Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Ant Tandjies se Koek

Deur Gideon C du Toit
Datum gepubliseer: 13 Januarie 2022 Aantal woorde: 2137 641 Kere gelees 9

 

As jy sou gaan ry na die voetenent van die Weskus, en jy maak jou draai in die hart van die Swartland, sal jy ʼn dorp genaamd Riebeek-Kasteel teëkom. Nou, die plek is alombekend as die troue-dorp van die Weskaap, en mense kom van heinde en verre om hier die ring aan die vinger te kom steek. En dit is voorwaar ʼn mooi plek, dié Riebeek-Kasteel. Kompleet met ou kerke, gastehuise en wie weet wat nog. Maar vandag wil ek nou nie regtig gesels oor die troue-dorp nie. Vandag wil ek eintlik die storie vertel van Antie Tandjies Koekemoer en haar tuisbakkery bedryf op Riebeek-Wes. Sien Ant Tandjies was oorspronklik ʼn nooi Malan, glo ver langs familie van eertydse Eerste Minister Daniel Malan. Sy was aanvanklik gedoop Anna Johanna Katherina Magdalena Malan, maar het na haar troue met Kerneels Koekemoer besluit, sy dra darem heeltemal te swaar aan al hierdie name, en het toe net Johanna oorgehou.

Nou Kerneels Koekemoer was maar vreeslik lief vir die bottel, en soos die duiwel dit wou hê, was dit ook nie lank nie of hy het van Johanna ʼn jong weduwee gemaak. Presies hoe hy omgekom het is ek nou nie oor seker nie, maar Johanna wat vantevore ʼn geheelonthouer was, het haar vertroosting toe ook onder die prop gaan soek. Kerneels het vir haar kinderloos en sonder ʼn enkele pennie gelos en Johanna moes toe nou noodgedwonge self die potte aant kook hou. Nou in daardie jare, vir ʼn ongeletterde dame, wat selde een voet voor die ander kon sit, was daar nie juis veel werk nie. So Johanna het besluit op die een ding wat sy beter kon doen as enigeen in die Riebeek-Vallei, en dit was koekbak. Kyk, fyn-gekoring of te nie, Johanna was ʼn bobaas bakster. Die koeke het in hulle dosyne uitgegaan na verjaarsdagpartytjies, tuisnywerhede, troues, kerkbesare en wat dan nog.

En dit was juis op so ʼn kerkbasaar waar Antie Tandjies haar naam gekry het, en sommer eensklaps tot nugtere bekering gekom het. Sien met die bak van hierdie spesifieke koek, het die tante weer diep in die bottel gekyk, en met dié wat sy besig was om die beslag te meng, het sy toe agtergekom haar boonste ry kunsgebit is soek. Die koek is toe basaar toe, en dit is eers toe die koster se vrou inmekaar sak van skrik, dat dominee die sjokolade koek met die blink glimlag op die tafel gewaar. Nodeloos om te sê was die verleentheid vir Johanna byna te veel om te verduur, en sy het daar en dan die bottel afgesweer, maar die koek met die ry spierwit tande, het haar toe die naam Antie Tandjies besorg.

Daarna was dit byna asof die antie die duiwel agter haar gehad het, want sy het die een koek na die ander met waansinnige ywer die wêreld ingestuur. Dit was ʼn gebak van voor sonsopkoms tot laat in die nag, en die jong kêrels op die dorp wat laatnag vry het gesê, dat hulle Antie Tandjies se kombuislig somtyds tot die vroeë oggend ure sien brand het. Soos dit maar in ʼn klein dorpie gaan, was dit ook nie lank voor die stories begin loop het nie, en mense het tot gesê, dat met daardie dag van die basaar, daar ʼn heilige besturing op die antie se lewe gekom het. Stories dat sy glo glad nie slaap nie, en dat sy die dag wanneer sy eindelaas haar Skepper gaan ontmoet, sy so bak-bak met ʼn spul koeke onder die arm die hemel sal binnegaan. Of dit heeltemal waar sou wees, sal ek nou helaas nie weet nie, maar wat ek jou wel kan sê, is dat die lang ure so oor die jare maar hulle tol begin eis het op die tante se lyf.

