Muismolles by die tandmuis se huis
Muismolles by die tandmuis se huis
Dit is vroeg in die oggend. Buite is die sonnetjie stadig besig om oor die plaaswerf te loer.
Die haan skud sy vere reg, haal diep asem en kraai dat die hele werf wakker skrik. Traag staan die hennetjies en die kuikentjies wat lekker warm onder mamma geslaap het, op en wag dat hulle mooi kan sien om te begin pik-pik-pik. Hulle is honger na die lang nag se slaap.
Die hond, Ore rek en strek en gaap so ‘n laaaaang gaap. Die kat kom uit die huis en hardloop stert in die lug by hom verby. Hy sien sy kans en jaag haar in die naaste boom op. Kieterkat maak haar rug krom en miaaaaauuu kwaai. Ore woef-woef so rukkie onder die boom voordat hy besef hy is ook honger. Hy begin sy hondepille eet en lek so bietjie van sy water in sy waterbak.
In die stal moeeee die koeie en staan gereed om gemelk te word en hulle melk word later warm en vars in kanne huis toe gedra.
Lammetjies spring spelerig rond en drink tog te lekker aan hulle mammas. Hulle mê-mê sonder ophou.
Die plaas se enigste perd, Poon loer by sy stal se deur uit en kan nie wag dat hy buite kan gaan galop en speel nie. Hy vat groot happe aan die hooi. Hardloop daarna in groot sirkels in sy kamp. Hy weet vandag gaan Oupa met hom veld toe ry en hy is skoon opgewonde daaroor.
In die huis word almal so stuk-stuk wakker. Oupa Volla en Ouma Linda rek en strek voordat hulle opstaan en Ouma gaan maak koffie.
“Ouma wat ‘n nag was dit nie! Ek het byna nie ‘n oog toegemaak nie”.
“Ek ook nie Oupa. Dit is lanklaas dat ons die hele nag moes luister na die geraas op die dak,” sê Ouma waarop Oupa met sy pyp in sy mond knik. Hy drink sy koffie voordat hy sy motorsleutel optel.
“Ons sal ‘n plan moet maak, want ek wil nie nog ‘n nag wakker bly nie. Ek gaan maar by die koöperasie een of twee muisvalletjies koop, want die tandmuis was weer bedrywig in hulle huis.”
Intussen agter die gaatjie op die vloer en in die muur van die kombuis, luister 12 paar oortjies na elke woord. Dit is hulle twaalf waaroor Ouma en Oupa praat. Hulle besef hier kom moeilikheid. Hulle sal van nou af moet mooi trap en versigtig trap.
Hulle is moeg na die hele nag se sokker speel in hulle huisie op die dak. Hulle is ook lekker honger, want die kat het heel nag voor hulle huis se deurtjie waggehou. Gewag dat een van hulle ‘n punt neusie by die gaatjie uitsteek.
Kort-kort steek Kieterkat haar pootjie deur die deur om te kyk of sy nie iewers ‘n muislyfie kan raak hak nie. Dan hoor sy die geknibbel en gehardloop op die dak. Sy gaan slaap verder op die bank. Sy sug en die reuk van muisies ruik sy nog tot op die bank en sal later weer probeer.
“Maaaaaa … ek is honger,” kla een van die muis kindertjies.
“Ekke ook en ek wil gaan slaap na verlede nag se baie rondhardloop op die dak,” sê sy boetie en hulle gaap almal saam.
Snif-snif snuif almal neusie in die lug en die lekker kaas reukie kom deur die deurtjie van hulle huis aangesweef. Hulle magies skreeu van die hongerte.
“Dit is daardie kat wat keer dat ons by die lekker plaasbrood en die heerlike geel kaas kan kom,” sê Pa Muis.
Ma muis wat besig is om haar pels blink te lek, skud haar kop.
“Ons sal plan moet maak sonder dat die kat ons sien en ons moet wag dat Ouma en Oupa eers gery het.”
Nie lank daarna hoor hulle die motor weg ry.
“Aaaaaa … nou is dit ons kans,” sê Pappa. “Ek en Mamma gaan gou kyk om vir ons kaas, brood en dalkies vrugte te gaan soek. Ons maak ons mandjies vol en ons hou lekker piekniek voor ons gaan slaap.”
Pappa en Mamma loer met hulle neusies versigtig by die gaatjie uit en sien dat daar niemand naby is nie. Hulle kyk links, regs, links, regs voordat hulle met hulle kort en klein beentjies vanuit hulle huisie woerts-warts oor die gladde vloer.
“Mamma, sit jy happies vrugte in jou mandjie en ek kry vir ons brood en kaas. Wees net versigtig vir die kat.”
Hulle maak hulle mandjies vol en is so besig hulle sien nie vir Kieterkat wat inkom nie.
Sy wiggel-waggel haar lyfie. Stertjie swiep op en af. Haar snorbaarde trek stokstyf en haar ogies kyk sonder om te knip na die twee wat hard besig is om kos in hulle mandjies in te pak.
Mamma is klaar en verdwyn met haar mandjie in die gaatjie in. Pappa wil net nog een stukkie kaas kry voordat hy ook huis se kant toe staan.
Binne wag Mamma en die ses sussies en vier boeties vir Pappa Muis.
“Ek wonder waar bly Pappa,” sê Mamma en deel solank vrugte vir die kinders uit en eet haarself vol.
“Kom ons gaan slaap solank. Ek dink Pappa is nog besig. Ons kan later lekker brood en kasies eet,” sê Mamma en maak almal mooi toe onder hulle kombersies. Snoesig warm onder haar kombersie raak sy gou aan die slaap.
Intussen was dit ongelukkig net een kasie te veel, want Kieterkat vlieg uit haar wegspringblok uit en is so vinnig dat voordat Pappa Muis besef wat hom tref, gryp sy hom aan die lyf. Jy sien net kaas en brood trek. Maak nie saak hoe hard hy probeer, Kieterkat het hom.
Laat middag word Mamma Muis wakker. Die kleingoed slaap nog te lekker. Sy besluit om na Pappa te gaan soek.
Sy loer met haar kraalogies versigtig by die gaatjie uit. Dadelik snuif sy die heerlik geur van vars kaas sommer naby haar en sy sien die stukkie kaas raak.
Mamma besluit om solank die stukkie kaas self te eet voordat sy vir Pappa gaan soek.
Sy gee ‘n grooooot hap. Sy hoor ‘n harde klap. Sy voel die eina om haar nekkie. Hoe hard sy ookal spook, sy kom nie los nie.
Wat sy nie weet nie is dat Oupa het intussen ‘n muisvalletjie gestel met heerlike kaas daarin. Arme Mamma Muis word daarin gevang. Voordat Mamma Muis in die Kieterkat se bek verdwyn, wonder Mamma wat van haar tien Muiskindertjies gaan word.
Agter die deurtjie wag 10 honger kindertjies tevergeefs vir Mamma Muis en Pappa Muis.
Buite word dit donker. Die haan, die hennetjies en kuikentjies gaan slaap. Ore klim in sy hok en Kieterkat gaan slaap vanaand by Ouma op die bed.
Poon, die koeie en die skape gaan soek self slaapplek na ‘n lang dag. Die sonnetjie is self moeg en verdwyn in die weste en dit word donker.
“Ek wonder of ons vannag weer deur die muise wakker gehou gaan word,” sê Ouma en sy Oupa gaan ook slaap nadat hulle Bybel gelees en gebid het.
Nie lank daarna begin die muisfamilie met hulle nagsokker en Ouma en Oupa kyk moedeloos na die dak.
“Ek hoop daardie muisvalletjies gaan gou hulle werk doen,” sê Oupa.
Maatjies julle sien. Mamma Muis het so vas geslaap dat sy die droom gehad het van Pappa en haarself. Pappa het so hard gesnork dat sy wakker geword het en sy hoor ‘n harde klap geluid.
Sy skrik helder wakker en verras besef sy dat hulle almal nog wel en gesond is. Op die tafeltjie staan ‘n mandjie vol brood, kaas en sommer nog ander lekkernye. Mamma Muis is so verlig.
Na hulle piekniek hardloop almal met die geheime gaatjie na die dak. Op pad sien hulle vir Kieter Kat wat se neusie stewig vassit in die muisvalletjie toe sy die kasie wou hap.
Terwyl Ouma en Oupa wakker lê, speel hulle nou te lekker sokker in hulle huisie met een van my klein gholfballetjies wat hulle uit my speelkassie gegaps het. Vannag geen kommer oor Kieterkat wat voor hulle huis se deurtjie vir hulle waghou nie.
©kopiereg Linda du Plessis 2023
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir November 2023 – OOP projek