Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 13

Hoofstuk 13 – Hoop op Vergifnis

Met ontbyt dui Lize aan sy het verlof geneem om tyd met Zuluika deur te bring, en Zuluika voel aangedaan oor die meelewing van hierdie mens met haar.
“Wanneer wil jy deurgaan Ladysmith toe om Joos te sien?”
“Ek het gedink om Maandag te gaan, wil eers die naweek hier by jou deurbring.”
“Dit sal wonderlik wees. Ek het gehoop jy sal hier wees vir die naweek en het ʼn paar dingetjies ingedagte vir ons twee.”
Zuluika weet Lize wil haar geleentheid gee om haar voete te vind voor sy deurgaan na Joos, waar sy moontlik ontstellende feite gaan hoor, en sy waardeer dit.
“Moet ek jou deurneem Ladysmith toe Maandag?”
“Dankie vir die aanbod Lize, maar Laurie gaan Joseph stuur om my te kom haal, hy gaan my bystaan terwyl ek in Natal is.”
Sonder enige verwyt kom dit, “Wonderlik, jy sal tyd met Laurie en Nathan kan deurbring.”
“Dit is die plan, ek gaan op die plaas by oom Nathan bly terwyl ek daar is.”
“Ek is baie bly Zuluika, dit sal jou goed doen.”
Daarmee is die gesprek afgehandel, en weet albei, hulle wil die volgende paar dae nie aan die verdoemende feite dink nie, hulle wil net die tyd saam geniet sonder daardie wolk.
Laatmiddag wanneer hulle rustig op die veranda sit, stoot Lize twee kaartjies oor die tafeltjie na Zuluika, sy kyk haar een oomblik aan, tel dit op en sien dit is vir die komende Saterdagaand vertoning van die Gauteng Philharmoniese Orkes uitvoering van, ‘Vienna City of my Dreams’, in die Brooklyn Teater.
Sy druk dit teen haar hart, weet dit is iets wat sy so graag wil doen, en Lize sien die gesiggie ophelder, sy weet, ‘Zuluika se passie vir musiek is terug’.
“Het ons nodig om enige inkopies te doen voor die konsert?” vra Lize glimlaggend.
“Nee, ek glo my huidige klere sal reg wees, maar indien jy daarvoor kans sien wil ek graag ʼn paar ander items aankoop, parfuum en so-aan.” Kom dit in ʼn opgewekte toon.
Lize hoor Zuluika se positiwiteit, en dit verdryf die laaste onrus oor haar welstand, sy weet, die maande in die buiteland het reggekry wat nie sy of Zuluika ooit gedink het, kan gebeur nie, ‘die terug na vryheid beweeg’, wonderwerk.
Skielik is die opgewondenheid ook in haar, is sy lus om net vir hierdie paar dae kommervry met Lize deur te bring. “Kom ons gaan Menlyn toe, ons ry verby Loftus, die Universiteit, die Unie Gebou en so aan, sodat jy kan sien hoe dinge verander het.”
Zuluika voel die verandering in Lize se gemoedstemming aan, en dit tel haar gemoed verder op, “Ja asseblief Lize, ek wil dit baie graag doen.”
Lize begin opstaan, maar Zuluika hou haar teë, “Lize, net eers een ander saak asseblief, die geld wat julle my voorgeskiet het. Ek wil dit asseblief teruggee aan hulle wat alles moontlik gemaak het. Ek het soos jy weet, ʼn goeie salaris verdien, so ek kan.”
Lize kyk haar lank stip aan, “Ek weet jy kan Zuluika, maar dit is nie nodig nie, dit is nie hoe die ‘Bond’ werk nie.”
Zuluika wil praat, maar Lize hou haar hand op. “Die geld wat die ‘Bond’ voorsien het, kom jou toe, kom almal toe wie die ‘Bond’ bystaan. Die ‘terugbetaal’ sal iewers in die toekoms wees, wanneer jy weer op jou voete is, en iemand anders soos jy, hulp nodig het, dan kan jy jou skuld vereffen.”
Zuluika herdink die woorde, sy weet, dit is hoe dit sal wees, sy sal eendag ʼn ander persoon se hulp wees, en dit is ook genoeg vir haar vandag.
“Dankie, en onthou ek sal daar wees vir julle, wat dit ook al sal vra,” en daarmee is die saak afgehandel.

Die inkopie uitstappie word ʼn helende ervaring vir Zuluika. Lize begin die verkenningstog met ʼn rit op die R21 om die Fonteine Sirkel. Zuluika sien die pragtige kleure klippe in die ysterkaste op die groen gras, en Lize vertel haar dit was alles ter viering van die 2010 sokker wêreldbeker.
Die gebou van Unisa teen die blou lug, en Sunnyside, is soos sy dit onthou. Lize ry noord tot voor die Steve Biko Akademiese Hospitaal, en Zuluika se ‘onthou’, loop ver paaie terug.
Die staan voor die Universiteit van Pretoria se hoofgebou, bring ʼn ou weemoed in Zuluika, oor ‘dit wat was’, en ‘dit wat sy verloor het’. Sy herroep haar herinneringe van die jare wat sy en Laurie deel hiervan was, en dit is ook vir nou genoeg vir haar.
Die rit verby Loftus bring herinneringe van die ‘Blou Bul’ wedstryde wat hulle bygewoon het, sy weet, sy het so baie gekry van so baie mense, maar ook so baie verloor deur haar een onbesonne daad.
Hulle eet middagete in Menlyn, stap op hulle tyd deur die pragtige sentrum. Zuluika koop persoonlike items wat sy vir tien jaar nie besit het nie, en sy is gelukkig in die wete wat die afgelope maande vir haar herstel beteken het.
Wanneer hulle deur Woolworths stap, voel sy die verlange na die twee dae wat sy en Mauritz deur die winkels hand aan hand gestap het, Lize sien die hartseer, en sy stuur weer ʼn gebed na bo.
“Kom ons eet Sushi vanaand.” Kom dit opgewek van Zuluika wanneer hulle verby die ‘Ocean Basket’ stap, en Lize is onmiddellik reg daarmee.
Zuluika koop vir hulle ʼn wegneem ete, en met arms wat gelaai is met pakkies kies hulle koers na die parkeer area, “Kan jy onthou waar ons parkeer het?” Kom dit benoud van Zuluika, sy weet sy het die natuurlike navigasie vermoë wat gereelde besoekers aan Menlyn het, verloor.
Lize lag, en met ʼn, “Volg my, ek ken die sentrum soos die binnekant van my hand.” Stap sy laggend voor Zuluika uit.
Die sit voor die televisie, elk met ʼn bord vol sushi, word vir Zuluika een van die uitstaan oomblikke van haar afgelope maande, ‘Net weer normaal wees, net weer jongmens wees’, dink sy.

Met die wakker word Saterdagoggend is die afwagting in haar, sy weet die besoek aan die Brooklyn Teater is iets wat vreugde en vrees vir haar inhou. Die Teater waar sy en Rudolph soveel wonderlike ure deurgebring het, geoefen en opgetree het, daar waar sy glo sy gees nog leef.
Sy trek die bloesie aan wat Rhoda haar as afskeidsgeskenk gegee het, sit die horlosie met die Universiteit se embleem wat die studente haar gegee het aan haar arm, en Mauritz se serpie om haar nek.
Sy voel haar trouring en die hangertjie wat Rudolph haar op haar een en twintigste verjaarsdag gegee het onder die serpie, haal oom Louis se horlosie uit en sit dit in haar langbroek se sak, sy weet die eerste beleef van wat sy en Rudolph gedeel het, wil sy deel met hulle wat so baie bygedra het tot haar herstel.
Lize trek haar asem in wanneer Zuluika die sitkamer instap, “Jy is ʼn prentjie van prag Zuluika, werklik pragtig.”
Zuluika voel die blos op haar wange, “Dankie Lize, dankie vir die lig van my bang gemoed.”
“Ek weet dit is jou en Rudolph se herinneringe waaraan jy dink. Onthou net die mooi en die wonder van daardie tyd.”
Die instap in die teater se ontvangsportaal, bring die gevoel van plesier wat sy altyd ondervind het wanneer sy hier ingestap het. Sy gaan staan stil, kyk na die plakkate van vertonings wat hier aangebied was, en vertonings wat nog aangebied sal word, en dit is so bekend.
Lize wuif haar om haar te volg met die trappe af na die klein sitkamertjie.
Hy is daar wanneer sy opkyk, Rudolph in sy aandpak, met die pragtige swart hare, die ongelooflike blou oë, die glimlag, die konsentrasie, die grasie in die hand wat die hobo vashou, en sy weet dit is die mooiste foto wat sy ooit gesien het, en haar hart breek oor die verlies van hierdie wondermens.
Wanneer sy na Lize kyk, sien sy die afwagting, sy besef Lize het geweet van die foto, en sy waardeer die deel hiervan, sy het die herinnering vandag nodig, “Dankie hiervoor.”
Sodra hulle in die teater sit, maak sy haar oë toe en luister na die deurmekaar klanke van die instrumente. Sy hoor die hobo se spesifieke toonhoogte van ‘A’ en sy wag vir die hoof violis se bevestiging van die toonhoogte. Die blaasinstrumente se volg om seker te maak dat hul ‘A’ ooreenstem, en dit is asof sy by hulle op die verhoog is.
Sy herken elke lied, kan steeds na al die tyd weg van die musiek elke lied aan die spesifieke komponis koppel. Sy luister na die wonder klanke van Johann Strauss, Von Suppé, Léhar, Kálmán en Waldteufel en die genot wat musiek haar altyd gebring het, is terug, sy weet, was reeds terug daar in die berge.
Met die uitstap pouse om koffie te gaan drink, is hy daar, Rik van Dijk, die dirigent waaronder sy en Rudolph so baie opgetree het.
Hy neem haar sonder ʼn woord in sy arms en trek haar teen sy bors vas, “Dank God jy is vry.”
Zuluika lê kragteloos vir ʼn paar minute teen die breë bors, tree terug en kyk op in sy gesig, “Ek kan nie glo jy is nog steeds hier nie, maar dit is wonderlik, regtig wonderlik.”
Hy kyk lank na haar en sê sag, “Ek het gebid vir die dag wanneer jy weer hier sal instap, weer sal optree saam met ons.”
Zuluika skud haar kop amper outomaties in ʼn weiering, maar hy sit sy hande aan die kant van haar kop en vra met erns, “Sal jy asseblief oorweeg om een keer weer met ons op te tree, al is dit net sodat ook ons sluiting kan kry?”
Zuluika kyk na Lize, en op haar gesig is die afwagting duidelik. “Gee my tyd om daaroor te dink, ek sal jou met tyd laat weet.”
“Dit is al wat ek vra, oorweeg dit asseblief.”
Die sit aan die tafel met Rik en Lize verdryf die twyfel, sy weet, sy kan weer die Zuluika wees van tien jaar gelede, en sy weet sy wil weer daardie mens wees.
Na die pouse voel Zuluika hoe die rustigheid oor haar kom, sy sit terug, geniet elke noot, weet voor sy teruggaan Amerika toe, sal sy hier saam met hierdie groep optree, al is dit net vir Rudolph se onthalwe.
Sy laat die hand met Mauritz se armbandjie op haar trouring rus teen haar hals, sy weet dit sal altyd haar herinnering bly, Mauritz, Rudolph en die liefde wat sy vir hulle deel.
Die rit terug na Irene, die laat aand laaste koppie koffie, laat Zuluika besef, sy is reg, emosioneel reg om in twee dae te gaan hoor wat die feite is, sodat sy aan kan beweeg.
Die gewerskaf in die kombuis Sondagoggend maak Zuluika wakker, kan sy amper nie glo hoe rustig sy is nie, hoe goed sy geslaap het nie. Sy stap die kombuis in, sien die twee bekers wat reeds regstaan vir koffie.
“Jy is vroeg op.”
Lize lag, “Jip, wil vandag so lank as moontlik uitrek voor jy môre weggaan.”
Zuluika lag, “Ek kom weer sodra ek my dinge uitgeklaar het.”
“Ek weet, maar ek weet ook, jy gaan nie in Suid Afrika aanbly nie.”
Zuluika sien die hartseer op Lize se gesig en sy is verlig vir die opening wat Lize maak om die seer saak ook nou in die ope te kry, “Ja, ek gaan sodra alles hier afgehandel is terug Corvallis toe. Ek het ʼn aanbod van Grosvenor en die Corvallis Universiteit gekry, een daarvan sal ek aanvaar.”
Lize sien die opgewondenheid, sy weet, dit is Zuluika se geluk wat eerste moet kom, nie haar wens om naby haar te wees nie.
“Jy het geen idee hoe hartseer dit is om te weet jy gaan vir altyd weggaan nie, die enigste troos is die wete, dit is reg vir jou,” en met ʼn gemaakte opgewektheid, “en natuurlik nou het ek ʼn vakansie bestemming.”
“Dankie vir die geleentheid wat jy vir my help skep het, dit het my weer kans gegee, en ek sal jou by die belofte hou om my te kom sien. Dit is ook nie totaal uitgesluit dat ek wel weer Suid Afrika sal besoek nie.”
“Kom ons drink koffie sodat ons albei oor ons trane kan kom,” kom dit van Lize terwyl sy die koffie inskink.
“Ek het vir ons ʼn bespreking gemaak by die Irene Melk Plaas vir half elf vir ʼn ‘brunch’, is dit reg met jou?”
“Natuurlik, dit sal wonderlik wees,” en die ‘kuier’ met die plaas reuke wat die lug sal vul, bring ʼn ou heimwee in Zuluika, haar heimwee na oom Louis, oom Nate en Laurie, en die wonderlike jare wat sy op die plase tussen die berge gewoon het, steek in haar vas, ‘Niks voor dit nie, maar vandag teister die beeld van ʼn ander berg in die witheid haar, met hom wat elke oggend saam onder die wakende oë van die berge naby haar geloop het’, en sy voel ʼn intense verlange na die mens en sy berge.

Dit is tienuur Maandag oggend wanneer die sekuriteitsbeampte skakel vir toestemming om Joseph die kompleks in te laat. Lize se omdraai van die interkom, die hartseer op haar gesig, vat aan Zuluika, en sy stap spontaan vorentoe en druk haar teen haar hart, “Lize, my maat, moenie so hartseer wees nie, ek is reg vir wat ook al wag, jy en almal het my voorberei hiervoor, ek gaan hier deur kom.”
“Maar ek gaan jou so mis.”
“En ek vir jou,” maar vir nou moet ek en jy sterk wees.”

Die weersien van Joseph na tien jaar, is vir Zuluika die stap terug na die wonderlike tye van haar jeug, sy weet die verblyf op die plaas en die saamwees met haar mense, het sy op die oomblik meer nodig as die oopmaak van die bose.
Sy omhelsing, die bekendheid wat die groot vriend uit haar jeug saam met hom bring, bring haar gemoed tot rus, ‘By Joe sal sy veilig wees, dit weet sy verseker’.
Hy dra haar bagasie met een tog uit die huis, en Zuluika en Lize besef weer hoe ʼn ontsettende groot en sterk man hy is. Lize weet, niemand sal aan die klein mensie raak wanneer Joe by haar is nie, en sy voel gerus.
Die vashou met die groet bring trane, maar ook berusting, hierdie is die eerste stap na vrede vir Zuluika Zuess.
