
Visioenêre held
‘n Pionier met vas geankerde wysheid,
stap hy ‘n toekoms pad vol begrip
saam ‘n ongeskrewe manuskrip
en veg vir geregtigheid en vryheid.
Die verskroeide aarde ‘n duiwelse aanslag,
konsentrasiekampe en die kinders se dood
vertoon ‘n volk se lyding van nood
en die verowering van ‘n vierkleur vlag.
Vir die Britse Ryk was hy ‘n betowering,
holisme en evolusie se vrye denker,
‘n verbete vegter en vurige vredemaker
vir sy land en volk se oorlewing.
Die skote eggo deur die hart van ‘n rebel,
in die volk se boesem ontvlam ‘n bitter haat
wat letsels van verraad agterlaat
om aan die nageslagte oor te vertel.
Jou visie het oor die grense van vrees gesien,
jy wou die vernietiging van die verlede vermy
en om die nasies van dominansie te bevry
vir ‘n blink toekoms wat alle kulture verdien.
Jan Smuts, jy het vir die volk ‘n respekvolle rol
op die wêreld toneel stewig gefondeer
maar die haat het verdeeldheid gegenereer
en landgenote verander in ‘n blinde mol.
© Elize Awona Pucillo
2 Kommentare
-
Christa D
Sjoe aangrypend. Goed verwoord.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2025 - OOP projek