Die gewrigte en die ou bene wou nie meer so lekker saamwerk nie, en die vingers het ook toe al begin duskant toe trek van die rumatiek. Die antie was gedurig in pyn, maar van stop of dokter toe gaan was daar geen sprake nie. Blykbaar iets te doen gehad met haar susterskind wat so deur die dokters verniel is, en met een been langer as die ander opgeëindig het. Antie Tandjies het maar salf gesmeer en allerlei boererate probeer met kruiemengsels en hoendermis, maar die pyn het gebly en mettertyd het die vingers almal Kaap se kant toe begin wys. Dit was toe die een more met die hele virus inperking van die goewerment dat Katryn, haar huishulp nie opgedaag nie, en die antie toe maar self ʼn bestelling moes gaan aflewer. Sy is waggel-waggel die straat af met die koek in ʼn blik, sommer so op die kombuistrollie, en met dié dat sy die koek toe nou afgee, merk die vrou by die gastehuis die tante se kreefpoot-vingers op. “Nou wat vat antie vir die rumatiek?” het die vrou gevra, en die antie het toe verduidelik wat sy al voorheen alles probeer het om die seer vingers te probeer reguit kry.

ʼn Mens kan haar seker nie verkwalik nie, maar ek dink dié vrou het ook seker maar ʼn geleentheid gesien en toe ʼn pot dagga-olie ten duurste aan die tante afgesmeer. Sien, op hierdie stadium was Antie Tandjies nou al mooi gatvol vir die elke dag se pyn en leiding, en sy het sommer daar en dan ook ʼn volgende pot van die “wonderolie” bestel. Sy is toe met die trollie en die pot dagga-olie daar weg, en het besluit om met bedtyd so ʼn eetlepel daarvan te neem, soos ʼn mens dan nou gewoonlik ʼn hoesstroop sou drink, want met die ongeletterdheid saam was daar mos geen kans om die aanwysings te verstaan nie. Nou die pyn in die litte was in die oggend gewoonlik maar op sy ergste, so die antie het die res van die dagga olie netjies in die kombuiskas, langs die pot vanieljegeursel gaan bere, waar sy sou onthou om in die oggend weer daarvan te vat.

Daardie volgende more het Katryn vroeg al ingekom, maar toe nou nie vir Antie Tandjies soos oudergewoonte in die kombuis gekry nie. Was dit ook nie vir die gesnork wat soos die brul van ʼn jong leeu uit die kamer uit weergalm het nie, sou Katryn seker gedink het dat die tante die tydelike vir die ewige verruil het, want wakker wou sy nie. Maar dit gesê, dinge in Ant Tandjies se kombuis kon ook nie net gaan stilstaan nie, en vir die eerste keer in dertig jaar het Katryn sommer self die lepels en die spane gegryp met die gebrou beginne. Sien, so ʼn paar dae van tevore het daar ʼn bestelling vir ʼn troukoek, op kort kennis ingekom. Dit moes nou glo ʼn drie laag gedoente wees, kompleet met blomme en versiersels, en selfs met die bruid en bruidegom poppies heel-bo op die stapel koeke. Katryn het vernuftig al die bestanddele uit die kas gehaal en op die tafel uitgepak soos die tante haar geleer het, en al wat toe oorbly in die kas is die pot vanieljegeursel.

Toe Antie Tandjies laatmiddag die kombuis binnestrompel, was die vreeslike koek byna klaar versier, maar die antie het die koek net so gekyk, en is toe verby, reguit kas toe. Sy het so ʼn eetlepel van die vanielje in die keelgat af gegooi, en toe met ʼn gesig soos gedroogte vrugte in Katryn se rigting gekyk. “Nee man”, het sy gesê, “die goed word dan net slegter elke keer as jy hom vat.” Met dié, het sy pot toe nou net so laat staan, omgedraai en terug kamer toe geloop. En dit was toe dat Katryn haarself meteens besin het met die twee potte wat so identies lyk. Sy het die een pot in dié hand gevat en die ander in daai, en so om die beurt aan die twee geruik. En daar gewaar sy op einde toe die plakker wat lees “Cannabis Oil” weggesteek op die onderkant van die pot. Nou Katryn was self nie van die mees geleerde mense op die dorp nie, maar van Cannabis het sy goed geken. Sy het paniekbevange op en af in die kombuis geloop, die koek van die kant en dan van die anderkant bekyk, maar van oorbak was daar geen sprake nie. Die son het teen dié tyd al begin water trek, en die van Tonders sou al dou voor dag, die volgende more die koek tesame met die tante kom oplaai.

Sien, van die versierings was te veel van ʼn delikate spul, en die antie sou dan nou die laaste van die werk, sommer daar in die onthaal-saal doen. En dit was ook toe net so. Mooi opgedollie, maar nog steeds so effens onvas op die voete van die groot hap dagga-olie, met die asem wat nog sterk vanielje ruik, was Antie Tandjies in die saal besig met die laaste versierings op die koek. Dit was ook nie lank nie of die eerste van die klomp gaste kom toe die saal binne. Nou ek moet jou seker bietjie van die van Tonders vertel, en waar hulle vandaan kom. Nou, dié was die bruidjie se mense. Skatryk boere daar van Petrusville in die Noord-Kaap se wêreld. ʼn Stoere klomp, vas aan kerk, volk en vaderland en kompleet met pyp en tabak in die bosak. Die anderkant van die familie, dis nou aan die bruidegom se kant, dié was die de Langes. Dié mense was nou weer ʼn vrééslik vername spul. Almal dokters, dominees, magistrate en alles wat slim klink. So die geleentheid was nou vir jou ʼn voorwaar ʼn spoggerige spul, haarfyn beplan deur so ʼn delikate Engelse kêreltjie. Glo ʼn “wedding planner” van soorte, daar uit die Kaap uit.

Soos die dag verloop, het Antjie Tandjies maar by die koek sit en waghou, salig onbewus van die brousel dagga daarin, en na die hoofmaal het dit toe nou tyd geword om dié koek te sny. Eerste in die ry was ou Tannie Hessie van Tonder, die bruid se ouma, ook al diep in die tagtigs, maar nog flink vir haar jare. Soos die uitleg maar lyk by troues, is die koektafel ook mos nie ver van die hooftafel af nie, en Tannie Hessie het toe nou gaan sit, en ʼn lekker hap van dié sny koek gevat. Sy het so paar keer stadig gekou en toe swaar gesluk. “Nee man, die koek is blerrie bitter!” het sy gesê en die bordjie duskant toe geskuif. Ten aanhore hiervan het Antie Tandjies natuurlik yskoud geword, sélf ook ʼn stukkie van die koek geproe, en dadelik geweet het wat aan gebeure was. Dit was toe nou ook weer soos die duiwel wou hê, dat een na die ander van die spul hooghartige gaste, net mooi dieselfde reaksie gehad het. Een vir een is die bordjies koek toe nou eenkant toe geskuif, en Antie Tandjies het met haar kop in haar hande gaan sit.

Vir die volgende paar minute het die onthaalsaal glo onheilspellend stil geword. Antie Tandjies het bly sit, te bang om op te kyk en dalk hope lyke by die tafels te aanskoue. En dit was tóé dat iemand hier aan haar bloes se mou beginne trek. “Kom suster, skep nog koek.”

En daar staan ou Tannie Hessie van Tonder toe. Koekbord skoon blink gelek, en nie ʼn enkele krummel in sig nie. Dit was ook nie lank daarna nie, of die ry by die koektafel het by die deur uitgestaan en Ant Tandjies kon beswaarlik voorbly met die snyery. Kort voor lank was daar van die tamaai hoop koek ook net krummels oor, en selfs dié het nie gespaar gebly nie. Die sedige gaste het almal met groot bloedbelope oë vir mekaar gestaar en die mense van Riebeek-Kasteel sê jy kon die onophoudelike gelag vir myle ver deur die dorp hoor. Toe dit eindelaas tyd word om die ruiker te gooi, het die bruidjie toe nou een van die tafelruikers, pot en al gegryp, en te midde van ʼn luide skaterlag, die delikate Engelse knapie katswink gegooi. Met die kousband het dit glo nie veel beter gegaan nie. Vader alleen weet wie toe nou dié ding van die bruid se been afgehaal het, maar die band is toe later om die dominee se kop gekry, en Tannie Hessie se bra in die bruidegom se broeksak.

Nietemin was hierdie een van die vrolikste partytjies wat Riebeeks-Kasteel tot op hede ervaar het. Oor die ander skandes wat glo daar gebeur het, vertel Antie Tandjies nie sommer nie, maar wel dat sy daar uit is met ʼn bestellings lys van twee maal haar arm se lengte, en die titelakte vir ʼn huis op Petrusville. Katryn is toe intussen bevorder tot hoofbakster en behartig nou die kombuis onder Antie Tandjies se toesig. Jy kan somtyds nou nog die kombuislig ou-nag sien brand. En Antie Tandjies se vingers? Dié is nog netso krom en skeef soos voorheen, maar sy het nou ʼn vaste bestelling van twee potte dagga olie ʼn maand. Een vir die litte, en die ander vir die koeke.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 2
Kommentaar telling: 0

Afrikaanse vryskut skrywer en digter woonagtig in die Weskaap.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

SOLIDARITEIT – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 107 gaste aanlyn

Bydraes – Argief