Hulle ry geselsend met die R21, verby Oliver Tambo Lughawe na die R24, deur die Buccleugh Interseksie na die N3, en deur die De Hoek Tol Plaza, en Zuluika voel verwondering, ‘So lank gelede, en steeds so bekend, alles het nie verander nie’.
Wanneer hulle die landelike area ingaan, herroep Zuluika die laaste rit wat sy na die plaas meegemaak het, die naweek voor Rudolph se dood, en sy voel of die hartseer haar wil versmoor.
Joseph sien die heimwee op haar gesig, na Laurie se gesprek met hom verlede week, weet hy, hierdie rit is die begin van die oopmaak van die laaste waarhede wat Zuluika moet kry, maar ook die eerste rit terug na haar huis na tien jaar. Hy weet ongeag wat dit vra, hy sal elke tree, elke minuut by haar wees, tot dit verby is.
Hulle stop by Villiers, vul die viertrek se brandstof, en besluit om middagete in die Wimpy te geniet.
“Dit is regtig stil hier.”
“Ja die skole het reeds weer begin na die April vakansie, so min verkeer Suidkus toe.”
Zuluika glimlag, sy onthou die vakansie ritte wanneer sy en Laurie plaas toe gegaan het van die universiteit af, en sy mis dit.
Met die neem van die afrit by Harrismith, maak Zuluika haar oë toe en herroep die pad na die plaas. Wanneer hulle die R74 verby die Sterkfontein dam vat, oor Oliviershoekpas, verby Little Switserland met die kragstasie in die laagte, weet Zuluika, hier is nog so baie dinge dieselfde, en sy besef, ‘Sy is werklik tuis, sy het huis toe gekom na tien jaar’.
Hulle vat rigting na die ‘Noordelike Drakensberg’, in die rigting van die Royal Natal Nasionale Park. By die Tower of Pizza neem hulle die pad wat die rigting wysers na The Buttress en Fortress aandui, gaan oor die Tugela waar die jongmans die klei diertjies wat hulle maak, probeer verkoop, en verder met die pad tot waar die Putterill Spruit aan hul regterkant blink, en sy kyk op na die berge en sy verlang na Mauritz en Rudolph.
Wanneer die viertrek se wiele klapgeluide maak oor die yster vee spore, weet sy, ‘nou is sy regtig tuis’.
Met die stilhou voor die opstal, staan hulle reeds op die stoep, Laurie en die lang man met die twee seuns, Zuluika weet dit is Matthew. Sy sien Nathan en vier ouer mense, en sy weet, Laurie en Matthew se ouers, en die vreugde en vrees wil haar om die beurt versmoor, ‘Wat weet hulle van my?’
Laurie maak die deur oop, en Zuluika stap in die omhelsing in, en dit vat elke bietjie krag wat sy die afgelope maande bymekaar gemaak het, om nie in trane uit te bars nie.
“Jy is hier,” en saam met Laurie se stem, kom die trane.
“Ja eindelik weer hier waar ek so gelukkig was,” en sy hou Laurie teen haar vas, en al wat sy voel is vreugde.
Sy voel die arms om haar, weet dit is Nathan, en wanneer sy opkyk soen hy haar sag op haar voorkop, soos lank gelede, en sy woorde vind weerklank in haar gemoed, “My beker loop oor nooi, eindelik is my twee meisiekinders weer hier by my.”
Dit is te veel vir Zuluika, en nou is die sluise oop, en huil sy, en sy gee nie om nie want haar, Laurie en Nathan se trane meng, en steeds is die vreugde in haar
Die gedagte aan ʼn eie moeder is terug wanneer Laurie haar en Matthew se ouers voorstel, en sy sien die liefde in die oë, en sy wens ʼn wens.
Matthew is alles wat Laurie gesê het, Zuluika weet, dit is wat sy wil hê, ʼn man soos Mauritz met kinders van hul eie, en die wanhoop versmoor haar.
Die deurstap na haar tien jaar gelede kamer, die sit op die bed met die handgekerfde engele, die opkyk na die berg deur die venster, is soos die terugrol van ʼn rolprent film vir Zuluika, voel sy of sy weer is waar haar lewe op dertien begin het, die dag toe sy vir die eerste keer op hierdie bed gesit het, opgekyk het na die berg, en veilig gevoel het.
Hulle kuier saam met stomende koppies koffie, sy hoor grepe uit die afgelope maande se samesyn van die mense wat so ʼn groot deel van haar gelukkige jare gevul het, en dit is vir Zuluika ʼn lafenis.
Met die laataand gaan lê op haar bed, na die aandroetine, voel sy die moegheid oor haar kom, en sy maak haar oë toe, sy sien Rudolph en Mauritz in haar gedagtes, en sy bid Mauritz is gelukkig, en sy raak aan die slaap.
Die volgende oggend na ontbyt stap hulle almal na die begraafplaas waar Louis Olivier rus. Vir Zuluika is dit hartseer om die eerste keer te staan by die graf van die mens wat haar weer heelgemaak het, haar weer ʼn mens met waarde gemaak het, en vandag hier langs sy graf voel sy so gebroke soos daardie kind, sy het iemand so ontsettend kosbaar verloor, en dit knak haar. Hulle laat haar daar, gee haar die geleentheid om te groet, om op te staan en weer aan te gaan, en sy doen dit, en sy voel die krag wat die mense in die wit wêreld haar gegee het.
Laatmiddag vra Laurie haar, “Waarheen van hier af maat?”
“Ek het ʼn afspraak met oom Joos vir môre tienuur. Na die gesprek sal ek weet waarheen van hier vir eers.”
“Nou goed, laat ons bespreek wat ons van hier af wil doen. Pa en Joe gaan jou vergesel, orals waar jy gaan.”
Zuluika kyk na Laurie, “Dit is nie nodig nie.”
“Seker nie nodig nie, maar ons gaan jou nêrens alleen laat nie Zuluika, veral nie indien die persone agter Rudolph se moord nog iewers aktief is nie.”
Zuluika hoor die beslistheid, sien dit op die pragtige gesig, en aanvaar dit met die knik van haar kop.
“Gaan kry oom Joos se gesprek agter jou, en môre aand besluit jy wat volgende gebeur en hoe ons dit saam sal aanpak.”
Die besoek aan Joos en wat dit kan bring wurg nie net vir Zuluika nie, maar vir almal in die huis, en wanneer hulle die volgende oggend om agt uur reg is om Ladysmith toe te vertrek, druk Laurie haar teen haar vas, “Wees sterk maat, nou is die begin van die skoonmaak vir al die mooi wat nog kom.” Zuluika hoor dit en sy bid.
Wanneer hulle voor Joos se kantoor stilhou, stel Nathan voor Zuluika moet alleen ingaan, “Vir eers tot julle voel ons ingelaat kan word op die feite, gaan eers alleen. Ons sal in die ‘Koffie Huis’, oorkant die straat vir jou wag.”
Zuluika waardeer die verstaan van hierdie man wat deur die jare saam met oom Louis haar en Laurie se welsyn hulle grootste prioriteit gemaak het, hy wat ʼn tweede pa vir haar is.
Joos wag vir haar in die ontvangsarea wanneer sy die kantore instap. Sy groet is warm en hy druk haar een oomblik teen hom vas, “Is dit werklik al vier maande vandat ons mekaar in Pretoria gesien het?”
“Ja, die tyd het gevlieg. Ek wil weer dankie sê vir julle reëlings om vir my die pos in Corvallis te kry, dit was onvergeetlike maande gewees.”
“Ek is bly jy het dit geniet nooi.”
“Meer as geniet oom Joos, die mense, en die plek het my gehelp om weer op my voete te staan, om weer waarde in myself te vind.”
Hy druk haar weer sag teen sy hart, “Jy het elke dag waarde gehad nooi, meer as wat jy ooit self besef. Kom ons gaan sit in my kantoor.”
Die kantoor se atmosfeer is hy, netjies, georden, en getooi in die sonlig wat deur die wye venster loer, en Zuluika dink aan oom Louis, en sy weet hierdie mens is in sy klas van mens wees. Hy neem ʼn lêer van sy lessenaar, en wag tot Zuluika sit voordat hy teenoor haar gaan sit.
Hy kyk haar ʼn oomblik stip aan, “Voor ons begin moet ek jou inlaat in sekere feite wat jy vir jouself moet hou, nooit met iemand anders bespreek nie.”
Zuluika kyk na hom, sy weet dit is weer die kwessie rondom die ‘Bond’, en sy weet sy het reeds vrede gemaak, sy sal daardie groep mense en hulle ideale nooit skaad nie, daarvoor het sy te veel ontvang wat sy moontlik nie verdien nie.
“Dit is reg met my oom Joos, ek het my vrede gemaak, ek wil net graag bydra indien ek ooit kan.”
“Ek gaan jou inlaat op sekere sake van die ‘Bond’, wat nie net jou en jou saak raak nie, maar die ‘Bond’ het ook ʼn groot rol gespeel in die veiligheid van Laurie en Matthew se ouers vir agt en twintig jaar.”
Vir Zuluika is niks rakende die ‘Bond’ meer ʼn kommer nie, hulle welwillendheid teenoor haar is al wat tel, “Weet Laurie en Matthew dit?”
“Net die name van sekere lede van die ‘Bond’ wat deur die jare in beheer was van alles om hulle geliefdes veilig te hou, geen feite rondom die ‘Bond’ nie.”
“Met jou saak is daar ʼn verskil, jy het reeds, en sal in die toekoms direk met van die persone in hul hoedanigheid as ‘Bond’ lede werk, en indien jy nie klarigheid hieroor het nie, sal jy hulle met agterdog bejeën.”
Zuluika voel die effense onwilligheid in haar, ‘Het sy die krag om steeds in geheimhouding te leef, wil sy regtig die pad loop?’
Sy sit een oomblik terug in haar stoel, maak haar oë toe en oorweeg die, ‘weet van alles’ of die ‘nooit weet nie’. Dit is Rudolph en Mauritz se gesigte wat sy sien, en sy weet indien sy ‘nooit weet nie’ oorweeg, sy nooit vrede sal hê nie, en definitief geen toekoms sal hê nie.
“Dit is reg met my.”
“Die persone wat jy in persoon ken wat deel van die ‘Bond’ is, is ek, Koot Froneman en dokter Jean Roux. Hier in die land is verskeie ander persone waaronder regspersone, lede van SAPS en baie ander instansies, en so ook in die buiteland. Hermann Helder, Bernhardt Crafford en senator D’Artnel Baker. Jy kan verseker weet, jou verlede, sowel as waar jy is, en wie jy voorheen was, nie aan enige persoon oorgedra sal word nie.”
Zuluika voel geen verbasing nie, nou maak Bernhardt en die senator se optrede vir haar sin, hul welwillendheid, hul ‘amper’ verstaan van haar.
“Hulle het van die oomblik wat ons in gesprek met Hermann gegaan het oor ʼn geleentheid vir jou, Hermann onmiddellik gevra om jou na Corvallis te bring.”
“Het hulle gesê waarom?” en die besef van die ondersteuning van hulle, toe sy op so ʼn laagtepunt was, bring ongekende vreugde in haar.
“Hulle het geglo jy is die regte persoon, wat nie net die hospitaal sal kan ondersteun nie, maar ook die gemeenskap, die studente en spesifiek die senator se seun.”
“Wat bedoel oom Joos, wat was verkeerd met D’Artnel?”
“Persoonlikheidsprobleme, iets wat ʼn mediese dokter sal beperk in sy werk met pasiënte, in sy volstaan van sy plek in ʼn gemeenskap.”
“Hy was skaam, onseker, maar hoe kon ek na tien jaar in gevangenisskap sy seun help?”
“Alles wat ons van jou weet Zuluika, verteenwoordig moed en krag wat selde in mense gevind word. Dink aan wat jy deurgemaak het, en sê my met eerlikheid vandag, jy is nie ʼn vegter nie, nie iemand is wat kan uitstyg bo dit wat ander mense soms na selfmoord dryf nie. Hy het geglo, in jou soek en veg om weer as vry mens te leef, gaan jy die krag wat jy het nie net gebruik nie, maar uitstraal na ander.”
Hy kyk na haar, glimlag en sê, “Hy was reg, nê nooi? Blykbaar is die jonge D’Artnel nie meer skaam nie, sommer alleen voor ʼn geweldige groot gehoor gesing,” en die lag bly in sy oë, “Jy het ʼn verskil gemaak nooi, die groot verskil waarvoor nie net D’Artnel gehoop het nie.”
Zuluika kyk na hom, beleef die mense in die berge se warmte vir een oomblik, “Dankie oom Joos, en wanneer jy weer met senator D’Artnel praat, sê hom ek waardeer sy vertroue.”
Hy kyk lank na haar, “Ken jy ʼn Mauritz Melville?”
Die uitdrukking van vreugde-skok op haar gesig is die antwoord, “Hermann het laat weet Mauritz het hom meer as een keer gekontak, en naby trane gesmeek vir ʼn kontak nommer vir jou.”
Zuluika kyk na Joos, voel die vreugde, weet sy moet nou koelkop wees, nou haar gevoel vir haarself hou, maar haar stem dra die vreugde, en Joos hoor dit, “Dankie vir die nuus, ek ken hom baie goed, hy is ʼn besondere mens, iemand wat so baie bygedra het tot my herstel. Sê dankie vir Hermann vir die stilswye, vir nou is dit die beste.” Joos sien die skadu in die onmaats oë, besef die onderwerp is afgesluit, en hy berus.
Haar stem kom sag, hy hoor die emosie, en hy weet, Mauritz Melville is ʼn baie gelukkige man, “Indien oom weer met Hermann praat, vra hom om vir Mauritz te sê dit gaan goed met my, en ek stuur groete, indien Mauritz weer skakel.”
“Ek sal nooi.”
“Dankie oom Joos. Ter afsluiting van die gesprek oor die ‘Bond’, ek aanvaar wat gedeel is in die gees wat dit gedeel is. Gee my net die versekering dat die ‘Bond’ geregtigheid najaag, en nie in enige onwettige dade betrokke is nie.”
Met die skud van sy kop kom dit eerlik, “Hulle is skoon Zuluika, werklik skoon,” en dit is ook genoeg vir Zuluika.
“Noem dit nooit weer nie oom Joos,” en daarmee is die gesprek afgehandel.
“Goed kom ons kyk na die feite wat wel bekend is rondom jou saak. Eerstens dit wat bevestig is oor die twee jong mans. Ons het ʼn opname ontvang waar hulle as lede van die ver-regse groep, ʼn eed aflê, om nie net met geweld op te tree teen persone wat buite hul ras trou nie, spesifiek wit, swart en bruin, maar om persone wat die ‘reinheid’ van die blanke ras skaad, uit te roei.”
Zuluika het oor die jare geglo niks kan haar meer skok nie, maar die woorde tref haar waar dit seer maak, daardie deel van haar wat sy toegesluit hou, daardie deel waar sy nog aan goedheid in die mens wil glo.
Joos sien die emosie op die bleek gesiggie, hy weet, hierdie is seermaak waarhede, waarhede wat haar onthou op ver vergane paaie laat loop. Hy voel haar pyn, maar hy weet, hierdeur moet sy self worstel, niemand behalwe Zuluika Zuess ken die feite van die dertien jaar in ʼn huis waar net kleur gesien was nie, en hy laat haar vir eers alleen in sy kantoor, stap uit en gaan staan buite sy kantoor met sy eie hartseer.
Met die terugstap vra hy, “Is jy reg om voort te gaan nooi,” hy weet indien sy nie is nie, is die gesprek vir vandag eers verby.
Zuluika knik haar kop, “Ek is reg hiervoor, was nie die afgelope jare nie, maar die maande in daardie wonderlike plek het my soveel krag en geloof gegee. Ek wil die gemors van my verlede opklaar en aangaan oom Joos.”
Hy weet die volgende feite gaan haar platslaan, maar hy druk deur, “Ons is in besit van ʼn opname waar die twee jong mans, en verskeie ander jong mans toekennings ontvang, vir ʼn ‘taak wat goed gedoen is’. Ons glo dit gaan moontlik oor wat met Rudolph gebeur het, daardie bewyse is iewers Zuluika, en ons moet dit vind.”
Zuluika voel die paniek in haar opwel, en dit is die woorde van Thobile wat haar terug dwing na hierdie oomblik van waarheid, ‘Haal diep asem Zuluika, haal diep asem’. Sy blaas die lug sag deur haar neus uit, terwyl sy met geslote oë probeer om ʼn houvas op haarself te kry.
Sy vra dit met geslote oë, “Is Ziegfried Cordier by die groep betrokke?”
“Hy was definitief gekoppel aan die groep, maar dit was ʼn baie lang tyd gelede. Daar is geen bewys van betrokkenheid by die faksie vanaf minstens tien jaar voor Rudolph se aanval nie, ook nooit weer daarna by enige aksie of byeenkoms van die groep nie.”
Joos haal verskeie dokumente uit die lêer en gee dit vir Zuluika, “Daar is genoeg bewyse in die dokumente wat die groep verbind aan verskeie dade wat uitgeloop het op totale chaos oor die jare, hulle is daarop uit om tweespalt tussen wit en swart te bewerk en te versterk.”
Zuluika kyk na die dokumente in Joos se hand en skud haar kop, “Ek wil dit nie lees nie dankie oom Joos, wat jy sê is genoeg vir my. Wat moet ek doen?”
“Eerstens moet jy elke woord en aksie wat jy kan onthou, vanaf die aand wat julle aangeval is, die insident voor die Hooggeregshof, die hofsaak, enige iets wat ooit in die gevangenis oor jou saak gesê is, neerskryf.”
“Hoe sal dit help?”
“Ons is seker, iewers in die woorde, of die dade, is daar ʼn leidraad wat ons nog nie gekry het nie.”
Zuluika voel die vrees in haar groei, ‘kan sy daardie pyn weer herleef?’
Sy staan op, weet dit is genoeg vir vandag, sy weet, sy moet vir eers uit hierdie kantoor en atmosfeer kom. Sy huiwer by die deur, “Is daar enige iets anders oom Joos?” Hy skud sy kop, “Nie nou dadelik nie nooi.”
“Ek gaan terug plaas toe, ek sal dit daar gaan skryf en terugbring sodra ek klaar is.”
Hy druk haar een oomblik teen hom vas, en laat haar gaan.
Sy stap uit die somberheid van die gebou die sonlig in, voel die hitte op haar gesig en dwing haarself om tot kalmte te kom.
Sy stap oor die straat na waar sy Nate en Joe sien koffie drink en gaan sit by hulle, steek haar hand in die lug en wys die kelner om vir haar ʼn koppie koffie te bring, en hulle laat haar begaan, weet sy is ontsteld, weet sy sal praat sodra sy beheer oor haar emosies het.
Sy voel die benoudheid verdwyn, voel die sekerheid oor wat haar te doen staan, eers die verklaring skryf, die plekke en mense opsoek wat die spoke uit haar verlede verteenwoordig. Hulle in die oë kyk, vergewing vra, en vergewing gee waar nodig, maar sy soek antwoorde, en dit moet haar primêre doel wees.
Sy lig hulle in oor wat Joos haar meegedeel het, sien die skok ook op hulle gesigte. Deel haar vrees dat sy die besonderhede vergeet het in die tien jaar, en Nathan steek sy hand uit en vat haar hand, “Jy moet die plekke gaan besoek nooi, die emosies weer beleef, dit is die enigste manier.”
Sy sien die begrip op sy gesig, weet hy is ook deur die teruggaan na sy verlede om vrede te vind, weet hy weet wat dit van haar sal neem, “Laat my eers probeer om alles wat ek onthou te dokumenteer voordat ek daardie pynlike pad stap.”
Hulle gaan terug plaas toe en Zuluika sonder haarself af in haar kamer, en begin die pynlike taak.
Wanneer Zuluika om drieuur deurstap na waar sy stemme hoor, voel sy tot ʼn mate tevrede met haar vordering. Vir nou het sy alles neergeskryf wat sy kan herroep, sy weet daar is definitiewe gapings in haar onthou van spesifieke besonderhede, spesifieke woorde, spesifieke dade.
Sy weet, dit is ook die skans wat haar geheue gebou het, om haar te beskerm teen die herleef van daardie pynlike ervarings. ʼn Skans wat moontlik net afgebreek kan word deur die besoek aan plekke en mense wat vir haar ongelooflike pyn gaan besorg.
Sy is aangenaam verras wanneer sy uitstap op die veranda om Laurie se ouers en skoonouers by Nathan te sien sit. Die omhelsing van haar, bring die ou hunkering na die ‘ken’ van ʼn eie moeder terug, maar sy weet, hierdie is nie ʼn gedagte vir vandag nie, dit sal moet wag.
Joyce, Nathan se verpleegster, en Joseph, bring vars koffie en toebroodjies, en dit bring ou herinneringe van haar kleintyd terug na Zuluika, en sy voel hoe sy tot rus kom.
Later na die vertrek van die mense terug na The Buttress, drink Zuluika, Nathan en Joe ʼn laaste koffie op die veranda, “Ek sal wel die plekke moet gaan besoek oom Nate, miskien sal ek iets onthou wat my nou ontgaan, wanneer ek op daardie plekke staan.”
Met sy hand op haar arm, en die pyn van sy eie onthou, “Dit is reg met ons Zuluika, ek glo ook dit is die enigste manier, en dit kom uit my ondervinding die afgelope maande. Daar was so baie wat ek vergeet het, wat die besoek aan spesifieke plekke vir my teruggebring het.”
Hy gaan een oomblik terug in sy onthou, “Die rampspoedige gebeurtenis die dag wat ek Matthew weggeneem het, het in my vergetelheid weggebêre gelê. Die dag toe ons as familie die tog berg-op gemaak het, het ek die gebeure weer beleef.” Sy sien die waterigheid in die blou oë, “Dit het nie net my geheue teruggebring nie, dit het my van ʼn geweldige skuldlas verlos. Ek het die reg en die verkeerd van my eie aksies onthou, kon myself in die oë kyk, en dit was die enigste manier hoe ek vrede kon vind.”
Zuluika kyk hom lank aan, “Tot waar moet die onthou wees oom Nate?”
“Tot by jou verste onthou my kind, halfpad terug sal geen rus en vrede bring nie. Jy sal terug moet gaan na jou eerste onthou, tot voor jy daardie plaas as kind verlaat het,” en sy erns maak ʼn indruk op haar, “Met net ʼn halwe waarheid, sal daar geen vrede wees nie.”
Zuluika hoor die waarheid wat reeds maande in haar draai, sy weet dit is van waar haar vrede moet kom, van die begin af, en sy is skielik ook reg daarmee.
Hulle vra haar waar sy wil begin, en sy weet, eers Rudolph se onreg regstel, voordat sy haar eie klein-dogtertjie seer sal aanpak, en hulle is ook reg daarmee.
Hulle besluit om reg te maak om ʼn paar dae op pad te wees. Om die volgende oggend deur te ry na Gauteng. Om eerstens die plek onder die brug in Johannesburg te gaan besoek waar Rudolph dood is, en wanneer daardie hartseer deurleef is, verder te besluit.

In die skadu van die berge neem Mauritz sy foon, en skakel Hermann Helder se nommer, ‘Miskien, net miskien is daar tyding?’
Hermann hoor die hartseer in die man se stem, weet alles van hom af, alles wat ou Friedrich hom meegedeel het, en hy kry hom bitter jammer, maar hy weet, Zuluika se veiligheid kom eerste.
Die stem dra steeds die verlorenheid van die vorige oproep, “Ek is jammer om te pla, maar ek moet weet, is daar enige nuus van Zuluika?”
Hermann waardeer die boodskap van Joos, maar ook vir die toestemming om die jong man gerus te stel, weer hoop te gee.
“Dit is geen pla nie Mauritz, en ja, daar is, sy het die volgende woorde vir jou gestuur, ‘Dit gaan goed met haar, en sy stuur groete vir jou’.
Hy hoor die sug, “Kan jy my nie net help om met haar te praat nie asseblief?”
Hermann neem ʼn besluit, ʼn besluit wat hy glo ook reg is vir Zuluika, “Mauritz, net jy is die een wat weet wat die verhouding tussen julle is, klou vir nou daaraan vas, indien dit is wat jy wil hê.”
“Sy het gesê sy kom terug.”
“Jy moet dit glo, met jou hele hart.”
“Wat is verkeerd met Zuluika, is sy siek, sê my net want ek weet sy het ʼn dokter in Corvallis gaan spreek.”
Hermann is effens uit die veld geslaan, “Nie wat ek van weet nie, was dit nie maar net mediese sake nie?”
Mauritz weet nie waarom nie, maar hy weet die man aan die anderkant van die oproep is ʼn vriend, iemand wat hy kan vertrou, “Ek weet nie, maar ek is so bang ek het haar vir altyd verloor.”
Hermann hoor die vrees, “Mauritz luister na my, dit wat Zuluika teruggeneem het na waar sy nou is, is so ontsettend belangrik, so belangrik dat dit met geen een gedeel kan word nie. Dit is vir haar beswil en veiligheid, sal jy asseblief net geduldig wees, en vir haar wag.”
Mauritz voel hoe die vrees hom wurg, ‘Here, my Here asseblief, hou U hand oor haar’.
Hy neem ʼn besluit, “Indien jy ʼn boodskap na haar kan kry, sê ek verlang en ek wag vir haar.”
“Ek sal, en ek sal met jou praat wanneer ek geregtig is om jou enigiets te laat weet, ek beloof.”
Die ‘dankie’, is ʼn gesmoorde woord, want Mauritz bars in trane uit.
Hermann Helder druk die foon dood, nie by magte om na die verdriet te luister nie, en hy smeek sy God om redding te bring vir die twee mense.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed