Marlene Erasmus
BRONSKLAS
Mei 2020 – “Ek wens dat ek…” projek
3.donkerblou gedagtes
met ʼn edele enkelgedagte dink ek aan jou
aan al die dinge wat ons nog wil en wou doen
dan trek die heimwee deur my so donkerblou
eensklaps bevind ons ons in snaakse seisoen
ʼn vae vrees vir virus so onbekend eis sy tol
maatreëls van inperking nou nuwe norm
die dodetal wat styg soos branders wat rol
paniek en verlies van inkomste aan die vorm
ek wens dat ek toe geweet het wat ek nou weet
dat ons tye kosbaar sou koester en kweek
vriende wat saam vergader en geluk meet
die samesyn wat nou woordeloos ontbreek
Vader – gee dat ons ook in hierdie tyd bly glo
ons hulp en krag kom verseker net van Bo …
©Marlene Erasmus
Julie 2020 – Klankanbootsingprojek
2.Nuwe seisoen
die winterwind suis sag deur die Witkaree
terwyl die seisoen stadig besig is om te draai
na warmer dae waar sonbesies skril tjir-tjir
en so agtergrondmusiek sal maak vir ons
die verdorde veld verdroog deur winterkou
ontwaak gaap-gaap deur vleigrasse vaal
as lentelug giggelgeurig deur die veld speel
weerklank die lied van ʼn nuwe seisoen
winter van tweeduisend-en-twintig is bykans
iets van die verre verlede as die blousysies
vrolik tjirp en twiet op maat van Rooibekkwelea
se sangerige shoesh-shoesh ‘song’ …
©Marlene Erasmus
3.Rooi stewels
donker donderwolke dreun dansend
terwyl die bliksemstrale boosaardig blits
klap-klap kletter haelkorrels op die sinkdak
en die aarde staan stil stom verdwaas
vasteland lê uitgestrek in dor droë vlaktes
as die hemele oopskeur in vlae verligting
reën sak sissend neer uit wandelende wolke
die uitkoms van reën is die aarde se balsem
met ritseling van briesie oor grasvlaktes
swem druppels in see van oker modder
as ek flaps-flaps met my rooi stewels
dankbaar dans in modderpoele
©Marlene Erasmus
Februarie 2021 – Liefdes projek
3.Kupido
Kupido
blond naïef
borrel giggel soek
ondersoekend vraend loerend smagtend
wandel vind skiet
bly tevrede
Valentyn
©Marlene Erasmus
28/02/2021
(Diamantgedig)
Maart 2021 – Liefdes projek
1.Die padda
die meisies lyk verskik en gil
waar hulle bang bewe in die klas
want die stoute Jannie wil
met sy troeteldier spog as die gas
ou juffrou Nel lyk doodbenoud
vandag sal sy boude moet slaan
dreig is nou haar een behoud
oor die flater wat Jannie begaan
want hy dink hy doen goed
dit is mos beter as sy mak slang
hy pluk so ewe die padda uit die hoed
onbeplan maak hy nou almal bang
juffrou het dan so ewe mooi gevra
bring ʼn troeteldier saam wat jy kan dra
©Marlene Erasmus
SILWERKLAS
September 2021 – Positiwiteits-projek
3.’n Chinquain
peerboom
rein wit bloeisels
dans ingeryg op tak
vredig vervuld en gelukkig
peersoort
©Marlene Erasmus
April 2022 – En toe… projek
2.die flou son
aan moedersknie het jy my soveel dinge kom leer
veral jou liefde vir musiek, ons kon kitaar tokkel
hoe dikwels het jy my vasgehou – “jou pokkel”
jy wou altyd vir my alles gee wat my hart begeer
my mamma, jy kon so baie doen met so min
jy wou nooit hê ek moet my oor iets bekommer
sou altyd grappenderwys sê: “ag, net sommer”
my van kleintyd geleer van: besin eer jy begin
en toe … word jy siek en die lag verdwyn net
so blymoedig vir ons laat verstaan: alles is reg
op ʼn dag kom die oproep – my mamma is weg
die dag waarop my son flouer begin skyn het
©Marlene Erasmus
Mei 2022 – OOP projek
1.vreesloos haweloos
net die winde weet wat weemoedig waai
as jy jou gesig so laggend na die son draai
jy, o sigeunervrou dansend in die wind
weet waar jy vreesloos jou vrede vind
hul spense loop oor van spys en drank
vetgevrete grootkoppe sonder dank
met swaaiend heupe op maat van musiek
vermaak jy vrolik die breë publiek
haweloos jy as jy onder kartonverblyf
hunker na familie, maar jy is afgeskryf
ons is almal die een soos die ander
jy was ook eens beeldskoon skrander
mag ons nie vergeet in ons uitroepgebed
dat ons Vader al is wat ons almal kan red
©Marlene Erasmus
Julie 2022 – Wat skryf ek projek
3.die ander soort moord
stilstuipe is die sagter weergawe van mishandeling
daar is geen fisieke tekens, maar jy is die banneling
en gegewe dié realiteit van die manier van moord
waarom sal jy bly en deel wil wees van die marteling?
©Marlene Erasmus
Januarie 2023 – Projek NUUT
3.nuwe dag
kraaknuut breek ʼn nuwe dag
in vlamme van vrolike geel
vermeng met oranje se prag
getooi in skel-oranje, nie te veel
met vars nuanses van sagte sitrus
gegeur in perske en vermiljoen
ontwaak die donker uit sy nagrus
so verander ook die seisoen
sonstrale kondig die dag aan
stilsweef die strale oor die aarde
waar jy ook al vandag mag gaan
vergeet nooit ooit jou waarde
ag Heer, dankie dat U die son laat skyn
gee dat al ons sorge aanstons verdwyn
©Marlene Erasmus
31/01/2023
April 2023 – KLUG projek
1.leë woorde
Rondeel:
leë woorde
met jou sjarmante glimlag tree jy op
wil jy my ʼn rat voor die oë draai?
en my gul met geskenke kom oorlaai
as jy vol planne aan my deur kom klop
mag hierdie liefde van ons nooit nie flop
liefdeswoorde wat jy welig kom saai
met jou sjarmante glimlag tree jy op
wil jy my ʼn rat voor die oë draai?
die ontnugtering: die woorde droog op
jy het my liefde harteloos verraai
nou probeer jy my weer met woorde paai
dit is dan die einde waar dit kom stop
met jou sjarmante glimlag tree jy op
wil jy my ʼn rat voor die oë draai?
©MarleneErasmus
Mei 2023 – OOP projek
3.Werk is werk
van jongs af aan
dink jy, droom jy
as ek eendag groot is …
met sterre in jou oë
word jy die volgende
hartspesialis of sjirurg
of jy word ʼn brandweerman
of kleuterskoolonderwyser
“ek gaan boer” kom jou
stemmetjie vas en seker
… skugter eenkant
sit jy met jou groot
sjokoladebruin oë
en jy … wat wil jy word?
“ek? ek gaan my pa
help om huise te bou”
die klas skater soos hul lag
want sien, daar word
mos neergesien op party
maar …
vandag is die ook JOU
dag – ongeag waar jy
ook al jou taak verrig
vandag kom en eer ek JOU
op werkersdag …
©MarleneErasmus
Junie 2023 – Winter projek
3.Haikoe(Sneeuvlok)
sneeuvlok trane drup
winterkaros vlokkiedons
warm kaggelvuur knus
©MarleneErasmus
06/06/2023
Neologisme:
Vlokkiedons – vlok wat sneeuvlok beteken + dons wat verwys na sagte, donsagtige tekstuur van sneeu.
Julie 2023 OOP projek
2.liefdes-wens Digsoort: Sedoka
onthou jy my lyf
wat in liefde teen jou vlei
as ons in eenheid saamsmelt
ek voel jou asem
as jy fluister in my oor
sagvoet saam in ons liefde
©MarleneErasmus
30/07/2023
Augustus 2023 – Musiek projek
3.blyspel
in die fleur van ons lewens
op die vooraand van
ons repertoire
het jy
besluit om ons bladmusiek
se toon te verander
ruimte tussen ons so wyd
en my hart roep na jou
jy het verdwyn soos
skaduwee in die donker
die melodie van jou lag
klingelklok in my kop
die note sterf weg
toe jy wegstap
maar toe jy
FORTISSIMO!
draai jy om, om
ons koor te kom voltooi
©MarleneErasmus
29/08/2023
Neologisme:
klingelklok, klingel (geluid) en klok, Verwys na ‘n ligte, helder geluid, soos ‘n klokkie wat klingel.
Oktober 2023 – KORT projek
Eervolle vermelding
flitsdrome
in stille nag fluister die wind sag
drome in vlug, liefde is in die lug
©MarleneErasmus
JUNIE 2024 – ONBEKENDE PROJEK
1.in sagte fluitering
die onbekende wink en fluister sag
in ’n wye wêreld waar drome ontkiem
waar lig en skadu’s ontmoet, is verandering
die onbekende wink en fluister sag
met elke tree wat ons versigtig vat
verdwyn vrees en verskyn die nuwe
die onbekende wink en fluister sag
in ’n wye wêreld waar drome ontkiem
as ons die onbekende moedig omarm
ontdek ons nuwe skatte vol verrassings
die onbekende wink en fluister sag
in ’n wye wêreld waar drome ontkiem
waar lig en skadu’s ontmoet, is verandering
©MarleneErasmus
30/06/2024
November 2024 – OOP projek
1.Na die storm
Die wind raak stil, die lug is swaar
as die skemer stil in vrees lê en staar.
Die voëls verdwyn, die veld raak leeg
met elke klank wat stil, swaar weeg,
net die nag wat wag as wolke saam skaar.
Die blougewelf breek oop in fakkels van vuur,
en reëndruppels dans – koel en sekuur.
Die bome se arms knak en skeur,
die aarde sidder met blitse wat boontoe beur
terwyl donderslae dreun in die donker uur.
Omhul in die varsheid van reën se parfuum,
glim die hemel soos in ’n goue kostuum.
’n Reënboog straal in hemels vrede, blink
en die son juig warm waar vreugde weerklink.
Die storm se gewoel vasgevang in tyd se vakuum.
©MarleneErasmus
04/12/2024
Januarie 2025 – OOP projek
2.’n Haikoe
Wind waai rok omhoog,
ek poseer soos Marilyn
maar toe kyk hul weg!
©MarleneErasmus
20/01/2025
Februarie 2025 – Water projek
1.Druppeldans
Teen sink se silwer speel ’n sagte lied,
uitkoms in tik-tak, tik-tak aangebied.
Fluister-druppels suis-sis val versigtig,
eers net sag en skaars hoorbaar lig.
Dan bons die note wat klap-klap klink,
’n ritme-wals in druppels, groot en blink.
Tik-tik, tok-tok klink so hard soos ’n skoot,
kletterend soos mooie musieknoot.
Bulder en bons dit in spatsimfonie se lied
wild en woes die druppel wat skiet.
Toe trek dit weg met ’n sagte sug,
verdaag die druiswysie in damp en lug.
Stroompies neurie vrolik en tevree,
soos silwer draadjies stroom hul mee.
Spatklanke sing hul reën-refrein;
’n naglied wat uit die wolke verskyn.
©MarleneErasmus
28/02/2025
GOUE KLAS
JULIE 2025 – SKADUWEE VAN TYD PROJEK
1.skaduwees van tyd
Tyd sleep ’n kromgekloekte wa,
ysterwiele skuur oor gister se gebeure.
Dit is nie ’n haastige ryding nie,
maar ’n lykswa van tyd –
wat stukkies van ons
stil-stil agtertoe neem.
In sy wa lê
die stemme wat nie meer praat nie,
briewe sonder adresse,
die geur van ma se rooibostee
en ’n glimlag wat nou net op ou foto’s leef.
Tyd stop nie vir wind of reën nie.
Hy kyk nie agtertoe nie.
Maar ek hoor sy wiele skuifel
in die gange van my herinneringe.
Soms, as ek in ’n spieël staar,
sien ek sy spoortjies om my oë,
in die silwer drade bo my slape.
Ek hoor sy sagte sug
wanneer ek stil word,
wanneer ek onthou
sonder dat ek wil.
Ek wonder wat hy nog
in sy wa vir my bewaar.
En tog, in sy donker wa
flikker daar ook flenters van lig —
’n kind se lag,
’n vers wat bly kleef aan my tong.
Tyd het sy skadu’s.
Maar ek dra die skadu’s
soos ’n knus serp teen die koue dae.
©MarleneErasmus
29/07/2025
AUGUSTUS 2025 – LINKSHANDIGE PROJEK
2.
Linkshandig
EK
is links
ek hou skêr
ek knip reguit
ek droom groot
linkshandig is anders
ek speel kitaar linkerhand
anders in regterhanddomein
leef en speel anderse manier vervuld
regterhanddomein in anders
linkerhand kitaar speel ek
anders is linkshandig
groot droom ek
reguit knip ek
skêr hou ek
links is
EK
©MarleneErasmus
27/08/2025
SEPTEMBER 2025 – ORDE NA CHAOS PROJEK
2.In ewig lig
Die UVU se lowergroen is gevul met studentesang,
spierwit pette sweef soos seemeeue oor die see,
jonges spring, hande gryp – hul wil so graag een vang,
Charlie glimlag en doen aan die pret gewillig mee.
Toe die geruis bedaar, wag hy vir die vrae – kalm,
sy stem dra helder, soos klokke oor die plein,
maar by die tweede vraag — o skielike psalm!
Hel skeur die skare, soos donder teen ’n grein.
Chaos breek los, gille verskeur die eens vrolike dag.
Hy lig sy arms, asof hy aanbid, dan val hy stil eenkant.
As almal vreesbevange vlug, hardloop lyfwagte met krag,
vegtend deur verkeer, met sy hand in Frank se hand.
Oë wat ewig staar, na sy Heer het hy vooruit gegaan,
chaos verruil vir vrede en rus hier in sy ewige bestaan.
©MarleneErasmus
24/09/2025
3.Ek word gedra
Die diagnose gryp my hart met sy ysterklou,
my werwels erodeer, my knieë brand met vuur;
my pols se skroewe weer los, sy vashou vou,
my lyf word stukkend, onbeheerbaar, guur.
Daagliks wroeg ek in ’n maalstroom sonder rus,
my rug vou krom, my skouers dra die swaar;
met elke operasie wat my lewenslus wil blus,
pyn wat deur die nag vir my grynslag – altyd daar.
Maar midde-in die chaos hoor ek sag:
“Ek tel jou op, my kind, Ek dra jou deur;
soos ’n lamp wat stil brand in jou donker nag,
my arms bly jou vesting, verseker ek kom weer.”
En eendag, sonder pyn, sal ek ten volle verstaan:
met ’n nuwe liggaam sal ek dan verheerlik gaan.
©MarleneErasmus
05/09/2025
JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN PROJEK
2.Stille metgesel
Vandag … gaan ek vergeet van my metgesel,
nie omdat hy weg is nie, maar omdat ek wil LEEF!
Ek maak my oë oop en dank die Vader,
want ek kan nog kyk na die groen grasse in die veld
Vandag … sal die kloppende pyn my nie keer
al voel ek hoe dit nesskop in my hele lyf
ek sit op die bed en strek my voet oor die vloer
’n tree, styf – ek vat dit
nog een, nog een
my liggaam kreun, maar ek staan
Vandag … neem ek my handvol medikasie
koue pille teen my tong, glas in my hand
my metgesel sit stil langs my
ek sluk
ek asem in
ek asem uit
ek begin my nuwe dag.
©MarleneErasmus
27/01/2026
MAART 2026 – HEFS/KAS PROJEK
1.Huse met lang ore
as kleine kind het ek gedink
dit is iets vreeslik geheimsinnig,
die husse met lang ore
waaroor oupa Koos so kon praat,
asof hy self die husse geken het
ek het orals gaan soek
agter die beeskraal,
in Oupa Koos se hangkas
langs die klein kook-kombuis
onder die kweper bome in die vlei,
maar nêrens kon ek hulle kry
as ek die hele tyd gevra het
het die oumense lekker
in hulle moue gelag
ek het op sy skoot gesit
want hy was mos die een
met die vonkel in sy oog
wat die husse baie goed geken het
as kleine kind het oupa my
laat glo hy weet waar
die husse met die lang ore bly
kwansuis in sy kas
“Wat is husse met lang ore, Oupa?”
het ek seker honderd keer gevra
dan het hy net sy gesig getrek
met sy lippe so skeef,
en verby my gekyk
doer in die verte in asof
die husse daar sou skuil
as kleine kind, wou hy my troos
al my seerplekke gesond maak
maar die husse vir my wys?
as te nimmer nooit!
en ek, arme kleine kind,
het net bly wonder
of dit familie is van donkies,
of hase met maniere,
of dalk ’n groot gedrog!
jare het intussen gekom en gegaan
en ek het my onthou-goed ingepak
in die kas van my onthou
nou sit ek self hier,
op herfs se stoep
en weet nog altyd nie
wat dit was nie
maar ek sien nou nog:
Oupa Koos op sy stoel,
wat sit en kyk na herfs se koms
miskien was dit nooit
iets wat ’n mens moes verstaan nie
en uit die boonste rak van my onthou
hoor ek hoe roep hy
met daardie vonkel in sy oog
“Dis husse met lang ore.”
©MarleneErasmus
30/03/2026