Vrees se vinger
Kelheim-distrik Suidelike Duitsland – 1570
Buite die stadsmure, aan die rand van ‘n veld, huil ‘n gure wind om die hoeke van die klein huisie. Dörte doop haar gansveerpen kort-kort in ‘n houertjie swart ink. In die dowwe lig van die vuurherd skryf sy stadig, maar deeglik. Haar regterhand klad die nat ink gereeld met ‘n poeierige harpuis en skuif dan weer die los stukkie papier onder haar linkerhand in.
Die gansveerpen hang vir ‘n oomblik stil in haar linkerhand. Sy staar na die dansende vlamme wat heeltyd van kleur en vorm verander. Vanaand dink sy aan Karl, haar boesemvriend. Vater Franz en Karl se vater was bure en het destyds graan en ander gewasse vanaf Abensberg na Kelheim aangery met perde en waens.
In Abensberg het hulle gereeld kerk toe gegaan. Daar kon hulle aan die Lutherse Kerk behoort. Dörte dink ook met heimweë aan Mutti, Vater en Oma. Mutti het al kleintyd vir haar vertel dat die geboortevlek op haar voorkop God se vinger was.
“Hy het jou gemerk. Jy is syne.”
Oma het haar van kruie geleer. Saam-saam het hulle kruie in die veld versamel om salwe te meng, tinkture te maak en kruie te droog vir kruietee. Sy het graag saam met Oma gegaan wanneer iemand siek was. Al Oma se geheime en kruie het sy in ‘n boek geskets. Dörte het baie geboortes gesien en mooi gekyk wat Oma doen as ‘n baba dwars lê, of wat om te doen met moeilike geboortes. Sy het Oma se boek geërf.
“Kelheim het ‘n vooruitstrewende dorp geword,” het Vater vir Mutti gesê. Sy wa was vol nuwe negosieware gelaai. “Die Danuarivier het rivier-handel laat toeneem. As dit nie vir die Roomse Kerk en die Heilige Romeinse Ryk was nie …,”
In Abensberg was Dörte sielsgelukkig. Saam met Mutti, Vater en Omie was die wêreld ‘n wonderlike plek. Sy en Karl het heeldag in die veld gespeel, totdat Vater Franz vir haar en Karl leer lees en skryf het. Daarna het hulle meestal boeke gelees en uitgeruil.
“Hoe is dit dan dat julle beide so aansukkel met die verkeerde hand? Ek het al alles probeer, maar skryf sal julle bly skryf mét die linkerhand,” het hy gereeld gesê en sy skouers moedeloos opgetrek.
Dit was ‘n gesukkel met die gansvere. Vater het later ontdek dat ‘n regtervlerk se vere beter vir linkshandiges werk. Hy het hulle ook geleer hoe om die gansvere gereeld met ‘n messie skerp te maak.
Sy was net twaalf jaar oud toe sy alleen agtergebly het. Die huis en skuur was vernietig.
Dörte skryf Karl se brief klaar. Karl met die blonde hare en die mooiste blou oë, met wie sy binnekort gaan trou. As die son môre skyn kan sy die brief onder die posklip gaan sit totdat ‘n verbykomende wa dit na die naburige Abensberg kan saamneem.
Die wind waai nou sterker en druk vlae stortreën teen haar huisie aan. Sy ril onwillekeurig en wip van die skrik toe iemand aan haar deur hamer.
“Dörte …! Dörte! Maak gou! Helga gaan dood! Dis tyd. Die kind kom,” skree Tilman histeries.
Die wind ruk byna die oop deur uit die muur. Vinnig gooi sy haar swart mantel om haar skouers en gryp die mandjie wat styf met linne en leerbande toegedraai is.
~.~
“Daar is niks wat ek kon doen nie,” probeer Dörte vir Tilman troos. “Ek is jammer … Die baba het dwars gelê en ek kon nie sy koppie na onder draai nie.” Sy sit haar hand op sy skouer en dit voel of haar hart wil breek. Tilman het vanoggend sy vrou en baba verloor.
Doodmoeg stap sy stadig huis toe. Die son steek skerp en sy het ‘n kloppende hoofpyn. Vanjaar staan die koring mooi, dink sy by haarself terwyl sy verby Jakob en Käthe se koringland stap. Ingedagte streel sy met die vingerpunte van haar linkerhand oor die heuphoogte koring.
Sy sien vir Karl, waar hy onder ‘n koelteboom vir haar staan en wag. Hy het seker saam met sy vater en die wa na Kelheim gekom. Vinnig hardloop sy nader en spring in sy arms. Hy swaai haar laggend al in die rondte.
“Ek maak kook water vir tee,” sê Dörte, haar moegheid en hoofpyn skoon vergete.
“Dörte, dinge raak lelik is Suid Duitsland. Handelaars het vir Vater vertel van heksejagte. Die spanning tussen die Reformiste, die Roomse Kerk in die Heilige Romeinse Ryk veroorsaak dat enige mense op hoor-sê vervolg en van kettery beskuldig kan word!”
“Ek het agtergekom dat daar net soveel bygelowigheid en dwaalleer hier in Kelheim is. Hoe kan mense aan sulke absurdhede glo?” vra Dörte.
“Ons het anders grootgeword, Dörte. Kelheim is steeds Rooms, maar Abensberg het baie meer Protestante. Vater vertel dat priesters hier van die kansel af verkondig dat gemeentelede verdagtes as hekse moet aankla. Die Heilige Romeinse Ryk wil glo ontslae raak van Satan se bose invloed.
“Dankie,” sê Karl toe sy die tee voor hom neersit. “Onkunde veroorsaak altyd vrees. Die verdagte word sommer deur die plaaslike landdros of magistraat vervolg en ondersoek. Vater het gehoor dat ’n beskuldigde vrou se lang hare afgeskeer is. Hulle het alkohol oor haar gegooi en haar aan die brand gesteek. Sy is bomenslik gemartel tótdat sy skuld erken het …, eers nadat hulle weer haar hande vasgebind en haar in die lug opgehys het. Daar is swael in haar armholtes gesmeer en sy is vir die tweede keer aan die brand gesteek.”
“Dit is allerverskrikliks!” roep Dörte uit. “Ek wil nie hierdie dinge hoor nie. Dit is om van naar te word!”
“Ek weet Vater moes jou destyds hierheen bring om by jou Tante Irma te kom woon, maar ons is nou beide al agtien jaar oud. Ek het genoeg gespaar en ons kan trou en in Noord Duitsland gaan woon. Ek wil ‘n lappie grond buite Wittenberg koop en daar boer. Hulle is stadig besig om kanale te bou om die moerasse en vleie droog te lê. Dit is goeie landbougrond.”
“Dit sal wonderlik wees, Karl; en dan kan ek steeds ‘n kruiedokter en vroedvrou wees,” droom Dörte saam.
~.~
Landdros Seitz Grober het ‘n beswaarde uitdrukking op sy gesig toe Dörte die volgende oggend haar deur oopmaak.
“Ek is op soek na Dörte Brinkmann.”
“Ek is Dörte,” antwoord sy.
“Jy word aangekla van heksery. Jy moet saam met my kom.”
“Daar is seker ‘n misverstand!”
“Daar is geen misverstand nie. Tilman het beweer dat jy sy vrou en baba se dood veroorsaak het met heksebrousels en swartmagie. Hy het gesien hoe jy hulle gees vir die duiwel gee. Jakob en Käthe se koringland het ook gisteraand aan die brand geslaan. Iemand het gesien hoe jy oor die koring streel en bose besweringe sing.”
“Dit is nie waar nie. Ek is nie ‘n heks nie!”
“Ja …, ja. So sê elke heks. Ons sal maar sien of jy die toetse vir heksery slaag of nie. Ek sien daar is ‘n heksemerk op jou voorkop.”
Nuus versprei vinnig en daar staan reeds ‘n groep mense by die rivier wat na die die swemtoets kom kyk het.
“Bind haar vas!” skree die landdros vir die wagte.
Op die wal van die Danau word Dörte se regterduim aan haar linkergroottoon vasgebind. Sy kan die opgewonde gemurmel van die dorpenaars hoor. Sterk hande bind ‘n dik tou om haar middel vas.
Daar is ‘n gedruis in Dörte se ore. Dit voel asof sy nie kan asemhaal nie. Sy gil toe hulle haar oplig terwyl die tou in haar vel insny. Haar gil word kortgeknip toe sy die koue, donker water tref en dit dadelik haar mond vul. Die yskoue water is ‘n skok vir haar liggaam en sy weet dat sy tot op die bodem van die rivier gaan sink. Sy dobber egter net.
Mense snak na hulle asems en iemand skree “heks!” Dan begin ‘n dreunsang: “Heks …! heks …! heks!”
Sy word rof uit die water opgehys. Net voor alles voor haar swart word, sien sy hoe ‘n vrou haar spoeg.
~.~
Die slopemmer word nie skoongemaak nie en die stank is oorweldigend. In die klam donker skarrel en kruip rotte oral oor haar. Sy gril nie eens meer nie; is net bewus van haar honger.
“Kom,” sê ‘n wag onverwags en kry haar aan die arm beet. “Jou hofsaak gaan begin.” Hy sleep-trek haar na waar ‘n massa mense en die landdros wag.
Landdros Grober geniet sy nuwe en belangrike rol.
“Sover weet ek dat Dörte Brinkmann nie ‘n man het om haar in toom te hou nie. Sy woon alleen, is selfstandig en het te veel menings van haar eie.
“Die swemtoets het bewys dat Dörte Brinkmann nie kan sink nie omdat haar liggaam die doopwater verwerp het. Sy het haarself verbind aan die duiwel.
“Die hekseteken op haar voorkop is deur die duiwel met sy linkerklou ingeëts.
“Sy het kruie en bose konkoksies gebruik vir swartmagie.
“Volgens die priester kom sy nooit kerk toe nie. Verder het ek die getuienis van Tilman, Jakob en Käthe dat Dörte Brinkmann swartmagie gebruik het om dood en verwoesting te veroorsaak. Is daar enigiemand wat vír haar kan getuig?”
Dörte kyk een vir een in die oë van die mense wat sy gehelp het om gesond te word of geboorte te skenk. Elke liewe een draai sy of haar kop weg.
“Is daar iemand wat téén Dörte Brinkmann wil getuig?”
Huiwerig kom ‘n vrou orent. “Sy het altyd my briewe met haar linkerhand geskryf.”
“Die duiwel is linkerhandig!” skree iemand uit die gehoor. “Hy doop sy volgelinge met sy linkerhand!”
“Hy sit aan die linkerkant van God!” laat iemand anders hoor.
“Linkerhandigheid is ook ‘n heksemerk,” sê ‘n vrou.
Die priester stap stadig vorentoe. “In Matteus 25 vers 33 staan daar duidelik dat die skape regs en die bokke aan die linkerkant van God sal staan.”
Landdros Grober swaai sy arms vir stilte. “Linkerhandigheid is nie genoeg bewys vir heksery nie. In die geval van Dörte Brinkmann is dit egter saam met al die ander bewyse deurslaggewend.”
Hy beduie dat Dörte moet staan. “Dörte Brinkmann, jy word skuldig bevind aan heksery. Jy sal môre die geleentheid kry om te bely dat jy ‘n heks is. Skulderkenning is nodig sodat jy boetedoening vir jou sonde kan doen en deel mag hê aan die Christelike gemeenskap.”
“Ek het niks om te bely nie. Ek is nie ‘n heks nie!” skree Dörte.
Dit is al donker toe Dörte terugkeer tronk toe. Sy weet dat sy nie vanaand ‘n oog gaan toemaak nie. Skielik hoor sy die swaar deure van die tronk oopgaan. ‘n Figuur in ‘n donker mantel stap selfversekerd na Dörte se sel en wys vir die wag om te bly sit.
“Karl?” fluister sy sag.
“Sjjt … Vater het my vertel. Hier … trek die swart mantel aan. Ek het my eie wa en ons gaan Noorde toe.” Hy gooi haar oor sy skouer en stap na buite.
Die verskrikte wag klop aan Landdros Grober se deur. “Ek het vanaand die duiwel met my eie twee oë in lewende lywe gesien! Hy dra ‘n swart mantel en het met sy linkerwysvinger na my gewys! Hy het sy bruid in swart geklee, haar oor sy skouer gegooi en sommer net uitgestap!”
© Rika Gerryts.
(1877 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Augustus 2025 - Linkshandige projek