Jongste aktiwiteit:

Wees die verandering (905 woorde)

Wees die verandering

Daar is aanhalings wat mens lees, ’n oomblik oor nadink en dan weer vergeet. Dan is daar dié wat ongemerk, soos ‘n klippie in jou skoen, saam met jou deur die lewe begin stap. Soms pla dit jou, soms skaaf dit jou rou en soms herinner dit jou aan iets wat jy liewer wil vergeet. Dit laat jou egter nooit weer heeltemal op dieselfde manier stap nie.

Viktor E. Frankl se woorde is vir my só ‘n aanhaling: “Wanneer ons nie meer ‘n situasie kan verander nie, word ons uitgedaag om onsself te verander.”

Met die eerste lees klink dit heel eenvoudig. Dit klink maklik en doenbaar, maar hoe langer ‘n mens leef, hoe meer besef jy dat eenvoud dikwels ingewikkeld is.

My grootwordjare het my laat glo dat harde werk altyd beloon word. Dat elke probleem ‘n oplossing het. Dat as jy net hard genoeg probeer, dinge sal uitwerk. Toe ontdek ek dat die lewe hom nie veel aan ons planne steur nie.

So het ek geleer dat reën nie val net omdat ons dit nodig het nie. Ook dat siekte nie vra of dit ’n geleë tyd is om aan te meld nie en dat die mense wat ek liefhet, soms paaie kies wat ek nie saam met hulle kan loop nie. Ook dat sommige besluite moeilik bly, hoe lank jy ook al daaroor tob.

Ek weet hoe dit voel om vas te kyk teen omstandighede wat groter as jyself is. ‘n Mens kan nie ‘n droogte met wilskrag wegdink nie. Jy kan nie wolke nader wink of die son sagter laat skyn nie. Jy kan nie die kalender vinniger laat loop totdat beter dae aanbreek nie.

Vir lank het ek geveg teen dit wat buite my beheer gelê het, maar op ’n dag het daar ’n vreemde soort vrede oor my gekom. Niks van die situasie het verander nie, maar ek het besef ek mors kosbare energie aan gevegte wat ek nooit gaan wen nie.

Ek woon en werk steeds in die Kaap. My hart dwaal egter dikwels meer as ’n duisend kilometer noord, na ons plaas toe. Ek verlang na die ooptes en na die stilte wat selde onderbreek word. Ek verlang na nagte waar die sterre so helder hang dat dit voel of ek hulle een vir een kan pluk en ek verlang na my boerman en die reuk van nat grond na ’n hewige donderstorm.

Vir lank het ek gedink die verlange sou minder word soos tyd verbygaan, maar dit het nie. Iets anders het egter wel verander: Ek.

Ek het geleer dat ‘n mens twee tuistes kan hê: die een waar jou liggaam is en die een waar jou hart gereeld gaan kuier. Ek het geleer dat liefde nie minder word omdat afstand groter raak nie. Inteendeel.

Frankl het self dinge beleef wat die meeste van ons ons kwalik kan voorstel. Juis daarom dra sy woorde soveel gewig. Hy praat nie uit ’n plek van gemak nie. Hy praat uit verlies. Uit pyn. Uit oorlewing.

Dit laat my besef dat hoop nie beteken alles sal regkom soos ek dit graag sal wil hê nie, maar ek het steeds keuses. Ek kan kies om verbitterd te raak oor alles wat ek verloor het, of ek kan kies om dankbaar te bly vir dit wat steeds myne is, en vir alles wat ek in die proses bygekry het.

Daardie keuse is nie altyd maklik nie. Daar is uiteraard sommige dae wat dit net makliker is om die lewe kwalik te neem. Om te vra: “Hoekom?” Die vraag bring selde antwoorde. Dit steel net my vreugde. Dan dink ek weer aan die plaas en herinner myself dat die witgatbome nie kla oor die son nie. Hulle stuur net hulle wortels dieper, of ek dink aan die voëls in my tuin op die plaas. Sodra die kos opraak en die reën wegbly, vlieg hulle tot waar daar genoeg is en kom weer terug as dinge beter is. Hulle gaan altyd na dieselfde boom terug. So sal ek ook.

As ek vandag terugkyk oor die draaie wat my lewe geneem het, sou ek baie daarvan anders wou hê. Ek sou graag sommige afskeide wou uitvee. Ek sou die droogtejare korter gemaak het. Ek sou sekere mense langer vasgehou het. Maar ek kan nie.

Dis presies hier waar Frankl se woorde my telkens inhaal.

Die lewe vra nie of ons gereed is vir verandering nie. Soms verander die lewe net. Dan moet ons kies wie ons gaan wees te midde van hierdie nuwe werklikheid.

Ek hoop ek sal altyd iemand wees wat sal opkyk wanneer die reënwind waai, en wat sal glo dat die beste dae nog voor ons is, al waai die warm westewind oor die vlaktes. Iemand wat sal onthou dat omstandighede ‘n mens kan buig sonder om jou te breek. Iemand wat sal onthou dat niks hiervan bepaal wie ek word nie.

Ek dink dit is presies wat Viktor Frankl bedoel het: wanneer ons nie die wêreld rondom ons kan verander nie, begin die belangrikste verandering stilweg binne-in onsself.

Dit is waarom sekere mense ons inspireer. Nie omdat hulle die lewe kon beheer nie, maar omdat hulle geweier het om deur hul omstandighede beheer te word. Jy moet net die moed hê om self te verander, dan lyk dieselfde pad anders onder dieselfde voete. Klippie en al.

© Hester Steenkamp, 2026

“Wanneer ons nie meer ‘n situasie kan verander nie, word ons uitgedaag om onsself te verander.” – Viktor E. Frankl

(905 woorde)




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed