Jongste aktiwiteit:

Rotstekening van wysheid uit die Linkerhand

Lank gelede, toe die Kalahari se wind nog stories in die wolkies waaisand onder sy voete oor die duine gedra het, was daar ’n jong seun met die naam Khu. Hy en sy gesin was deel van ’n groep Boesmans wat naby die Tsodilo-heuwels in die Kalahari in noord-wes-Botswana woonagtig was.

Sy ma het hom die naam Khu gegee omdat sy geweet het dat hy anders as ander kinders is en dat hy wysheid en kennis dra waarvan ander nie weet nie. ’n Ma weet mos alles, selfs dit wat sy liefs nie moet weet nie.

Khu het nie soos ander kinders na die spore van wild in die sand gesoek nie. Sy oë het altyd boontoe gedwaal. Hy was gefassineer deur die klipkoppe van die Tsodilo-heuwels rondom hulle en die blou lug bokant hulle. So al asof hy iets daar gesien het wat die res van die wêreld misgekyk het.

Khu het sy boog kon span, maar altyd met die verkeerde hand, volgens die ou manne. Sy linkerhand was sy krag, sy regterhand net ’n helper. Wanneer hy die kole in die vuur met ’n stok in sy linkerhand reg gekrap het, het die mense altyd gegiggel en onder mekaar gefluister: “Daai kind is soos ’n gemsbok wat sy bene kruis.”

Op ’n dag, toe die jagters die veld in was en die vroue in die skadu van die Kameeldoringbome sit en saad stamp, het Khu ongesiens verdwyn na die ou klipkop in die Tsodilo-heuwels waar die voorvaders glo in die rotse slaap. Daar was ’n plek, hoog op teen die rooi kliprant, waarop die goue strale van die oggendson altyd geval het. Khu het daar gaan staan, met ’n sandsteenklip in sy linkerhand en op die rots begin krap.

Eers was dit net lyne, krom en windskeef, soos ’n dronk man wat deur die lang gras loop. Stelselmatig het die lyne begin ineenvloei tot die vorm van ’n groot eland wat nie op die aarde loop nie, maar bo die mense sweef.

Onder die eland het Khu klein figuurtjies uitgekrap. DÍt was mense met hande omhoog – nie met wapens in hul hande nie, maar met oop hande en arms opgehef na die eland toe. Langs die mense met hul opgehefde arms en hande, het hy ’n rivier uitgekrap wat van die eland se bors af kom, soos water wat uit ’n fontein vloei.

Vir etlike dae lank het Khu daar op die rots gekrap sonder dat iemand hom sien. Hy het die kleure van die aarde self gebruik … verbrande hout vir swart, gemaalde rooisandsteenklip vir rooi en gebrande skilpaddop vir wit. ’n Kleurvolle skildery het uit sy linkerhand op die rots gepryk.

Khu se geheim het egter nie vir lank ’n geheim gebly nie. ’n Ervare ou jagter, met die naam Oumaus het vir Khu daar by die rots gewaar en besluit om te gaan kyk wat hy dan besig is om daar te doen.

Ou Oumaus het na Khu se snaakse rotstekening gekyk, sy kop geskud en gesê: “Seun, hoekom maak jy die eland so hoog? Ons jag hom op die grond, nie in die lug nie.”

Khu het net sy linkerhand in die lug gehou en stadig gesê: “Die eland wat ek hier maak, is nie die een wat ons doodmaak om te eet nie. Dit is die een wat in ons drome loop.”

Die storie van Khu en sy rotstekening het soos ’n veldbrand onder die mense versprei. Sommige van die mense het gesê dit is mooi, maar nutteloos, want jy kan tog nie ’n tekening eet nie. Ander het weer gesê dat die eland in sy rotstekening hulle herinner aan die heilige eland wat hulle oproep tydens hul dromedans seremonies.

Een aand toe dit volmaan in die Kalahari was en jy goed in die donker kon sien, het die ou mense vir Khu gevra om sy tekening vir almal te verduidelik. Khu het daar voor die reuse klip waarop hy die tekening gemaak het gaan staan, sy linkerhand op die koue rots gesit, en gesê:
“Ek het met my linkerhand geteken, omdat dit die hand is wat die naaste aan my hart is. My regterhand vang en hou vas, maar my linkerhand laat los en gee. Die eland wat julle hier in my tekening sien is nie net vleis nie, hy is die gees wat water bring na ’n droë land. Die rivier wat uit sy bors loop, is die water van ons drome, ons liedere en ons stories. Die mense hier onder steek hul hande op, want hulle weet, jy moet vra voordat jy vat. Die klip hou hierdie beeld vir ons kinders en hul kinders, sodat hulle onthou dat ons lewe nie net is om te eet en te jag nie, maar om die gees van die land te eer.”

Daar was ’n ongemaklike stilte onder die mense. Selfs die kinders het stil gesit met hul oë vasgenael op Khu se rotstekening. Dit was so stil jy kon ‘n veer van ’n uil hoor val. Die ou vrouens het na ’n ruk onder mekaar begin fluister. Die jong manne het mekaar woordeloos aangekyk. Party het geglimlag, ander was verstom oor die wyshede wat hierdie linkerhandse seun kwytgeraak het.

Almal wat na Khu se verduideliking en uitleg van sy rotstekening geluister het, hét egter geweet dat hulle bo alle twyfel iets gesien het wat hul ewig sal bybly. Die groot kliprant met Khu se tekening daarop het van daardie dag af die naam Gaob-!Khuri, “Plek waar die linkerhand praat”, gekry.

Die mense het begin sê dat wanneer hulle die dromedans doen, hulle in hul geestesoog die swewende eland sien en die water hoor val soos reën op ’n klip. Ten tye wanneer die jag moeilik was, het die manne voor die klip gaan staan, hul hande omhoog gehou, en saggies gevra dat die eland se gees weer die veld met wild moet volmaak.

Khu het nooit groot geword as ’n groot jagter nie. Hy het eerder ’n jagter van drome gebly. Hy het nuwe beelde gemaak, sterre soos oë van gode, voete van kinders langs spore van leeus; en windlyne wat die pad deur die duineveld aanwys. Almal met sy linkerhand.

Die les wat Khu vir sy mense geleer het, het stadig by hulle ingesypel soos reënwater wat lank gewag het, en dat nie alle oorlewing uit jag en vuur kom nie. Sommige oorlewing kom uit die vermoë om te sien wat meer is as die oog se vlees, en om dit met jou hart se hand vas te hou.

So het die linkerhand-Khu sy hele volk geleer dat die gees net so gevoed moet word soos die maag. Daarbenewens het hy hulle ook oortuigend gewys op ’n spirituele ekologie waar natuur en menslike kultuur in mekaar verweef is – in die sin dat die rivier, die eland en sy rotstekening ’n ekologiese driehoek van lewe, spiritualiteit en geheue vorm. Daardeur word die ekologie van balans tussen jag (vat) en eerbied (gee) gehandhaaf.

Al hierdie wyshede het gekom uit die linkerhand van Khu se rotstekening, want sy linkerhand is naaste aan sy hart.
————————————————oo0oo—————————————————–
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 1201]




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed