die volgende dag het ons toe in die pad geval. “Ek wonder wat het in sy kop aangegaan toe ons so geloop het. Kort- kort het ek gehoor hoe loop hy en brom oor die woord van die Here. Hy kon nie verstaan dat die Here nie kan begryp dat hy baie kon gedoen het met al die geld nie. Hy kon dan ook sommer vir die Here se werk ook van die geld gegee het. Ook maar lekker gierig het ek gedink.”
“Die volgende oomblik het ek my koud geskrik. ‘n Baie groot Engel het reg voor my kom staan met ‘n yslike groot swaard in sy hand.” Sjoe mamma” sê hy, ek sou my donkie verstand weggeskrik het, as dit ek was.” “Ja” sê mamma “dit was ‘n groot skrik, ek het sommer ‘n ander koers ingeslaan.” Ek het net geweet dat God vir hom baie kwaad was.
“Bileam was toe baie lelik met my, hy het my sommer begin slaan, omdat ek weg gedraai het.” “Haai mamma hoekom was hy so gemeen gewees?” “Soos ek al gesê het, geld maak party mense lelik. Dit maak dat hulle nie kan sien en nie kan hoor nie, dit verblind hulle behoorlik”.
“Die Engel van die Here gaan staan toe in ‘n smal pad tussen die wingerde met ‘n muur aan weerskante. Dit is toe dat ek teen die muur langs skuur en Bileam se voet daarteen vasdruk, dat Bileam my sommer met mening begin slaan. Dit was so seer dat die trane sommer by my oë uitgeloop het.” “Arme mamma,” sê die klein donkie en skuur teen haar, om haar te troos.
Mamma gee hom ‘n lek op sy boud en vertel toe verder. “Die Engel van die Here gaan toe verder en staan toe in ‘n nou plek waar daar nie kans was om na enige kant toe uit te draai nie. Dit is toe dat ek uit pure moedeloosheid plat op die grond gaan lê het. Bileam was woedend vir my en het my genadeloos geslaan.”
“Maar kyk, genoeg was genoeg. ‘n Donkie kan ook net soveel vat en niks meer nie. Toe ek my bek oopmaak om in donkie taal protes aan te teken, toe rol die mense taal uit my mond uit.” “Wat het ek jou aangedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het?” vra ek hom toe. “ Bileam was behoorlik vies vir my en het verontwaardig gesê dat ek hom vir die gek gehou het en dat hy my sommer dood sou gemaak het as hy ‘n swaard gehad het.”
“Dit is toe dat ek vir hom laat verstaan dat ek nog altyd goed was vir hom en dat hy altyd op my gery het en dat ek nooit so met hom gemaak het nie. Bileam het erken dat dit wel so is, maar hy kon nie verstaan hoekom ek so gemaak het nie.” Die klein donkie is skoon stom geslaan oor sy mamma se vertelling, van so iets het hy nog nooit gehoor en nie hy wens hy was daar om dit te kon hoor.
“Dit is toe dat die Here Bileam se oë oopgemaak het, dat hy die engel gesien het wat voor hom kom staan het, met die swaard in sy hand. Die Engel van die Here vra hom toe ook waarom hy my so geslaan he, want ek het verhoed dat hy hom dood gemaak het. Die Engel van die Here sou hom dood gemaak het en my laat leef het”.
“Bileam het besef dat hy baie verkeerd gedoen het en gesê dat hy jammer is. Net daar het hy besluit om gehoorsaam te wees en te doen wat die Here gesê het hy moet doen.”
“Mamma, dink mamma Bileam sal weer sy eie ding wil doen en dat hy volgende keer sy oë en sy ore sal oop maak? “ “Ai my kind, mamma hoop regtigwaar so. Partymaal kan mense baie dom en ongehoorsaam wees.”
3 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Dit is nou kosbaar Ina.. dankie dat jy ierdie mooi Bybel verhaal vir ons uit die donkie se oog kom vertel het... werklik n kosbare les!!!