Die Sage van Kadean, die Teenwysige (502 woorde)
Die Sage van Kadean, die Teenwysige
Eone voor die berekening van tyd, het ek, Aequitas, regeer. My leuse eenvoudig:
Geregtigheid — Gelykheid — Billikheid
Vir Almal
Oorkant my, het Kadean gewoon. Skilder van wolke. Wewer met skaduwees. Argitek van blomme, riviere, takke, voetpaadjies, golwe en spirale. Niks was reguit nie. En tog was sy oë dikwels donker van ontevredenheid.
“Waarom,” murmereer hy ten hemele, “moet die wêreld altyd na regs draai?”
Ewighede reeds, het hy die aarde dopgehou vanuit sy woning bo die Noordpool. Wentel van oos na wes — ’n mars wat aan sy wese geknaag het. Selfs die sterre het saamgesweer — het Kadean beweer — en die hemel in ’n onuitstaanbare rigting forseer.
Ek het gekyk. Dit was waar.
Een skemeruur, sat vir toegee en kompromie, het Kadean sy hande in die lug gegooi. “Genoeg!” En die aarde aan sy as gegryp. Met ’n kreet en ’n krag, wat deur vulkane en seebodems en kranse en skeure weergalm, het hy die draai tot stilstand gedwing. Sterre het gevries. Voëls bly hang. Oseane plat soos glas. Tyd self — op aandag.
Ek het geluister. Alles was stil.
Toe, skielik, bars hulle uit gate en nate tussen stiltes — Orthos en Rectori. Regshandiges. Geharnas in simmetriese reëls. Hul koms in kristalle en meetkunde gehul. Met vurige regverdigheid in hul oë het hulle neergedaal. Vuiste gebal. Reg vir veg.
Ek het gesien en gehoor. Daar was oorlog.
Oor lug en land en oseaan. Een titaniese stryd van rigting en oortuiging. Kadean se wapens is ontplooi. Onbekende draaistellings uit die bloutes. Orthos en Rectori se logika losgetorring. Hul paaie verwring. Hul eie momentum omgedop. Geometria met Ironia verjaag.
Die Regterhandse Leërskare antwoord met ’n blitsende storm van donderende reëls en taboes. Wapens hoog in ’n poging om chaos te tem. Hul tromme en klokke, slaan-slaan-slaan. Tamboer rumoer.
Maar Kadean se rebelse moed bly onbreekbaar.
Die lug kreun. Die grond bibber. Die see sidder. Skielik, tussen die smeulende brande en reuke — verskyn Kadean se eerste triomf — ’n skeuring in die kosmos. Maar Orthos se dreuning bou op. Rectori verwek ’n onstuitbare krag wat sluimer en sluip. Orakel uitsprake word met seëls versier. Doodstraf verhef.
Ek moes ingryp. Finale uitwissing verhoed. Ooreenkomste is beklink.
Die aarde het weer begin draai — maar nou van wes na oos. ’n Linkerwaartse dans wat Kadean se noorderlike siel verkwik het. Nogtans ‘n ongemaklike aanvaarding van die oorwinning. Dit was deurdrenk met die wrang smaak van ironie. Tyd het ongestoord aanhou tik. Kloksgewys.
Orthos en Rectori het hul kans gegryp. Die saad van regshandigheid diep in die wêreld se mensdom geplant. En hulle het floreer. Koninkryke gebou, geskiedenisse geskryf — en Kadean se naam in die stof vertrap. Met praktyk en dogma verdoem. Die aarde het links gedraai, maar sy heersers het regs marsjeer.
En Kadean? Berus in die skemer — tevrede dat die wêreld nou in sy rigting wentel. Speel steeds met geure. Kleur voëlvere. Dans met blare in die wind.
Tog merk ek dit elke dag. Dit woel nog steeds. Ek wag.
Mense Vergeet — Hemele Onthou.
© Paul S Venter (13 Augustus 2025)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Augustus 2025 - Linkshandige projek