Jongste aktiwiteit:

Die Linkspoot-Filosoof Katastrofe

Die Linkspoot-Filosoof Katastrofe

Kort duskant 9669 hoppe op 'n sinkplaatpad verder, hoor ek weer: "Ons is amper daar!" Begin dit byna glo, want die padtekens staan al digter opmekaar, "Hou Links. Regs wil Verby."
Skielik, 'n vurk in die pad. Middel voor is 'n kakkerlakkamp. Met rooimiere op patrollie. Regsom — teen die hoogte op — beheerinstansies. Ry-aan-ry. Reguit strate, kantige stoptekens, reghoekige geboue sonder grafitti.  Daar bly Dames en Here, Vegters, Regters en Regswyserige onderdaniges. Sy-aan-sy.
In die leegte links, is ons woonplek. No 12B, Eeltelaan, Hartenhalte. Ek is reeds van eergister af in die boosdoos en sien vandag glad nie uit na die tuiskoms nie. Deel van my straf was hoeka om vandag agterop die bakkie te ry. Stofpad. Alleen!
My naam is Willhelm-Loodwijk-Pansegrouw the Greatest Dane.
Blafbaas op dìe plaas. My pligte sluit toegangsbeheer en strategiese afskrikking in, maar eintlik is ek ’n linkspoot-filosoof. Met ’n bloedlyn van klassieke ingesteldheid en ’n neus vir morele swaksinnigheid. Blaf is vir my nie net waarskuwing nie, dis kuns. Elke uitbarsting is gekomponeer met presisie, gelaai met bytende ondertone, en die betowering van goed gekose tydsberekening.
Ek is die samesmelting van spoed en prokrastinasie, van krag en gryslys nuanse. Wat Proust was vir geheue, is ek vir boewe.
Dit is algemeen bekend dat meeste mense regshandig is — nie dat dit hulle veel help as hulle soggens koffie oor die roereiers strooi en dan hul brille in die yskas vergeet nie. Wat minder bekend is, is hoeveel van ons diere, die ware sentrale intelligensiediens van die wêreld, linkspotig is. Dit is die waarheid: katte, honde, kangaroes, ysbere en sekere papegaaie is dikwels links.
En NIEMAND verstaan ons nie! Ek groet met my linkervoet, basta. Ja, ek is effe knorrig vandag.
Maar wag, laat ek die span voorstel:
My linkerhand op die plaas is Zamantha Schnauzer. Sy is bietjie jonger as ek. Slimmer ook, met volle beheer oor beide hande! Twee maande gelede was daar ernstige onenigheid by haar nuwe haarsalon. Die linkshand skêr was stomp. Verkeerdom handewerk met die ander het haar byna-byna 'n oortjie gekos. Gelukkig nie af nie, hang net so bietjie oor die regterogie. Sy self, het nog nie 'n enkele woord daaroor gerep nie.
Ons bruinbont worshond, Frankie, is Miesies se witbroodjie. 'n Besige karnallie met geen duidelike idee van links, regs of agterstevoor nie. Spesialiseer spesifiek in beengryp en skeenknyp as deel van die waakeenheid. Tjank dikwels hartverskeurend vir aandag — herinner sterk aan 'n skrywer met 'n uitgewer op die telefoon.
Frankie is baie geheg aan Kataniël. Die Siamees word dikwels aangespreek oor gewaande aggressie, maar eintlik net 'n onvoorspelbare drang vir kattekwaad. As hy 'n blompot van die tafel stamp, is dit "Uit Sam!" Lanks my in die son op die stoep sit en tuur, "Kyk hoe pragtig skyn Neelsie se hare. Wonder waarvan droom hy nou?"
Spanwerk:
Kataniël en Frankie jag en speel graag in die agtertuin. Eergister met my eie oë en ore en neus beleef toe die twee daar met 'n rotfamilie slaags raak.
Die rumoerigheid het begin toe een van hulle vir Frankie aan die lip beetkry. Bloed spat - brak tjank - voëls fladder. Een kaalstert vet rot sit ewe astrant op die muur en lag. Vryf sy boepens met die regterhand. Toe is dit tyd vir Die Silwer Sluiper Siam, om na vore te tree. Klap daai kêrel eers liggies met 'n regter en toe die linker rotstopper. Katswink! Reguit terug Rottendamn toe.
