Jongste aktiwiteit:

Aus Deutschland mit Liebe: Uit Duitsland met liefde

Ek lees ʼn paar bladsye, sit die leer boekmerk terug tussen die blaaie waar dit was en bêre die boekie met die verweerde leeromhulsel weer diep onder in my kas. Ek maak my oë toe, maar ek weet ek sal nie slaap nie. Wat ek wel weet, is dat die gaskamers van Auschwitz van nou af altyd binne die mure van my kop sal klop.

My ouers, Ansel en Claus Meier, het kort na die Tweede Wêreldoorlog uit Duitsland na Suid-Afrika geïmmigreer. My naam is Ingrid wat ‘hero’s daughter’ beteken. Om die verleentheid en verduidelikings oor die Nazi’s uit te skakel, is hulle name verander na Ansie en Klaas Meyer. Die name is ook so op hulle Identiteitsdokumente aangedui met plek van geboorte, die Republiek van Suid-Afrika. Ek wonder soms of hulle nie hiernatoe gevlug het nie, maar vrae oor die oorlog was ʼn ononderhandelbare taboe in ons huis. In die laat sewentigs was daar ʼn reeks, ‘The World at War’ op TV. Ek het daarvan gehou, maar ek kon dit net kyk as my ma en pa nie by die huis was nie. Ek onthou hoe my pa uit sy leunstoel opgestaan het om die kanaal te verander as die program opkom. Dit was in die tyd voor TV kontroles.

Ons hét Duits in die huis gepraat; Duits en gebroke Afrikaans. Maatjies af in die straat en in die kleuterskool het my ‘regte Afrikaans’ leer praat. Mettertyd het my ouers die taal ook baie goed magtig geraak, al was die rolklank ‘rrr’ altyd daar. Wanneer vrae oor Duits praat opgeduik het, was hulle antwoord dat hulle in ʼn Duitse gemeenskap naby Rustenburg opgegroei het. Duitse musiek soos ‘Lili Marleen’ en ‘Die Gedanken sind frei’ het altyd deur die huis geëggo. Laasgenoemde ja, mens se gedagtes is vry, solank jy jou woorde en vrae skaars hou. Ek onthou hoe trots hulle was toe ek uit volle bors saam met die liedjie ‘Lieber Gott, lass die Sonne wieder scheinen’ kon sing en hoe my ma my reg gehelp het: “Nein Ingrid, nicht Mamma, Pappa. Ma-ma, Pa-pa”. Dissipline was daar beslis in die huis en ʼn soort militaristiese liefde.

Van my pa se ma weet ek nie veel nie. My oupa was Hans Meier en was soos my pa, ʼn rekenmeester. Dit was vir my pa teleurstellend dat ek nie ʼn aanvoeling vir Rekeningkunde het nie. Tot vandag toe slaan ek soos ʼn klip toe as iemand van debiteure en krediteure praat. Ek het van vakke soos Wiskunde, Wetenskap en Biologie gehou. Ek wou ʼn dokter word. Vandat ek kan onthou het my gedagtes oor mediese velde gebokspring. Maar, ‘mein Gedanken war nicht frei’. Nadat ek in die eksamen ʼn hele nege persent op my rapport gekry het, het my pa aanvaar dat die balansseringstories nie vir my is nie en het ek Duits as vak gekies in plek van Rekeningkunde. Dit was ʼn goeie besluit, want die taal is immers deel van my.

Ek het teen die einde van my matriekjaar gehoor dat ek wel as mediese kandidaat kwalifiseer. Dit was vir my so ʼn wonderlike vooruitsig om te dink ek kan ʼn dokter word en het gedink my ouers sou trots wees, maar helaas, my pa wou niks weet nie. Ek moes na sý opinies luister: “Jy sal nooit as dokter deug nie, want jy gril vir bloed”, “jou onderwysers is altyd gaande oor jou opstelle, gaan swot eerder tale”, “word liewer ʼn onderwyser en gee Biologie, want dan kan jy steeds eksperimente doen”, “jy weet hulle plaas dokters op snaakse plekke en omstandighede, dalk ʼn plek soos soos Timbuktu”.

Ek het onderwys gaan swot en elke oomblik gehaat. Al daai pedagogiekklasse, maar die silwer randjie rondom die eentonige swart wolk, Biologie! Die eksperimente op dooie diere het my só geïnspireer. Soos al die huise hier in die sewentigs, tagtigs het ons ʼn stoorkamer aangrensend met die garage gehad. Hier het bruin bokse met ou boeke, tydskrifte en dokumente stof vergader. Die agie in my het my eendag soontoe gelok en dit is waar ek dit kry: die boekie in bruin leeromhulsel met blou inkpen inskrywings, alles in Duits. Plek-plek het die ink strepe gemaak, soos dit seker per ongeluk reën gekry het, of dalk was dit iemand se trane. Ek het nooit vir iemand hiervan vertel nie en dit weggesteek gehou soos die stofboks in die stoorkamer.

‘Wysheid kom met grysheid’, of is dit andersom? Ek is nou ʼn afgetrede onderwyser en ek soek antwoorde. Die ‘waarheid’ het my soveel jare gemanipuleer; nou soek ek na die waarheid wat my kan vrymaak. Ek haal die boekie uit, haal die leer puntvormige boekmerk uit en sit dit versigtig op my bedkassie neer. Die leer van die boekmerk het oor die jare kliphard geword en dit lyk of dit wil begin kraak. Voor in die boekie lees ek “Artzt Hans Meier, Auschwitz II Birkenau 1943-1045 SS”. Ek frons die frons nou weer vir die eerste keer nadat ek dit jare terug gelees het. My pa het altyd gesê my oupa was ʼn rekenmeester, hoekom staan hier ‘Dokter Hans Meier’? Die gruwel van die boekie het menigmale voor my afgespeel maar hierdie keer se lees is om ware antwoorde te vind; om die gruwelkamer in my kop te ontsluit wat my onsekerheid vir te lank al gevange hou.

Hans Meier het as dokterassistent saam met Josef Mengele, die ‘Todesengel’ gewerk; die Duitse god wat kon besluit oor lewe en dood, wat eksperimente op ‘bruikbare Jode’ gedoen het ter ere aan Duitsland. Die doel van die eksperimente was om te sien of ‘minderwaardige’ mense verander kan word na die ‘Aryan’ ras: mense met blonde hare, blou oë en ʼn suiwer genetiese bloedlyn. Tweelingkinders was ideaal hiervoor: een was die eksperiment en die ander een die kontrole; meeste kinders tussen twee en sestien jaar oud. Die eksperiment is met spesifieke bloedproteïne en formules ingespuit en na ʼn tydperk aan sy kontrole gemeet. Kan bruin oë na blou kan verander word? Volgens my oupa was die eksperimentkinders baie lief vir hulle en het vir hulle mooi “Dankie Oom” gesê wanneer hulle lekkergoed gekry het. Vandag weet ons hoe hierdie dankbare kindertjies se lewens geëindig het.

Op ʼn ryper ouderdom verstaan ek dinge beter. Op ʼn ‘weird’ manier gee die boekie vir my die antwoord hoekom my pa nie wou hê ek moet ʼn dokter word nie. Mens doen mos soms die verkeerde dinge met die regte bedoeling? Ek is eintlik bly ek het my pa se raad gevolg en ʼn onderwyser geword. My oupa, nee ek kan nie vir hom ‘Oupa’ sê nie. ‘Dokter Meier’ ontken die bewerings dat hulle geslagsveranderinge probeer doen het met “nie wat ék van weet nie”, asook dat die velle van gemerkte Jode gebruik is om lampskerms en ander leer items te vervaardig.

Die laaste wat hy skryf is vir my pa: “Onthou Claus, onthou dat jou bloed suiwer is en dat jy en jou nageslag altyd die eer van Duitsland sal en moet dra. Ek laat die boekie op jou stoep, want ek weet ek sal jou nooit weer sien nie. Ek vertrek saam met ons leier landuit en hoop dat jy eendag my opoffering sal verstaan. Heil die Reich; heil Hitler! Julie 1949”

Ek bekyk die dun bruinerige boekmerk wat nou al hoe meer verdag lyk. Diervelle is dikker as dié van ʼn mens en dié velletjie is dun! Ek skud my kop soos ek myself die gedagte weier.  Ek gaan nie weer die pad stap nie. Ek wik en weeg of ek die boekie nie maar moet verbrand nie, maar dan sit ek dit weer terug in die goue boksie onderin my kas. Met ʼn dankbare gevoel dink ek aan die Valkenburg in Ingrid Jonker se kop en kan ek nou sê: “Uit hierdie Auschwitz  het ek ontsnap en dink my net aan goeie dinge terug”…

En vir die eerste keer in baie jare voel ek weer om te bid in die taal van my hart: ”Vater unser im Himmel, geheiligt werde dein Name…”




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Amelia het n geregistreerde lid geword

  • Net_Anri het n geregistreerde lid geword

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak