Deur my oë – (Dialoog met ’n groot Albatros)
Rentmeester van die Groot Meester
ek ’n Grootalbatros
ek staan vandag hier voor jou
as afgevaardigde van al die Albatrosse
wat in Suider-Afrika se seewaters woon
die rentmeesters van die Groot Meester
het ons in drie groepe ingedeel naamlik
die groot Albatrosse waarvan ek natuurlik deel is
Malmokke en Bruinalbatrosse
ons is groot voëls wit geveer met pienk snawels
ons is deur die Skepper toegerus met lang vlerke
sodat ons afwisselend kan stygsweef
en sodoende die taak wat die Groot Skepper-Meester
aan ons toegewys het in sy ekologiese sisteem
wat hy vir see-lewende diere
met die skepping van die aarde uitgewerk het
met gemak te kan verrig
Groot Albatros sê my
waarom bly julle so ver van land
waar daar geen bome is
en geen mens julle naam roep nie?
en waarom keer julle soms moeg en uitgeput terug?”
rentmeester van die Groot Meester
ons is die draers van afstand
die oseaan is ons gebed
en die wind is ons skrif
ons vlerke leer geduld oor dae sonder rus
ons bly waar die horison oopbly
waar hoop nie aan grense vasklou nie
ek wil julle rentmeesters van die Groot Meester vandag versoek
om verantwoordelike rentmeesters van die Meester te wees
rentmeester van die Groot Meester
selfs die vryste vlerk dra die gewig van menslike vergetelheid
plastiek sny ons lied en julle vislyn
en julle vishoeke steel ons daaglikse brood
ons keer terug as lewende getuies oor wat gebeur
wanneer die see nie meer as deel
van die Groot Meester se skepping gerespekteer word nie
Grootalbatros watter boodskap
wil jy vandag namens die Albatrosse
van Suider-Afrika se waters
aan my en alle rentmeesters
van die groot Skepper-Meester oordra?
rentmeester van die Groot Meester
ons versoek is eenvoudig
moet asseblief nie ons bioom die oseaan
waarin ons gelukkig woon en leef
met besoedeling vernietig nie
ek dra vandag namens al die Albatrosse
in Suider-Afrika se waters
’n waarskuwing aan jou oor
en alle rentmeesters van die groot Skepper-Meester
eer dit wat jy nie kan tem nie
want wie ons bioom besoedel
besoedel uiteindelik homself
Grootalbatros ek kan sien dat jul vlerke
so groot soos gelykenisse is
wat in my oë oopvou
vandag het jy my geleer
dat ware rentmeesterskap
verantwoordelikheid teenoor die Skepping
van die Groot Meester is …
©Pieter Mostert
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.