
Maart 2025 – OOP projek – Kommentaar en uitslae
Baie geluk aan hierdie 13 lede!
WENNERS:
Brons:
(1) 20 Boekebessie (Leigh Olivier) met Huishunker
(2) 16 Rosalee Meyer met Omwenteling
(3) 21 Hennie du Toit met 60 jaar van nou
Silwer:
(1) 3 Colin Steyn met Die strik van sien
(2) 12 Pieter Mostert met Raak my nie *Dagbreek
(3) 1 Coenie Horak met Skabreus
Goud:
(1) 34 Elize Kruger met Panorama
(2) 7 Amanda de Meillon met Kapulitasie van ’n boer
(3) 6 Amanda de Meillon met Sterwenslied van die somer
Prosa:
(1) 7 Hester Steenkamp met Aura
(2) 4 Leigh Olivier met Tyd
(3) 5 Elmarie Nienaber van Kampen met Vlegsels
Verhale:
(1) 5 Rika Gerryts met Bosbokkie-oë
(2) 4 Pieter Mostert met Loop die paadjie in jou labirint tot by sy middelpunt
(3) 2 Johan Jansen van Rensburg met Wraak wat my vrymaak
KOMMENTAAR
Gedigte:
Brons:
- Wonderland
Die sosiale kommentaar is sterk. Sommige woordkeuses is vir my vreemd soos waar jy “gord” gebruik om met “word” te rym. Ek ken die uitdrukking “die gort is gaar” wat op probleme dui, maar ek weet nie of die gebruik soos jy dit die aanwend is geslaagd nie. Dit is `n interessante vers. Dankie vir jou deelname.
- Verstreke piëteit
Let net mooi op spelling: totsiens, aandster
Die vers is vir seker beeldswaar maar dan moet ek toegee dat dit `n emosionele wipwaentjierit is.
Kyk na hierdie sin:
“die wind fluister ‘n sagte, ferm totsiens”,
as jy eerder nie sagte, ferme skryf nie, lees dit beter.
Die gedig is swaar maar ek dink die onderwerp onder bespreking vra daarvoor. Keurig.
- Visie-loos
Ek neem aan jy het “visie-loos” met opset so geskryf en nie gekoppel soos dit hoort nie. Koos de la Rey sal bly wees dat jy oor hom dig, en trek jy nog `n Koos in met “net skadus teen die muur”. Die versugtinge is keurig verwoord maar hou moed, ons is nie regtig visieloos nie. Keurig.
- Straat manewales
Ek kry die draad van die vers, maar die aanbieding is ongelooflik kripties sonder nodige en funksionele vloei.
Ek is regtig jammer maar die vers is mysninsiens effe slordig.
- Monodie liefdeslied
Die woord monodie beteken opsigself lied, gesang of selfs liefdeslied. Die titel is dus tautologie. My siening is dat hierdie gedig nie in sy optimale vorm aangebied is nie. Epos my op inkmoderator@gmail.com
- Wie is die mens?
Maak seker dat “wêreld” `n ens. se kappies en hakies op die regte plekke is. Ek hou nie van die gebruik van “stront” in `n geestelike vers nie. Daar is opsigself niks daarmee fout nie maar in die toon van jou gedig maak dit afbreek. Jou gedig is in geheel keurig.
- Byt soek
Let op die hakie van die `n. Jou vers is kort en koddig. Dit is egter ook dieper as op die oog af. Die gebruik van multidimensioneel laat die leser dieper kyk as net oppervlakkige gejeuk. Keurig.
- Skommel maats
Let op die hakie van die `n. Die gedig is interessant maar die inhoud (woordgebruik en -orde) verwar my egter. Ek kan die draad hierin probeer volg maar het bietjie klei getrap. Miskien kon punktuasie hierin help. Kontak my op inkmoderator@gmail.com
- Omwenteling
Dit is `n lieflike teer vers. Die ontwikkeling, woordorde en ritme hierin is pragtig. Welgedaan.
- Gedig in `n spieël
Die sinne in dié gedig is in geheel té lank. Dit versteur die ritme en verloor die aandag van jou gehoor. Die inhoud het potensiaal maar die aanbieding is nie optimaal nie. Kontak my gerus op inkmoderator@gmail.com
18.Sonneblom vir Poppy
Daar is baie mooi beelde hierin. Die aanbieding is egter `n uitdaging. Sinne mag nie lukraak met hoofletters begin nie. Die voetnota verwys na “Splintermaan”, is dit u eie bundel of waarna verwys dit?
Ek sal baie graag saam jou deur hierdie vers wil werk. Kontak my gerus op inkmoderator@gmail.com
- Huishunker
Wat ‘n heerlike beeldryke vers! Die tipografiese aanbieding waar die sinne oorbloei in die volgende, punktuasie suksesvol gebruik is en die “storie” besonders lewend gehou word deur die leser aan bekende beelde te trakteer, maak hierdie ‘n uithaler vers. Waarlik ‘n juweel. Dit is amper vir my moeilik om te glo dat jy in die bronsklas deelneem. Hierdie vers is van goue standaard. Baie geluk met hierdie werk.
- 60 jaar van nou
Jy spreek ‘n sosiale euwel aan, tog kan die meriete van tegnologie verdedig word. Ek as moderator is egter nie hier om oor die meriete van die inhoud te bespiegel nie, maar eerder ‘n opinie te vorm oor die kwaliteit van jou poësie. Jou vers is keurig aangebied en die mooi en funksionele rympatroon dra by tot ‘n heerlike en suksesvolle leesvers. Mooi gedoen,
- Skeppingsdoel
Die ontsluiting van die titel in die laaste sin soos ‘n treffende Volta is vir my mooi. Die vers is lieflik en keurig ontwikkel en aangebied. Die inhoud is tasbaar omdat dit die bekende menslike ervaringe pragtig verbeeld. Jou vers is besonder met deurdagte woordkeuses en woordorde. Mooi gedoen.
- So seker
Die refrein hierin, met die klein manupilasie van woordorde, maak jou vers ritmies en lê die klem op die voordurende teenwoordigheid van die Skepper. Jou aanbieding is keurig,
SILWER
- Skabreus
Komplimente vir jou titelkeuse. Ek het lanklaas iemand raakgelees wat dit gebruik het. Dit is ‘n sterk vers wat ‘n bepaalde opinie opper op ‘n beeldryke wyse. Die 2de sin in die die 2de strofe is vir my egter verwarrend. Waarom gebruik jy “man” aan die einde daarvan?
Jou vers is aangrypend, en myns insiens, netjies aangebied.
- Die strik van sien
Die filosofiese aanslag van jou vers beïndruk. Die tema onder bespreking is raak en nodig. Baie netjies en keurig.
- Raak my nie* Dagbreek
Dit is besonderse nabootsing op Jonker se vers en mooi intertekstualiteit met betrekking tot Totius. Jy het mooi omgegaan met beide maar steeds jou eie uniekheid daaraan verleen. Mooi gedoen.
- Dipsomaan (Didaktiese Cinquain)
Ek wil net graag ter wille van ander lesers verduidelik:
Die verskil tussen die Cinquain en Didaktiese Cinquian is waar die eerste klem lê op die hoeveelheid woorde in ‘n sin anders as die laaste wat geskryf word met spesifieke reëls aangaande die lettergrepe in elke sin. Jy het dit dus suksesvol aangepak.
Die leser behoort ook te weet dat “dipsomaan” niks met ‘n hemelliggaam te doen het nie, maar na dronkenskap (alkoholmisbruik) verwys. Ek vind die inhoud egter baie hakkering en sonder vloei. Dit voel asof jy lukraak woorde gegryp het en net op die papier neergesit het sonder behoorlike oorweging.
- daar
Ek dink nie die vers is in sy optimale vorm nie. Kontak my gerus op inkmoderator@gmail.com
- Dorland
Ek hou van die vers en die mooi beelde wat jy hierin skep. Daar is slegs een vraag: waarom gebruik jy die term Mediterreens, en veral saam “somer”? Meditirreens beteken streng seisoenaal en is dus onnodig saam met die gebruik van ‘n ander beskrywing van die seisoen. Die vers is egter keurig en netjies aangebied. Welgedaan.
- Versmagting
Die vers is teer en mooi maar die titel het geen betrekking op die inhoud hiervan nie.
Ek vind steeds die vers heerlik en dit lees mooi.
- Carpe Diem
Wat is besonderse verteltrant-vers. Dit lees mooi en ritmies. Die titel het egter nie vir my betrekking op die inhoud nie.
GOUD
- Sterwenslied van die somer
Dit is vir sulke verse waarvoor ek in die oggend uit die bed opstaan. Dit is onoortroffe. Pragtige beelde. Uitstekend.
- Kapitulasie van ‘n boer
Kapitulasie is so ‘n pragtige woord; ‘n mooi sinoniem vir die selfs mooier “prysgawe”
Die beelde hierin is mooi en tasbaar. Pragtige teer en lieflike vers. Welgedaan.
- Terugblik
So ‘n amper dagboek-vers. Mooi gedoen. Ek wonder tog of die vers nie sou baat by punktuasie nie. Die enjambiese anjambiese aanbieding forseer die leser om hierdeur te haas. Nietemin ‘n keurige aanbieding.
- Ironie
Ja, hoe ironies dat die digter selfs in die onwaardige lot. Hierdie is ‘n baie slim vers. Jy het heerlik omgegaan met ironie en die skoonheid van poësie in die tragedie gesien. Keurig!
- Ook ek is ‘n askieslappie
Dit is ‘n tasbaar-tere vers. Die menslike toestand van diensbaarheid onder die loep is akkuraat. Baie sensitief aangebied en netjiese werk. Welgedaan.
- Skrif in die sand
Die aksie van die klippe wat uitgepak word, word nie mooi vir die leser ontbind nie. Ek as leser soek meer inligting daaroor. Die persoonlike wroeging verder in die gedig is mooi verwoord maar sluit nie vir my aan by die aanvang nie. Die vers is egter keurig en die tasbare en bekende beelde is mooi. Mooi gedoen,
- Môregloed
Ek verstaan nie hoekom jy in die 2de sin na duisternis sal verwys nie. Jy neem mos die môreskemering onder die loep, nie waar nie?
Die res van die vers is teer en keurig.
- Harlaboerla-land
Wat ‘n pragtige titel en sinoniem vir anargie/chaos. Die vers is effe komies as dit nie so waar was nie. Keurig.
- na middernag
Die beelde ( silwersnoer om die maan; word trane my afkoopboete ens.) is doodeenvoudig briljant. Die idee wat geskep word met die “brood en wyn” wat oorgeslaan word wat rakelings aan nagmaal herinner, is ‘n baie slim beeld. Welgedaan.
- Putin
Jou sonnet is suksesvol. Jou sosiale kommentaar is natuurlik ‘n persoonlike opinie en die leser hoef nie met jou saam te stem om die vers te geniet nie.
- Panorama
Hierdie is ‘n ontploffing van lieflikheid! Ek was ingetrek en ontvoer na ‘n heerlike beeldryke ervaring. Wat ‘n onoortroffe vers. Meesterlik!!
PROSA
- Die Suiderkruis
Sinkonstruksie is so belangrik as ons as skrywers die aandag van die gehoor gevange wil neem. Moet dus nie jou gehoor met `n lepel voer nie. As voorbeeld:
“Johan, ’n gerespekteerde digter, lê op die naat van sy rug op sy slaapsak. Hy staar met bewondering na die juwelekis van die naghemel wat bokant hom in oneindigheid strek.”
Ek haal nog `n gedeelte van jou werk aan:
“Skielik word hy bewus van iets heiligs wat om hom in die donker hang. Johan kom meteens tot die diepe besef dat dat dit God se alomteenwoordige genade is wat tot hom spreek, spreek van ewigheid, wat hom ‘deeltjiedetektor’ in die epiek van felblink wentelbane waar glorieryke odes uit glansryke neologismes rympatroon.”
Persoonlik dink ek jy effe té poëties geraak met die aanbieding.
- Pappa
Probeer om die sinlengtes aan te pas. Dit maak die leeservaring makliker. Let op spelling en probeer keurigheid te handhaaf as jy woordkeuses maak.
- Stoompot-taal
Baie slim stukkie prosa. Die ontknooping aan die einde het verras. Mooi aanbieding.
- Tyd
Die gebruik van “warrie” is slordig. Die skrywe is nietemin keurig en slim geskryf. Ek verstaan tyd deur jou oë en ervaring nou óók beter.
- Vlegsels
`n Baie teer en nostalgiese vertelling. Baie netjies en keurig aangebied.
- `n Dag om te onthou
Dit herinner ons aan `n baie donker dag in die geskiedenis. Jy het dit baie teer en respekvol geskryf. Netjiese werk.
- Aura
Heerlik vertel. Die storie is mooi ontwikkel en aangebied.
- Gesinne, vandag
Ja, die nostalgie van die “ou dae” wat ons almal laat verlang. Keurige vertelling en netjies aangebied.
- Skoonma se tong
Skoenlose rebel, jy! Pragtig gedeel en netjies aangebied.
VERHALE
- Anke, ons goudblonde haasbekkie
Let op spelling asseblief.
Mooi storie- en karakterontwikkeling. Dankie, ek het lekker hieraan gelees.
- Wraak wat my vry maak
Jy het `n besonderse talent vir kortverhale. Die karakters en die storie is heerlik ontwikkel. Ek het heerlik hieraan gelees.
- Op die plaas “Ope hande”
Lekker leesverhaal met `n morele les. Netjies geskryf.
- Loop die paadjie in jou labirint
Die beelde hierin is lewendig en mooi. Die verhaal is besonders en die aanbieding is lieflik.
- Bosbokkie-oë
Heerlike netjiese verhaal. Die storie en karakters is mooi ontwikkel. Die storie lees lieflik.
- Uitkoms
Die storie is keurig en lees heerlik.
- `n Arendsvlug
Die storie en karakters ontwikkel mooi hierin. Ek het lekker gelees, baie dankie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.