
Krummels van hoop.
Die brood op die kombuistafel is nie meer vars nie. Eintlik is dit so uitgedroog dat dit verkrummel as Ma dit probeer sny. Ons gooi nie meer ou brood weg soos voorheen nie. Die mes maak krummels terwyl Ma dit probeer sny. Somber stilte hang in die lug. Nina klem haar hande in haar skoot, haar vingernaels wit van die druk. Johan staar in stilte voor hom uit, sy oë leeg, asof hy vir ’n antwoord wag wat nie kom nie. Sy vingers vryf ongeduldig aan die rand van sy bord.
“Julle moet gou eet,” sê Ma sonder om na ons te kyk. “Hier wag die bus vir niemand nie.”
Nina wil antwoord, maar haar keel is te droog. Die proe sout, van haar trane, Haar verbleikte skoolhemp krap teen haar vel, asof dit haar herinner aan die dinge wat verby is.
Buite tjank die bure se honde, en in die verte raas die bus se enjin. Johan skuif sy bord agtertoe. “Ek is nie honger nie,” fluister hy.
Ma se hande raak stil waar sy die tafel skoonmaak. Skielik is dit net die tik-tik van die ou horlosie wat hoorbaar is.
“Eet jou brood,” sê sy. Sag, maar onwrikbaar.
Nina staan op. Haar hart is swaar as sy na die blou voordeur stap. Johan is kort op haar hakke. Die wêreld buite lyk steeds dieselfde, dieselfde son, dieselfde strate, maar hier voel sy nie tuis soos in hul ou spogbuurt nie.
Die houthekkie kraak as Nina dit agter hulle toedruk.
***
Die busdeure swaai oop. Nina ruik die bedompige lug. Johan druk haar. “Loop! Almal kyk na ons!
Hulle stap verby oorvol banke, en soos hulle na agter beweeg, vang Nina se oog die leë bank. Hulle gaan sit en Nina klou aan haar tas. Hoekom moes hulle so skielik uit die mooi dubbelverdieping huis met die groot tuin en swembad trek? Daardie huis wat nou net ’n herinnering is, waar die son elke oggend deur die venster geskyn het en die voëls gesing het, was altyd so vol lewe.
Die skoolhek se roesvlekke lyk soos droë bloed. Dit kraak toe Nina dit oopstoot, en die geluid laat almal na hulle kyk.
“Wel, wat het ons hier?” Die kinders lag hard as die rooikop seun ons op-en-af staan en bekyk. Almal staan nader, en ek voel hoe my wange rooi word.
Die klok lui. Almal begin beweeg, en my asem jaag in my keel. Dit is eers in die klaskamer, toe ek by my bank gaan sit, dat ek besef hoe my hande bewe.
Ek weet ek moet sterk wees!
Ek druk my hande onder die bank in, forseer my hande om stil te raak. Die klas ruik na bordkryt en sweterige voete. Die onderwyser skryf ’n som op die bord, en sy oë gly oor die kinders.
’n Opgefrommeld stukkie papier tref my teen die wang en val voor my op my bank. Ek vou dit stadig oop. Die letters swem voor my oë.
ARMGAT!
Die bloed bruis in my ore. Ek sluk aan die trane. My oë draai na die rooikop, maar hy kyk stip vorentoe. Botter kan nie in sy mond smelt nie!
Almal sit en wag. Wag dat ek in trane uitbars, dat hulle kan lag.
Nie vandag nie!
Ek skeur die papiertjie in die kleinste moontlike stukkies, stadig en versigtig, en gooi dit op die vloer.
Ek tel stadig my potlood op en begin die wiskundesom uit te werk, netjies en stadig.
Hulle sal nie reaksie kry nie. Nie nou nie!
***
Ek sit alleen op die betonmuur. Ek weet nie hoekom ek dit doen nie, dalk omdat dit die enigste plek is waar almal nie na my staar nie. Ek hoor hoe almal lag en gesels, maar dit klink ver weg. Ek kyk af, my vingers speel met my kosblik. Dit voel asof ek ’n ander wêreld betree het, een waar ek nie behoort nie. My hande voel swaar, dit voel of ek nie asem kry nie. Niemand wil met my meng nie.
“Mag ek maar hier by jou sit?”
Ek draai my kop om te kyk wie met my praat. Dit is ’n vriendelik meisie. Sy wag nie om ’n antwoord te kry nie, sy val langs my neer. Ek kyk na haar. Haar T-hemp is ook nie heeltemal nuut nie, dit is effens verbleik, maar sy dra dit so trots. Haar skoene lyk asof hulle ook al beter dae geken het. “Ek is Mia,” sê sy, met ’n breë glimlag. “Ek het jou gesien in die klas. Ek weet hoe dit voel om nuut te wees. Ek het ook gesien wat daardie bullebak aan jou gedoen het!”
Ek wil nie antwoord nie, ek wil eintlik nie met iemand praat nie, maar sy bly sit. Ek is so gewoond daaraan om uitgeskuif te word dat ek nie weet hoe om hierdie vriendelikheid te hanteer nie. Sy is nie spottend nie, nie soos die ander meisies wat ek hier ontmoet het nie. Sy is net… daar. Ek kyk weg en trek die tas nader. “Ek is Nina,” sê ek uiteindelik, ’n sagte antwoord. Ek wens ek kan iets anders sê. Ek wens ek kon vriendeliker klink.
“Ek het ook al in jou skoene gestaan,” sê Mia rustig, haar stem sag. “Ek weet hoe dit voel om nie te weet waar jy moet begin nie.” Ek kyk op, haar blou oë is op my, nie vol oordeel nie, maar met ’n begrip wat ek nie heeltemal verstaan nie. Sy is rustig, nie gretig om te praat oor haar eie dinge nie, maar ek hoor haar omgee in die manier waarop sy praat.
“Die ander kinders is nie… nie almal is so erg nie, weet jy?” sê sy. “Daar is altyd ‘n manier om in ‘n groep in te pas.”
Ek wil antwoord, maar is nog skugter. Mia praat nie oor die ander meisies se goedkeuring nie. Sy praat net oor mense, oor hoe hulle mekaar kan verstaan, selfs al is hulle anders. Ek begin ligter asemhaal.
“Ek het ook nie dadelik maats gemaak nie, weet jy,” sê sy verder. “Ek het gesukkel om by mense in te pas. Dit is regtig nie die einde van die wêreld nie.”
Ek dink aan die huis wat ons agtergelaat het, aan al my vriende. Hoe ons lewens was. Ek dink hoe uit ek nou voel. Maar dan sê Mia iets wat my gedagtes stop: “Jy kan in jou eie ruimte wees, maar jy kan ook ander mense by jou toelaat,” sê sy “Dis die belangrikste ding.”
Ek voel ‘n bietjie meer op my gemak. “Ek weet nie wat eers of ek hier wil wees nie,” sê ek. “Ek is nie seker of ek kan inpas nie.”
“Jy hoef jou nie nou te bekommer nie,” sê sy, en haar hand maak ‘n klein beweging in die lug, amper soos om ’n deur oop te maak wat ek nie kan sien nie. “Jou pad sal jou lei. As jy ooit wil gesels, ek is hier.”
Ek kyk na haar, maar hierdie keer is dit nie ongemaklik nie. Daar is iets in haar geselskap wat kalmeer, wat die wêreld skielik beter laat lyk. Ek glimlag vir die eerste keer in ’n lang tyd, ’n klein glimlag. Vir die eerste keer, voel ek dat ek nie heeltemal alleen is nie.
***
Die voordeur kraak toe ons dit oopstoot. Binne is dit half skemer, net die lig uit die kombuis skyn dof oor die gangvloer. Die reuk van boontjiesop hang in die lug. Dit ruik heerlik, bekend.
“Ma?” Johan se stem is huiwerig.
“In die kombuis!”
Ons stap stadig nader. Ma sit by die tafel. Ek dink aan die uitgedroogde brood van vanoggend. Dit is egter nie die brood wat my aandag trek nie, dit is Pa, wat met ‘n vreemde glimlag agter haar staan. Sy hande rus op haar skouers, soos iemand wat iets wil deel, maar nie weet hoe nie.
“Kom sit,” sê Pa, sy stem vol iets… hoop?
Ek en Johan sit stadig op hulle stoele neer. Iets is anders. Nie net die manier waarop Pa na ons kyk nie, maar ook hoe sy gesig ligter lyk, hoe sy skouers nie so swaar hang soos die afgelope maande nie.
“Ek het vandag ’n oproep gekry,” begin hy stadig, asof hy bang is om die woorde uit te spreek. Ek het werk gekry. ’n Regte werk, een wat dinge vir ons kan beter maak.
Ek vou my hande op my skoot, ek kyk op, eers na Pa, dan na Ma. Ma se oë blink. “Regtig, Pa?”
“Regtig.” Sy lag is vrolik, amper vreemd in hierdie huis vol stilte en bekommernis. “Ek begin Maandag.”
Johan slaan met sy hande op die tafel. “So… dinge gaan beter wees?” Daar’s huiwering in sy stem, amper soos iemand wat bang is om te glo.
Pa knik stadig. “Dit is ons nuwe begin.”
Ek voel hoe hoop in my opvlam. Dit voel soos vars lug na ’n lang storm.
“Ek het gesê dinge sal verander,” sê Ma sag, terwyl sy oor haar gesig vee. Sy kyk na na ons. Hoop flikker in haar oë.
Buite suis die nagwind deur die bome. Maar binne, hier om die tafel, voel dit nie meer so koud nie. Ons sit ’n rukkie net so, sonder om te praat, asof niemand hierdie oomblik wil breek nie.
En vir die eerste keer in ’n lang tyd, voel ek asof ek weer kan asem kry.
©MarleneErasmus
31/01/2025
(1573 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2025 - OOP projek