Jongste aktiwiteit:

Mý sintuiglike November (BRONS)

soggens metaal die oossee in blink dagsê
ʼn kopergeel sonmantel kreukel sensueel oor die blou
selfs wanneer skuimkuiwe soos meringue windklits
streel die oseaan se misterie op my kim ontvou

kleurspatsels vrugteslaai vrolik in die tuin
oasekelkies waar bye met saffraanpofbroekies hommel
doudruppels vergrootglas kroonblare in boepenspêrels
skatte in oorvloed uit dié seisoen se trommel

geilgroen blaarweelde smarag vroegsomer
loof chlorofil in uitspattige oorvloed
lommer roep rustigheid se piekniek na buite
waar bont voëlsang tuinsit se genot groet

ʼn bloukopkoggelmander knikkop sonnig
klipsit in aansit vir goggaspyskaart
knipoog en woerts na ‘n donker holte
nóg ʼn ekosisteemblokkie op my werf se legkaart

smiddags sweef ek telepaties op termiese golwe
saam met die stil silhoeët van ʼn geelbekwou
dan eskader skoorsteenveërs in witspatsel-V
en ʼn visarend roep waar rivier en see trou

wolkdreunings komponeer dramatiese ouvertures
reënvlae kom getooiing aangery oor die see
nat lug hang swaar op natuur se wasgoeddraad
my honger asem is aan kusklam oorgegee

en as dag se oorvloed in lui-aand skemer
met ʼn pienk blos gewaterverf in someraand se lug
koekstruif my sintuie sensoriese vreugde
ja, dié buitebeelde laat my in genoegsaamheid sug

Etna Wepener ©️




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed