Blouberg se roepstem
Blouberg se roepstem
Ons besoek graag mooi plekke. Bloubergstrand is egter die plek wat ons elke keer terugroep. Ons gaan altyd terug, oor die wydte van die see, die oop strand, en die lieflike berg wat oorkant die baai rus soos ’n grysblou psalm teen die hemel.
Op Blouberg se strand haal my siel asem.
Maar moenie dink dit is net ’n mooi plek nie. Bloubergstrand het sy eie geaardheid. Daar wys die wind dikwels sy tande, só boos word hy dat hy jou aan die skouers gryp, aan jou klere pluk en jou amper van jou voete af wil waai. Hy klits jou hare deurmekaar, druk sout op jou lippe en dwing jou om skeef teen hom in te stap. Tog lag ek juis dan. Want daar is iets lewendig aan daardie woeste wind, iets wat jou wakker waai. Alles wat swaar en dof geword het, waai hy weg.
Die strand lê wyd en vreedsaam voor ’n mens oop, die see blink en beweeglik, en oorkant staan Tafelberg in sy eie stilte. Dit is daardie kontras wat my elke keer tref: die wind wat woed, die water wat rol en die berg wat net vas bly staan.
En dan, teen laatmiddag, gaan sit ons by Doodles. Daar, met heerlike kos voor ons en die see naby genoeg om hom nog in jou ore te beleef, gebeur iets met ’n mens. Die lig begin sak in goud, koper en sagte pienk. Die sonsondergang vou stadig oor die baai oop, en vir ’n rukkie raak alles presies genoeg.
Dis waarom Bloubergstrand my elke jaar weer terugroep.
©MarleneErasmus
26/03/2026
(260 woorde)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.