Uiteindelik is die orde herstel. Ons besondere spanwerk beloon met 'n koekie elk en Frankie met 'n ekstra penskrappie.
Kataniël jaag sy koekie oral op die stoepvloer rond. Tik-tik dit kort-kort met die linkertoontjie dat dit sulke oulike vrolike rondomtalies dans. Uiteindelik kan Frankie dit nie meer verduur nie en beloon homself met 'n tweede koekie en gaan lê plat op sy pens in die son. Vier voete elkeen in 'n eie rigting. Min gespin met Kataniël se kil kyk voor hy geluidloos die huis ingly.
Maar iewers is iets fout:
Ek word al meer bewus van 'n kilte in die lug. Die geselskap in die huis het opgedroog.
Kataniël het flink deur 'n venster ontsnap en hoog in die grootboom links by die hek ingeklim. Skielik krul sy rug en stert verontwaardig en ek stap nader. Loer oor die muur om te sien wat die spoegbui nou eintlik beduie. Dis Broeder Biermann Botha en sy hond Bakkies wat stap. Of marsjeer. Oë vorentoe, voorwaarts regs, ensovoort.
Wag geduldig tot hulle reg onder my neus is voor ek 'n vriendelike geselsie probeer aanknoop. Gelukkig onthou ek betyds, die Bulle het weer verloor. Besluit dus om liewer nie rugby te gesels nie. Vra eerder vir Bakkies of hy al Foucault gelees het. Genade!! Ek dog die bulbrakkie se oë gaan uit sy kop spring soos hy my aangluur. Gevolg deur 'n rowwe, ongeskikte, regsaf snotblaf. Nog net in nagmerries oor slymslakke so iets ervaar!
Terug stoep toe. Moet in elkgeval voorberei vir ons buurtwag vergadering.  No 7 se Persian Tortie, Princess Purrsephonia Coquette, het reeds geruime tyd 'n item op die agenda wat aandag soek. Die klitsgras wat so wild en woes groei in die erf langs hulle. Klou aan haar rug en onder sterthare en is eenvoudig onaanvaarbaar.
Sal seker maar weer probeer uitstel vra. Hoelank kan 'n woning in ons area in elk geval leeg staan?
Intussen het dit nog donkerder geraak op die stoep. Ons Oubaas stook en rook sy pyp heftig. Die boek op die tafeltjie voor hom, is nuut. 'n Dun flapband boekie — baie anders as sy normale leesstof. Sy frons verdiep verder. Toe hy sy hand uitsteek, weet ek, hy gaan dit nou lees! Foontjie gilletjies in die huis onderbreek egter ons konsentrasie. Dis nie 'n teksklets nie. Iemand wil praat!
Die Uitskel Parade:
Volgende oomblik is ek volbloed in die moeilikheid. Sit mistroostig en luister met my oë op die grond voor my.
Die preek word afmeet met verskryende skerpte: "Wat de hel het jy aangevang?" Dan meer breedvoerig oor hoe ek onskuldige mense laat skrik, vuil voetmerke teen die muur los, vieslike taalgebruik en hope ander dinge wat ek ook nie verstaan nie. "Wie het jou so leer vloek?!"
Skielik trek die Oubaas se voete my aandag. Links is die gewone velskoen, met 'n pienkerige blommetjie sokkie. Regs, 'n swart kerkskoen, sonder 'n sokkie. "Ons het jou nie so geleer nie!" Voor ek behoorlik van die skok kan herstel, klap die deur al hard agter hom toe.
Ek sluip hoek toe. Net Frankie se neus steek bokant sy mandjie uit. Zamantha kyk my met groot ogies aan. Kataniël het spoorloos verdwyn. In die verbysluip merk ek die boekie, nog toe op die tafeltjie.
"Romantiek vir Linkshandiges: ’n Handleiding vir handskud, handvashou en hartsake"
Janee, sterkte daarmee, is my enigste opinie daarop. Seker gepen deur een regshandige wat ons alweer wil leer. Wat volgende?
Die Lont Vat Vlam:
Ek het waarskynlik uit pure moedeloosheid 'n slapie gevang, want toe ek weer kyk, is die maan al op. Die vergadering moet begin.
Kataniël is terug met drie sluwe straatkatte op sleeptou. Frankie rek-en-strek ook nader. Zamantha sit penorent op die onderste stoeptrap. Die Princess kom om die hoek gewarrel, gereed vir skoorsoek serenade. Net toe ek ook uiteindelik besluit om nader te beweeg, merk ek 'n vreemde skaduwee op die muur. Net links van die voorhek.
Dis 'n vreemde swartkat. Spring af en land elegant eerste op 'n wit linker voorpootjie. Princess het gaan sit. Die nuweling stap nader: "Ek is Tom". Oë stip op haar. Die straatknape gooi ramkat, begin spoeg en snou. Een klap Frankie teen die oor.
Toe het ek net eenvoudig genoeg gehad! Spring oor die stoepmuurtjie en land met knallende woorde tussen die kattermiaauende spul. "Verdaag!"
Kaboom! Verdoem!!
Tot Tom skrik homself oor 'n mik vir my blakerblaf en snel uit by die voorhek. Reg voor 'n motor in. Die bestuurder het 'n bygeloof of iets en swaai wild rond oor die pad. Bo-oor die natvat brandkraan. Volspoed vas teen die ou hoekboom. Sien net voëls trek – soos uit ‘n konfetti kanon. Princess verloor haar balans en land gillend in die elektriese heining.
Ons Oubaas storm uit die huis. Kort voor lank is dit 'n luidrugtige kakafoniese sirkus in die straat. Ambulanse, brandweerwaens, beamptes, toeskouers, raadgewers. Kataniël sit verwonderd en staar na die boog water oor die straatlig wat begin flikker het.
En ALLES is my skuld ...
Die bestuurder was Pastoor Van Niekerk. Ons was juis vroeër vandag op die buurdorp by sy begrafnis. Net ek het gewonder wat hy so laat in die nag in ons buurt soek.
Princess het die oordosis elektro-terapie oorleef, maar haar stert op vyf plekke gebreek. Sy is gebad en gekam en die stert is afgesit. Die toekatante wat by hulle loseer, herstel nog iewers nadat haar hart byna ingegee het met al die aksie en opwinding in die straat.
En vanaand moet ons weer vergader. Dit is immers uitgestel, nie afgestel nie.
Helder Volmaan Aand:
Swaarmoedig gaan sit ek op my plek. Zamantha styf langs my. Frankie plat op sy pens. Sy instinkte is mos soos WiFi in ’n blikskuur. Kataniël vanaand alleen naby hom. Princess loer om die hoek. Pienk strikkie in haar hare.
Amper verloor ek my balans toe Tom ewe langs haar inskuif. Hy het groot goue oë wat kalm na my kyk. Steek weer sy wit linkervoetjie eerste uit en stap saam met Die Princess nader. Sy straal en vertel. Tom is haar nuwe buurman. Sy mense het vandag ingetrek. Die tuin is ook nou skoon. Niks klitsgras. Haar stert is nog seer en sy sukkel met balans. Sy is soo gelukkig! Ek dink ek begin Tom verstaan.
Zamantha knipoog en ons wikkel weg. Sy het die "Handleiding" gou in Kataniël se bed gedruk. Dit is Volume 11 in ‘n opvoedkundige reeks. “Hulp en Raad – vir linkshandiges”. Skrywer: Prof. A.A.P. Hogenbroeck.
Deur die oop venster borrel helder lag. Ons gaan sit aan die kant van die huis.
Kyk vir die maan. Hoog. Helder. Vriendelik. Flankeer weer met die aandster. Tyd op my droomhorlosie - presies 6996. My hart loop oor van vreugde.

bow wow w-o-O-W

Iewers verstaan Iemand ons…

© Paul S Venter (13 Augustus 2025)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed