Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 14

Hoofstuk 14 – Terug na Onthou

Hulle ry vroeg oggend na Pretoria, en gaan tuis by die Castle Ridge Gastehuis. Hulle ry deur na die middestad en ontmoet Lize vir middagete by Cafe Riche, en lig haar in oor hul voorneme.
Lize kyk na Zuluika, sy sien die vasberadenheid, maar ook die vrees en hartseer. Sy weet vandag, en dit wat gedoen moet word, gaan ʼn geweldige pynlike en hartseer pad wees. Geen mens kan gaan staan waar jou geliefde so wreed vermoor is en nie dieselfde, en meer leed as daardie dag ervaar nie.
Sy vat Zuluika se hand oor die tafel, kyk haar in die oë, en sê met die hartseer duidelik in haar stem, “Ek weet dit gaan ʼn pynlike ondervindinge wees, weet net, dit kan moontlik help om ʼn einde te maak aan die nagmerrie wat berusting en geluk onmoontlik maak.”
Zuluika knik haar kop in erkenning, sy weet net nie of sy sterk genoeg hiervoor sal wees nie, maar sy weet ook, sy sal alles in haar vermoë doen om op ʼn punt te kom waar sy weg kan stap van haar verlede se seer.
Om vyfuur ry hulle deur na die Johannesburg Teater waar Rudolph daardie aand as dirigent opgetree het saam met die Johannesburg Filharmoniese Orkes.
Hulle eet om agtuur ʼn ligte ete by die News Cafe in die sentrum, om Zuluika geleentheid te gee om haarself voor te berei vir die herroep van die pynlike ervaring wat sy weer vanaand gaan herleef.
Dit is reeds na nege wanneer hulle uit die teater se parkeerarea ry en Zuluika is verbaas wanneer sy amper foutloos vir Joe verduidelik hoe om te ry, ‘Links in Simmonds, weer links in Jorissen en hou links in Loveday’, ʼn pad wat hulle so baie saam gery het.
Wat haar egter opval, is die verhoogde verkeer vanaand, nie dieselfde as daardie noodlottige aand nie, daar was so ontsettend min verkeer.
Wanneer sy aandui hy moet links in Hoofstraat indraai, voel sy die spanning in haar opbou, en wanneer hy in Mellestraat indraai, sien sy die stopteken waar hulle moes wag voor hulle kon opdraai in Empireweg. Sy sien die hoek by die verkeerslig, voor hulle op na Jan Smutslaan sou gaan, sy onthou die lig was rooi en hulle moes stilhou, en die spanning wil haar versmoor.
Joe stop die viertrek, sit die waarskuwingsligte aan, klim uit, maak die dubbelkajuitdeur agter die drywer sitplek oop en haal iets uit.
Sy voel Nate se warm hand een oomblik sag aan haar skouer vat voor hy uitklim en na Joe stap.
Sy sien hulle in die kantspieëltjie stap tot onder die straatlig voor die brug begin, Joe wat die driehoek waarskuwingstekens uit die sak haal, en in die pad opstel.
Sy klim uit die voertuig, stap voor om die voertuig tot voor die sypaadjie waar Rudolph meer as tien jaar gelede dood gelê het.
Sy sien sy naam op die granietplaat teen die brug se pilaar, en by die aanskou van sy dierbare gesig agter die glas, breek haar weerstand, en vir die soveelste keer huil Zuluika Zuess oor hom wat so wreed van haar weggeneem is, en sak sy neer op haar knieë, op die rand van die sypaadjie waar hy sy laaste oomblikke geleef het.
Wanneer sy haar oë toemaak is sy terug in daardie aand se donker, voel sy die groot skoen op haar rug haar vastrap op die vuil sypaadjie. Draai sy haar kop, sien sy Rudolph lê, sien sy die donker figuur oor hom buk, die lag op die grynsende gesig wanneer hy na haar kyk, soos in die stadige herspeel van ʼn film, sien sy die pistool teen Rudolph se kop, hoor sy die skoot, sien sy Rudolph se vegtende liggaam neerval en bewegingloos bly lê.
Sy sien die figuur iets uit sy jas sak haal, sien hoe hy Rudolph se liggaam op sy rug draai en hoe hy sy lyf tussen haar en Rudolph posisioneer.
In hierdie oomblik van waarheid weet Zuluika, daardie mens het iets gedoen wat hy haar nie wou laat sien nie, en sy weet nou, dit wat hy gedoen het, is die een feit wat die boosheid sal kan oopmaak en staaf.
In die stilte, kom die woorde wat die jong man gesê het, en dit gaan soos ʼn baie ou pyn deur haar gedagtes, maar vanaand hier langs sy foto slaan haar gedagtes vas na die eerste paar woorde en weier haar brein om die woorde van disrespek en haat te vorm, “So het nog ʼn…”
Sy sak vooroor, sit haar voorkop op die sypaadjie neer, en sy huil totdat sy nie meer kan nie, “So het nog ʼn…” beteken daar was ander voor Rudolph, dit en wat in daardie minute na die skoot gebeur het, is die bewys dat dit ʼn voortsetting van ʼn beplande daad van geweld was, nie ʼn ‘op die verkeerde plek, op die verkeerde tyd’ toeval, soos regter Gert Roestof dit afgemaak het nie.
Joe tel haar uitgehuilde lyfie op, hou haar vas in sy arms sodat sy haar hart kan uithuil teen haar vriend se bors.
Hy tel haar in die agterste sitplek in en Nathan skuif langs haar in, vat haar om die skouers en trek haar teen hom vas, “Huil my kind, laat die trane die seer weg was, ons is hier by jou.”
Die rit terug Pretoria toe verloop in stilte, die kyk van Joe se oë in die truspieëltjie en die sagte hand van Nathan op haar arm, dra die boodskap ‘Ons is hier vir jou’.
Nathan hou haar hand vas wanneer hulle opstap na hul kamers op die eerste vloer wat uitkyk op die pragtige swembad en tuin. Joe maak vir hulle elk ʼn beker koffie, en hulle gaan sit op die stoepie voor die gastehuis se kamers in die donker, met net die maan en die sterre se lig.
Zuluika voel die vrede wat die stilte bring, die gerusstelling wat die twee mense bring, en sy hoor Thobile se woorde, ‘Jy moet die skans wat jy om jou gebou het, van binne afbreek en hulle wat jou liefhet inlaat’, en sy weet sy wil, want sy is nie sterk genoeg om verder alleen die pyn te dra nie.
Sy sê dit sag maar duidelik, “Dankie vir vandag, en veral vir vanaand. Dit was pynlik, maar dit was wat ek moes herleef. Dit het my teruggeneem na iets so ongelowig pynlik, maar my twee dinge laat onthou wat my geheue ontwyk het die afgelope tien jaar, feite wat belangrik was en steeds is.” Die twee wag geduldig, hulle het al die tyd wat nodig is vir haar om te onthou, maar veral vir haar om te genees.
Sy sê dit wat deur haar gedagtes onder die brug gegaan het en sy voel vry, “Daar was twee dinge wat so helder vanaand was, iets wat gesê is, en iets wat gedoen is. Hy wat my vasgedruk het, het duidelik die woorde, “So het nog ʼn…” gesê, en dit beteken daar was ander voor Rudolph.”
Haar gedagtes loop terug, “Nadat Rudolph geskiet is, het hy wat die sneller getrek het Rudolph op sy rug gedraai, iets uit sy sak gehaal en tussen my en Rudolph in beweeg om iets wat hy gedoen het te verbloem. Daardie twee dinge wat ek vanaand onthou het, is die bewys dat dit ʼn voortsetting van ʼn beplande daad van geweld was, nie ʼn ‘op die verkeerde plek, op die verkeerde tyd’ toeval, soos regter Gert Roestof dit afgemaak het nie.”
Albei weet, vanaand se pyn was nodig vir die genesing wat gaan kom deur die onthou en die oopmaak wat albei voel naby is.
Hulle sê nag, en Zuluika gaan deur haar roetine, maar vanaand sak sy op haar knieë voor die bed neer, vanaand weet sy, gaan sy probeer teruggaan na haar Here, van hier af wil sy met Hom praat, na vanaand se ondervinding weet sy, ‘haar Here sal haar vergewe’, en sy voel ʼn diepe berusting.
Sy klim in die bed, draai op haar sy, raak aan die slaap, die angstigheid is weg, daar is ʼn rustigheid in haar, en dit is Rudolph en Mauritz wat sy sien.

Haar selfoon lui voor ontbyt. Sy sien Laurie se naam op die skerm en daar is oombliklik ʼn warm gevoel in haar, “Hallo, hoe gaan dit?” Kom dit oor die foon en sy weet, dit gaan beter as gister en sy sê dit vir haar.
Laurie se kommer oor die vorige aand se ondervinding is duidelik, “Eerlik Zuluika, hoe voel jy, moet ek nie maar ook deurkom Pretoria toe nie? Net daar by jou wees vir ʼn tyd?”
Zuluika weet sy begeer dit meer as enige iets, maar sy weet Laurie se tyd is so beperk tussen die kliniek wat gebou word, haar mediese spreekure, en haar tyd met haar gesin, en sy sê haar dit.
Zuluika herhaal dit wat sy die vorige aand vir Nathan en Joe vertel het, en Laurie stem saam, dit beteken definitief wat Zuluika glo, en dit is pynlik maar bemoedigend.
Hulle gesels nog ʼn rukkie en Zuluika sê sy gaan die Hooggeregshof vandag besoek, net gaan probeer onthou wat daardie dag gebeur het.
Laurie voel die ontsettende hartseer in haar, voel steeds die verwyt omdat sy die pistool wat Jonah geneem het om die daad te pleeg, net weggeklap het en nie weggeneem het en weggebêre het nie.
Zuluika hoor die verwyt, en vir die soveelste keer sê sy weer, “Laurie wat ek gedoen het, het niks met Jonah of jou daad te doen nie, ek was op daardie oomblik van my sinne beroof, en ek moet weer gaan onthou waarom? Asseblief maat, moet nooit weer jouself verwyt nie.”
Laurie is een oomblik stil, “O ja amper vergeet ek, Joos het gevra wanneer ek met jou praat moet ek jou sê Hermann Helder het geskakel.”
Zuluika voel hoe sy haar asem ophou, “Hy sê Mauritz Melville het gebel en gesê hy moet die volgende woorde vir jou deurstuur, ‘Hy sê hy verlang en hy wag vir jou.’
Zuluika voel hoe die opgekropte hartseer te veel vir haar word, en snikkend kom die woorde, “Ek het hom so lief, maar daar kan niks van kom nie.”
“Hoekom nie maat?”
“Hy is ʼn predikant, ʼn Godsman, en ek het gemoor. Hy sal my verag as hy weet wat ek gedoen het.”
Dit kom vinnig en vertroostend van Laurie, “Maat weet net, daar is reeds soveel vergifnis oor daardie daad. Ek glo as hy jou liefhet, en weet wat gebeur het, sal hy jou nie net vergewe nie, maar hy sal jou liefhê tot aan die einde van die wêreld.”
Laurie wag een oomblik vir Zuluika om in te neem wat sy gesê het, “Maatjie jy moet net glo al die mense, en God, het jou reeds vergewe, jy het al soveel geboet vir die daad wat deur iemand anders se haat voorafgegaan is.”
“Ek wil dit so graag glo, maar ek is so bang.” Kom dit in trane van Zuluika.
Met die laaste bietjie verweer wat verkrummel, “Hy is verloof aan ʼn wonderlike mens, ek kan nie tussen hulle kom nie.”
“Maat, iets het verander, sal hy wat opreg is, sê, ‘Hy verlang en hy wag vir jou’.”
Zuluika hoor dit en sy gryp na die grashalm, maar in haar bly die onsekerheid, “Dalk bedoel hy dit in ʼn vriendskaplike sin.”
“Klou aan die woorde tot jy kan gaan uitvind, moenie moed opgee nie. Ek het amper opgegee, en dit sou my en Matthew se geluk totaal vernietig het.”
Zuluika weet dit is waar, en sy bid vir krag om vas te hou aan haar hoop om naby Mauritz te wees, “Dankie maat, ek sal myself elke dag herinner aan jou woorde en daaraan vashou. Ek verlang verskriklik na hom, het hom so ongelooflik liefgekry, maar tot die saak waaraan ons werk nie uitgesorteer is nie, kan ek nie na hom toe gaan nie, kan ek nêrens heen gaan nie.”
“Ek weet, bly jy net sterk en bel my enige oomblik, ek sal enige tyd deurry na jou toe indien jy my nodig het.”
“Dankie maat.”
“Sê asseblief groete vir my pa en vir Joe.”
Met die totsiens sê, bly die hartseer, maar in albei is daar vandag die wete, ‘Iemand anders het al die hartseer en haat veroorsaak, hulle was net pionne in daardie bose spel’.

Indien sy nog getwyfel het of sy sterk genoeg sal wees om voor die Hooggeregshof te staan, daar waar sy die onbesonne daad gepleeg het, is die oortuiging met die aansit aan die ontbyttafel in haar, “Kan ons vanoggend die Hooggeregshof besoek, ek het daardie onthou vandag nodig?” en hulle is reg daarmee.
Hulle ry met Rigellaan in stad toe, en Zuluika besef hoeveel dinge verander het, sien die kantore van SARS aan hul regterkant wanneer hulle Magnolia Dal nader, sy herroep die pad wat regs draai uit Rigel, op na die Afrikaans Hoër Seuns- en Meisie skole, en Loftus, tot daar by die universiteit, en vandag is dit ʼn gelukkige onthou.
Hulle draai links weg deur Sunnyside, en sy onthou elke draai asof sy dit steeds daagliks gery het, en die bekende wanneer Joe voor die ou Hoofposkantoor gebou parkeer, bring een oomblik se seer. Sy bly een oomblik sit, probeer haar gedagtes orden, kry krag vir die uur wat voor haar lê, en klim uit die viertrek.
Hulle stap terug na Madibastraat en Nathan hou haar hand vas, net eers vashou aan die krag wat sy hand se warmte bring.
Hulle stap oor Madibastraat, sy sien die plaveisel, sy probeer die toneel drie dae na daardie helse nag, voor die gebou herroep, en sy sluit haar oë.
Sy hoor die geluid van metaal wat val op die plaveisel, sy voel haarself afbuk en die pistool optel, sy voel die sproei van die spoeg teen haar gesig, en die woorde sag en dreigend, ‘Pasop jou kleurling ‘lover’, jy, en jou soort is volgende’.
Sy sien weer die gesig, so vol bravade, gevul met soveel disrespek, sy hoor die klap van die pistoolskoot, voel die spoeg weer teen haar gesig van die tweede persoon, hoor sy woorde, ‘Dit was lekker om hom te sien vrek’, en sy voel hoe haar hand saamtrek, en sy kyk na haar hand hier tien jaar later, en sy kan steeds vandag nie glo, sy het daardie skote gevuur nie, maar sy weet sy het.
Op hierdie oomblik pas die betekenis van die woorde in die antwoorde wat sy soek, ‘Die jong mans het nie net voorheen gemoor nie, hulle was trots daarop, en reg om weer, en weer, te moor’.
Sy maak haar oë oop, kyk op in Joe se gesig wat voor haar staan, sy hande gereed om haar te vang indien sy dalk ineenstort.
Sy vat sy hand met haar ander hand, draai na Nathan en sê gebroke, “Dit neem nie die verkeerd van my daad weg nie, maar hulle sou weer, en weer, gemoor het, en hulle was trots daarop.”
Nate trek haar in sy arms in, druk haar kop teen sy hart vas met daardie groot sterk hande wat haar vasgehou het toe sy so verlore was, en dit gee haar die krag wat sy nou nodig het.
“Kom ons gaan sien Lize, en gaan eet vanaand uit saam met haar, voor ons môreoggend huis toe gaan, ek weet wat ek wou weet. Nou moet ons die bewyse vind, nie soseer oor die moord nie, dit weet ons, maar in wie se opdrag hulle gemoor het.”
Sy kyk Nate lank in die oë, “Ek weet nie of die tien jaar in die gevangenis en al die red van lewens wat ek nog wil doen my skuld sal wegvat nie oom Nate, maar wanneer daardie skuld my vasdruk, wil ek elke keer onthou, dit wat ek gedoen het, moontlik ander mense, soos ek en Rudolph, se lewens gered het.”
Hy druk haar vas, “Moet dit nooit betwyfel nie my kind, nooit nie, jy het.”
Hulle stap oor Kerkplein na Lize se kantoor, drink koffie by haar, en Lize is openlik aangedaan wanneer Zuluika die woorde herhaal wat bevestig dat die jongmans weer, en weer sou moor, die wete wat nou daardie ewige verwyt in Zuluika kan wegvat.
Sy ry saam met Lize direk na Ga Rouge Restaurant waar hulle ʼn ete sal nuttig, terwyl Nate en Joe hulle volg.
Die rustige atmosfeer met die dekor wat perfek inpas by die pragtige woning uit die vroeë negentien honderd, bring ʼn rustigheid by al vier.
Hulle gesels oor Laurie, Matthew en al die gebeure wat Nate en sy familie so na aan mekaar gebring het, en Zuluika voel weer die ‘verlange’ na ʼn ma van haar eie.
Nathan vertel hulle alles rondom Laurie en Matthew se troue, die wonder oor die terugkry van sy gesondheid, van sy gesin, en die geskenk van die kry van twee kleinseuns wat hy so begeer het.
Joe voeg die klein dingetjies wat op die troue gebeur het by, en Zuluika en Lize waardeer die deel van die besondere geleentheid deur die twee mans se vertelling, en dit vat Zuluika se gedagtes weg van die hartseer wat sy weer beleef het in die afgelope twee dae.
Wanneer sy en Lize na ete voor die restaurant afskeid neem, is die trane daar, maar albei weet, gelukkiger dae lê voor.
Om tienuur die volgende oggend vertrek hulle terug plaas toe. By Villiers stop hulle vir koffie, en Zuluika se woorde vang die twee mans effens onkant, maar hulle aanvaar dit met die instemmende knik van hulle koppe, “Ek wil in die nabye toekoms terugkom Villiers toe, ek wil die twee moeders van die jong mans kom besoek, kom vergifnis vra.”
Albei weet, Zuluika dra geen wrok nie, al is elke besitting wat sy en Rudolph ooit besit het deur regter Gert Roestof aan daardie twee vroue gegee, is Zuluika reg daarmee.
Hulle word met warme vriendskap deur Selma en Laurika voor die huis ontvang, en Zuluika veroorloof haarself die genot van die twee vroue se meelewing vir die volgende drie dae voordat sy ʼn besluit neem oor haar volgende stap.
Nate ry saam met Selma en haar mense deur na Emafweni en Zuluika en Joe gaan besoek Joos. Sy gee hom haar notas en hy sien die woorde wat onderstreep is, hy weet Zuluika is besig om die woorde wat haar moontlik geteister het, of wat sy vergeet het oor die afgelope tien jaar, se ware betekenis te verstaan.
Sy deel haar voorneme om die twee vroue sowel as regter Gert Roestof te gaan besoek. Hulle sien die vasberadenheid in die onpaar oë, hulle weet sy is reg vir enige iets wat dit sal vra, nie net om hulle in wie se opdrag gemoor is te vind nie, maar om vrede vir almal te bring.

Met Selma en Laurika se terugkeer vanaf Emafweni, kuier sy vir twee dae tussen die twee plase by hulle, geniet sy die twee moeders se aandag en liefde. Sy besef, die begeerte om te weet wie haar eie moeder was, is iets wat ʼn ‘aanhoudende gedagte’, by haar geword het oor die afgelope paar maande.
Sy skakel Joos en vra hom waar sy regter Gert Roestof kan gaan spreek, en hy gee haar die plaas naby Lady Grey in die Oos Kaap se besonderhede. “Neem die R26, dit is ongeveer sewe ure se ry van julle af, nooi.”
“Moet ons hom eers kontak voor ek ry?”
“Nee, jy kan maar ry nooi, hulle sal tuis wees, ons praat gereeld, en ek weet hulle is daar.”
“Sal hy my ontvang oom Joos?”
Hy verseker Zuluika, want hy weet hoe nodig Gert Roestof Zuluika se vergifnis het om self weer aan te gaan. “Hy sal nooi, hy sal dankbaar wees. Jy weet hy het die afgelope jare deurgaans saam met ons aan jou saak gewerk, hy glo vandag wat ek en jy glo.”
Sy hoor weer die woorde oor daardie mens wat sy vir tien jaar nooit sou glo nie.
“Wanneer sal jy gaan?”
“Ek glo binne die volgende twee weke. Ek en Joe gaan môre deurry Villiers toe. Ek is reg om die twee moeders in die oë te kyk, ongeag die verwyt wat daar vir my mag wag.”
“Daar is geen verwyt nie nooi, hulle het honderde briewe oor die tien jaar geskryf as vertoë tot jou vrylating, hulle wag ook vir jou.”
Sy en Joe ry vroeg die volgende oggend Villiers toe. Wanneer hulle oor die Patrill spruit ry, hoor sy die Kaapse Aasvoël skree, in haar gedagtes kom die woorde ‘die kleine Kolbe’, en sy verlang na oom Louis, en sy weet hy sal die pad wat sy loop goedkeur.

Hulle gaan tuis by die Waterfront Country Lodge, ongeveer vyf kilometer van haar en Rudolph se woning. Hulle het reeds besluit, hulle sal nie na die besoek vandag terug plaas toe ry nie.
Voor hulle van die gastehuis vertrek, neem Joe haar hand in sy groot hande, “Ek is bly ons oornag hier Zuluika, jy moet jouself die geleentheid gee om nie net vergifnis te vra nie, maar om afskeid te neem van die woning waar jy so gelukkig was. Jy moet tyd neem, want jy het nie net vergifnis nodig nie, maar ook afsluiting voordat jy reg sal wees om hiervandaan verder te gaan.”
Zuluika kyk na hom, en sy weet, hierdie man het deur die jare wat hy Nate dag en nag versorg het, soveel pyn en hartseer gesien, hy verstaan die vertwyfeling in haar.
“Dankie vir jou verstaan en ondersteuning Joe.”

Sy sien die pragtige grasdakhuis wat Rudolph vir hulle laat bou het, en die trane val uit haar oë. Joe bring die viertrek tot stilstand, neem haar hand en laat haar om in stilte haar balans te herwin.
“Dankie vir die verstaan Joe, jy kan maar verder ry.”
Sy sien die amper honderd meter rivier front aan die anderkant van die groen grastapyt. Sy hoor Rudolph se woorde die eerste dag toe hulle na hulle huis kom kyk het, ‘Ons halwe eiland blyplek my lief’, en die seer oor die skamele vier maande wat hulle hier gewoon het, pyn in haar, maar sy weet, vier wonderlike maande.
Hy hou stil voor die plaveipaadjie wat oploop na die groot stoep, druk haar hand en sê, “Ek sal wag tot ons weet hulle is hier en jy vir my wuif. Ek sal by die Lodge wag totdat jy bel om gehaal te word, maar Zuluika, neem jou tyd.”
“Dankie Joe.”
Sy stap die pad op na die huis, sien die pragtige plek soos sy dit onthou, daar is geen hartseer nie, geen verwyt oor die verlies daarvan nie.
Die oopswaai van die deur dwing haar tot stilstand, en sy wag. Die twee vroue stap tot voor haar, en drie vroue van wie lewens geneem is, het vir een baie lang oomblik geen idee hoe om hierdie oomblik te hanteer nie.
Sy staan voor hulle, hartseer en alleen, en sy vra in daardie pragtige stem wat breek, “Sal julle my vergewe vir wat ek van julle weggeneem het, ek het nie reg tot wraak gehad nie, dit het ek toe geweet, en ek weet dit vandag, ek was so verskriklik verkeerd.”
Hulle stap vorentoe en hulle vou haar in hul arms toe, en hulle vra albei, “Sal jy hulle twee vergewe vir die een wat hulle van jou weggeneem het.”
Die trane is spontaan, en huil drie mense wat so geweldig baie pyn beleef het hulle hartseer teen mekaar uit, en die vergifnis is in die trane.
Hulle hou haar tussen hulle, dwing haar met pleitende oë saam met hulle, “Kom asseblief na binne,” en sy stap gewillig tussen hulle die huis in.
Die sien van haar en Rudolph se herinneringe, bring haar tot stilstand, sy weet, niks het verander nie, alles is dieselfde, die meubels, die matte, die ornamente op die kaggel, alles.
Die stem is gebroke, “Ons het niks verander nie, ons het al julle goedjies vir jou bewaar.” Met die aanskou van die klavier is Rudolph by haar in die vertrek, Zuluika klou aan daardie beeld, bars in trane uit en voel die duisternis oor haar kom. Hulle hou haar vas, hou haar hier waar Rudolph nog so voelbaar is. Hulle trek haar teen hulle vas, troos haar soos ʼn moeder sou doen, en sy huil haar hartseer teen hulle warm skouers uit.
“Sal jy koffie drink asseblief, ons het ʼn koek vir jou gebak.” Sy knik haar kop, weet Joos het hulle laat weet van haar koms, en dit is reg met haar.
Hulle sit stil bymekaar aan die kombuistafel, haar en Rudolph se kuierplek wanneer hulle hier was. Sy drink koffie uit haar en Rudolph se bekers, eet die heerlike wortelkoek uit haar en Rudolph se bordjies, met hulle koekvurkies, en sy voel die vrede in haar, ‘Hy is nog so voelbaar hier vir haar’.
Die twee vroue sien die heimwee in die oë, oë wat hulle onkant gevang het daarbuite, maar nou hier met haar wat openlik deur soveel emosies gaan, besef albei hoe geweldig uniek die mensie is, en die hartseer oor die leed wat hulle kinders haar en haar geliefdes aangedoen het, breek hulle harte.
Marie Roux steek haar hand uit en vat Zuluika se hand vas. “Ons het al julle goedjies gelos soos ons dit gekry het. Ons beskou julle huis, en julle goedjies, nie as ons eie nie, ons pas dit vir jou op, jy kan enige tyd terugkom en julle eiendom terugneem.”
Zuluika voel en sien die twee vroue se hartseer, weet hulle het reeds deur soveel verwyt gegaan, weet sy wil dit wegneem. “Nee, die huis, en alles wat hier is behoort aan julle twee. Indien julle voel dit is onregmatig vir julle gegee, vra ek vandag, neem dit as ʼn geskenk van my, ek wil dit vir julle gee, neem dit asseblief en probeer gelukkig wees, ek en Rudolph was.”
Hulle trane val op die pragtige geelhout blad, Zuluika staan op, stap om die tafel en omarm die twee vroue wat snikkend haar hande vashou. Hulle bly staan, ses hande ineengestrengel, drie koppe teen mekaar in hartseer, maar in dankbaarheid vir die vergewing en genade.
Die rustig sit met net die geluid van die bekers wat opgetel en neergesit word op die houtblad, bring die rus wat al drie voor gebid het.
Julia de Swart sê dit met deernis. “Dit sal ons soveel vreugde gee indien jy die dingetjies waaraan jy sentiment het sal saamneem. Die geskenkies wat julle twee in liefde vir mekaar gegee het.”
Zuluika knik haar kop in erkenning, sy weet sy wil, miskien nie vandag nie, maar iewers in die toekoms sal sy reg wees daarvoor.
Wanneer hulle die leë koppies op die wasbakrakkie neersit, vra Julia, “Sal jy saamstap deur die vertrekke en net weer kyk na julle dingetjies wat hier is?”
Die stap, die vat, die kyk, is vir al drie ʼn stap na genesing van hul vertrapte siele, en hulle rek dit uit, Zuluika vertel ‘van waar’ dit kom ‘waaraan dit gekoppel is’ en drie vroue lag en huil deur die saamwees ure.
Laatmiddag met die sit op die stoep en die kyk na die vloeiende rivier waar bote verbyvaar, en jongmense hul groetnis uitroep na die twee vroue vanaf die roeibootjies, weet Zuluika, die bly in hierdie huis van die twee mense wat net soveel pyn as sy beleef het, is reg, en sy weet sy is vry van die verwyt, hulle het haar in hierdie ure vrygemaak.
Sy bel Joe, vir nou is die ure van vandag genoeg, net dit, môre weer verder gaan, weet sy.
Zuluika stel Joe voor aan Marie en Julia en hulle druk hom teen hulle vas.
Met die groet vra hulle by die viertrek, “Sal julle twee asseblief môre middag by ons kom eet,” en sy en Joe knik instemmend.
Julia se stem laat Zuluika en Joe na haar kyk, “Daar is nog iets wat ons moet bespreek, maar ons sal dit môre middag doen voor julle vertrek.”
Zuluika kry die gevoel van onheil wanneer sy die twee vroue se gesigte sien, iets wat die mense in hul gemoedere saamdra laat hulle oud en vermoeid lyk, en sy voel die vrees in haar groei.
“Kom vroeg asseblief, sodat ons bietjie langer kan kuier,” vra Julia, en albei knik instemmend, hulle weet hulle wil dit doen.
Joe sien die vrees op Zuluika se gesig, druk haar hand sodra hulle ry, “Maat, moenie nou al spoke opjaag nie, kom ons wag tot môre.”
Sy en Joe sit tot laataand op die stoep voor hul kamers, hulle staar na die rivier waarop die maan se strale duisende ligstrepies maak, en albei stoei met die bekommernis wat môre kan oplewer.
Hulle gaan kamer toe, maar daar is geen rus vir Zuluika nie, net die beklemmende gevoel in haar.
Hulle boek uit na ontbyt, albei weet, na die kuier wil hulle plaas toe, huis toe.

Die kuier en die middagete gee vir Zuluika die gevoel van ‘behoort’, sy weet die ‘behoort’ is gekoppel aan die beleef van dieselfde pyn en hartseer, sy weet so jammer as wat sy is oor haar daad, so hartseer is hulle oor wat hulle kinders gedoen het, en dit is ook vir haar genoeg.
Die twee vroue kom sit op die rusbank voor Zuluika en Joe, dit is Julia wat begin praat, “Hierdie is die swaarste iets wat enige moeder kan sê, maar ek moet dit vir jou sê sodat jy vrede sal hê.” Zuluika sien die trane en sy voel die pyn van die vroue.
“Ons seuns was op die verkeerde pad, hulle het hulself laat vasvang in ʼn web van haat en geweld. Haat en geweld teen almal wat nie blank, blond en blou oë gehad het nie,” en die skok en pyn van die gehate woorde ruk Zuluika se ingewande sodat sy na haar asem snak. ‘Here, my Here, versterk U my asseblief vandag’, flits dit deur haar gedagtes, maar behalwe vir die knip van die oë, bly haar gesig uitdrukkingloos.
“Dit is ʼn ideologie wat van hul vaders kom, en wat ons huwelike ʼn lang tyd gelede vernietig het, want ons twee kon nie met soveel haat en geweld saamleef nie.”
Die twee vroue vat mekaar se hande vas, “Die seuns is as tienjarige kinders van ons gesteel deur hulle vaders, en ons het hulle in werklikheid net een keer gesien voor daardie noodlottige dag. Dit was die dag toe hulle by ons afgelaai was deur hul vaders, om ons te kom aanspreek oor ons sondes en ons onreinheid.”
Zuluika voel hoe die trane in haar opstoot, ‘Soos sy daar lank gelede aangespreek was oor haar sondes en onreinheid’, maar nou vat die deel van die gehate woorde die kleintyd hartseer weg, toe sy geglo het sy is die enigste ‘onreine’ mens in die wêreld, sy weet die onreinheid is juis in hulle wat daardie ideologie uitleef.
“Later het ons besef dit was die ‘vuurdoop of toets’, wat die seuns moes deurmaak om volwaardige lede van daardie gewetenlose faksie te word.”
Sy bly stil, staar ʼn paar oomblikke voor haar uit, en asof sy ʼn besluit neem, sê sy, “Ons kinders was van die duiwel besete, hulle sou enige iets doen vir daardie ideologie, hulle sou moor vir die ideologie, en hulle het.” Met die woorde in die ope is dit net Joe se stadige uitblaas van sy asem wat die stilte verbreek.
Marie staan op, hou Julia se hand een oomblik vas, laat gaan die hand wat haar die leed help dra, en stap by die vertrek uit na die kamers.
Die drie in die sitkamer sit in ʼn gevriesde stilte, nie by magte om enige emosie behalwe die skok in hulle te beleef nie.
Marie dra-sleep ʼn baie groot sportsak, en Zuluika voel die vrees in haar groei. Sy laat die sak voor hulle op die grond, en gaan sit langs Julia.
“Joe sal jy asseblief met jou selfoon ʼn video-opname maak van ons hier, van die sak, en die artikels wat ek uithaal. Daar moet geen twyfel wees oor die egtheid van wat in die sak is nie.” Joe staan verslae op, maar doen soos sy vra.
Sy trek die ritssluiter oop, en die klank dwing Zuluika terug na die hede, na die oomblik wat sy voel baie jare vir haar gewag het.
Sy haal ʼn A4 grootte koevert uit en sit dit op die koffietafel wat tussen hulle staan neer. Sy haal ʼn vierkantige pakkie uit wat toegedraai is in bruin papier en verseël is in plastiek. Zuluika sien die bruin papier waarin die houer toegedraai is, en dit is asof die onheil haar wil versmoor.
Sy haal twee groot liggroen plastieksakke uit, waarin tuinafval geplaas sal word, en sit dit langs die tafel op die mat neer.
“Ek het die artikels uitgehaal maar gaan dit nie oopmaak nie, ons wil nie weet wat hierin is nie.”
Sy sit terug, neem Julia se hand in hare asof sy wil verseker dat Zuluika weet, wat hier gesê gaan word kom van hul albei. “Zuluika ons het sonder ophou vertoë gerig vir jou vrylating, ons het geweet in watter boosheid ons kinders vasgevang was, geweet die daad wat hulle gepleeg het, was uit haat.” Zuluika knik haar kop, wil die hartseer verminder, maar Marie hou haar hand in die lug, “Laat ons klaar praat, my kind.”
Sy maak haar oë toe, “Ons het so gebid vir iets wat jou kon help. Ons het briewe aan almal wat die seuns en hul vaders geken het gestuur, gevra indien hulle enige bewyse het om dit vir ons te stuur.”
Zuluika sien die pyn, sy weet die twee mense is deur soveel ellende, nie net die afgelope tien jaar nie, maar lank voor dit.
“Daar was soveel dreigemente, soveel aanvalle op ons, maar ons het aanhou vra, toe drie en twintig November twintig vyftien, was daar ʼn klop aan die voordeur. Teen die tyd wat ons die deur oopgemaak het, het ons die viertrek sien verdwyn, en die sak was voor ons deur.”
Sy buk en haal ʼn papier uit ʼn sysakkie van die sportsak, “Die nota was bo in die sak.” Sy vou die vel papier oop en lees die inhoud.
‘Hierdie is waarvoor julle gevra het, gebruik dit om die boosheid oop te maak, sodat julle ook tot rus kan kom’.
Sy hou die papier uit na Zuluika, en Zuluika kyk daarna, sien die handskrif, maar neem dit nie by haar nie. Daar is geen bekendheid daaraan nie, nie soos die bekendheid wat aan die tekstuur van die nota was wat Lize haar gewys het nie.
Sy vou die nota toe, sit dit terug in die sysakkie, neem die koevert en die pakkie en sit dit terug in die sak. Sy tel die twee plastieksakke op, sit dit op die tafel en maak dit oop.
Sy haal ʼn koevert uit wat oopgeskeur is, en Zuluika sien die pak note vasgemaak met rekkies uit die koevert steek.
“In die twee sakke is agt en veertig koeverte, waarvan ons net die heel eerste een oopgemaak het. Die koevert het tien duisend rand in twee honderd rand note ingehad, en ons neem aan al die ander het dieselfde inhoud. Dit is maandeliks vir die afgelope vier jaar deur iemand in ons posbus geplaas, nooit dieselfde dag, of dieselfde tyd nie, so ons kon nooit vasstel wie dit doen nie.”
Zuluika kyk op na Joe wat elke woord en beweging op sy selfoon vasvang, en die totale oorbluftheid is ook op sy gesig te sien.
Julia haal ʼn papier uit die koevert waaruit die pak note kom. “Die nota was in die eerste koevert,” en sy gee die nota vir Zuluika.
Zuluika steek haar hand uit, sien die vel papier, voel die tekstuur, en dit is dieselfde papier en handskrif as die ‘waarskuwingsnota’ van Lize, en die bekendheid van die tekstuur wurg haar. Sy vou die bladsy oop, kyk een oomblik daarna, verbleek, vou dit toe, gee dit terug vir Julia en vee haar hande onbewustelik af aan haar bloese.
Marie neem die brief en sit dit terug in die koevert sonder ʼn woord.
Die drie mense kyk na Zuluika, sien die oë effens vergroot, die besliste vasbyt van die kakebeen, hulle weet, iets aan die nota is ontsettend ontstellend vir haar, en hulle laat dit gaan.
“Ons het nooit ʼn enkele sent van die geld gebruik nie, sal nooit nie, dit is bloedgeld,” en Marie laat val die koevert met weersin terug in die plastieksak.
“Sal jy ook dit neem.”
“Waarom nou, ek is nou vry.”
“Is jy regtig vry Zuluika, vry van die vrees, die twyfel, die wete dat ons kinders in opdrag gemoor het, en die opdraggewers nog vry is. Laat dit jou vry voel, wel ons voel nie vry nie.”
Zuluika skud haar kop, “Nee, ek voel die vrees wat julle voel, die woede oor hulle wat opdrag gegee het om Rudolph te vermoor, sekerlik ook julle kinders in die gewelddadige optrede ingedwing het, en ek vrees dit sal weer gebeur, het moontlik reeds weer gebeur,” en die vier mense in die vertrek voel die vrees wat magteloosheid bring.
Sy sit die twee plastieksakke terug in die sportsak, stoot die sportsak oor die vloer na Zuluika, “Neem die sak asseblief, gee dit vir iemand wat die moed sal hê om dit oop te maak, en indien dit moontlik is, ʼn einde te maak aan alles.”
Met die sak tussen hulle, weet al vier vandag se kuier en gemoedelikheid is verby. Die begin van ‘oopmaak’ en ‘regmaak’ het vandag begin. Hulle staan op, druk mekaar teen die hart vas, en daar is ʼn band tussen hulle wat nie weer gebreek sal word nie.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed