Jongste aktiwiteit:

Die tiende duin

Pieter se kantoor is op die tiende vloer van ’n gebou in Pretoria. Hy sit en wag vir Johan, sy goeie vriend uit die Kalahari. Johan het ’n Landbou-uniekongres in Pretoria kom bywoon. Hy het met Pieter gereël om hom by sy kantoor op te laai om by hom op sy plaas in die Kalahari te kuier.
Johan stap die hysbak op die grondvloer van die gebou haastig binne en druk knoppie nommer 10. Tussen die negende en tiende verdieping kom die hysbak skielik tot stilstand.
Johan kyk na die digitale syfer bokant die deur.
Die liggie flikker 10.
Toe word alles donker en die rooi noodliggie kom aan.
“Ag nee! Moet asseblief nie vir my sê ek sit in hierdie hysbak vas nie. Ek is juis so haastig, want Buks Appelblaar sit en wag in my motor vir my en Pieter.” sê hy hardop.
Buite die hysbak klop iemand aan die deur.
“Is daar iemand binne?”
“Ja!” antwoord Johan.
“Moenie bekommerd wees nie. Ons het die krag geïsoleer. Ons sal jou veilig hier uit kry”
“Hoe lank ?” vra Johan benoud.
“Sowat twintig minute,” antwoord die stem.
“Twintig minute? ”Johan gaan sit moedeloos op die vloer van die hysbak.
Hy kyk weer na die syfer 10 bokant die deur.
“Dis vreemd … dat ek nou juis vir twintig minute lank in hierdie klein hysbak vasgekeer moet wees en skielik oor my hele lewe begin nadink,” praat hy hardop met homself.
Hy leun met sy rug teen die muur.
“Dalk is dit ’n teken dat ek soms moet stilstaan en oor my lewe moet nadink,” sê Johan terwyl hy na die flikkerende syfer 10 bokant die hysbak se deur kyk. Dit voel asof die getal 10 met hom praat.
Die hysbak ruk effens. Dan begin die ligte flikker en die deur gaan oop. “Dankie tog!” sê Johan, spring op en haas hom na Pieter se kantoor toe, waarna hulle ewe haastig weer met dieselfde hysbak afry.
Terwyl hulle uiteindelik die pad Upington toe vat. vertel Johan vir Buks van die insident met die hysbak.
Buks sit aandagtig en luister sonder om ’n woord daaroor te sê.
Daardie aand sit Johan en Pieter saam met Buks by sy vuurtjie in die hartjie van die Kalahari.
Buks glimlag van oor tot oor terwyl hy met bewondering in sy oë na die duine staar. “Dis hom mos myse wêreld hieri, myse groot vriende,” sê hy met trane in sy oë.
Hy kyk na Johan.
“Ek het hom vanmiddag mooi geluister na jouse storie oor by die hysbak by Pieter syse werk Johan, jy het my vertel soos ons het gery by die pad terug hier by onse Kalahariland.
Buks tel sy kierie op en trek tien kort lyne in die sand.
“Een duin,” sê hy, “is hom net die duin. Twee duine is hom die pad. Drie duine is hom die reis. Vier duine leer jou om jou asem te hou wanneer die hitte kom. Vyf duine hy leer jou om die water te deel. Ses duine hy leer jou om te loop hom stadig. Duin sewe hy leer jou om te luister. Duin agt hy leer jou om die wind te lees. By nege se duin hy leer jou om nie bang te wees nie.”
Hy hou sy kierie bokant die tiende lyn.
“En die tiende duin Buks, waar is die tiende duin?” vra Pieter en Johan byna gelyktydig.
Buks kyk na Johan.
“Die tiende duin, myse groot vriende,” sê Buks sag, “hy leer jou wie jy is. Die tiende duin is hom soos daari hysbak, Johan, jy het hom vasgesit vandag”
Johan glimlag verleë. “Waar is hierdie tiende duin Buks?”
Buks glimlag geamuseerd. “Daar vra jy nou die verkeerde vraag, Johan.”
“Wat is die regte vraag dan Buks? vra Pieter?”
“Myse groot vriende julle moet nie vra waar hy is nie. Julle moet hom vra wanneer jy sal kom by hom?”
Pieter en Johan is nou die ene ore en skuif nader aan die vuur. Buks begin vertel.
“Lankal sy tyd hier by onse Kalahariland daar was hom die jong jagter. Syse naam was hom Kwêle. Hy het hom gedink hy is die beste Boese’man in onse Kalahariland. Hy het hom gedink die woestyn behoort aan hom.”
“Op een dag Kwêla hy besluit hy gaan die tiende duin klim. Niemand weet eers presies waar daardie duin is nie, maar Kwêle hy het gesê: “Ek sal hom kry.’”
“Kwêle hy klim by die eerste duin. Hy sien ver. Hy klim by tweede duin. Hy sien verder.
Soos hy klim by die derde duin hy dink hom hy verstaan die land.
By die vierde duin Kwêle syse water begin hom te raak minder.
Soos Kwêle hy klim hom die vyfde duin die son hy begin hom hard byt.
By die sesde duin Kwêle syse bene hulle praat saam met hom.
By die sewende duin Kwêle hy voel hom bang.
Buks kyk na Johan.
Net soos jy, Johan, jy het vandag binnekant by daardie hysbak, jy het hom bang gevoel.” Johan glimlag net.
“Kwêle hy kom by die agtste duin toe die groot wind hy kom op.
By die negende duin Kwêle hy draai hom om.”
“Het Kwêle dan opgegee?” vra Pieter.
“Nee, myse groot vriend, Kwêle hy gee nie op nie,” sê Buks. “Hy verstaan hom net hoekom hy het vergeet waarvoor hy het geloop.”
“Wat gebeur toe Buks?” vra Johan.
Buks glimlag. “Kwêle sit bo-op die negende duin. Voor by hom lê die tiende dyn, maar
hy kan hom nie sien nie.”
Pieter frons en kyk vir Johan. “Buks, maar jy het gesê Kwêle was daar.”
“Ja Pieter myse groot vriend, maar die tiende duin hy is hom nie altyd by die plek wat jou oge soek hom.”
Buks maak sy hand oop en laat ’n dun straaltjie sand tussen sy vingers deurglip, dan sê hy:
“Die wind blaas hom oor by die tiende duin. Elke dag hy lyk hom anders. Een dag hy is hom hoog. By die ander dag hy is hom laag. Partykeer jy dink hom jy staan bo-op hom, maar jy is nog net op dyn nege.”
“Hoe weet Kwêle dan wanneer hy by tien is, Buks?”
“Pieter myse groot vriend, wanneer Kwêle hy sal hom ophou vra wat hy sal hom kry en begin om hom te vra wat hy kan hom gee.”
“Toe Kwêle dit verstaan, hy staan hom op. Hy vat hom die laaste bietjie water wat hy nog het en hy loop hom terug. Hy loop terug by syse eie spoor by die sand.”
“Terug, waarheen Buks?”
“Kwêle hy gaan soek hom die spoor van die ander ou Boese’man wat hy het hom by die ander duin gesien soos hy loop. Daari ou man het hom agter by Kwêle geloop. Hy was hom baie moeg, en syse waterkalabas was hom leeg.”
“Net voor die son hy gaan hom slaap agter by die duine Kwêle hy kry hom daari ou man. Kwêle hy gee hom syse laaste water vir daari ou man.”
“Toe kwêla omdraai, hy sien hom die tiende dyn.”
Pieter en Johan kyk Buks stomgeslaan aan.
“Waar was dit? ”vra Pieter
“Waar dit altyd was.”
Buks tik met sy kierie op die tiende lyn wat hy vroeër getrek het.
“Binnekant by hom myse groot vriend.”
Buks kyk na Johan. “Net soos jy, Johan, jy het hom vandag vasgesit by daari hysbak. Jy moet partymaal hom eers tussen nege en tien vassteek voordat jy weet hom watter pad jy moet hom loop. Die tiende duin is hom die plek waar die mens ontdek hom dat die pad nooit net gaan oor homseself nie. Die eerste nege duine hulle dra jou. Die tiende duin hy leer jou om iemand anders te dra. Daarom onse Boese’mense ons tel hom nie tien met die mond nie, ons tel hom tien met die lewe.”
“Buks, wat gebeur ná die tiende duin?” vra Johan.
Buks bly lank stil, terwyl hy in die rigting van die duine kyk. “Johan, myse groot vriend, dan jy begin hom weer by een. Wanneer jy dink jy het hom by die einde gekom, jy het hom net by die nuwe begin aangekom.
Johan dink weer aan die hysbak, aan die rooi noodliggie en aan die syfer 10 wat bly flikker het. Hy dink aan die twintig minute waarin hy gedwing was om stil te sit en aan die oomblik toe die deur uiteindelik oopgegaan het. Hy het gedink hy was vroeër vandag tussen die negende en tiende verdieping vasgekeer. Nou verstaan hy. Hy was nie vasgekeer tussen nege en tien nie. Hy was op pad na tien.
Buks vat sy kierie en trek ’n nuwe streep in die sand, langs die plek waar die tien lyne was. Johan kyk daarna. “Wat is dit, Buks?”
Buks glimlag, Dit is een myse groot vriend. Jy het hom vandag gesit binnekant by die tiende duin. Toe daari hysbak syse deur hy oopgaan, jy het geloop weer by een.”
—————————–oooOooo———————————
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 1498]

 

 

 

 

 

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed