Jongste aktiwiteit:

Gelykenis van die herfsmense (554 Woorde)

Ek noem hulle die herfsmense…daardie siele wat daagliks vasgevang is in ‘n herfsseisoen.

Elke herfsmens het ‘n kas. Hierdie is nie sommer net ‘n kas soos die res van ons s’n nie. Dit beklee ‘n noodsaaklike plek in hul lewens en is baie belangrik vir hul daaglikse oorlewing in die winkels, die skool, die werk en die kerk. Dit word baie mooi opgepas en versorg, met die sleutel veilig om die hals.

Elke keer voordat hul die huis verlaat, word die kas oopgesluit. Dan is dit ‘n gewoel en gewerskaf totdat hulle uiteindelik omdraai, die deur van die kas toemaak en weer dig sluit.

Die vrou wat ure voor haar spieël sit om die kneusplekke op haar gesig en liggaam te verdoesel met grimering, is ‘n herfsmens. Die vrou wie se siel daagliks steier onder haar narsis-man se verkleinering, vernedering en afbrekende behandeling, is ‘n herfsmens. Die man wie se vrou hom gereeld bespot en belaglik laat lyk in elke geselskap, is ‘n herfsmens. So ook die kind met die eina-hale oor sy lyfie en gees, die ouer met die manupilerende volwasse kind en die enkeling wat vereensaam tussen baie mense.

Herfsmense moet funksioneer voor die samelewing se skerp, nuuskierige oë. Daarom haal hul soggens die pyn, die vernedering, die bespotting, verkleinering en seer se skaduwees en refleksies uit hul oë en pak dit weg in hul kaste. Hulle verf die geestelike kneusplekke toe en bêre die kwaste diep weg. Hulle prewel skietgebede vir hulp om deur die dag te kom en die woorde gaan hang aan trooshangers in die kas. Die kindertjies pluk die seer hartjies uit hul borskaste , gooi dit onder in die kas en prop hul stoutekind-harte in die gate. Heelwat herfsmense se seer is so groot dat hulle laaitjies oop en toe trek tot hul afkom op ‘n versameling maskers waarvan hul dan een kies vir die dag.

Herfsmense beleef daagliks die vallende blare van verlies wat onophoudelik om hulle dwarrel. Dit waarna hulle die meeste smag…’n liefdevolle eggenoot, ‘n empatiese ouer, iemand wat met belangstelling en ‘n reikende hand na hul draai, is ‘n gemis wat hul daagliks ervaar. Dit maak vernielde mense van hulle wat beur teen die warrelwinde wat hul verliesblare in die hoeke van hul siele inwaai, om daar op te hoop en vergete te raak.

‘n Vernielde herfsmens bly méns. Daarom gebeur dit soms dat die kas se sleutel bietjie swaar raak om die hals. Om hierdie rede, kan ‘n herfsmens miskien, net miskien op ‘n dag die kas oopsluit en op die kleinste van skrefies oopmaak vir jou om na binne te loer. Die moontlikheid bestaan dat die persoon selfs die behoefte voel om ‘n ietsie van die inhoud van die kas met jou te deel.

Dan moet jy luister én hoor. Jy moet kyk én sien.

Jy kan dalk die een wees wat hierdie herfsmens help om tussen die vallende blare deur te ontvlug. Die moontlikheid bestaan dat dit binne jou vermoë sal wees om die warrelwinde stil te maak en die opgehoopte blare uit die sielshoeke te help opruim.

Dalk kan jy help om die kas vir ewig toe te sluit en die sleutel plegtig aan die eerste lenteboom wat jul teëkom so met die wegstap, op te hang.

© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2026




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed